Die doodsengel

Die doodsengel – Francois Malan

Jenni vra: 

Is die doodsengel van Satan of God af? Kom die doodsengel net vir mense wat hel toe gaan?

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord engel beteken ‘boodskapper’ of ‘verteenwoordiger’.  Die doodsengel is ‘n manier om te sê dat God iemand uit die lewe kom haal, almal, nie net die wat hel toe gaan nie. Toe die arm Lasarus gesterf het, het die engele hom weggedra na die ereplek langs Abraham (Lukas 16:22).

Die dood is die straf van God oor die sonde van die mens (Genesis 2:17; Romeine 6:23). Alle mense is sondaars voor God (Prediker 7:20; Ps 14:2,3; 53:3,4; Romeine 3:10-19). ‘n Mens is bestem om net eenmaal te sterwe, en daarna kom die oordeel (Hebreërs 9:27; 1 Korintiërs 15:22). Vir die gelowige het die dood egter ‘n deurgang geword tot die lewe saam met Christus (1 Korintiërs 15:22; vgl. Filippense 1:23). Toe God die Satan toegelaat het om Job te teister, het Hy beveel: ‘Net sy lewe mag jy nie wegneem nie’ (Job 2:6). Die doodsengel kom nie van Satan af nie.

In Genesis 19:1 word vertel van die twee engele wat God gestuur het om Sodom en Gomorra uit te wis oor hulle sonde.

In Eksodus 12:12-13 sê die Here dat Hyself in Egipte elke eersgeborene gaan doodmaak, maar waar die bloed aan die deurkosyne gesmeer is, sal Hy die huis oorslaan.

Volgens Numeri 22:33 sou die Engel van die Here vir Bileam doodgemaak het as die donkie nie telkens uitgedraai het nie.

In 2 Samuel 24:16 stuur die Here pes onder die volk en word 70,000 deur die engel van die Here doodgemaak as straf op Dawid se volkstelling (vgl. 1 Kronieke 21:15,16).

Volgens 2 Kronieke 32:21 stuur die Here ‘n engel om die Assiriërs rondom Jerusalem dood te maak

In Matteus 13:39-42 sê Jesus dat die Seun van die mens sy engele sal stuur om almal wat die wet van God oortree in die brandende oond te gooi.

In Matteus 25:42 sê Jesus dat die vuur van hel vir die duiwel en sy engele voorberei is (deur God) en vir die mense wat nie vir Jesus volg nie.

In Handelinge 12:23 is dit die engel van die Here wat Herodes tref sodat die wurms hom verteer en hy sterf omdat hy dink hy is God.

Die dood kom na alle mense. Die wat die Here Jesus volg gaan na Hom toe, die wat Hom ongehoorsaam is word veroordeel tot die tweede dood (Openbaring 20:11-15; 21:8;  dit is die hel, die plek waar God straf, ook vir die duiwel Openbaring 20:10). Paulus sê: op die oordeelsdag sal God sy regverdige oordeel uitspreek, Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe, maar aan dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn (Romeine 2:6-8).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Hel

Die Hel – Francois Malan

‘n Leser vra: 

Bestaan die hel regtig of beteken dit net dat jy gaan doodgaan en nie die ewige lewe hê nie. M.a.w. is daar regtig ‘n vuur waarin mense gaan brand vir ewig?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybelse woord vir hel is gehenna, wat afstam van die Hebreeuse woord gehinnoom die dal van Hinnom aan die Suid-Ooste van die stad Jerusalem. Onder konings Agas en Manasse het hulle die afgod Molog hier gedien vir wie hulle babatjies geoffer het deur hulle op die vuurwarm uitgestrekte arms van die beeld te sit om te verbrand (2 Konings 16:3; 21:6; 2 Kron.28:3; 33:6). Die vroom koning Josia het dié plek daarom verwoes en onrein verklaar (2 Kon. 23:10), vgl. ook Jeremia 7:31 en 32:35  se hoogte van Tofet in die Ben-Hinnomdal. Later word dit die stad se ashoop waar dooie diere en mense wat tot die dood veroordeel is se lyke kon vrot en verbrand word.

Die dal van Hinnom het toe die simbool en die profesie geword van die ewige plek van smart, die ewige strafplek van die goddelose na die oordeelsdag. Dit word met verskillende woorde in die Bybel aangedui: die brandende oond waarin hulle sal huil en op hulle tande kners (Mat.13:42,50); die hel waarin goddeloses gegooi word (Mat.5:29,30; 10:28); die vuurpoel wat met swael brand, waarin die satan en sy engele en die goddeloses gegooi word (Openb.19:20); daar brand ‘n onuitbluslike/ewige vuur (Mat.18:8; Mark.9:43,44,48 waar die wurms nie doodgaan en die vuur nie uitgeblus word nie); ‘n ewige straf/pyniging (Mat.25:46); ewige verdoemenis geban uit die teenwoordigheid van die Here (2 Tes 1:9); die diepste duisternis daarbuite (Mat 8:12); onder die toorn van God met lyding en benoudheid (Rom 2:5-9); dood en verderf (Gal.6:8); die ondergang (1 Tes 5:3).

Vuur word dikwels geassosieer met die voltrekking van God se oordeel (Openb. 1:14; 2:18; 4:5; 14:18; 16:8; 18:8; 19:12; 20:9,14,15). Swael is ‘n soort asfalt wat in vulkaniese uitbarstings voorkom. Brandende swael skep die dodelike gas swaeldioksied. Dit dra by tot die intensiteit van die beeldspraak (9:17-18; 19:20; 20:10).

Openbaring 14:9-11 waarsku dié mense wat die dier en sy beeld aanbid dat hulle met vuur en swael gepynig sal word en dag en nag geen rus sal ken nie tot in alle ewigheid, as beeld van God se oordeelsvoltreking wat vir ewig duur. Uit liefde waarsku God die mense en nooi hulle ernstig om hulle te bekeer.

Oor die laaste oordeel sê Openbaring 20:14-15 dat die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi word, en noem die vuurpoel die tweede dood. En as daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

As die laaste van sewe uitsprake van God self in Openb. 21:5-8 sê Hy daar wag vir die goddeloses die ewige straf in die poel wat met vuur en swael brand en word ‘n lys van sondes opgenoem wat ‘n opsomming is van die aanklagstaat wat aandui waarom die goddeloses die tweede dood verdien.

Vuur is ‘n beeld van verskrikking, maar kan nie die werklikheid van die straf van God genoegsaam uitdruk nie. Hoe die ewige dood/straf/oordeel van God sal wees, weet ons nie, net so min as wat ons weet hoe die ewige lewe saam met God gaan wees. Maar met die beeld van ‘n ewige vuur of ewige duisternis waarsku Jesus en die Heilige Gees deur die skrywers van die Bybel dat dit erg en vir ewig sal wees vir hulle wat nie die verlossing deur Jesus wil aanvaar nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: Die verband tussen dood, siekte en hel

Geloofsvrae: Die verband tussen dood, siekte en hel – Adrio König

Die dood

Die verband tussen dood, siekte, hel

Tradisioneel word die dood en die hel in die leer oor `die laaste dinge’ behandel. Dit is egter beter om dit onder die sonde te doen omdat dit nie deel is van God se skeppingsdoel nie, maar eerder deel van die mislukking van sy doel met ons. As ons onder die voleinding die verwesenliking van God se skeppingsdoel verstaan, is dit dus nie gepas om die mislukkings wat mense deur hul sonde veroorsaak, daarby in te sluit nie. Daarom hoort siekte, dood en hel tuis onder ons sonde.

Die dood en die hel is in werklikheid presies die teenoorgestelde van wat God met ons bedoel het. Hy het ons bedoel as bondgenote, as mense wat die sin van hul lewe in verhoudings vind, en dan juis in die liefdesverhouding met Hom, met ander, en met die natuur. Die dood is juis die teendeel van dit alles, die verbreking van alle verhoudings en die beëindiging van alle gemeenskap, en daarom die beëindiging van alle sin en betekenis in ons lewe. Daarom is die dood ‘n skrikwekkende gedagte. En die hel is niks anders as die uiterste konsekwensie en finale verseëling van die dood nie: finaal uit die gemeenskap van God uitgesluit, finaal van die sin van ons lewe (bondgenote van God) vervreem.

Siekte is ‘n voorvorm van die dood, dit is die begin van die dood se oorwinning oor ons. Daarom word dit saam met die dood en die hel behandel.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Christus in die Hel

Christus in die Hel – Francois Malan

Frank vra:

Was Christus ooit werklik in die hel? Ek verwys hier na die Apostolicum…en ter helle neergedaal.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woorde van die geloofsbelydenis staan nie in die Bybel nie, en het in die loop van die eeue verskillende verklarings gekry. In navolging van Calvyn sien Gereformeerdes dit as die dieptepunt van Christus se lyding. Lutherane sien dit as die begin van sy verhoging omdat hulle dit aan 1 Petrus 3:19 verbind: Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is ‘en so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.’

Calvyn het dit verbind aan Jesus se woorde in Matteus 27:46 ‘My God, my God, waarom het U my verlaat.’

Die Heidelbergse Kategismus antwoord op vraag 44: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (Jesaja 53:5). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (Hebr.5:7, e.a.) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het (Matt. 26:36; 27:46).

Wat is die hel en wie is baas van die hel? Volgens Matteus 25:41 sê Jesus dat Hy met sy wederkoms die mense sal oordeel en vir die vervloektes sal sê: Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is. Dit beteken dat God die ongelowiges en die duiwel en al sy engele in die hel sal straf in die hel wat Hy vir hulle berei. In Openbaring 20:10 vertel Johannes van sy gesig dat die duiwel wat die nasies verlei het, in die poel van vuur en swawel gegooi is…hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. En in 20:15 word dit ook gesê van die mense wie name nie in die boek van die lewe geskryf is nie.

Die hel is dus die aanduiding van God se straf op die sonde. En dit is presies wat Jesus aan die kruis gedoen het, toe Hy die sonde van die ganse mensheid op Hom geneem het, en God se straf op ons sonde beleef het as dat Hy van God verlaat is. Hy kon juis die sonde van die ganse wêreld dra omdat ten volle mens geword het, om namens ons God se straf te dra, en Hy kon die onmoontlik sware vrag slegs dra omdat Hy God is. So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy Seun gegee het (Joh.3:16). Christus het op die bestemde tyd vir die goddeloses gesterwe…God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:6,8)

Die hel is om sonder God te wees. In Rom 1:18 sê Paulus dat God sy toorn openbaar oor die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid onderdruk. In vs 24-32 word vertel wat dit behels, nl. dat God die mens oorgee aan sy eie begeertes en drange om te doen net wat hy wil. So vernietig die mens homself. Maar as daar nie meer dood is nie, gaan die selfvernietiging vir ewig voort.

Ons mense is aan tyd en ruimte gebind en kan nie ‘n voorstelling maak van die ewigheid nie. Daarom dink ons aan die hel as ‘n plek. Die woord se oorsprong is waarskynlik die Griekse woord Gehenna as vertaling van die Hebreeuse Ge-Hinnom, dal van Hinnom, aan die suidekant van die stad Jerusalem waar kindersoffers aan die afgod Molek gebring is, deur babas te plaas om doodgebrand te word op die gloeiende uitgestrekte arms van die beeld van Molek waarin vuur gemaak is (2 Konings 16:3; 23:10). In die Nuwe Testament word die Griekse naam Gehenna gebruik, bv. in Matt.5:22; 10:28; 18:9; 23:15; Lk 16:23; Jak. 3:6, 2 Petr.2:4, ens. as aanduiding van God se straf op die sondaars, goddeloses, ongelowiges.

 

Skrywer: Prof Francois Malan