Jesaja – Die Dag van die Here (2) (2:12-22) – Francois Malan

2:12 Die woorde ’trots, hoog, verhewe’, bekryf eienskappe van God, wat die mens vir homself probeer toëien. Dit is die mens se blywende sonde wat die hele lewe deurtrek, die poging om soos God te wees (Gen 3:5), wat egte menswees verhoed en tot herhaalde stryd met God lei.

Op dié dag, wat die Here die Almagtige bepaal het, sal net die Here hoog wees (2:17). Dit is die kern van Jesaja se roepingsvisioen (6:1). Dit is die tema van sy profesie en die motivering vir die oordeel. Op dié dag sal die Here Hom op ‘n besondere wyse openbaar om die finale oordeel te voltrek en sal Hy die volkome verlossing bewerk. In 28 gedeeltes van die Ou Testament word na ‘die dag’ verwys. Op dié dag sal alles wat trots en hoog is verneder word: in die mense-wêreld (11,12,17), in die natuur (13-14), op die gebied van die kultuur (15-16) en van die godsdiens (18-20). Die Here, die Almagtige, letterlik: die Here van die leërskare – Hy word as militêre leier geskilder. Die profete verwys na die dag van sy optrede om sy regering oor die skepping te bevestig (‘n dag van duisternis, Amos 5:18; met Sag. 1:10 se ruiters,;Sag 1:14 verwys na die Here se toorn teen die nasies).

 

In verse 12-16 word die voorsetsel ‘teen’ tienmaal gebruik: teen alle arrogansie, trots, selfgenoegsaamheid en outonomie (jy is jou eie wet). Die eerste twee in vers 12 is algemene verwysings na enige selfverheffing.

 

2:13 Die seders op die Libanonberge en die eike van Basan se hoogte en sterkte is twee metafore vir mense wat hulleself verhef bo ander, selfs bo God, en op hulle eie sterkte vertrou.

 

2:14 Verwys na natuurverskynsels, majestieuse berge en hoë heuwels as verteenwoordigers van die skepping wat die mens beïndruk sonder dat hulle die Skepper se hand daarin raaksien, óf dat hulle ‘n verkeerde idee oor God daaruit aflei – soos die heidene wat die hoë berge sien as die blyplek van die gode en die heuwels as plekke van seksuele orgies om krag van die afgode te kry (vgl. Deutr 12:2; 1 Kon 14:23; 2 Kon 17:10-11 as rede vir die Assiriese ballingskap; Jer 13:27 oor Juda se ballingskap; Eseg 6:13).

 

2:15 Torings en versterkte skansmure is simbole van die konings se trotse bouwerke vir hulle prestige, om hulle aansien te vergroot.

 

2:16 Die skepe van Tarsis en die begeerlike skepe – verwys na die ryk ingevoerde handelsware waarna mense hunker en met die skepe vervoer word.

 

2:17 Die storm van woorde word hier beëindig met ‘n herhaling van vers 11, soos ‘n digterlike refrein, om te beklemtoon dat net die Here hoog sal wees op die oordeelsdag, waarheen die hele wêreld en elke mens op pad is.

 

2:18 In vers 8 is die afgode aangeval as embleme van selfgenoegsaamheid. Hier word die tema weer opgeneem. Die afgode het bygedra tot die mens se ingebeelde hoogheid. Die term afgode word gebruik om alle pogings tot selfverhoging af te wys. Die afgode sal heeltemal verdwyn.

 

2:19-21 Vers 19 herhaal vers 10. Mense in hulle gewaande hoogheid sal wegkruip voor die majesteit van God. Dit word uitgebrei in verse 20-21. Afgodedienaars, rykes en vernames, handelaars en soldate van Jerusalem sal in die grotte en skeure om die Dooie See gaan inkruip tussen onrein rotte en vlermuise (Lev 11:19, 29, 41-44; Deutr 14:18; die Hebreeuse woord vir rotte verwys na skeermuise wat in Egipte aanbid en gebalsem is ná hulle dood). Hulle afgode van goud en silwer word deur die rotte en vlermuise verontreining en ongeskik gemaak vir aanbidding, soos hulle self onrein is voor die Here en sy ligglans wat alles deurskou (Openb 6:15-17 sluit hierby aan).

Die digter skikder met hierdie gedeelte ‘n gesig, ‘n nagmerrie, wat die Jerusalemmers moet wakker skud uit hulle selfvoldane lewe, want die sleutelkarakter in die gedeelte, die Here, word deur hulle uitgesluit in hulle aggressiewe en ryk selfgenoegsaamheid. Maar die Here kan nie uitgesluit word nie, solank hy digters aanstel wat die lewe meer oop hou na God toe, as ‘n lewe vol goud (ekonomiese mag), vol perde (militêre mag), vol afgode (eiemagtigheid).

 

2:22 Hy doen ‘n laaste oproep in die lig van die oproep in 2:5. Letterlik staan daar: ‘draai weg,’ ‘onttrek julle’ – die digter roep die volk op tot besinning en om hulle selfvernietigende sug na outonomie prys te gee. Los die pogings tot bewapening, rykdom en afgode, die vertroue op mense en mensewerk wat min werd is (vgl. 31:3; Ps 103:15-16; 146:3-4). Hulle lewe en asem kom van die Here af, van wie hulle wegvlug. Vers 5 het hulle juis opgeroep om te lewe in die lig wat van die Here af kom.

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesaja – Die dag van die Here kom (2:6-22) – Francois Malan

2:6 Hierdie digterlike gedeelte (2:6-22) begin met die Regter se uitspraak teen die kinders van Jakob, die volk met wie Hy, die Here, ‘n verbond gesluit het (vgl. die Here se verbond met Jakob in Genesis 28:13-15). ‘U het u volk, die huis van Jakob, gelos/verlaat,’ want Israel het in heidendom verval en reageer glad nie meer op die Here en sy woord, wat die dinge juis verbied het, nie (vgl. Deutr.18:9-13). Die Here se aanklag, waarop Hy hulle skuldig bevind, tref eerstens hulle godsdiens: ‘want hulle is vol waarsêery, meer as die Ooste, en is towenaars soos die Filistyne (vgl. 1 Sam 6:2). Die Israelitiese waarsêers en towenaars is agente van godsdienstige praktyke wat nie die Here se verbond gehoorsaam nie. Hulle probeer om saam met die vreemdes, sonder God, mense te manipuleer en te beheer met bygelowe (lertterlik: hulle skud hande met vreemdes).

 

2:7 Die godsdienstige versoekings word deur die handelaars geëwenaar. Godsdiens en ekonomie is twee groot bepalende dryfvere van ‘n gemeenskap se karakter en identiteit. Hulle land is vol silwer en goud, wys dat Israel ‘n aggressiewe geld-ekonomie geword het, met geen end aan hulle besittings nie – God word vervang deur mammon in hulle denke en verwagting (Mat 6:24); vol perde, met strydwaens sonder einde – met die oog op oorlog en die bewaring en uitbreiding van hulle skatte. Hulle wil lewe soos al die nasies om hulle. Ekonomiese voorspoed en militêre mag is simptome van diep godsdienstige verval. Daar word nie meer op die Here vertrou vir sorg en veiligheid nie, en elkeen skraap net vir homself bymekaa

 

2:8 Vol afgode – reken! Israel buig voor sy eie handewerk, sodat hulle selfgemaakte god hulle sal lei en help soos hulle wil; ‘n god wat uitgelewer is aan sy maker se begeertes (44:10-11; vgl. Samuel se woord aan Saul in 1 Sam 15:23). Wêreldgelykvormigheid en afgodsdiens is vir die verbondsvolk twee kante van dieselfde saak.

 

2:9 Skets die gevolge van die volk se eie sukses, eie beveiliging, eie verheerliking met die driemaal ‘vol’ wees, selfstandig en selfgenoegsaam, sonder die Here. Die gedig gee ‘n skerp sosiale ontleding van die selfvernietiging van ‘n post-Jahweh-gemeenskap (post-‘Die Ek is’ aktief teenwoordige God). Dit geld vir alle tye. Hoogmoed bring ‘n mens tot ‘n val (5:15; Spr 29:23). Die werklike effek van so’n ‘volheid’ is onafwendbaar ‘n ‘leegheid,’ ‘n lewe sonder welsyn, sekuriteit en vreugde. Jesus het gesê: Wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor (Mat 26:23; Luk 9:25: homself verloor). Die Hebreeuse woord vir afgod (‘elil) beteken ‘niks, nietig, tevergeefs.’ Deur nietighede te dien word die afgodsdienaar self nietig. U moet hulle dit nie vergewe nie – die profeet praat weer met die Here (soos in 6a). Die profeet stem saam met die Here se oordeel oor die volk. Daarmee word die hopeloosheid van Israel se posisie bevestig.

 

2:10 Voor die verskrikking van die Assiriërs en Babiloniërs, wat deur die Here gestuur word, en die glans van sy majesteit, moet die mense vlug en wegkruip (soos Adam en Eva, Gen. 3:8; en soos die verslane Israeliete in Rigt. 6:1-2; 1 Sam 13:6; en volgens Jer 4:29 se voorspelling vir Juda en Jerusalem; vgl. 2 Tes 1:8-9 oor die oordeelsdag). So lyk die einde van die trotse en ryk afgodsdienaars.

 

In 2:11-18 dink die digter na oor ‘vernedering’ (v9). Die teenstelling tussen die gewaande hoogheid van die mens en die majesteit van die Here word geteken (vgl. 5:15-16). Die mens probeer om God se hoogheid en majesteit vir hulleself te verkry, soos met die toring van Babel, waardeur hulle vir hulle ‘n naam wou maak (Gen 11:4); om soos God te wees (Gen 3:5).

2:11 Letterlik: die oë met menslike trots sal verneder word – die trotse oë van die mens verwys na die mens se selfversekerde hebsug of skraapsug wat alles vir homself toëien en begeer; dit is pure verbruikerisme wat tot niks lei nie. Die hoogheid van die mense sal laag gebuig word, en die Here sal alleen hoog wees op daardie dag. Juda het begin dink dat die Here deel is van hulle land, wat saam met hulle verhoog word. Nee! die Here is verhewe bo Juda se gedagtes. Hy is nie in hulle diens soos die afgode nie, en nie deel van hulle sondige lewenswyse nie. Hy staan teenoor hulle as hulle regter.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Hoop in die laaste dae (2:1-4) – Francois Malan

4:1 Letterlik staan daar: Die woord (of saak) wat Jesaja die seun van Amos oor Juda en Jerusalem gesien het – dit gaan hier oor die vredesvisioen, oor wat die Here in die toekoms (in die laaste dae, 4:2) met ‘Sion/Jerusalem’ en Israel/Jakob gaan doen. Dieselfde boodskap verskyn in Jesaja se tydgenoot Miga 4:2-4. Maar hier word dit deur die skrywer van hierdie gedeelte spesifiek as ‘n woord-visioen van Jesaja aangedui. Volgens Miga 1:1 het die woord van die Here tot Miga gekom in die tyd van die Judese konings Jotam (739-733 v.C.), Agas (733-727 v.C.) en Hiskia (727-698 v.C.), die woord wat hy gesien het oor Samaria (die hoofstad van die tienstammeryk) en Jerusalem (die hoofstad van die suidelike twee-stammeryk) – Jesaja skryf

oor wat hy gesien het oor Juda en Jerusalem sedert Ussia (766-740 v.C.) tot Hiskia se regerings oor Juda. Miga 4:2-4 kom saaklik en dele woordeliks ooreen met Jesaja 2:2-5. Hierdie woorde vorm ‘n hoogtepunt in die prediking van Jesaja. Die plasing hier, ná die harde woorde

van hoofstuk 1, is tipies van die finale vorm van die boek Jesaja, wat telkens uit die harde veroordeling na hoop beweeg, ook in die breër opset van die boek: die hoopvolle nuwe moontlikhede van hoofstukke 40-66 ná die oordeel van hoofstukke 1-39

 

4:2 ‘Al die nasies sal stroom na die berg van die huis van die Here’ – in die onbekende toekoms sal Jerusalem ‘n magneet word wat volke na hom toe trek Die profeet kyk verby die komende vernietiging van Jerusalem na die Here se langtermyn plan. Die digter stel hom ‘n kleiner verbrande en gesuiwerde Jerusalem voor (soos Jerusalem 200 jaar later was met die terugkeer van die ballinge. Die stad wat die ballinge ná hulle terugkeer moes opbou was verlate, en die tempel wat hulle herbou het, was nie so mooi soos Salomo se tempel nie (Haggai 2:3). Maar die Here het dit ‘n plek van vrede gemaak (Haggai 2:9) en Hy het hulle geroep om sy dienaar te wees. Dat die tempelberg hoër as die omringende berge sal wees (wat hy nie is nie) is ‘n simbool van sy verheffing tot geestelike middelpunt van die verlossing en van die lewe vir alle volke (soos Golgota geword het, Joh 12:32-33 verhoog aan die kruis sal Jesus almal na Hom toe trek; en die nasies sal in die nuwe Jerusalem se lig lewe, Openb 21:24).

 

2:3 ‘Die berg van die huis van die Here’ (v2) en ‘die berg van die Here, die huis van die God van Jakob’ (v3) verwys albei na die tempelberg met die tempel (volgens Joh 2:21 vervang die liggaam van Jesus die tempel as die ontmoetingsplek met God; volgens Openb 21:22 is die Here God , die Almagtige, en die Lam, die tempel van die nuwe Jerusalem). In Jesaja word die Here net hier ‘die God van Jakob’ genoem (vgl. Ps 46:8; 75:10). – volgens Eksodus 3:14-16 openbaar God Hom aan Moses as ‘Die Ek is’ = Jahweh, die persoonlik aktief teenwoordige God van Abraham, Isak en Jakob. Die tyd sal kom dat volke na Jerusalem toe sal kom, want hier is die Here ten volle teenwoordig as die bron van alle lewe in die wêreld, en hier is die wet/onderwysing (torah) en die woord van die Here om hulle te leer (soos vervul met die koms van Jesus, die Woord van God en die Lig vir die mense (Joh 1:1,4). Die doel van die baie mense wat uit al die nasies na die huis van die Here toe stroom is om die wil van die Here te leer ken – iets waaraan die verbondsvolk self so tekort geskied het (1:3,10; 53:6). Sy wil word bekend gemaak in sy woord en deur sy teenwoordigheid (vgl. Joh 14:24-26; Hebr 10:19-21).

 

2:4 Die torah is die riglyn vir vrede in die wêreld. Die volk sal die beslissings van die Here aanvaar omdat Hy so wys en regverdig is. Die aanvaarding van sy wyse beslissings sal lei tot totale ontwapening: van hulle swaarde smee hulle ploegskare en van hulle spiese snoeiskêre. Onderlinge geskille sal nie meer met wapens besleg word nie. Kennis van God se wil lei tot ‘n vrederyk sonder politieke en ekonomiese onderdrukking en bedreiging. Die nasies sal leer wat vrede is deur die liefde wat die Heilige Gees in hulle bewerk (Gal 5:22), ‘n liefde wat vergewe en verdra en alles bedek (1 Kor 13:7).

 

2:5 Verbasend! na die dreiging van hoofstuk 1, wat nie ontken word nie, maar nadat dat die beloofde dreiging uitgevoer is, sal Jerusalem weer die sentrum word van die openbaring van God se wil (hier is Jesus gekruisig vir die sonde van die wêreld om ons in te lei in God se vrederyk). Israel word genoem ‘huis van Jakob.’ Hulle word behandel as kinders van die groot beloftes aan die aartsvaders in Genesis. Hulle word opgeroep om volgens die wil van die Here te lewe – ‘laat ons loop in die lig van die Here’ – dit praat van gehoorsaamheid aan die onderwysing (torah) van die ‘Ek is’ wat aktief teenwoordig is om ons te lei op die vredespad om sy liefde uit te leef – laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde (Mt 6:10), sodat ons die lig vir die wêreld sal wees (Mt 5:14). Die klimaks van die belofte van die koms van die vrederyk van liefde in 2:1-4, is die oproep om nou reeds so te begin lewe. Dit is ook ‘n oproep tot gehoorsaamheid en uit die mislukte lewe wat in 2:6-22 geskilder word.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – ‘n Reaksie met ‘n bietjie hoop, en ontsaglike vernietiging (1:28-31) – Francois Malan

1:28 Maar vernietiging word aangekondig vir die opstandelinge (teen God) saam met die oortreders (van God se woord, vgl 1:4). Aan dié wat die Here verlaat (v4) sal ‘n einde gemaak word. Die harde woorde van verse 28-31 bevestig dat die hoop van vers 27 net vir ‘n deel van die volk geld, die deel wat berou het en hulle bekeer tot reg en geregtigheid in die samelewing. Vir die mense wat steeds die Here en sy woord verwerp, is daar geen hoop nie (vgl. die ‘opvreet’ deur die swaard en ‘verteer’ in 1:7,20).

Verse 27-28 herhaal in ander woorde wat in 25-26 gesê is om dit duideliker uit te spel. Die woorde is nie net op Jesaja se tyd van toepassing nie, maar geld vir alle eeue.

1:29 Want julle sal julle skaam oor die die groot bome wat julle begeer het (vir hulle verslawing aan die vrugbaarheids-aanbidding van Baäl en Astarte, wat bevrediging en sukses beloof ), en julle sal skaam voel oor die tuine wat julle gekies het – bo die Here (dat hulle deelgeneem het aan die seksuele orgies van die heidense godsdienste). Die voorstelling is van goddelike bome wat op ‘n heilige plek staan in ‘n tuin. Hulle soek hulle krag en welslae by die gode van die land, by die magte van die vrugbare natuur, en sal beskaamd uitkom omdat alles sal misluk. Tydens die ballingskap sal sommige van hulle hopelik tot besinning kom en skaam word omdat hulle die Here verlaat het.

1:30-31 Die einde van die afvalliges van die Here, wat met die heidense godsdiens en gebruike inval, sal soos die heidene s’n wees. Hulle einde word beskryf met die beeld van ‘n groot boom met verwelkte blare en soos ‘n tuin sonder water. En die sterke (‘n ongewone woord met die implikasie van rykdom en mag deur rykdom) – dit impliseer dat , dié wat skynbaar vooruitstrewend is, selfversekerde volgeling van die heidense filosofie, sal soos ‘n waterlose verdroogde tuin wees. Die produk van hulle gedagtes en arbeid word ‘n vonk wat ‘n brand in die droë tuin aansteek – die gevreesde somervure in Israel wat niemand kan blus nie. Jerusalem se inwoners het willens en wetens daardie soort lewe gekies en sal ook deel wees van daardie einde. Die vuur wat God se vyande verteer sal die stad se reinig en verlossing en herstel moontlik maak.

 

Die verloop van hoofstukke 1-12

Na die lang inleidende hoofstuk van die Here se oordeel oor Juda en Jerusalem (1:2-31), volg ‘n kragtige belofte van heil (2:1-4). Dié opset word herhaal in die uitgebreide toespraak van oordeel in 2:5-4:1 wat uitloop op die belofte oor die terugkeer van die oorblyfsel in 4:2-6. Die middelste gedeelte van hoofstukke 1-12, naamlik 5:1-9:7 raak heelwat sake aan en loop uit op die uitspraak in 8:22 en 9:1 dat die volk wat in benoudheid en volslae donkerte geleef het, ‘n groot lig gesien het, wat in 9:2-7 se uitbundige belofte uitgespel word. Ná die oordeelsuitpraak in 9:8-10:4 word die leser in 10:5-34 verseker van die hoop op ‘n oorblyfsel vir Israel (10:21) wanneer die Here die takke van die bos Assirië in ‘n enkele oomblik (10:17) met geweld sal afkap en die grotes sal val (10:33). Daarop volg dan ‘n reeks beloftes in 11:1-16. Daarop volg die loflied van 12:1-6.

Te midde van Israel se verdukking omdat hulle die Here verlaat het, bly die Here in beheer en sal Hy sy belofte van bevryding vir diegene wat op Hom vertrou gestand doen (die kerk het deur die eeue God se oordeel oor die sonde en sy genadige ingrype in Israel se geskiedenis gesien as ‘n voorafskaduwing van Jesus se lyding vir die sonde van die wêreld en van sy opstanding uit en oorwinning oor die dood vir elkeen wat in Hom glo).

Skrywer:  Prof Francois Malan