Wanneer was die begin? – Francois Malan

Jan vra:

Ps 2: 7, Hand 13: 33 en Heb 1, 5, 5: 5 Staan daar ; vandag het Ek self U gegenereer. Amplified: Begotten.
Genesis 1: 1 sê: In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Voor dit was daar dus nog geen hemel of aarde nie.
Joh 1: 1 sê: In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God.

Wanneer was die “begin”? God het voor die begin reeds bestaan maar Hy was skynbaar toe nog alleen? Kan mens dan sê, alhoewel dit ‘n misterie is, dat God in Sy eensaamheid besluit het om vir Hom ‘n Seun uit Homself voort te bring toe Hy in Genesis 1: 3 gesê het dat daar lig moet wees en daar was lig wat rym met “vandag” soos dit voor kom in die skrifte hierbo genoem.?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Genereer beteken ‘voortbring, verwek’; en ook ‘tot stand bring, ontwikkel, opwek’ en kom van Latyn se generare om te verwek, te skep.

Die Hebreeuse woord jalad wat in Ps 2:7 gebruik word, beteken ‘om (kinders) te baar’ soos bv. in Genesis 3:16 vir Eva wat in pyn kinders sal baar; en in Gen 30:39 van skaapooie wat lammers kry. Dit word ook van die manlike aandeel gesê, op baie plekke in die geslagslyste soos bv. in Gen 4:18 Irad het Megujael verwek, ens. (1983-vertaling maak telkens daarvan: ‘was die vader van’). Dit word ook metafories gebruik soos bv. in Ps 7:15 om leuens voort te bring. Ook van God word dit metafories gebruik soos bv. in Deutr. 32:18 dat jy die Rots wat jou gebaar het, nie in ag neem nie; en van ‘n dag/die toekoms soos in Spreuke 27:1 jy weet nie wat die dag gaan baar/voortbring nie. In Ps 2:7 verwys die werkwoord na die nuwe gesalfde koning wat God oor Israel aangestel het – ‘vandag het Ek jou verwek.’ So gebruik 1 Joh 5:1 ook die Griekse woord gennaoo (die manlike rol om te bevrug, te genereer, verwek) in figuurlike sin vir gelowiges: Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore/deur God gegenereer/verwek, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore/deur Hom gegenereer/verwek is.

Volgens Handelinge 4:25 gaan Ps 2 oor Dawid wat deur die Here as koning oor Israel gesalf is.

Maar omdat die Here aan Dawid in 2 Samuel 7:13-14 belowe het dat sy koningskap altyd sal voortbestaan en dat die Here die Vader sal wees vir die koning uit die nageslag van Dawid (metafories gebruik, nie letterlik nie), en Jesus die Seun van Dawid genoem word in die Nuwe Testament (vgl. Lukas 1:32), is Ps 2:7 ook op Hom van toepassing gemaak, bv. in Handelinge 13:33 met verwysing na Jesus se opstanding uit die dood; en in Hebr 1:5; 5:5-10 wat verwys na Jesus se offer aan die kruis as ons hoëpriester.

Johannes 1:1-5 gee egter die sleutel om Genesis 1:1-3 te verstaan. Volgens Johannes 1 is Jesus die Woord van God, self God, en in die begin was Hy reeds daar, en het alles deur Hom ontstaan. Genesis 1:3 sê dat God geskep het deur sy Woord: Toe het God gesê laat daar lig wees, en daar was lig. 1 Korinthiërs 8:6 sê: vir ons is daar net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe, en net een Here, Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. Dat Jesus die Woord van God is, wat God aan ons openbaar, beteken dat orals waar die Ou Testament praat van die woord van God, of dat die Here gesê het, dit Jesus is wat aan die woord is, om sy Vader se woord aan ons deur te gee. In Johannes 14:9-11 sê Jesus: Ek is in die Vader en die Vader in My. Soos die Vader, is Jesus ewig. In Joh 17:24 verwys Jesus in sy gebed dat die Vader vir Hom voor die grondlegging van die wêreld al liefgehad het.

 

Hebreërs 9: 14 praat daarvan dat Christus Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer het. Ook die Heilige Gees is ewig. Genesis 1:2 praat al van die Gees van God wat oor die waters gesweef het by die skepping om lewe en orde te bring in die woeste leegheid. Hy is die Gees wat lewend maak (Joh 6:63; 1 Petr 3:18). In Gen 2:7 blaas God sy asem in die mens se neus en die mens het ‘n lewende wese geword. So word alle lewe deur die Gees van God gegee en geneem, aan die mens (Gen 6:3; Job 12:10; 34:14-15; Pred 12:7; Dan 5:23) en aan diere en plante (Ps 104:29-30; Jes 42:5).

 

1 Johannes 4:8,16 sê: God is liefde! Liefde is ‘n verhouding. So is die eenheid tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees van ewigheid af ‘n volmaakte liefdeseenheid waarin elkeen Homself aan die ander in liefde gee. In Johannes 14:16 belowe Jesus dat Hy die Vader sal vra om die Heilige Gees te stuur om in ons te bly; en in dieselfde hoofstuk 14 vers 23 sê Hy: As iemand My liefhet, sal Hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal Hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Vader, Seun en Gees woon in hulle wat vir Jesus liefhet. Volgens Genesis 1:26 het God gesê: Laat ons mense maak na ons beeld en ons gelykenis.

 

Met die skepping in die begin van die hemel en die aarde, het die ewige God se liefde ook uitgereik na ‘n hele skepping buite die ewige liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun en die Gees; ‘n skepping wat gebonde sal wees aan ruimte en tyd. Moses noem Hom die ewige God (Deutr. 33:27) – wat van ewigheid af was en sal wees (vgl. Openb 1:4). Paulus sê in Romeine 1:20 dat sy krag en Godheid ewigdurend is. Volgens Efesiërs 3:11 het God Hom van ewigheid af voorgeneem om sy verlossingsplan deur Jesus Christus ons Here, tot uitvoering te bring. Die begin verwys na die begin van die bedeling van ruimte en tyd wat God geskep het. Die ewigheid het egter geen begin of einde nie, en vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag (1 Petr 3:8; vgl Ps 90:4 Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die hemel: Waar is dit?

Timothy Radcliffe

Die hemel: Waar is dit?

(Openbaring 21:3).

 

Waar is die hemel? Ons stry oor die antwoord en soek ‘n geografiese plek – bo in die lug iewers. Die Bybel sê egter vir ons dat die hemel daar is waar God is. Dit verduidelik alles wat ons van die hemel moet weet.

Maar waar is God? Daar waar God is, is twee dinge waar:

  • Waar God ook al is, is daar volkome blydskap

Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom; hulle sal altyd straal van blydskap; hulle sal vol vreugde en blydskap wees; ellende en smart sal verdwyn (35:10). Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan (Openbaring 21:4). Die goue draad war deur hierdie drie teksverse loop, is: Waar God is, is daar  oorvloedige blydskap … vreugde en blydskap … en geen leed, smart en pyn nie.

  • Waar God is, is daar nimmereindigende aanbidding

(Openbaring 22:3). Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag, sonder om te rus, gesê: “ Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” (Openbaring4:8). Daar waar God is, sal hy dag en nag aanbid word.

Wat ook al nog waar is van die hemel, is hierdie twee dinge die belangrikste: oorvloedige blydskap en aanbidding – dag en nag – in die teenwoordigheid van die Drie-enige God. Dit is die ewige bestemming van almal wat Jesus Christus liefhet.

 

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood?

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood? – Kobus Kok

Piet vra:

Wanneer gaan ons hemel toe? Ek dink die oomblik as ons sterf, is ons in die hemel. Daar is nie ‘n tydsverloop in die terme wat ons tyd verstaan nie. Ek dink die tydsbegrip bestaan net vir ons as lewende mense en na ons gesterf het , gaan ons in ‘n ander dimensie in waar tyd nie bestaan nie. Daarom kan ons dan vir ewig lewe, want daar is nie ‘n tydsfaktor verbonde nie. U kommentaar asseblief.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood? 

Die Nuwe Testament gee nie vir ons duidelike antwoorde oor presies wanneer ons hemel toe gaan nie. Sommige tekste soos die van Lukas se verhaal van Lasarus en die ryk man (Luk 16:19-31) laat dit voorkom of ons dadelik in die hemel gaan wees en ander mense dadelik sal kan herken. Aan die ander kant vertel Jesus hier ‘n gelykenis, en dit moet nie letterlik verstaan word nie. Ander tekste, soos dié wat ons in Paulus vind (vgl. 1 Thes) skep die indruk dat mense in die grafte bly en dan met die wederkoms uit die grafte sal opstaan.

Piet slaan die spyker op sy kop en gee eintlik die regte antwoord in sy eie vraag. Die oomblik as ons sterf, verlaat die gees die liggaam. Die oomblik as dit gebeur, is tyd en ruimte eintlik nie meer van toepassing op ons nie. Indien tyd nie ‘n faktor is nie, sal die dooie nie eens die tyd tussen sy/haar eie dood en die wederkoms noodwendig beleef nie – dit sal soos ‘n oogwink voel.

Hierdie dinge is egter almal spekulasie, omdat die Nuwe Testament dit nie vir ons eksplisiet verduidelik nie.  Die Gereformeerde kerklike tradisie onderskei haarself duidelik van sommige ander kerklike denominasies wat glo dat mense na hulle dood in een of ander tussen-tydperk gaan verkeer. Ons glo dat ons dadelik by God gaan wees, en indien ons nie dadelik by hom gaan wees nie, gaan ons nie eens weet dat tyd verloop het nie. Tyd gaan relatief wees na die dood.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Diere in die hemel

Diere in die hemel – Francois Malan

Elize vra:

Ek wil graag weet of diere (ons troeteldiere) eendag saam met ons die nuwe aarde sal bewoon. Sal ons weer ons geliefde diere sien – my logika sê vir my dat God sy skepping lief het en dat ‘n liefdevolle God weet hoe lief ons ons diere het en daarom sal hy ons nie skei van mekaar. Dit pla my baie, want ek klou aan die hoop dat ek my diere weer sal sien in die hiernamaals en my hart was baie seer met hul afsterwe – ek dink nog elke oomblik van die dag aan hulle en ek glo dat ek hul weer sal ontmoet.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ons weet nie. Wat vir ons wag bly ‘n verrassing, en ons kan seker wees dit sal baie anders wees as hier, baie beter sonder sonde en dood, en dat ons by die Here sal wees. Sy heerlikheid sal ons lig  wees en die Lam ons lamp waarby ons sal lewe (Openb. 21:22-27), maar wat die heerlikheid van God inhou sal ons nog sien. Ons sal in elk geval lewe in die heerlikheid van God se liefde, waarin dié mense lewe wat in Jesus Christus glo as die Here van hulle lewe.

Dat die nuwe aarde nuut sal wees, beteken dat God sy skepping gaan nuut maak, maar nie vernietig nie. En dat daar diere sal wees, word in die Bybel voorsien. Jesaja 11:6-8 sê bv. wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees, en klein seuntjies sal vir almal sorg. Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange.

In Romeine 8:19-22 sê Paulus die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het (toe die mens in sonde geval het, het die dood in die wêreld gekom soos God gesê het Gen 2:17. En sedertdien sterf alles in die skepping ook). Daarby het Hy die belofte van hoop gegee, die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom wat behoort by die heerlikheid van die kinders van God. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan