Die Jakobus-brief

Die Jakobus-brief – Francois Malan

Japie vra: 

Ek wil net weet of Jakobus vir die Jode of Christene geskryf is. 83-vertaling sê dit is aan 12 stamme in verstrooiing geskryf. Wie was dit?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Jakobus (om hom te onderskei van ander Jakobusse, is hy deur die vroeë Christene Jakobus die Regverdige genoem), was ‘n broer van Jesus (vgl. Markus 6:3), en die geestelike leier van die gemeente in Jerusalem (Hand.15:13; 21:18; Gal.1:19; 2:12), nadat die apostels so vervolg is dat ook hulle die stad moes verlaat.

Na die vervolging van die Christene in Jerusalem (Hand.8:1,4), het hierdie Joodse gelowiges in Egipte, Samaria, Sirië, Siprus tot in Rome gaan woon en van Jesus vertel volgens sy opdrag (Hand.1:8). Moontlik was die brief aan so ‘n groep gestuur en is na hulle plek as ‘in die verstrooiing’ verwys, ook met die gedagte dat die brief aan groepe verder aan deurgegee moes word (in Hand.15:22-29 word bv. na ‘n soortgelyke omsendbrief aan gemeentes verwys). Die gemeentes het oorspronklik uit gelowige Jode bestaan wat die evangelie verkondig het aan die nie-Jode, en die nie-Jode is ingesluit as deel van die gemeentes. Daarom word die brief aan Joodse en nie-Joodse gelowiges in een gemeente geskryf (vgl. Hand.11:19-26; Gal. 2:11-14).

In die gemeente(s) aan wie Jakobus skryf was daar blykbaar ‘n minderheid wat na ‘n suiwer godsdiens soek (1:24; 4:4). ‘n Aantal leraars, wat onderling verskil, belemmer egter hierdie strewe (3:14). Party pas aan by die sedelike en ekonomiese gebruike van die stad waar hulle woon. Ander wil die eie aard van die gemeente van Christus bewaar (1:2-12). Jakobus identifiseer hierdie konflik en spreek dit aan. Hy sien die gemeente(s), wat verspreid leef in ‘n begeerlike en aggressiewe omgewing (4:4), verloor hulle geduld (1:3; 5:7), en daarmee ook hulle geloof dat God die God oor alle nasies is (1:5,17). Hulle verkeer in spanning (1:20), praat baie, maar doen min (1:23), hulle wil nie meer opvallend wees in hulle omgewing nie (1:27), en stel meer belang in wat persone in hoë posisies van hulle dink as wat geringer mense van hulle dink (2:2-4). Hulle ontwyk hulle verantwoordelikheid vir sosiale geregtigheid (2:13), is bang om te ly (5:10) en vergeet om hulle te bekommer oor mense in nood (1:27; 5:14,19). Die gelowiges wat God en die medemens liefhet, soos Jesus gesê het, en met wysheid daarin volhard, het die belofte dat hulle lewe sinvol en skeppend sal wees.

Jakobus wys dat die lewe in die wêreld ‘n toets is vir ‘n lewende geloof, deur dit te toets aan wat die Woord van God sê (1:19-27). Dit toets jou geloof se reaksie op partydigheid (2:1-13), en hoe die toets goeie werke tot gevolg het (2:14-26). Die toets van jou geloof bring selfbeheersing (3:1-18); dit wys wat jou reaksie is op twis en tweedrag (4:1-12), op selfversekerde beplanning (4:13-17), of jy verkeerd reageer teenoor onreg (5:1-11), of jy selfsugtig gebruik maak van eedswering (5:12), en toets of jy jou toevlug neem tot gebed (5:13-18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Proto-Evangelie van Jakobus

Die Proto-Evangelie van Jakobus

In die Nuwe Testament is daar nie baie inligting oor Maria, Jesus se ma, nie. Daar word byvoorbeeld niks oor haar kinderjare gesê nie.

Sommige Christene het later verhale oor Maria uitgedink waarin vertel word watter soort kind sy was, hoe sy grootgeword het en hoe Jesus gebore is. Sommige van hierdie verhale is in Die Proto-Evangelie van Jakobus opgeteken. Hier is een wat vertel van haar kinderjare:

 

1Maria het elke dag sterker geword. Toe sy ses maande oud was, het Anna, haar ma, haar op die grond laat staan om te sien of sy self kan staan. Maria het sewe treë gestap en omgedraai en teruggestap in haar ma se arms in! Anna het haar opgetel en gesê: “Ek sweer, so waar as die Here my God leef, jy sal nie weer op die grond loop voordat ek jou na die tempel van die Here geneem het nie!” Toe het Anna vir Maria ‘n heilige plek in haar slaapkamer gemaak en niks wat onrein was of nie aan die Here gewy was daar toegelaat nie. Anna het ook rein Hebreeuse meisies laat kom en hulle het met Maria gespeel.

2Toe Maria een jaar oud word, het Joagim ‘n groot fees gehou. Hy het die hoëpriesters, die priesters, die Skrifgeleerdes, die Joodse Raad en al die ander mense uitgenooi. Joagim het die kind na die priesters gebring en hulle het gebid en vir God gevra om vir haar goed te wees: “God van ons voorouers, wees tog goed vir hierdie kind! Maak haar vir altyd beroemd onder al die mense!” Al die mense het gesê: “Mag dit so wees! Amen.” Toe neem hulle haar na die hoëpriesters. Hulle het ook gebid en vir God gevra om vir haar goed te wees: “Grote God wat bo alles is, wees tog goed vir hierdie kind! Gee vir haar die heel beste wat U het!”

3Anna het vir Maria teruggevat na die heilige plek in haar slaapkamer en haar laat drink. Toe het sy vir die Here God ‘n lied gesing: “Ek sing ‘n heilige lied vir die Here my God, want Hy het my kom help en die skande van kinderloosheid waaroor my vyande my gespot het, weggeneem! Hy wat altyd doen wat reg is, het aan my laat reg geskied op ‘n manier wat niemand sou kon droom nie, en nog met oorvloed ook! Wie sal vir die kinders van Rubel gaan vertel dat Anna ‘n kind laat drink? Julle moet hoor, al twaalf stamme van Israel: Anna laat ‘n kind drink!”

Sy het die kind neergelê in die heilige plek in haar slaapkamer en uitgegaan en die gaste gaan bedien. Toe die ete verby was, is almal huis toe. Hulle het goed gevoel en die God van Israel geprys.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie