Tref God onderskeid?

Tref God onderskeid? – Marius Nel

Rita Strauss vra:

Wanneer God in Eksodus 11:7 sê dat hy onderskeid tref tussen Egiptenaar en Israeliet, moet ons dit ook verstaan dat HY onderskeid tref tussen gelowig en ongelowig? Ek meen kan ek die afleiding maak dat ons as gelowiges ook in die alledaagse anders deur God behandel word as die ongelowiges? God het tog die Israeliete die rampe gespaar, kan ek daarom ook myself God se beskerming toeëien op grond van my kindskap? Ek weet tog ook dat ons nie lyding sal vryspring nie, dit maak Jesus tog ook duidelik in Sy gesprekke met die dissipels. Hoe moet mens hierdie woorde wat as God se eie woorde weergegee word, verstaan??

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Jy het ‘n geldige vraag. Ek meen die onderskeid tussen Israeliet en Egiptenaar het in die eerste plek te make met die onderskeid tussen God se volk en die volk wat God se volk onderdruk. En daarom kan die belofte nie net so van toepassing gemaak word op moderne gelowiges se situasie nie. Feit is: nie almal in Israel was getrou aan die Here nie, soos die woestynverhale duidelik demonstreer.

Die nuwe Israel het ook beloftes ontvang, maar dit is op ‘n ander lees geskoei, op grond van ons geloof in Jesus Christus.

Dankie vir die vraag.

 

Outeur: Dr Marius Nel

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Ballingskap

Die Groot Geloofswoordeboek: Ballingskap

Die ballingskap (exile) was die vernietigendste ervaring wat Israel ooit in die tyd van die Ou Testament beleef het.

Eintlik was daar twee ballingskappe. Die stamme van die Noord­ryk (“Israel”) is alreeds in 722 vC weggevoer, en Juda in 586 vC na ‘n kleiner wegvoering (597). “Israel” het nooit teruggekom nie, maar Juda wel teen 539. Soms word Juda ook “Israel” genoem.

As “Israel” nooit teruggekom het nie, klink dit vreemd dat ons la­ter in die Nuwe Testament tog nog lees van mense uit hier­die stam­me. So was daar Anna uit die stam van Aser (Luk 2:36). Maar die stam Aser is dan een van die tien stamme wat in 722 wegge­voer is en nooit weer teruggekom het nie. Ons moet onthou dat nie alle mense tydens so ‘n ballingskap weggevoer is nie. Dit sou selfs glad nie eens moontlik gewees het nie. Hoe sou die verowe­­raar al die bejaardes en klein kindertjies met daardie ou voertuie deur die woestyn kon wegkry? En waarom sou hulle pro­beer?

Trouens, dit help as ons vra: Waarom het hulle in die geheel ‘n “volk” weggevoer? Om goedkoop arbeid te kry. Dit beteken dat hulle die mense wat kon werk, veral die jong mans en jong mei­sies, weggevoer het, die room van die volk. Maar daar het genoeg oueres en kreupeles en klein kindertjies oorgebly om weer voort te plant. Die *Samaritane was die gevolg van die ondertrouery tussen hierdie Jode wat agtergebly het en die veroweraar se mense wat hier ingetrek het.

Die ballingskap was in ‘n hele paar opsigte ‘n keerpunt in die ge­skiedenis van Israel. Dit was so ‘n vernietigende gebeurtenis dat sekere leiersgroepe dubbel seker wou maak dat so iets nooit weer gebeur nie. Dit het beteken dat hulle die wet van God ern­stiger as ooit tevore opgeneem het en seker wou maak dat dit tot op die letter uitgevoer word. Dit het gelei tot ‘n nuwe vorm van wettisisme/moralisme wat veral deur die Fariseërs ontwikkel is.

Tydens die ballingskap het Israel ook met ‘n apokaliptiese wêreld­beeld (*Apokaliptiek) in aanraking gekom en baie daar­van oorgeneem. Dit het in die Ou Testament veral neerslag ge­vind in Daniël waar ons dan ook vir die eerste keer van die *op­stan­ding aan die einde van die geskiedenis lees (12:2). Hierdie wêreld­be­skouing vorm later die agtergrond van Jesus se optrede en toe­koms­verwagting.

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König




Israel

Israel – Jan van der Watt

Jan Smith vra:

In Matteus 15: 24 sê Jesus: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. Hierna kom die Kanaänitiese vrou en vra dat Hy die duiwel uit haar dogter verdryf. Dan sê Hy: dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie. Sê sy: Die hondjies eet reeds die krummels wat gemors word. In Matteus 10 stuur Jesus sy dissipels op ‘n sending, vers 5: Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; vers 6 maar gaan liewer na die verlore skape van Israel. Johannes 10: 16: Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na My stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. VRAAG: Hoekom sê Jesus vir die vrou so, wie is die heidene hier en wie is die ander skape wat vermeld word, asb? Was dit net die stamme van Juda en Benjamin wat op daardie tydstip as die huis van Israel betrokke was? Baie dankie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons vergeet dikwels dat Jesus en sy dissipels Jode was. Hulle het tussen ander Jode gewoon en die profesieë van die Ou Testament saam met die ander Jode saam met die Hebreeuse Bybel ingekry. Daarvolgens sou God sy volk, die Jode, uit hulle onderdrukking red deur ʼn Messias (gesalfde koning) te stuur. (Daar was ook ander verwagtings van hoe God dit sou doen). Sy volk, die Jode, sou dan bevry wees en as volk in die beloofde land leef. Die beloftes is dus verstaan as spesifiek vir die Jode bedoel. Hierdie Jode is die volk van God wat teruggekom het uit ballingskap en weer die tempel en Jerusalem kom opbou het. (Dit was hoofsaaklik die stamme van Juda en Benjamin, maar nie eksklusief nie. Na die ballingskap het die stamme nie meer so prominente rol gespeel as voor die tyd nie.).

As Jesus dus kom, kom Hy in die eerste plek vir die Jode. Onder die Jode begin Hy sy boodskap van verlossing – vir hulle is dit in die eerste plek bedoel. Maar daar stop dit nie. Dit is wat die verhaal in Matteus 15 wil sê. Die heidene (= nie-Jode van geboorte) gaan ook deel kry daaraan. In die Evangelies sien ons dat Jesus se verlossing wyer gaan – van Jerusalem na Samaria tot aan die eindes van die aarde. Dit is ook die implikasie van die woorde in Johannes 10:16 – dit verwys na die Grieke (wat in hoofstuk 12 in die Evangelie by kom). Die Grieke is egter hier die simbool vir almal wat nie-Jode is nie. Ten spyte daarvan was dit in die eerste plek vir die Jode bedoel.

Tydens die ballingskap het daar ingrypende veranderinge in die volk Israel se struktuur gekom. Die Noordryk (10 stamme) is eerste deur die Assiriërs weggevoer. Die twee suidelike stamme (Benjamin en Juda), met Jerusalem as hulle setel, kon toe ooreenkomste met die Assiriërs maak sodat dieselfde lot hulle nie ook tref nie. Byna twee eeue later het die Babiloniërs toe die twee stamme van die suidelike ryk in ballingskap kom wegvoer en in Babel was die stamme van Israel dus vermeng. Die koning van die Perse (wat die Babiloniërs intussen verslaan het) het die mense van Israel toe toegelaat om hulle tempel en Jerusalem weer te gaan opbou (sien Esra en Nehemia). Hulle is nie as stamme terug nie, maar as ‘n eenheid en van toe af word hulle JODE genoem. (In ‘n sekere sin is dit die begin van die JOODSE volk). In Palestina tref hulle toe mense soos die Samaritane aan (dit is die mense wat met die ballingskap nie goed genoeg was vir die Babiloniërs om saam te neem nie. Hulle is agter gelaat en het ondertrou, sodat hulle dus ook nie meer suiwer stamme was nie). Van toe af is die land nie meer in stamme verdeel nie, maar Jerusalem was die hoofstad van die Joodse volk wat uit die ballingskap teruggekeer het. Die ‘Joodse volk’ sluit al 12 stamme in – Jesus is in Jerusalem, die sentrum van die Joodse volk – gekruisig deur die Joodse volk.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt