Jesaja – Lewe-dood-nuwe lewe (1:22-27) – Francois Malan

1:21-27 Die gedig oordink die vernietigende oordeel wat pas uitgespreek is oor ‘n gewonde Jerusalem wat na aan sy dood is.

1:21-23 Die stad se verlede word onthou as die agtergrond vir ‘n lied van verbasing en smart: vers 21 begin met die vraag ‘Hoe’ waarmee Klaagliedere 1:1 se rou oor die verwoesting van Jerusalem begin. Hoe is dit tog moontlik dat die getroue stad ‘n prostituut geword het – wispelturig, selfbevredigend, beginselloos? Eens vervul met reg en geregtigheid sodat hulle lewenswyse volgens hulle verbond met God die hele gemeenskap deurtrek het, maar nou vol moordenaars. ‘Getrou’ het die idee van ‘n stewige en veilige stad, teenoor ‘n tent se onbetroubaarheid en die wisselvalligheid van ‘n prostituut. Alles wat kosbaar was het nou in waarde gedaal deur verdraaiing en misbruik: jou silwer het nikswerd geword soos silwerslak, die onsuiwer skuim, wat afgekook word in silwer se reinigingsproses; jou bier is met water bederf; jou vorste is rebelle teen God, hulle is kop in een mus met diewe = verkeerde vriende se invloed; hulle almal is versot op geskenke en is agter omkoopgeskenke – omkoopbaar korrup sodat niemand meer omgee vir ‘n goeie samelewing nie. Met so ‘n selfsugtige samelewing verdwyn die behoeftiges uit hulle sig. Die armes is as verbondskinders geregtig op ‘n menswaardige bestaan, waarvoor in die wet voorsiening gemaak is. Vir Israeliete was dit bedoel om aan minderbevoorregtes reg te laat geskied. Job sê om aan armes en weeskinders reg en geregtigheid te laat geskied was vir hom so vanselfsprekend as om klere aan te trek (Job 29:11-14).   Weduwees en wese is die lakmoes-toets vir reg en geregtigheid (1:17). Dié toets het Jerusalem totaal en al gefaal.

1:24 Met ‘n massiewe profetiese ‘Daarom!’ kondig die digter aan dat Israel God se toets sekerlik sal druip. Die Here (ha’adoon die eienaar), die Almagtige HERE (Jahweh die ‘Ek is’ wat aktief teenwoordig is; tseba’oot die Almagtige, letterlik ‘van die leërskare’, wat Hom as ‘n stryder voorstel, wat soldate ontbied om teen Babel op te trek (13:2-5) en wat die dood vir ewig vernietig (25:8); ‘die Magtige van Israel’ sê vir Jerusalem dat hy nie onafhanklik van die Magtige van Israel bestaan of kan bestaan nie, op sy eie pad besluit en lewe nie. Die Here het ‘n spesifieke doel met Jerusalem en sal streng optree teen die stad wat faal in God se doel met hulle. Dié wat teen God rebeleer en sy vyande geword het sal deur die Here gestraf word. Die strafaankondiging begin ook met ‘n klaaguitroep soos 1:4 (hoi helaas, o wee!) en voorspel daarmee diepe ellende vir Israel, maar beskryf ook die Here se leed om Israel, wat sy teenstander en vyand geword het, te straf.

1:25 Hulle proses om die silwer te devalueer tot slak, skuim (1:22), sal omgedraai word. Die slak/skuim wat afgekom het uit die silwer wat deur vuur gelouter is, sal uitgeskei word van die silwer om suiwer silwer te kry. Vir Jerusalem voorspel dit die vuur van loutering wanneer die Here letterlik sy hand teen hulle draai, van ondersteuning na kastyding draai, om hulle godsdiens en samelewing te louter.

1:26 Ek sal jou regeerders verander (om te wees) soos in die begin (van die volk Israel), en jou raadgewers soos aan die begin (vgl. Deutr 16:18-20; 2 Sam 8:15) – teenoor die huidige optrede van die leiers wat hulle rug op die Here gedraai het en die samelewing in die ellende gedompel het met hulle korrupsie (1:23). Dan (letterlik ‘n sterk ‘daarna,’ ná die reinigende smart van die ballingskap) sal Jerusalem weer genoem word Stad van Geregtigheid en Dorp of Versamelplek van Betroubaarheid. Die vernietiging van Jerusalem is nie die laaste woord nie. Na die ballingskap sal die stad vir die Here lewe, en sy riglyne vir reg en geregtigheid, ook teenoor die swakkes, volg, soos sy eens was (1:21). Die digter sien groot verdrukking vir Juda voorlê as die Here se straf op Jerusalem se verkeerde godsdiens en samelewing, maar daar is hoop na diepe lyding, omdat God se besluit eintlik is om alles weer tot sy ware regte funksie terug te bring soos God dit bedoel het as ‘n plek van reg en geregtigheid. Dwarsdeur die visoen van Jesaja word gewerk met ‘voor’ en ‘ná’, 2:2 verwys bv. na ‘die laaste tye’ wat sal kom, en hoofstukke 40-48 verwys terug na die vorige tye. Jesaja glo dat die invloed van die regeerders in die hoofstad deur die hele land strek. As dit in Jerusalem reg is, sal alles reg kom.

1:27 Sion (beteken versterkte plek, burg) word vir die eerste maal in die Bybel gebruik in 2 Sam 5:7, toe Dawid die stad ingeneem het en die Dawidstad hier aan die suide van die tempelberg gevestig het. Later het die naam Sion die tempelberg en die paleis ingesluit (Ps 2:6; 132:13-18), en is dit later vir die hele Jerusalem gebruik (Ps 51:20). In Jesaja 1:27 sluit die die hele volk Israel/Juda in. Van hulle word gesê dat hulle losgekoop/teruggekoop sal word deur die skeidsregter se beslissing/oordeel, vrygemaak deur die Here se herstel van die land uit die hande van dié vyande van die Here wat teen Hom rebeleer (1:24).

Die vrygekooptes word ook genoem ‘haar bekeerlinge’ deur geregtigheid – deur God se geregtigheid deurdat Hy die verhouding met jou reg maak, en jou geregtigheid deur die pad van God as jou lewenspad te kies in dankbare gehoorsaamheid aan die Here en sy woord. In 1:26 het die Here gesê: Ek sal jou regeerders verander om te wees soos in die begin. Hy koop vry en Hy stel die verhouding tussen Hom en die mens reg in sy liefde en barmhartigheid en gee die krag om in die verhouding te lewe aan die wat so besluit.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die pad terug na die Here (1:16-20) – Francois Malan

1:16-17 dié verse wys die pad terug na die Here en sy riglyne vir die lewe. Dit kom dikwels in Jesaja voor. Jesaja is net so kras in sy oordeel as Jeremia en Esegiël, maar Jesaja is meer onwillig om ‘n totale verwerping van Israel te verwag. Teenoor die verskriklike gevolge wat Juda verdien, soek Jesaja eindeloos om die hoop lewendig te hou vir hierdie volk van God. Die hoop wat hier voorgehou word is in ‘n reeks van nege opdragte wat impliseer dat Israel se verhouding tot die Here herstel kan word, maar slegs met omvattende en bewuste veranderings.

Eers kom daar vyf algemene stellings oor goed en kwaad. Om met die Here versoen te word vereis die goeie in plaas van die bose; nie met rituele wassing om hulle sondesmet af te was om vir die Here aanneemlik te word nie. Maar wat Dawid in Ps 51:4 vir homself van die Here vra, word hier van die hele volk gevra, dat hulle self vir God sal vra om hulle te was van hulle skuld en te reinig van hulle sonde. Verwyder die boosheid van julle dade voor my oë. Hou op om kwaad te doen. Leer deur jou daarin te oefen om goed te doen.

Daarna kom vier opdragte oor sosiale verhoudings van geregtigheid teenoor verdruktes, wese en weduwees. Die drie groepe verwys na die mense in die samelewing wat swak en kwesbaar is, sonder ‘n advokaat, en so polities uitgesluit word en ekonomies uitgebuit word. Die herstel van Juda kom slegs deur ‘n omwenteling in hulle verhouding tot die Here en geregtigheid in hulle samelewing. Deurdat hulle die Here nie meer ken nie (v3) verval die hele samelewing. Lewe word gevind volgens die Here se voorwaardes, anders is daar geen lewe nie.

 

‘n Keuse tussen lewe en dood (1:18-20)

1:18-20 Verse:2-3 het die probleem wat die gedig behandel omskryf as Israel se selfvernietigende dwaasheid. Die implikasies daarvan is in 1:4-17 uitgespel. Hier in 1:18 keer die digter terug na die hofsaak voor getuies in 1:2-3: kom tog, laat ons die saak beredeneer!

Juda moet ‘n paar keuses maak, want ‘n werklike verandering is moontlik. Die bloedige kleur van sonde kan verander in die onskuld van spierwit sneeu (Jes 64:5 sê letterlik al ons regverdige dade is soos ‘n bloedbevlekte kleed). Dit is merkwaardige goeie nuus dat God, wat bereid is om die verhouding te beëindig, ‘n pad aanbied, terug na die liefdesverhouding met Hom, maar dit gaan nie maklik wees nie. Dié enigste twee keuses weerklink dwarsdeur die boek Jesaja. Israel kan nou kies tussen lewe of dood (vgl. Deutr 30:15-20). Gehoorsaamheid aan die Here en sy woord beteken die erkenning dat lewe alleen van Hom, die Heilige van Israel, af kom. Dan sal die Here hulle sonde volkome vergewe sodat sy volk so wit soos sneeu of soos wol sal wees. Of Israel kan voortgaan om te rebeleer teen die Here in self-bevredigende selfstandigheid omdat die mens sy eie baas wil wees – soos God wil wees (Gen 3:5).

Ook die skepping is afhanklik van Juda se gehoorsaamheid aan die woord van die Here. Dit lewer ‘n vrugbare geseënde en produktiewe land op – ‘…sal julle van die goeie van die land eet.’ Rebellie teen die Here beteken die swaard sal julle opvreet (dieselfde woord as in 1:7: vreemdes sal dit ‘verteer.’ Dit verwys na die Assiriërs se leërs, en is ook ‘n beeld vir die Babiloniese leërs wat later sou kom). Juda se keuse beteken òf ‘n produktiewe land, òf ‘n besetting deur ‘n leër. Dit geskied volgens die bevel van die Here – want dit is die Here wat dit gesê het. Die sentrale oortuiging van hierdie gedig is dat die openbare lewe wentel om die verbondsvereistes van die Heilige – ‘as julle nederig gewillig is om die Here s’n te wees, fyn luister na sy woord en dit doen…’ . Om die openbare lewe te orden in oneerbiedigheid en onverskilligheid teenoor die Heilige is om blootgestel te word in a plat komkommerland met nêrens om weg te kruip nie, en om gelykgemaak te word soos Sodom. Die nuus is nie te goed vir Jerusalem nie, maar daar is ‘n geleentheid en ‘n uitnodiging tot herstel. Die keuse om die aanbod van die Here se vergewende genade te aanvaar of nie, bepaal of hulle sy seëninge sal ontvang, of sy oordele (Deutr. 30:15-20).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesaja – Israel se skuld, straf en verwerping (1:4-15) – Francois Malan

Die deel brei uit op Israel se rebellie teen die Here (Jahweh, die aktiewe teenwoordige ‘Ek is’ wat met hulle ‘n verbond gemaak het). Die uitgebreide gedig is ‘n toespraak in ‘n hofsaak. Die Here kla Israel aan (1:4) met ‘n klaagsang oor Israel se ware en treurige situasie (1:5-9); Hy weier om na Israel om te sien wanneer hulle in ‘n noodsituasie beland (1:10-15).

1:4 Die aanklag gebruik ‘n reeks van sewe woorde vir sonde: (i) sondig (chata’ oortreding, doel mis), (ii) met skuld belaai (‘ewoon verdraai) – die twee woorde wat Israel se mislukking beskryf, saam met ‘rebellie’ in v2 (pesja‘ opstand) is dit die drie hoofterme vir sonde in die Ou Testament – (iii) verkeerd optree (ra‘a‘ sleg/boos, waardeloos) en (iv) afbreek (sjachat verdorwe, vernietig) plaas hulle saam met misdadigers, (v) verlaat (‘azab verlaat, skei) wat 23x in Jesaja voorkom, en (vi) verag (na’ats versmaai, minag) van die Here, wys na die verbreking en ignorering van hulle verbond met die Here, soos die woord aandui (vii) rug draai op Hom (nazar onttrek aan) wat alles opsom. Die gedig beklemtoon dat Israel ten volle, op elke moontlike manier, teen die Here gedraai het, teen die verhouding wat vir hulle die lewe inhou. Alle verhoudings met die Here aan wie hulle intiem verbonde was, is verbreek. Israel is nou stokalleen deur sy eiewilligheid en hardkoppigheid.

Die Here (die aktiewe teenwoordige ‘Ek is’) word genoem ‘die Heilige van Israel’ (dié naam kom 25 maal in Jesaja voor). Dit is ‘n paradoks wat sê dat die Here intiem met Israel verbind is, volstrek aan hulle toegewy, en ook dat die Here ontsagwekkend is en dat nie van sy liefde misbruik gemaak mag word nie. Die uitdrukking getuig van die Here se vryheid om Israel as sy gunsteling onder die volke uit te kies, en die rampspoedige toekoms wat Israel vir homself skep met sy optrede wat van die Here ‘n bespotting maak. Vers 1 het Juda en Jerusalem aangewys as dié mense oor wie die visioen handel. Hier word hulle Israel genoem, die erenaam wat die Here aan Jakob gegee het (Gen 32:28; Jes 44:1-2). Na die 10-stamme weggevoer is na Asisirië, het Hiskia dié Israeliete wat agtergebly het, deel van die paasfees in Jerusalem gemaak (2 Kron 30:1-31:1).

Die vers begin met ‘n rouklag (hoi helaas, o, wee!). Daarmee berei die skrywer ons voor om te kyk hoe hierdie geliefde skepping van die Here besig is om homself te vernietig.

1:5-8 ontvou die gevolge van Israel se optrede in vers 4. Diep oop wonde en siekte en sere van kop tot tone, word as metafore gebruik om die volk se toestand te beskryf, wat in vers 7 verduidelik word. Die tien stamme is reeds as slawe in ballingskap, en Juda wat agtergebly het, word bedreig deur die inval van die Assiriërs wat brand stig, en plunder en moor – daar is nie meer een heel plek nie! Gevolglik is die ‘dogter van Zion,’ naamlik Jerusalem, verlate en het alleen van al die stede oorgebly – soos ‘n enkele tydelike takskuiling in die wingerd en soos ‘n wagtershut in ‘n groot komkommertuin, met die res van die land in die hande van die wrede soldate van Assirië wat net brandende dorpe en verwoeste velde agterlaat (vgl. Jes 10:28-34). Met klem word die woord verwoes en ontvolk in vers 7 tweemaal gebruik van die stede en van die hele land van Israel; en tweemaal die woord ‘vreemdes’ wat Israel se land en stede voor hulle oë verteer. Jerusalem is soos ‘n belëerde stad, met ‘n sterk klipmuur omring, maar eintlik omring deur die verbrande stede en velde in die land, wat sy eie verbranding voorspel (vgl. 2 Kon 18:13-16; Sanherib se geskrif spog dat hy 46 versterkte stede van Juda verwoes het; talle klein dorpies oorrompel het en 200,150 mense weggevoer het). Die lëers van Assirië is slim geïdentifiseer as die verwoesters, as ‘n gevolg van Israel se opstand teen die Here. So word Assirië ook simbool van alle verwoesters van God se skepping, ook van die Galdeërs wat vir Juda en Jerusalem later in ballingskap na Babel wegvoer.

1:9 Jerusalem word vergelyk met Sodom en Gomora wat totaal uitgewis is deur die Here (Gen 19:23-25). Maar die Here, die Almagtige (van die leërskare van die hemel en van die Assiriese leërs) het vir ons, van Jerusalem en Juda, ‘n oorlewende uit die stryd laat oorbly (in hoofstukke 36-37 word die hele verhaal van die redding van Jerusalem vertel, vgl. 37:36). Dit is die begin van die Here se belofte in Jesaja se visioen van ‘n oorblyfsel of res wat sal oorbly (sje’ar, 4:3, 7:3 Sje’ar-jasjub ‘die oorblyfsel keer terug’).

1:10-15 Die digter gaan ‘n stappie verder as in 1:9 waar Jerusalem teenoor Sodom en Gomorra gestel is. Die leiers in Jerusalem word nou self geïdentifiseer as Sodomsleiers en die volk van Juda word Gomorrasvolk genoem. Die geliefde heilige stad word genoem na die afskuwelikste naam denkbaar (vgl. Amos 4:11, reeds 10 jaar voor Jesaja; en Jeremia 23:14; 16:46-49, 70 jaar na Jesaja). Die volk en leiers wat in die oë van die Here verfoeilik lewe, word opgeroep om vir nog een keer na die Here se siening van hulle en sy woord te luister en hulleself daaraan te toets.

Die tempel staan in die middel van Jerusalem en is die plek waar die offers gebring word om die volk se verhouding met die Here reg te maak. Israel se hele godsdienstige praktyk word deur die Here veroordeel:

Hulle menigte offers – brandoffers van ramme, vet van voerbeeste, bloed van lammers en bokke

Hy is sat daarvan en het geen begeerte daarna nie (vgl. Ps 50:8-13).

Hulle kom om die aangesig van die Here in die tempel te sien – so baie keer dat hulle sy voorhof vertrap

Wie het dit van hulle gevra – nie die Here nie!

Moenie voortgaan om julle bose nuttelose offers te bring nie (met verkeerde motiewe)

Dit is vir My afskuwelike wierook

Nuwemaansfeeste (Num 28:11-15; 1 Sam 20:5) en Sabbatte, en die uitroep van samekomste –

Ek verdra nie onreg saam met feesdae nie

Ek haat julle nuwemaanfeeste en Sabbatte – hulle is vir my ‘n las, Ek is moeg daarvoor

En wanneer julle julle hande uitstrek (in gebed) – sal Ek wegkyk van julle af

Selfs al bid julle ook hoe baie – Ek sal nie luister nie

Julle hande is vol bloed

Die Here noem die offers by die naam en verwerp hulle deur hulle te noem. So ook die feeste en die Sabbat omdat dit nie meer draers van ware gemeenskap met God is nie. Die Here verwerp al Israel se gebruike en gebare om Hom te dien op die Sabbatte en met die feeste, want dit is nie meer die uitinge van ‘n ernstige verhouding met Hom nie. Hy verfoei onopregte nuttelose offers – feesviering saam met onreg (v13) . Die Here haat skynheilige vertoon. Die Here luister nie meer na hulle baie gebede nie, want hulle hande is met bloed bevlek deur hulle aandadigheid aan moord. Die Here verbied daarmee die kernmomente van die Jode se godsdiens: hulle offers, eredienste, feesdae, gebede, Hulle het hulle verbondsverhouding met die Here verbreek deur hulle onopregte diens aan Hom, met hulle onreg teenoor mense en met moord.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – Die Visioen van Jesaja (1:1-3) – Francois Malan

Tyd en plek van die visioen (1:1)

1:1 Die visioen (chazoon) beskryf die inhoud van die hele boek tot by hoofstuk 66. Die inhoud van die boek getuig van die teenwoordigheid en doel van die Here (Jahweh die persoonlik aktiewe teenwoordige Ek is, Gen 3:14 ). Die boek bied ‘n unieke siening van die geskiedenis met die Here se heiligheid (sy toewyding in liefde) in die sentrum van die geskiedenis, wat verskil van die konvensionele geskiedenis of politieke moontlikhede.

Jesaja word nie genoem as die skrywer van die boek nie, maar sy visioen is die onderwerp van die boek, en impliseer dat die visioen ook sy idees oor die Here oordra (vgl 2:1; 7:1-6; 13:1 en in hoofstukke 6,8, 20,37,38,39 waar Jesaja genoem word). Jesaja geld egter as outeur van hoofstukke 1-39 of dele daarvan, wat in sy en die vier konings se tyd afspeel, toe Assirië die wêreldmag was. In 612 v.C. kom Assirië tot ‘n val en neem Babel oor, wat in 539 v.C. deur die Perse onder Kores ingeneem word. Vanaf Jesaja 40 handel die visoen oor hoe die Here die Perse gebruik om Israel te laat teruggaan na die beloofde land en Jerusalem in 538 v.C., bykans 150 jaar ná Jesaja.

Jesaja sien die Here in die jaar van Ussia se dood (6:1), die sterk koning van Juda wat lank regeer het (766-740; in 2 Kon 15:1-7 word hy Asarja genoem. In sy laaste regeringsjare was hy melaats weens sy arrogansie toe hy eenmaal die mag gekry het, volgens 2 Kron 26:16-21). Sy seun Jotam, wat vir 7 jaar regeer en gedoen het wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 15:34), volg hom op (739-734 v.C., toe Miga begin profeer het, Miga 1:1). Jotam se seun Agas is ‘n swak koning van Juda in die oë van die Here, wisselvallig en onbetroubaar (734-715 v.C.; 2 Kon 16:1-5). Gedurende Agas se tyd word Israel se 10 stamme onder koning Hosea van Israel in ballingskap weggevoer na Assirië (722 v.C; 2 Kon 17:6). Agas se seun Hiskia is koning van Juda van 714-686 v.C. In skerp kontras met sy vader is hy ‘n sterk, onafhanklike en betroubare koning wat die vervalle tempeldiens weer oprig (2 Kon 18-20:21). Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 18:4-8). Jesaja 36-39 handel oor Hiskia se regering, en sluit die tyd af waarin Jesaja gelewe het.

Agas en Hiskia word simbole van die lewe van Israel: Agas is ‘n simbool van Jerusalem se weiering om die Here te vertrou, waardeur Israel misluk en eventueel deur die Here in ballingskap gestuur word om te leer om Hom lief te hê; Hiskia is simbool van die vertroue wat Israel kan hê op die Here, wat lei tot ‘n gemeenskaplike bestaan vir Juda en die oorblyfsels van Israel, tot in die ballingskap en daarna (vgl. 2 Kron 29:1-5; 30:1; 10-13; 31:1).

Die eerste vier hoofstukke van Jesaja berei die leser voor vir ‘n buitengewone siening op die gebeure in die gekiedenis van Jerusalem se godgegewe en godbestuurde bestemming. Vers 1 nooi die leser om deur Jesaja, die ontvanger van die visioen, te kyk na die Outeur van hierdie gesig en die eintlike Bepaler van Jersalem se bestemming, naamlik die Here!

 

‘n Negatiewe oordeel (1:2-3)

1:2-3 Die hemel en die aarde, so wyd as moontlik, God se hele skepping, word opgeroep as getuies van die ongelooflike dwaasheid van God se kinders. Israel word aangekla. Hulle word beskryf as my kinders, wat Hy van kleins af gevoed het en grootgemaak het as Israel vir wie God die nuwe naam gegee het (Gen 32:28; 35:10), as my volk oor wie Hy as koning regeer. Maar hulle het teen My in opstand gekom, gerebelleer, onwillig om die besondere verhouding te erken van kinders wat afhanklik en verbonde is aan hulle Vader, en van ‘n volk aan hulle Koning. Dat hulle hulle rug op hulle Oorsprong en liefdevolle Leier gedraai het, word nou luid bekendgemaak vir almal om te hoor. Israel het opsetlik hulle verhouding verbreek met die God wat met hulle sy genadeverbond gesluit het, dié verhouding wat hulle karakter bepaal as God se volk, as die Here se kinders.

‘n Os en ‘n donkie openbaar ‘n beter oordeel as Israel en weet wat hulle eienaar vir hulle beteken, dat hulle heeltemal van die betroubaarheid van hulle eienaar afhanklik is. Maar anders as die werksdiere wat instinktief weet dat hulle afhanklik is van hulle vertroue op hulle eienaar om te oorleef, weier Israel hierdie basiese vertroue op hulle Eienaar. Die Here kla hulle aan: mý volk ken My nie en gee geen ernstige aandag (aan wat Ek vir hulle doen nie). Hulle steur hulle nie aan die verhouding wat hulle hele lewe bepaal nie, en sal daarom sterwe. Wat ‘n manier om ‘n Bybelboek mee te begin!

Skrywer: Prof Francois Malan