Jesaja -Babel deur die Here verwoes (13:6-13) – Francois Malan

13:6-8 Na vers 4 se beskrywing van die geluid van die aankomende leër waarna die leser moet luister, word dit hier dringerder gestel met ‘n opdrag om te huil (heliloe klanknabootsing), om in angs te weeklaag voor die nabyheid van ‘die dag van die Here.’  In 2:12 word reeds verwys na dié dag. In 9:4 is verwys na ‘die dag van Midian,’ toe die Here in Gideon se tyd die Midianiete wat Israel verdruk het, laat uitwis het. Hier breek die dag van die Here vir Babel aan, wat vir Israel in ballingskap weggevoer het met onmenslike wreedheid (13:16,18). Amos 6:20 het al vir Israel ‘die dag van die Here’ voorspel. Sefanja 1 verkondig in Juda dat die dag van die Here ‘n einde gaan maak van alles op aarde (vgl. Eseg 13:5; Hos 9:5 noem dit die Feesdag van die Here, die ander kleiner profete praat van ‘die dag van oordeel/toorn.’  Die politieke mag is nie bestand teen die aanslag van die Here nie. Die verwoesting (sjood) kom van die Verwoester (sjaddai) af – El sjaddai is die ou Naam van die Here wat getuig van geweldige mag, wat in Grieks 16 maal in Job vertaal is as Almagtige (pantokratoor ‘regeerder oor alles.’ In Grieks word pantokratoor ook vir Sebaot ‘van die leërskare’ gebruik). Die verwoesting geld vir al die vyande van God, hier veral vir die Babiloniese oorheersers van die wêreld, wat verlam word deur hulle skrik en vrees vir die Here met sy leërskare (vgl. Jesus se woord in Mt 26:53; en Elisa se gesig in 2 Kon 6:17).

Die paniek en magteloosheid van die slagoffers word geskilder met die beeld van die angs en benoudheid van ‘n vrou in kraam. Die digter skilder die groot ommekeer van die stabiele politieke gesag van Babel met die beeld van ‘n vrou in kraam. ‘n Man sal sy vriend verbaas aankyk (1983-vert: beangs aankyk) met gloeiende gesigte na mekaar  (1983- kyk verbaas na mekaar (1983-vertaling: ‘beangs’) soos mense wat nooit in hulle wildste drome kon dink dat so’n algehele omverwerping van hulle lewenswyse met hulle sou gebeur nie;  ‘wit van die skrik’ is letterlik: ‘hulle gesigte is vlammende/brandende gesigte’ wat eerder aan skaamte oor hulle voorkoms en posisie laat dink.  Die digter fokus egter nie op die Here se koms nie, maar op die gevolge vir dié wat deur die oordeelsdag van die Here  getref word – Babel se ‘edeles’van  vers 2. Die vers beskryf die paniek en magteloosheid van die slagoffers voor die aanslag van die Here. Die woord ‘alle’ wat herhaal word, kan verwys na al die Babiloniërs, maar ook na die eindoordeel oor alle mense wat hulle rug op die Here gedraai het, soos die ‘dag van die Here’ telkens impliseer.

13:9  Die lang gedig in 13:9-16 oor die dag van die Here se inval en die gevolge daarvan word in vers 9 met drie toorn woorde ingelei om die verskrikking van die dag te beklemtoon: ‘n wrede dag van gramskap en gloeiende toorn, beeldende taal om die aftakeling van die openbare lewe deur die heiligheid van die Here te beskryf. Die woord ‘kom’ staan in die voltooide tyd, dit is vir seker. ‘om die aarde (land) tot ‘n verwoesting (sjammah) te maak en haar sondaars uit haar midde uit te roei (sjammid), soos met die sondvloed (Gen 6:13), vgl. Jes 2:12-17 se oordeel oor die hoogmoediges.

13:10 Soos 13:5 die hele skepping, met die hele aarde en die eindes van die hemel, betrek, word die lig van die sterre, son en maan uitgedoof op die dag van die Here. Daarvan was die drie dae pikdonker in die hele land Egipte (Eks 10:22) ’n voorsmaak van die Here se oordeel (vgl. later die drie uur duisternis in die hele land met Jesus se kruisiging; Mt 27:45). Dit verwys na die optrede van die Heerser oor die skepping teenoor Babilon; teenoor die sonaanbidders (hulle songod sjamasj), die maanaanbidders (hulle maangod sin, wat in Abraham se land van herkoms aanbid is in Ur in die suide van Mesopotamië en Haran in die noorde van die land), en hulle magié/sterrewiggelaars, Jes 47:13 (Babel se hoofgod Marduk was geassosieer met die son, water, plante, oorlog en magié; hy word in Jes 46:1 en Jer 50:2;51:44 Bel genoem word).

Die eindoordeel word ook in Openb 6:12-17 beskryf met ‘n son, maan en sterre wat uitgedoof word (vgl. Mt 24:29 en die verbod in Deutr 4:19). 13:11 In verse 11 tot 13 is die Here self aan die woord, met sinne wat telkens met  ‘Ek’ begin. Hier: ‘En Ek sal die vasteland (land) se boosheid tot verantwoording roep (pakad dieselfde woord pakad wat in 13:4 vir oproep van die leërs gebruik is), en die skuldiges/goddeloses van die vasteland hulle oortredings/sondes straf, en Ek sal verwaandes se arrogansie stopsit en die hoogmoed van tiranne sal Ek verneder.’  Dit sluit almal in wat die heerskappy van die Here uitdaag. Dit sal nie geduld word nie. Hulle sal uitgeroei word. Mense se trotse arrogansie as rede vir God se oordeel word ook in 2:12-22; 10:12-14; 25:3 genoem.

13:12  ‘Skaarsmaak’ ( ’okir) aan die begin van die sin is ook ‘n skaars woord, maar word in die gedig waarskynlik gebruik om te klink soos ‘Ofir’ (’ofir) aan die einde van die sin.  Daar sal so min mense in Babel oorbly dat hulle so skaars soos die goud van Ofir sal wees. Twee woorde word vir mens gebruik: ‘Ek sal mense  (’enosj) skaarser (en daarom kosbaarder) maak as suiwer (kosbare) goud, en die mensdom (’adam) as die goud van Ofir.’ Dit beskryf die toorn van die Here oor Babel se mense, maar sien ook vooruit na sy toorn oor die ganse mensdom, wat die meeste mense gaan uitwis. Dit hou egter ook die hoop in dat Hy ‘n kosbare klompie in Babel en van die mensdom laat oorbly, al is hulle skaars/kosbaar – die Hebreeuse woord word gebruik vir kosbaar maak en vir min maak (vgl. Mt 7:13-14=Lk 13:23-24; Openb 22:14-15). Vir ‘n oorblyfsel ook uit die heidennasies, vgl. Jes 16:14; 21:17; 24:6.

13:13 Die gedig gebruik eindtydterme van hemelliggame wat geskud word en berge wat bewe (Jes 5:25, soos Joël 3:15-16 ook die dag van die Here beskryf met die hemel en aarde wat bewe) op die dag van sy toorn. Die rede vir sy oordeel is die boosheid van die land,  die sonde van die goddeloses en hulle hoogmoed (13:11). Die vastighede waarop mense vertrou word geskud en maak hulle hulpeloos omdat die Here van die leërskare nie sulke instansies laat voortbestaan nie. Die digter sien dat die ganse skepping deur die sonde van die mens geraak word. Die Here van die leërskares van hemel en aarde sal die hemel in beweging bring en die aarde uit haar plek skud. Alle sekerhede in die wêreld word geskud en die spoggeboue van Babel word vernietig (Dan 5:30) – die groot beeld van Nebukadnesar se visioen word verpletter (Dan 2:34), maar in Babel se geweldige vuuroond loop vier manne ongedeerd (Dan 3:25 ).

Vir die Here se aanslag word die hemelliggame gebruik as ’n beeld van sy mag. Lukas 21:11 voorspel ook aardbewings en tekens van die hemel af  voor die einde kom.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die Here mobiliseer teen Babel (13:1-5) – Francois Malan

Die Here se heerskappy in wêreldperspektief (hoofstukke 13-23)

Hierdie elf hoofstukke bevat uitsprake van die Here teen Jerusalem en sy omringende volke, wat nie een die Here se heerskappy en oordeel oor die wêreld wil erken nie, maar hulleself verhef en wil optree en regeer soos hulle wil. Waar hulle wel die wil van die Here begin uitvoer, word hulle sy diensknegte en ervaar hulle sy seën. Daar is ‘n wye variasie tussen die verskillende uitsprake wat die historiese werklikhede van elkeen in ag neem en hoe die Here op elkeen reageer. Die boek Jesaja bly gefokus op die tweeptrap visie van oordeel en straf wat onontwykbaar is en die versekering van die Here se genade.

13:1 Die boek begin in 1:1 met  ‘n gesig’ (gazon verskyning, visioen) wat Jesaja oor Juda en Jerusalem gesien het. Hoofstukke 2-12 word ingelei met die woord/saak (dabar) wat Jesaja ‘gesien het’ (gaza) oor Juda en Jerusalem. Hoofstuk 13-23 begin met ‘n las/swaarkry/uitspraak (masah) wat Jesaja gesien het (gaza) oor Babel – die Here het aan Jesaja ‘n kykie gegee in hoe die Here se planne met die mense en hulle leiers ontwikkel om in te pas by sy bedoeling met sy skepping.

Die Here het Assirië geroep as ‘die roede van sy toorn’ om sy volk te straf omdat hulle die Here en sy voorskrifte vir die lewe verlaat het (Jes 7:18-19; 10:5-6). Die koning van Assirië, Tiglat-Pileser III, het homself ook as koning ook oor Babel gekroon in 728-727 v.C., maar Babilon het in opstand gekom teen sy twee opvolgers, en het daarom Assirië se aandag van Israel afgetrek. Jesaja se gesig oor Babel dateer moontlik uit hierdie tyd (later, in 625 v.C., word Babel die oorheersende gesag en word Nineve verwoes en Assirië oorgeneem).

Die naam Babel, herinner aan die toring van Babel in Genesis 11:1-9. Die naam beteken ‘Die hek van god’ en was reeds die sentrum van Hammurabi se koninkryk in die tyd van Abraham (18e eeu v.C.).

13:2 Hierdie beeldende gedig skilder met drie werkwoorde, ‘lig op’, ‘verhef’, ‘wink’, die groot invalsleërmag wat opgeroep word om teen die gevestigde gesag aan te tree: ‘lig ‘n vaandel op ‘n kaal heuwel’ – sodat almal kan sien waar hulle moet aanmeld; ‘verhef jou stem tot hulle’ – ontbied die leërmag; ‘wink vir hulle met jou hand om in te gaan.’ Die doelwit is om in te gaan in die poorte van die edeles – die inname van die stad van die hoogmoediges – die trotse nasie, as verwysing na Babel as die wêreldheersers van daardie tyd,. Soos Babel van ouds, wat vir hulle ‘n naam wou maak om tot in die hemel te klim met hulle toring (Gen 11:4; vgl. Daniël 3:4-5; 4:22), is die stad Babel simbool van hulle arrogante mag en prag. Dit is ‘n luidrugtige, uitbundige, opgeruimde skare soldate wat teen Babel opruk.

13:3 Die bevelvoerder wat die leër saamroep gee die bevel om gereed te maak vir die mars. Die soldate wat opgeroep word, word met drie beskrywings genoem: ‘my heiliges’ – dit wil sê, dié wat aan die Opperbevelvoerder toegewy is; ‘my kragtige helde’ om ‘my toorn’ uit te voer. (in Jes 10:5 was Assirië die stok van die Here se toorn wat sy straf oor die tien stamme van Israel toegepas het (vgl. Ps 103:20).  ‘hulle wat hulle verheug in my hoogheid’ – hulle opmars is eintlik ‘n bewys wie die heerser oor die hele skepping en oor alle volke is. Sonder om die bevelvoerder of sy manskappe te identifiseer (in verse 1 en 3 voeg die 1983-vertaling ‘die Here’ in) wil die gedig die leser prikkel om vir homself ‘n voorstelling te maak van die aanvalsmag teen die heersende  selfversekerde gevestigde belange van die trotse Babel, wat in vers 1 genoem word.

13:4-5 Die geraas van die aankomende leërmag teen Babel word beskryf met drie woorde wat die geluide namaak van runnikende perde (hamoon), vloekende soldate (demut),  en wapengekletter (sje’oon): ‘n (veraf) gedreun op die berge soos van baie volke en die lawaai  (soos die gedruis van baie waters) van die koninkryke van die heidense volke wat saamkom  om ‘n massiewe leër te vorm. Die lesers en Babel word opgeroep om te luister na die aankomende geluide. Hier hoor ons vir die eerste keer wie die bevelvoerder is: die Here van die leërskare (wat Jesaja in hoofstuk 6:5 leer ken het) tree op met die beeld van ‘n magtige leër waarvan Hy eintlik die aanvoerder is.

Hulle (die soldate van die groot leër) kom van ‘n ver land af; van die einde van die hemele af (!). Die leërs kom van die eindes van die hemele af om die hele aarde, as die voorwerp van die Here se toorn, te oorstroom (dink aan die sondvloed). Die ‘Here van die leërskare’ beheer die aarde soos in hemel.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – God is my redder (12:1-6) – Francois Malan

Hoofstukke 1-12 sluit af met ‘n loflied aan die Here wat met ‘n gebed begin en in ‘n belydenis ontwikkel in die verwagting op ‘daardie dag’ ná die dae van die Here se toorn in hoofstukke 5,9-10.

12:1 Op daardie dag sal jy (enkelvoud, waarskynlik Sion/Jerusalem) sê: ‘Ek wil U bekendmaak/bely (onvoltooide tyd wat steeds, maar tentatief, voortduur – daarby word die werkwoord gevorm met die stam van die word ‘hand,’ soos met jou hand uitsteek in gebed, pleitend en in aanbidding/loof. Nadat die hand van die Here hulle eers weggevoer het (5:1-10:23), swaai Hy sy hand in 10:33 om Jerusalem te red. In 11:11 steek Hy sy hand uit om die ballinge los te koop, en nou steek die aanbidders hulle hande uit na Hom in ’n dankgebed.

U was kwaad vir my – vgl. 10:25 se kort rukkie van die Here se toorn oor Jerusalem, waarna Hy vir Juda nog ‘n kans gegee het, nadat Hy Israel in ballingskap weggevoer het. Maar na 120 jaar waarin Juda netso goddeloos soos Israel geword het, laat Hy hulle ook in ballingskap gaan. En nou die skrome verwagting dat die Here die oorblyfsel sal laat terugkom. Vgl 8:23-9:1 ‘in die verlede’ se toorn en ‘in die toekoms’ se herstel, dit word hier Jerusalem se wag op die Here se nuwe belofte van die terugkeer van die ballinge wat in 11:11-16 beloof is, en hulle loof die Here omdat Hy nie meer vir hulle kwaad is nie (‘U toorn is weggedraai’), maar Hy het uitkoms gegee, letterlik: ‘maar U vertroos my (met U woorde).’ Die lied reageer op die groot openbaringswoord van die Here met die moed om te hoop dat die toorn van God gou sal beëindig word. Dit weerspieël wat Israel se optrede op ‘daardie dag’ van redding sal wees: Ek sal my hande tot U Here ophef!’

12:2 ‘Kyk, God is my redder/helper (my ‘Jeshuah’/my Jesus)!’ – die tentatiewe benadering in vers 1 beweeg na groter vertroue en sekerheid in vers 2. ‘Ek sal vertrou en ek sal nie van vrees bewe nie, want die HERE, (ja) die HERE (die Ek is, ja, die Ek is – die aktief teenwoordige) is my krag en my sterkte, en Hy is (jehi sal wees) vir my tot redder/helper (Jeshuah/Jesus).’ Hierdie vers eggo Moses se lied in Eks 15:2, wat Israel se verlossing uit Egipte besing. Hier word ‘n tweede eksodus verwag. Die God wat kwaad was omdat hulle Hom verwerp het, word nou deur Israel erken as hulle groot vriend, helper, en enigste hoop, wat die geskiedenis in sy hand hou en stuur. Vertroue word teenoor vrees gestel soos die keuse aan koning Agas in 7:4,9; 8:12-14. Israel juig oor sy Verlosser.

12:3 Met Israel se 40-jaar lange trek deur die woestyn, het die Here hulle van water voorsien, by Mara en Elim (Eks 15:25,27), uit die rots by Horeb (Eks 17:6) en by Kades (Num 20:11). ‘n Joodse tradisie beweer dat die Here hulle deur die 40 jaar van water uit ‘n rots voorsien het (vgl 1 Kor 10:4 wat die rots met Christus verbind).

Tydens die Loofhuttefees met die uitgieting van water op die altaar, beloof Jesus die Heilige Gees aan sy volgelinge, met die beeld van strome van lewende water wat uit hulle binneste sal vloei (Joh 7:37-39). In Jesaja 12:3 belowe die Here blydskap aan die oorblyfsel van Israel, deur die gesalfde uit die stomp van Isai se regverdige regering,  met die beeld van water uit die fonteine van redding (Jeshuah/Jesus=die Ek is is redding). Die fonteine van redding verwys na die Here se voorsiening in tydelike en geestelike seëninge (Jes 55:1-5; Ps 36:9-10) waaroor hulle sal sing.

12:4 Op daardie dag sal julle sê: Loof die Here (‘loof’ word ook met dieselfde stam as ‘hand’ geskryf om die opheffing van hande na God uit te druk), roep sy Naam aan (om julle te help), maak sy (herhaalde en effektiewe verlossings) dade onder die volke bekend (Ps 9:2;1 Kron 16:8), want sy Naam (sy wese) is onbereikbaar hoog.

12:5 Prys (sing met begeleiding) die Here, want Hy het hoë/wonderlike/glorieryke dinge gedoen (met die uittog uit Egipte, en nou met die terugkeer van die ballinge, dit word bekendgemaak in die hele wêreld. Jesaja sien die roem van die Here strek verder as Israel na al die nasies toe (2:1-4), ‘n versekering aan Israel en ‘n uitnodiging aan die nasies.

12:6 Die vroue-inwoners van Sion/Jerusalem word genooi om met hulle skril stemme te skreeu en te jubel van vreugde, want die Heilige van Israel is in jou midde (in elkeen van julle), soos aangedui deur die Immanuel-uitsprake in 7:14; 8:8,10; Mt 1:23; Op 21:3. Die heilige teenwoordigheid van die Here in Sion is die rede vir die daaglikse jubelende vreugde van sy inwoners, wat aan die wêreld verkondig moet word en die nasies daarheen laat stroom (2:2).

Hoofstukke 1-12 het die Here se hartseer oordeel Jerusalem aangekondig (vgl. hen haar kuikens) maar die Here se finale woord is nie oordeel nie, maar troos en vreugde in gemeenskap met Hom, die Heilige wat aan Sion toe gewy is.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Israel verenig deur lyding (11:11-16) – Francois Malan

11:11 Die tweede keer wat die Here sy hand uitsteek volg op die eerste keer toe Hy hulle in ballingskap weggevoer het (5:25; 9:11,16,20; 10:4). Hierdie keer is dit om die oorblyfsel terug te bring ná die ballingskap (soos sy hand hulle uit Egipte uitgelei het, 11:16). ‘Op dié dag’ wanneer die groot herstel gaan plaasvind, deurdat die Here die oorblyfsel van sy volk weer vir Homself verkry het (kanah) as sy eiendom (die selfstandige naamwoord kanah word in 1:3 gebruik  vir die ‘eienaar’ van die os; dieselfde werkwoord ‘verkry’ word gebruik vir die ‘Skepper’ van die hemel en die aarde in Gen 14:19,21). In Eks 15:16 word kanah gebruik in Moses se lied van die volk wat die Here ‘sy eie gemaak het,’ vgl. Ps 74:2; in Neh 5:8 van die terugkoop van ‘n slaaf.

Die plekke vanwaar die Here die oorblyfsel as sy eiendom gaan ‘verkry,’ is Assirië in die noord-ooste, waarheen die tienstamme weggevoer is; in die suide: Egipte, Patros (middel Egipte) en Kus (Etiopië) waarheen party gevlug het voor en tydens die Babiloniese ballingskap (Jer 43:7); in die noorde: Hamat (in huidige Lebanon); in die ooste: Elam oos van Mesopotamië; Sinar in die Eufraat-delta; en in die weste: die eilande van die Middellandse see – almal wat oorgebly het en wag op die Here, kruis en dwars uit die suide, noorde, weste en ooste.

11:12  In 5:6 het die Here vir die leërs van Assirië en die volke wat hulle onderwerp het ‘n vaandel as versamelpunt opgerig. Nou gaan Hy ‘n vaandel oprig vir Israel en Juda wat in die ballingskap oor dieselfde gebied verstrooi is om te versamel uit die vier uithoeke van die aarde.

11:13 Die herstel van die volk van die Here sluit ook die hereniging van die twee verdeelde ryke in, wat geskeur het tussen Salomo se onderdrukkende seun Rehabeam  met Juda en ‘n halwe Benjaminstam,  en die tien noordelike stamme onder Jerobeam, die gesiene toesighouer oor Salomo se dwangarbeiders uit die Josefstam vir die bou van die terras in Jerusalem, wat na Egipte gevlug het vir Salomo se wraak, omdat die Here vir hom, vir  Jerobeam, gekies het om oor die tien stamme te regeer (1 Kon 11:26-40). Die naywer tussen die twee groepe het dikwels tot burgeroorloë gelei (bv. Jes 7:1; 9:20). Die Vredevors wat die leeu en die lam langs mekaar kan laat lê, sal ook die vyandskap tussen die twee groepe van God se volk tot eenheid lei. Die gevegte tussen gelowiges kan van die brutaalste word. Die Wonderlike Raadsman wat deur die Gees van God gelei word sal hulle egter herenig in sy Koninkryk, soos die swaarkry van die ballingskap die oorblyfsel uit die twaalf stamme bymekaar gebring het. Deur die ballingskap se lyding het die Here hulle weer een Israel gemaak.

11:14  Die interne eenheid maak gesamentlike optrede moontlik. Vyande uit die ooste en die weste sal hulle nie meer kan verslind nie (9:11). Die ballinge wat teruggekom het sal ou vyande kan onderwerp – die Filistyne in die weste onder wie hulle gely het in die dae van Simson (Rigt 13) en die Midianiete in die ooste in die dae van Gideon (Rigt 6) en die familie-volke Edom (Esau se nageslag, Gen 36:42), Moabiete en Ammoniete (nageslag van Lot, Gen 19:37-38 ). Hoewel hulle optrede teen die ou vyande in militêre terme beskryf is en ‘n tyd van  stryd voorsien, sien 11:10 dat die nasies eventueel na die loot uit die stam van Isai sal vra, 2:1-4 dat die nasies na die wil van die Here sal vra en nie meer oorlog sal maak nie, maar van hulle swaarde ploegskare sal maak.

11:15-16 Dit is die Here wat sy volk sal versamel uit die vier windrigtings, soos Hy hulle destyds uit die Egiptiese slawerny uitgelei het. Hy laat die Nyldelta (letterlik: die tong van die Egiptiese see) opdroog,, sy hand swaai (10:32) met die mag van sy Gees/sy magtige wind oor die (Eufraat) rivier (soos destyds by die Rietsee en die Jordaanrivier, Eks 14:21-22; Jos 3:15-17). Die groot Eufraatrivier word ‘n sandbank met sewe stroompies wat jy met skoene aan kan oorspring. Die res van die ballinge wat na Assirië toe weggevoer is deur die hand van die Here wat teen hulle uitgesteek gebly het (5:25; 9:10,16 20; 10:4), word deur die hand van die Here teruggebring met ‘n grootpad wat Hy vir hulle maak uit die lande waarheen Hy hulle verstrooi het.

Die koms van Jesus met die Koninkryk van God bevestig die visioen van Jesaja van die herstel van die mensdom en die aarde en bring die hoop op die hereniging van die gelowiges as getuies van God se liefde, van nasies wat na die Here begin vra te midde van die geweld en korrupsie in die wêreld, en vandag ook vir die  miljoene ballinge wat vlug vir vervolging in hulle eie lande.

Skrywer:  Prof Francois Malan