Kom terug Here (vervolg) (64:8-12)- Francois Malan
64:8 ‘Maar nou, Here, U is ons Vader! Ons is die (rooi) klei en U is besig om ons te vorm; ons is almal die werk van U hand (die Dooie See Manuskripte lees: hande).’
Alles wat gesê is oor wat hulle is en wat hulle gedoen het, word deur die digter agtergelaat, as dinge wat nie van belang is nie, en hy beweeg na die nóú, die huidige tyd, van Israel se nood. Wat nou tel is niks van ons nie; al wat tel kom nou alles van die Here af, van sy oorspronklike verhouding en basiese verbindtenis sedert Abraham, wat nie deur omstandighede bepaal word nie, of deur hulle reaksie daarop beïnvloed word nie. Afgesien van alles wat tot nou toe gesê is, is God ons Vader en ons Pottebakker/Formeerder, wat daarom die hele verantwoordelikheid vir Israel het, en Israel is totaal afhanklik en gevorm deur die Here se initiatief (sy hand). So bid Israel nou met die woorde van die Here self in 45:9-1, dat Hy hulle Vader, Formeerder en Maker (die werk van U hand) is. Dit is die grond waarop die volgende smeekgebed berus:
64:9 Die drie dele van die smeekgebed word telkens met imperatiewe ingelei, twee negatief en een positief: ‘Here, moet tog nie vir altyd toornig wees nie, en nie vir ewig ons sonde onthou nie. Kyk! Sien ons tog as U volk, ons almal’.
Die profeet pleit om vergifnis vir hulle sonde en Hy vertrou op die Here se verbondenheid aan die volk, as sy volk wat Hy uitgekies (Abraham) en gevorm het (deur sy woord en sy straf). Die digter maak aanspraak op die Here se liefde, die liefde van ‘n Vader (64:8) wat deur sy liefde vir sy kinders hulle oortredings vergewe (vgl. Luk 15:24), op sy verbond (hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees), en op sy verbondsbeloftes soos o.a. tydens die ballingskap oorgedra is deur Jeremia 31:31,34; 32:38; en Esegiël 16:59-63).
64:10-11 Die twee verse beskryf, met tipiese digterlike oordrywings, die ellende van Israel om die Here se simpatie te wek om Hom te oortuig om in te gryp. ‘Die stede van U heiligheid – Israel se stede waaraan die Here toegewy is – het ‘n wildernis geword, Sion (die ou stad van Dawid, 2 Sam 5:7 en later ook die tempelplein) het ‘n wildernis geword, Jerusalem (die uitgebreide Sion) ‘n verlate plek.’
‘Ons heilige en pragtige Huis (die tempel van Salomo) waar ons vaders U geloof het, is deur vuur verteer; en al ons kosbaarhede (magemadim) het ‘n ruïne/verlate plek (garebbah) geword.’
64:12 Die smeekgebed sluit met ‘n geloofsvraag: ‘In die lig van hierdie dinge (die ellende waarin hulle tans verkeer, en die lang geskiedenis van die Here se reddingsdade, en dat Hy hulle as sy kinders uitgekies en gevorm het) sal U, Here, U inhou/beheer, sal U stilbly en ons so erg verdruk?
Die vraag is of die Here weer, soos lank gelede, gaan ingryp. Sal die gebed die Here beweeg om op te tree soos hulle vra? Die boek Klaagliedere eindig met dieselfde vraag (Klaag 5:20-21). Voor sy hemelvaart het die dissipels ook vir Jesus gevra: Here, is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk vir Israel gaan oprig? (Hand 1:6). Maar in plaas van ‘n koninkryk vir Israel, het Jesus hulle ‘n ander opdrag en toerusting gegee: om, met die Heilige Gees toegerus, sy getuies te wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand 1:8). Dit was ook die Here se doel met Israel ná die ballingskap, maar hulle wou ‘n koninkryk net vir Israel self hê (vgl. die drie maal wat die Heilige Gees in hoofstuk 63:10,11,14 genoem word, al het Israel die Gees nog nie as ‘n Persoon in die Drie-eenheid geken nie, maar aan die Here self gedink het, vir wie hulle bedroef het, wat onder hulle was en hulle gelei het). Met die teenwoordigheid van die Heilige Gees van God by hulle, wil die Here dat hulle sy getuies voor die wêreld moet wees, ‘n lig vir die nasies, waarheen die nasies sal stroom (Jes 42:6; 49:6; 52:10,15; 60:3).
Maar die gebed is tog merkwaardig met sy teensprake wat ‘n kenmerk is van geloof. Israel moet so bid omdat daar geen alternatief is as om na terug te draai as na die Here toe nie. Hy is die fondament van Israel se toekoms, van hulle hoop, sonder versekering of waarborg dat die Here sal doen wat hulle vra.
Die hymne in 63:1-6 is seker van die Here se dag van wraak. Maar in die tussentyd is dinge deurmekaar en benodig voortdurende gebed. Die geskiedenis van die Here se genadige dade is die agtergrond van hulle vertroue op God (vgl. Jesus se gelykenis in Luk 18:1-8 om te verduidelik dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word; soos die weduwee se herhaaldelike versoeke aan die onregverdige regter). Dit is die God wat aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg sal doen en hulle gou sal help – nie soos ons wil nie, maar soos Hy wil. Gebed is die praktyk van geloof wat steeds moed hou. Dit is ons vertroue op God op wie ons in die Onse Vader ons lewe oorgee aan sy inisiatief, sorg en leiding tot sy eer.
Skrywer: Prof Francois Malan