Die Here teenoor die afgode (44:1-23) – Francois Malan
Hierdie hoofstuk volg die patroon van Jesaja: Die Here sorg vir Israel; die Here is sterker as die afgode. Verse 1-5 begin met versekerings aan Israel en ‘moenie vrees nie;’ Die twee klein eenhede aan die einde, verse 21-22 en 23, gee ook versekerings aan Israel. Tussenin is verse 6-8 ‘n strydgesprek wat in verse 9-20 uitgebrei word met ‘n lang veroordeling van die afgode. Die hele hoofstuk verseker vir Israel dat ‘n lewe wat goed regeer word deur die Here, ‘n lewensvatbare vertroubare alternatief is vir Babilon se tipe lewe.
44:1-5 Gelowiges behoort aan die Here!
44:1-2 Die hoofstuk begin met ‘Maar nou…’ soos in 43:1, en staan direk ná die donker prentjie van Israel se onwaardigheid in die verlede in 43:22-28. Hulle word geroep om te luister na die nuwe pad van die Here se guns teenoor hulle en hulle daarvoor voor te berei.
Jakob/Israel is my dienaar (‘ebed slaaf) – hulle status en hulle lewenswerk kom van hulle Eienaar af;
wat Hy uitverkies het – daarmee word hulle voorreg en roeping aangedui word (41:8);
Met dié name en posisies verseker die Here hulle van sy guns teenoor hulle en van hulle hoë roeping om diensknegte te wees van die Here/Jahweh, die persoonlik aktiewe teenwoordige ‘Ek is;’
Hy is hulle Maker en Formeerder van die moederskoot af – voordat hulle ‘n volk geword het,
het die Here vir Abraham die vader van baie gemaak (Gen 17:5), en sedertdien vorm Hy aan hulle om geskikte ‘dienaars van die Here’ te wees; Hy sal hulle ook nou help; daarom moet hulle nie bang wees nie – maar op die Here vertrou.
My dienaar Jakob (bedrieër), My uitverkorene Jesjurun (opregte; Deutr 33:5,26) – sondaar en regverdige
Martin Luther het gesê: simul justus et peccator – ‘n gelowige is ‘tegelyk regverdige en sondaar’
44:3-4 Hulle sal nie gebrek hê nie (43:20) ‘want (die volgende rede waarom die ballinge nie moet vrees nie, is die verdere verlossingswerk van die Here!) :
Ek stort water op die dorsland en reënval op die droë grond
(die Here gaan sy ryke seën uitstort oor die natuur, 41:18);
Ek stort my Gees op jou saad en my seën op jou nageslag’ (ook die mens se natuurlike lewe word geseën. ‘n Wonderlike nuwe lewe vir die mens word aan Israel beloof met die metafoor van die wonderlike groei van plante in die woestyn. Alle lewe kom van die Gees van die Here (Jes 42:5; Ps 104:30; Pred 12:7) wat lewegewend oor die chaos gesweef het met die skepping (Gen 1:2). En hier word ‘n nuwe lewe vir die ballinge geskilder.
44:5 Die gevolg van die verandering wat die Here gaan teweegbring is dat Israel, wat tans in ballingskap verkeer, ‘n duidelike en nuwe identiteit gaan ontvang as die volk van die Here, wat met vier name beskryf word wat, met entoesiasme deur die ballinge en van die heidene wat by hulle wil aansluit, gebruik sal word:
Een sal sê ‘Ék behoort aan die Here (Jahweh)’ – ons woord kerk (kuriaké) beteken ‘die Here s’n’
En een sal uitroep ‘in die naam van Jakob’ – as hy ‘n verklaring wil maak
En een sal op sy hand skryf ‘die Here s’n’ – nie meer gemerk as slaaf van ‘n Babiloniese heer of god nie –
maar met die merk van die Here. Die hand is ook simbool van die werk wat hy/sy doen
En die erenaam Israel opgee – as hy moet opgeskryf word, sal hy met trots sy erenaaam opgee: Israel: ‘God het
stryd gevoer’ – om hom van hom ‘n nederige dienaar te maak soos die sterke Jakob, wat mank gebly het na sy worsteling met God (Gen 32:28-31).
Die ballingskap se proses van assimilasie wat Assirië en Babel op Israel afgedwing het deur hulle oral in die ryk te verstrooi (2 Kon 17:6) het daartoe gelei dat Israel en Juda hulle identiteit onderdruk of verloor het, agter Babiloniese name geskuil het, of vir veiligheid of gewin hulle godsdienstige identiteit misken het. Die Here se nuwe aanbod van genade sal dit nou vir hulle verander deur Kores se anderse beleid van hervestiging van mense in hulle ou gebiede (vgl. Esra 1:1-4). As geliefdes en uitverkorenes van die Here kan hulle openlik bely dat hulle aan die Here behoort, dat Hy hulle beskerm en versorg, en dat hulle aan Hom gehoorsaam lewe (vgl. Hand 4:19-20).
Die Here het die tien noordelike stamme van Israel in 722 v.C. in ballingskap in die Assiriese ryk verstrooi (2 Kon 17:6). Die Assiriese ryk is in 612 v.C. deur die Babiloniers oorgeneem. In 597 v.C. en 587 v.C. is die twee stamme van die Juda-ryk in ballingskap in Babel verstrooi. Die twee broervolke wat voorrtdurend in stryd en oorlog met mekaar gewikkel was, het ná die ballingskap teruggekeer as een volk Israel van 538 v.C. onder Serubbabel tot 458 v.C. met Esra en 445-428 v.C met Nehemia. So het die Here een deel van sy doel met die lyding van Israel en Juda in die ballingskap bereik om van die twee weer een te maak (Eseg 37:15-22). Dit is ook die doel van Christus vir sy kerk (Jn 17:22-23; Gl 3:28).
Skrywer: Prof Francois Malan