Jesaja – Vrede in die nuwe skepping (11:6-10) – Francois Malan
11:6-8 Die digter spring van menseverhoudings na die dierewêreld, met beelde uit Dawid se skaapwagterdae. ‘n Jong seun of dogter as herder van die skape, bokke, en kalwers, lei die kudde soggens veld toe lei en bring hulle saans terug (1 Sam 16:11; 17:33-37). Die onskuld en vertroue van kinderherders, babatjies en klein kindertjies beklemtoon ‘n wêreld sonder gevaar of ongelukke. Hierdie tekening van die nuwe skepping in verse 6-8 is verbind aan verse 1-5 se afwagting op die nuwe verhouding tussen mense en teenoor die Here. Die vyandskap tussen die nageslag van die slang en die nageslag van die vrou in Gen 3:15 is die straf op die mense se verkragting van die Here se orde, en hier as die gevolg van die menslike hebsug en geweld wat die dierewêreld tot slinkse geweld en doodmaak vir kos dryf. In die nuwe bedeling sal die leeus weer gras eet soos aan die begin (Gen 1:30). Romeine 8:19,21 sê: Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word…en die vryheid sal smaak wat die heerlikheid van God se kinders sal kenmerk. Dit is alles dinge wat vir die wêreld onmoontlik lyk, soos die redding van Jerusalem uit die mag van die omsingelende leërs van die vyand.
11:9 Hier beweeg die digter na nog ‘n wyer kring, na die hele skepping wat die aarde en die see insluit. ‘my heilige berg’ – Sion (beteken ‘vesting’), Jerusalem (beteken ‘fondament van vrede’) – sonder bedrog en geweld, met harmonie en vrede – dit is ‘n embleem vir die hele wêreld (letterlik: hulle – die mense en die diere – sal nie seermaak of vernietig op die hele berg van my heiligheid nie). Die hele skepping sal vol wees van die kennis van die Here – wat deur die Gees gegee word (11:2; vgl. Rom 8:21-23,26: die Gees sug tans saam met ons en die skepping, om ons van die verganklikheid te bevry; vgl. Kol 3:8-11). Die transformasie raak die hele skepping, wat God se heiligdom sal wees, sonder verdelings en skeidsmure, die sigbare openbare lewe en die intiem persoonlike lewe (vgl. Jes 6:3). Dit is God se gawe en sy roeping vir die nuwe loot uit die ou stomp, die nuwe mens wat vir God leef, uit die ou mens wat vir homself leef.
Die gedeelte verseker die voortgang van die Dawidiese konings ná die Assiriese krisis. Dit word vervul deur Hiskia en ‘n eeu later deur Josia. Maar die gedeelte beklemtoon eintlik drie fasette van die Here se ondersteuning en seën: die Gees van die Here (11:2) wat die wysheid voorsien wat nodig is vir die regering; die vrees/eerbied vir die Here (11:2,3) wat reg en geregtigheid moontlik maak (11:4); die kennis van die Here (11:2,9) wat die regering van vrede verseker. Dit is nie die werk van die koning nie, maar fasette van die Here se teenwoordigheid in Jerusalem. As die koning regeer deur die Gees van die Here, in die vrees van die Here om die kennis van die Here te versprei is die koningskap van Dawid aan die werk. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar; wanneer regeerders gelei word deur hulle eie ambisie en mag, word God se bedoeling gedwarsboom en wag daar oordeel en onvrede.
11:10 Die tempelberg sal nie die versamelpunt van die nasies en die volke wees soos in 2:1-4 voorsien is nie, maar die wortel van Isai sal die vaandel wees vir die volke en die nasies, die godsvlag en simbool wat almal byeenroep na die vrede en goeie lewe vir alle nasies. Hierdie visioen strek verder as die Jodedom. Dat sy woonplek hoë aansien sal geniet word in Ps 72:10-11 aan die regering van Salomo toegedig, in Haggai 2:7 word dit voorsien vir die huis van die Here wat Serubabel, uit die Dawidsgeslag, na die ballingskap sal bou, en in Openb 21:24 van die nuwe Jerusalem.
Die gedeelte, 11:1-10, gaan in die eerste plek oor die tyd van Agas en Hiskia in die 8e eeu v.C. en die terugkeer van die ballinge in die 6e eeu v.C. onder leiding van Serubbabel, die loot uit die geslag/stomp van Dawid/Isai, in opdrag van die Persiese koning Kores (1 Kron 3:19; Esra 1:2-4; 2:2; Neh 7:6-7; Haggai 1:1; Sag. 3:8; 6:12-13). Maar ná die bou van die tempel verdwyn Serubbabel se naam, en die Nuwe Testament verbind die oordeel en verlossingsboodskap aan die koms van Jesus, wat nie net elke persoon raak nie, maar ook die vernuwing van die hele gemeenskap en die hele skepping. Paulus praat daarvan as ‘n nuwe skepping (1983-vertaling: nuwe mens) in Christus deur wie God die wêreld met Homself versoen het (2 Kor 5:17-18). Terwyl die Sinoptiese Evangelies die openbare optrede van Jesus onder die Jode skilder (vgl. Mt 10:5-6 se beperking; maar Mt 28:19 na al die nasies), getuig die Johannes-Evangelie van God se liefde vir die wêreld (Jn 1:4,19; 3:1; 17:2,18)
Skrywer: Prof Francois Malan