Heiligmaking: Wat is dit?
‘n Ou rabbynse gesegde.
Heiligmaking
(1 Tessalonisense 4:3)
Oswald Chambers het ‘n leersame artikel oor heiligmaking geskryf.
In heiligmaking moet God ons hanteer beide aan die kant van lewe en dood. Heiligmaking vereis dat ons by die plek van dood uitkom. Baie van ons spandeer so baie van ons tyd daar dat ons heeltemal morbied word.
Daar is altyd ‘n stryd voor heiligmaking ‘n werklikheid word – iets in ons druk teen Christus se eise. Sodra die Heilige Gees ons wys wat heiligmaking is, begin die stryd dadelik. Jesus self het gesê: As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe (Lukas 14:26).
In die proses van heiligmaking sal die Heilige Gees my stroop tot niks oor is nie behalwe net ekself – dit is die plek van dood. Is ek bereid om net myself te wees en niks meer nie? Geen vader en moeder en broers en susters – geen selfbelang nie? Dit is die voorwaarde vir heiligmaking. Geen wonder Jesus sê: Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring (Matteus 10:34 – 35). Dit is hier waar die stryd kom en waar so baie struikel. Ons argumenteer dat God tog nie kan verwag dat ek my met die dood van Jesus Christus moet identifiseer nie.
Is ek bereid om my te stroop van alles wat my vriende van my dink? Ook wat ek van myself dink? Is ek bereid om my naakte self aan God te gee? As ek bereid is om dit te doen, maak Hy my heilig. Dan word my hele lewe deur God bepaal. Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus weer kom! Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou (1 Tessalonisense 5:23 – 24).
As ek bid dat God vir my moet wys wat heiligmaking vir my beteken, sal Hy vir my wys. Dit is nie iets wat Jesus in my sit nie: ons word met Christus Jesus verenig – Hy self is in ons (1 Korintiërs 1:30).
What saves a man is to take a step. Then another step – C. S. Lewis. Heiligmaking J. C. Ryle het meer as ‘n eeu gelde sy klassieke werk – Holiness – geskryf. Hy definieer heiligmaking soos volg: An inward spiritual work which the Lord Jesus Christ works in a man by the Holy Ghost, when He calls him to be a true believer. Nadat hy die begrip gedefinieer het, noem hy die verskille tussen ware en vals heiligmaking.
Ware heiligmaking is nie: Ware heiligmaking is: Ten spyte daarvan dat dit so lank gelede geskryf is, bly dit steeds waar.Heiligmaking
Geloofsvrae: Heiligmaking
Geloofsvrae: Heiligmaking – Adrio König
Heiligmaking
Die heilsweg bestaan nie uit ‘n aantal stasies wat ‘n mens een na die ander aandoen en agterlaat nie: bv. eers weergeboorte en dan bekering en dan regverdiging, en dan geloof nie. Maar daar is ‘n sin waarin ons tog van fases kan praat. Daar is ‘n begin, en daar is ‘n voortgang. Die begin is reeds behandel. Die voortgang kom nou aan die beurt.
Ons kan heiligmaking (en nagmaal) ‘n tweede fase in ons heilsbelewing noem. Dit gaan om die voortgang van die Christelike lewe, om ons inoefening in die lewe wat Hy van ons verwag.
Daar is altyd misverstande moontlik. Die eerste is die oortuiging dat ons nou by ons deel van die saak kom. Die begin (die redding of regverdiging) is die gawe van die Here, en nou moet ons antwoord. Hy het ons ‘n aandeel in Christus se kruis en opstanding gegee sodat ons in beginsel vir die sonde dood is en deel het aan Jesus se opstandingslewe. Dit is sy gawe. Nou moet ons dié lewe leef. Dit sal selfs goed Gereformeerd klink as ons dit ons dankbaarheidslewe noem.
Dit is egter ‘n misverstand. God is nie minder by ons heiligmaking betrokke as by enige ander deel van ons lewe nie. Christus is selfs ons heiliging (1Kor 1:30). Ons is geheilig, dit beteken ons is afgesonder vir God omdat ons aan Christus behoort (1Kor 1:2 OAV).
Ons heiligmaking is inderdaad die nuwe lewe wat ons moet lei nie. Maar die probleem is dat ons glad nie meer ‘n lewe van ons eie het nie – ook nie ‘n nuwe lewe nie. Dié sou ons net so opgemors het soos die oue. Ons is saam met Christus gekruisig, en al wat ons oor het, is ons aandeel aan Jesus se opstandingslewe. Maar dit is sy lewe wat Hy deur ons lewe (Gal 2:19-20).
Dit alles beteken dat ons ook in ons heiligmaking volkome op die genade van God, die gawe van sy Seun se nuwe lewe, en die werking van sy Gees aangewese is. Dit is die fondament waarop Hy ons laat staan sodat ons ons verantwoordelikheid kan nakom.
Want ‘n verantwoordelikheid het ons. Ons leef in ‘n verbond met God, ‘n verbond waarin – óók in ons heiligmaking – Hy die inisiatief neem, maar waarin ons moet antwoord. Ons moet ‘n nuwe lewe leef, ons moet ophou met die sonde, alle sonde, en ons lewe volkome aan God wy. Ons kan, want ons het ‘n aandeel aan sy nuwe lewe, en die Gees dra sy vrug in ons. God neem die inisiatief. En tog hang alles ook van ons af. Die heiligmaking is ons verantwoordelikheid. `Moet dan nie toelaat …’ `Laat die Gees …’ (Rom 6:12ev; Gal 5:25) is opdragte aan ons.
Ons moet hierdie oproepe tot ‘n heilige lewe ernstig neem. Daar is sterk uitsprake in die Bybel dat God wil hê dat ons volkome aan Hom toegewy sal leef. God wil hê dat ons heilig, sonder smet en onberispelik sal wees, dat ons baie vrug sal dra, dat ons altyd oorvloedig in die werk van die Here sal wees (Kol 2:22; Joh 15:8; 1Kor 15:58). Ons water die volmaaktheidsuitsprake van die Bybel te maklik af. Ons voel waarskynlik bedreig omdat ons dink dis ‘n oorskatting van ons menslike moontlikhede. Ons beskuldig gewoonlik die sg. Perfeksionisme daarvan dat hulle te veel van die vroom mens dink en ‘n oppervlakkige sondebesef het. Ons kan reg wees in hierdie kritiek.
Maar intussen bly die volmaaktheidsuitsprake aan ons deur klop sonder dat ons oopmaak, moontlik omdat ons ‘n slegte heiligmakingsleer aanhang asof dit ons lewe is wat volmaak moet word, asof dit afhang van dit waartoe ons instaat is, asof dit nie Christus se lewe is waaraan ons mag deelneeem nie, asof dit nie die Gees is wat sy vrug in ons lewe wil dra nie. As Christus nie volmaak vir God kan leef nie, is die volmaaktheidsuitsprake te hoog om by te kom. Maar as Hy kan, kan ons moed skep, ophou skerm vir ons onvermoë, en aan sy volmaakte lewe begin deelneem.
Dit is ongelukkig waar dat ons telkens weer terugval in ons eie ou verbeurde lewe, telkens weer self probeer, telkens weer maak asof ons nie deur die doop en die geloof met Christus verenig is nie. Maar God bring ons ook telkens weer terug na die waarheid: ons het deur die geloof deel aan ‘n oorwinningslewe, aan sy lewe. Christus is ons lewe (Kol 3:4).
In die mate waarin ons regtig met ons ou lewe ophou en aan Christus se lewe deelneem, sal ons volkome aan God terogewyd leef en met alle sonde ophou. Dat dit nie gebeur nie en dat ons nog weer met ons sonde voortgaan, is volkome ons eie skuld én volkome onnodig. Ons kan dit net in skaamte bely en laat staan.
Is heiligmaking ‘n proses of ‘n krisiservaring? Daar is heelwat beskouings hieroor. Sommige is elders behandel. Die probleem met die nadruk op ‘n krisiservaring is dat ons maklik by een krisis kan vashaak. Dit is altyd romanties om in een oomblik alles te kry en dan agterna net aan die een ervaring vas te hou. Dit is egter veiliger as ‘n mens aanvaar dat baie krisisse nodig is, dat ons ons telkens diep voor God sal moet verootmoedig, nuwe dieptes in ons sonde sal ontdek, nuwe oorgawes aan Hom sal moet maak, nuwe moontlikhede van diens aan Hom sal moet opneem.
Daar moet natuurlik een of ander soort ontwikkeling in ons heiligmaking wees, wat trouens ook nie krisiservarings uitsluit nie. Watter soort ontwikkeling? Die begrip `proses’ is nie gepas nie omdat dit te maklik die indruk skep dat ons heiligmaking vanselfsprekend en gelykmatig voortgaan, terwyl ons weet dat ons lewe saam met die Here groot oorwinnings én diep insinkings ken. Miskien is die begrip voortgang meer gepas. In een of ander sin moet ons tog nader aan die Here kom, Hom beter leer ken, beter verstaan wat dit beteken dat ons ou lewe beëindig is, beter daarin slaag om aan sy nuwe lewe deel te neem, dit alles nie omdat ons soveel beter word nie, maar omdat Hy die mag van die sonde in ons lewe breek. Die heilsweg is nie net vergifnis nie, maar ook verlossing, bevryding, oorwinning. Dit is ‘n langsame voortgang waarin ons tegelyk ‘n heilige én ‘n sondaar is, maar nie presies uitgeballanseerd nie. Die oorwig is aan die kant van die heiligheid. Op die ou end lyk ons tog meer soos Hy.
As niks hiervan waar is nie, moet ons ernstig ondersoek instel. Iewers skryf Paulus: `Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe’ (2Kor 13:5).
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König
Die Groot Geloofswoordeboek: Heiligmaking
Die Groot Geloofswoordeboek: Heiligmaking
Heiliging/Heiligmaking • Vereniging met Christus • Krisisse
Wanneer die begrip *heilsweg bespreek word, word beklemtoon dat dit om een sentrale ervaring gaan en dat sake soos *wedergeboorte en *bekering nie verskillende ervarings is wat na mekaar volg nie. Dit is egter anders by heiligmaking. Die begrippe wat die heilsweg beskryf, dui almal op die begin of die manier waarop ‘n mens deel kry aan die heil. Maar die begrip heiligmaking dui op ‘n volgende fase. As kind van God het ‘n mens ‘n lewe voor jou om Hom te dien. Hierdie daaglikse lewe wil Hy deur die krag van die Heilige Gees nuut maak. Dit is heiligmaking.
Soos by regverdiging en *regverdigmaking, kan ons onderskei tussen heiliging en heiligmaking. Heiliging is God se daad om ons af te sonder vir Hom, net soos regverdiging sy daad is om ons regverdig te verklaar. Heiligmaking is ‘n voortgang of ontwikkeling in ons lewe in verhouding met die Here waarin ons al meer die sonde afsterf en ons lewe al meer aan Hom toewy.
Daar is verbande tussen heiligmaking, regverdigmaking en voortgaande *bekering. In beginsel het al drie te doen met die verandering van ons lewe om in gehoorsaamheid aan God Hom en ons naaste in liefde te dien.
Heiliging
Kom ons kyk eers na heiliging. Dit is opvallend dat die gemeentelede in die Nuwe Testament “heiliges” genoem word ook al is daar opvallende en ergerlike sondes in hul lewe. In nuwer vertalings is dit nie meer so duidelik nie omdat allerlei verduidelikings van begrippe gegee word. Maar ouer vertalings dui daarop dat dit ‘n staande gebruik was. Die gemeente in Korinte, waar daar sondes voorgekom het waarvan Paulus skryf dat ‘n mens dit nie eens onder heidene kry nie, word aangespreek as “geheiligdes in Christus Jesus”, “geroepe heiliges” (1 Kor 1:2, 1953-vertaling). Lees gerus die groet aan die begin van byna elke brief.
Die spesifieke uitdrukking “geheiligdes in Christus Jesus” is belangrik. Die “in” beteken iets soos: “omdat julle verbonde is aan.” Ons verbondenheid aan Christus beteken iets. Ons lees elders in Korintiërs van Christus Jesus: “Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing” (1 Kor 1:30). Hy is dus ons vryspraak en Hy is ook ons heiliging. Dit beteken God spreek ons vry (regverdiging) en verklaar ons heilig op grond van wat Christus gedoen het. Daarom is ons vry voor God, én is ons heilig. Heilig beteken hier: afgesonder vir God eenkant gesit om volkome aan Hom te behoort, om volkome tot sy beskikking te wees.
Dit het nie betrekking op die etiese kwaliteit van ons lewe nie, maar op ons posisie, ons status, op die doel wat God met ons het. In ons heiligmaking moet dit verwerklik word wanneer ons lewe al meer verander word om aan God en Christus s’n te herinner. (*Beeld van God)
Dit is eers as ons by heiligmaking kom dat dit regtig ‘n nuwe fase in die heilsweg is. Nou gaan dit om die werklike verandering van ons lewe. Om hierdie verandering te verstaan moet ons eers kyk wat ons vereniging met Christus beteken.
Heiligmaking
Ons heiligmaking is ons deelname aan Christus se lewe. In die mate waarin ons daarin slaag om met ons ou lewe in diens van die sonde op te hou (wat ons kan doen omdat ons deel in Christus se dood vir die sonde) en ons lewe saam met Christus te leef, in die mate hou ons op met die sonde en leef ons volkome vir Hom (Rom 6).
Vir Paulus is dit een van die vreemdste dinge in ons lewe as gelowiges, dat ons so sukkel om met ons ou lewe op te hou en ons nuwe lewe saam met Christus voluit te leef. Daar is ‘n sin waarin dit onlogies en onverstaanbaar is. Ons is dood vir die sonde (Rom 6), maar ons leef nog daarin. Ons lewe vir God saam met Christus (Rom 6:11), maar ons is steeds traag om God te dien. Dit is deel van die onverstaanbaarheid van die *sonde wat in beginsel onverstaanbaar is en nie net moeilik is om te verstaan nie.
Tog is daar ‘n paar ligpunte. Die eerste is dat dit nie ons is wat onsself moet doodmaak vir die sonde nie. Dis ‘n gawe wat ons by die doop en deur die geloof ontvang. Ons moet net leer om in terme daarvan te leef. Dieselfde geld van ons opstanding saam met Christus en ons aandeel aan sy oorwinningslewe oor die sonde. Daar is iets daarin dat ons ons daarin moet inoefen om aan sy lewe deel te neem, om daagliks sy lewe te leef en nie ons eie nie. Dis goed om dikwels daaraan te dink dat jou doop jou begrafnis was, of liewer jou deelname aan sy begrafnis, en ook dat jou doop jou opstanding was, of liewer jou deelname aan sy opstanding. Gaan elke dag met dié geloofswaarheid binne en oefen hierdie soort lewe.
Die tweede ligpunt is die *Heilige Gees. Ons lees veral in Galasiërs van die *vrug van die Gees in ons lewe (5:22-23). Dis ‘n wonderlike versameling deugde: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, selfbeheersing. Dis is nie die vrugte van die Gees (meervoud) nie, maar die vrug van die Gees. Die gedagte is dat dit ‘n eenheid is wat ons as geheel ontvang. Elke mens kry nie een vruggie soos elkeen een gawe kry om die ander mee te bedien nie. Die vrug kom as ‘n eenheid in elke mens se lewe voor. Of is dit? In wie se lewe?
Is dit nie ‘n wonderlike beskrywing van Jesus se lewe nie? Lees weer die lys deur.
Wat beteken dit? Onthou, dis nie die vrug wat jy moet dra nie. Dis die vrug van die Gees, die vrug wat die Gees dra. Nuwer vertalings laat mooi uitkom dat dit inderdaad die bedoeling is wat Paulus met “vrug” het. Een vertaling lui: “die vrug wat die Gees laat groei,” en ‘n ander: “die vrug wat die Gees voortbring.”
Waar groei hierdie vrug? In jou lewe. Dit beteken jou inoefening om nie jou eie lewe te leef nie, maar om jou deelname aan Christus se lewe te leef, is nie jou pogings nie, maar jou oorgawe aan die Heilige Gees. Op die ou end is dít heiligmaking: die Gees wat ons leer om ons lewe te leef as ons aandeel aan Christus se opstandingslewe. Wat sou *vervulling met die Gees anders kon beteken?
Vereniging met Christus
Dit is ‘n begrip wat ons nie dikwels gebruik nie. Behalwe ‘n enkele keer by Johannes (Joh 15) kom dit net by Paulus voor, en by hom kom dit in verskillende vorme en male sonder tal voor. Hy gebruik sowel “in Christus” as “saam met Christus”. En dan is daar ook nog die beeld dat gelowiges lede is van die liggaam van Christus. Dit is eintlik naas *regverdiging sy geliefde terme.
Deur die *doop en die *geloof word ons op ‘n merkwaardige manier met Christus verenig. Ons word saam met Christus gekruisig, saam met Hom begrawe en opgewek, sit saam met Hom in die hemel en sal weer saam met Hom kom by sy wederkoms (Rom 6; Ef 2:4-8; Kol 2-3:4). Paulus dink baie realisties daaroor. Dit hou verband met sy gedagte dat die gelowiges die liggaam van Christus is, en elke lid ‘n ledemaat van dié liggaam. Dit beteken dat elkeen op ‘n manier deel het aan alles wat Christus beleef het en nog beleef.
Daar is ook ‘n interessante wederkerigheid in hierdie verhouding. Ons is in Christus én Hy is in ons (Rom 8:1, 9-11; Gal 2:19-20). Dit is inderdaad ‘n tipiese manier om ‘n baie naby verhouding uit te druk. Ons ken dit self. Ek sal sê my vrou het vandag diep in my hart ingekruip met wat sy gedoen het. Ons sê ook ek het my hart vir Jesus oopgemaak, en nou is Hy in my hart. Ons bedoel niks meer as ‘n baie naby liefdesverhouding nie.
Maar dit is ook meer. ‘n Mens kom nie daarvan weg dat Paulus iets van ‘n werklike vereniging tussen Christus en ons beleef het nie. Sy liggaamgedagte is baie realisties. Die verhouding Christus-gelowiges is nie net soos ‘n liggaam nie, ons is sy liggaam. Hoe ‘n mens dit dus ook al moet verstaan, ons deel regtig in sy kruis (sodat ons regtig kan ophou met ons sonde) en in sy opstanding (sodat ons ons lewe volkome aan Hom kan wy). En dit is presies die punt van waar ons kan begin om oor heiligmaking te dink. (*Perfeksionisme)
Krisisse
Daar is heelwat Christene wat sterk voel oor sekere krisiservarings wat noodsaaklik is in ons lewe. Bo en behalwe die geloof in Jesus, moet daar allerlei ander dinge kom, soos *algehele oorgawe, *doop met die Heilige Gees, *vervulling met die Heilige Gees, *tweede genadewerk. Dit is inderdaad nodig dat Christene van tyd tot tyd nuwe ervarings met Christus deur die Gees het. ‘n Verhouding moet nuwe ervarings en nuwe hoogtepunte kry. Daar is baie ruimte vir groei in die geloofslewe. Maar dis nie duidelik dat daar een enkele ervaring is wat alle Christene moet hê nie. ‘n Mens se ervarings met die Here sal ook saamhang met jou persoonlikheid. Elke mens loop iets van ‘n eie pad met die Here. En verder sal die tipe ervaring, en die interpretasie wat jy daaraan gee, sterk beïnvloed word deur die groep waarvan jy deel is. Dis nie onmoontlik dat twee groepe presies dieselfde ervaring het, maar dit verskillende name noem nie.
Skrywer: Prof Adrio König