HERKOMS VAN DIE HEMEL AS NADOODSE BESTEMMING VAN GELOWIGES
Die hemel bly nog ‘n gewilde manier om na gelowiges se nadoodse bestemming te verwys. Die vraag is waar hierdie uitdrukking vandaan kom. Dit hang saam met die antieke wêreldbeeld wat God se woonplek as bo die aarde, agter die uitspansel, voorgestel het. Na hulle dood gaan woon gelowiges dan saam met God in sy woonplek. Vandag sal ons egter “hemel” anders moet verstaan.
Die hemel bly ‘n gewilde manier om die nadoodse bestemming van gelowiges mee te beskryf. Maar waar kom dit vandaan dat ons sê ons gaan “hemel” toe?
Eers iets ter inleiding. Mens bespeur nogal deesdae ‘n terughoudendheid by teoloë om oor die hemel te skryf. Die saak lê natuurlik anders by die populêre leesmark. Hier verskyn daar kort-kort iets oor die hemel. Maar baie hiervan is wilde spekulasie wat selfs misleidend kan wees.
Vanwaar hierdie terughoudendheid by teoloë? Moontlike redes:
- Ons het geen eerstehandse ervaring van die hemel nie. Dis nie deel van ons alledaagse ervaring nie. Uitsprake daaroor is dus baie spekulatief. En die Bybel gee geen inligting oor die hemel by mense wat uit die dood opgewek is nie (byvoorbeeld Lasarus).
- Te veel klem op die hemel lei tot ‘n ongesonde hemelverlange. Die Bybel plaas die klem eerder op gelowiges se taak op aarde. Die hemel kan ons rustig in God se hande laat vir wanneer ons daar kom.
- Tradisionele gedagtes oor die hemel is te egoïsties. Dis te veel ingestel op my en my geliefdes se behoeftes en voortbestaan (byvoorbeeld: “die familiekring sal daarbo weer voltooi wees”). Die Bybel gee ‘n veel omvattender perspektief op ons uiteindelike toekoms.
- Die voorstellings oor die hemel in die Bybel is verweef met die antieke wêreldbeeld. Ons wêreldbeeld het egter verander. “Hemel” is dus vir baie nie meer ‘n realistiese manier om na die hiernamaals te verwys nie.
Dus, die teologie is minder spekulatief. Dit konsentreer eerder op die dinge waaroor die Bybel wel baie praat, naamlik wat Christenskap vir die hiernoumaals beteken, en nie vir die hiernamaals nie.
Waar kom die gedagte vandaan dat ons hemel toe gaan na ons dood?
Die antieke wêreldbeeld help hier. Die wêreld is soos ‘n drieverdiepinggebou gesien.
1. Die grondvloer is die plat aarde.
2. Die kelderverdieping (onder die aarde) is die doderyk (sheol).
3. Die eerste verdieping is die hemel. Laasgenoemde is ‘n blou koepel wat oor die plat aarde gespan is. Dit het sluise, waaruit die reën val. En die son, maan, sterre en wolke beweeg hier op hulle baan.
Onsigbaar agter die koepel is die woonplek van God – die hemel. Hier is sy troon; hier woon Hy met sy hemelinge (gerubs, serafs, engele) wat hom dien, baie soos ‘n oud-Oosterse koninklike paleis. Vanuit die hemel regeer God die hemel en die aarde. Dit is die koninkryk van die hemel/God. Die hemel self is in die Joodse voorstellings dikwels in verskillende vlakke ingedeel. Sewe was ‘n gewilde getal. Paulus weer maak in 2 Korintiërs 12 melding van ‘n man (waarskynlik hyself) wat tot in die derde hemel weggeruk is.
Wat leer ons uit hierdie antieke wêreldbeeld? Twee dinge:
1. In die Ou Testament kry ons die voorstelling dat gelowiges na hulle dood na sheol gaan (onder die aarde), maar gaandeweg het daar ‘n verskuiwing ingetree. In die Nuwe Testament kry mens die gedagte dat gelowiges hemel toe gaan, byvoorbeeld:
- Ons is burgers van die hemel (Filippense 3:20);
- Christus sê vir die moordenaar aan die kruis: Vandag sal jy saam met my in die paradys (wisselterm vir hemel) wees;
- Johannes 14:2: Christus sê aan sy dissipels: In my Vader se huis is daar baie wonings, Ek sal julle kom haal en julle sal saam met my wees;
- 2 Korintiërs 5:1: As ons aardse tentwoning afgebreek word, het ons ‘n vaste gebou in die hemel; en
- Openbaring 7: Die gestorwe martelare is in die hemel voor die troon van die Lam.
2. Vandag het baie mense ‘n probleem met die begrip hemel, want ons deel nie meer die antieke wêreldbeeld nie. Dus, die hemel as fisiese woonplek van God (en as ons toekomstige woning) is problematies. Ons weet van die ontsagwekkende grootte van die kosmos. Die hemel as God se woonplek is kennelik nie bo die wolke, of selfs bo die aarde se atmosfeer, of op pad maan toe, of waar ook al nie. Jurie Gargarin, die Russiese ruimtevaarder, was dus destyds reg toe hy gesê het: “Ek het God nêrens gesien nie.” Hy sou ook nie. Daardeur het hy eintlik net sy onkunde en ongeloof geopenbaar.
Die punt is: Ons moet ons siening van “hemel” aanpas. Ons moet eerder sê: Die hemel is ‘n alternatiewe bestaanswyse. Dit mag ook tyd en ruimte beslaan, maar dan nie soos ons tyd en ruimte vandag verstaan nie. Dis ook nie ver weg, agter die verste sonnestelsels nie, maar ‘n ander dimensie van bestaan. Dis hier by ons, maar net aan die “ander kant” (Duits: jenseits) van wat ons kan waarneem, buite bereik van ons huidige waarnemingsvermoë.