Jesaja – Die Here se tweede verlossingstoespraak: Deel 1 (Jesaja 41:14-16) – Francois Malan
41:14 Met die beskrywing van Jakob/Israel as ‘n klein wurmpie eggo die Here Israel en die profeet se moedelose woorde, dat alle mense soos gras verdor en soos blomme verwelk (40:6-8). Hy eggo ook sy versekering in 40:9-11 dat Hy hulle herder is wat die swakkes dra, hier as die Heilige wat aan Israel toegewy is, as hulle Helper en Losser. Die term ga’al verwys na die Losser wat volgens die familiereg help in nood (wat ‘n famielid se grond wat vervreemd geword het vir hulle terugkoop, Rut 2:20; ‘n familielid wat ‘n slaaf geword het, vrykoop, Lev 25:48; ‘n familie se eer red deur die dood van ‘n familielid te wreek, Num 35:12; nakomelinge vir ‘n gestorwe familielid te verwek, Deutr 25:5). Hier gaan die Here vir Israel help, wat deur sy sonde en opstand teen die Here in die nood van die ballingskap verval het, en Hy gaan as hulle Losser optree omdat Hy uit liefde aan Israel toegewy is. So het Jesus Homself as offer gegee om ons van al ons ongeregtigheid vry te maak (Titus 2:14), die Here het Israel se bevryding/verlossing bewerk (lutroo, Luk 1:68), ons losgekoop van die vloek van die wet (Gal 3:13), vgl. Jesus wat sy lewe as losprys vir baie gee, Mt 20:28.
41:15-16 lewer verklaringsprobleme. Word Israel ‘n mag wat op Babel se rug ploeg en hulle soos kaf laat wegwaai? Of: kon die Here van hulle so ‘n mag gemaak het, en dit nie gedoen het nie, maar vir Kores gekry het om dit vir Hom te doen? Meer waarskynlik die tweede verklaring. Maar jy sal bly wees in (die gemeenskap van) die Here en jou beroem in (gemeenskap met) die Heilige van Israel. – Hy sal die rede vir jou blydskap en lofsang wees.
Deel 2 van die Here se tweede verlossingsgesprek (Jesaja 41:17-20)
41:17-19 Die gedig skilder eers die absolute nood, o.a. van die ballinge, met beelde van die uiterste droogte in die natuur en sterwensdors van die mens. Daarby gee die Here die versekering dat Hy sal, as die God van Israel, hulle noodroep beantwoord en hulle nie versaak nie. Die volksmenigte het destyds ook vir Moses verwyt dat hy hulle en hulle kinders en hulle vee van die dors laat omkom (Eks 17:3).
Die Skepper van berge en woestyne sal wys Hy kan riviere laat ontspring uit barre berge, en woestyne verander in waterpoele wat omsoom is met bome, soos Hy uit ‘n barre rots strome water laat uitloop het deur Moses se kierie en ook vir hulle ‘n droë pad deur die see gemaak het (Eks 14:16; 17:6).
Die hiperboliese gedig belowe aan Israel dat die Here vir hulle terugtog deur die woestyn sal sorg soos met die uittog uit Egipte, maar Hy sal ook hulle geestelike droogte in ‘n oorvloed van vreugde verander. Die ‘hulpeloses en die armes’ van vers 17 sluit ook die nasies van die wêreld in, wat by die Here hulle hulp en vreugde kan vind.
2 Kor 12:8-9 sê dat die krag van Christus die beskutting is vir dié wat swak is en slegs op sy genade vertrou. En die uitsprake oor God se omskepping van die droë skepping wys heen na die nuwe hemel en die nuwe aarde van Jes. 65:17-19 en Openb 21:1; 22:1-2; ook na ons soeke na die toekomstige wêreld (Hebr 13:14); die saligheid waaraan ons nou reeds deel het, wat ons vervul met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap (1 Petr 1:8-9).
41:20 Die Here se doel met die omskepping in die natuur en in die gees van die mens is dat hulle sal sien, erken, begryp en insien dat die Here dit gedoen en geskep het – die wonder van die verandering wat Kores bring, wat hulle sosiale lewe verander, terug in hulle eie land hoewel sonder vervulling van hulle politieke ideale van ‘n eie regering, maar as voorbeelde vir die wêreld om die Here in nederigheid te dien as sy dienaars en dienaars van mense, en hulle godsdiens verander sodat hulle vryelik die Here kan aanbid in ‘n tempel wat deur Kores vir hulle gebou sou word (Jes 44:28; 2 Kron 32:23). Hulle sou nie die omringende nasies met geweld onderdruk soos in Dawid se tyd nie, maar die Here wil hê dat hulle lewe in reg, geregtigheid en barmhartgheid teenoor mekaar wat tot vrede lei, wat die nasies sal trek om ook die Here te kom dien.
Skrywer: Prof Francois Malan