Die totale omkeer in Jerusalem (60:15-22) – Francois Malan

60:15 Die omkeer word gevier in verse 15-16:  waar niemand kom nie (letterlik: waar niemand deurgaan nie), vreugde sonder einde (letterlik: vreugde van geslag tot geslag) – ‘n volledige omwenteling vir Jerusalem, die eens verlate stad. Ten spyte van wisselende omstandighede en agtereenvolgende bouwerk aan die tempel van die Here, was Jerusalem die sentrum van die Judaïsme waarheen pelgrims vir 500 jaar  lank gestroom het tot in 70 n.C.

60:16 ‘jy sal die melk van nasies drink (suig), en aan die bors van konings suig – nasies en konings sal hulle oorgee om Jerusalem te verhoog, om haar selfs met hulle liggame met deernis te versorg. Dit is metafore vir die voorafgaande voorspellings vir Jerusalem. Die beeld van nasies en konings wat aan Jerusalem eer bewys verwys na ‘n goeie lewe vir Jerusalem en na die vernedering van haar vroeëre vyande tot kinderoppassers (vgl. 49:26). Dit word alles gedoen deur die Here, jou Redder en Verlosser, die Magtige van Jakob, die God wat 1200 jaar te vore reeds ‘n verbond met hulle voorvader Jakob gesluit het (Gen 28:13-15)  – dit behoort Israel te oortuig om die plan van die Here vir hulle te aanvaar en hulle eie programme te laat vaar.

60:17 In plaas van 3:24 se vyfmaal ‘in plaas van,’ wat totale vernedering en slawerny aangekondig het, word hier viermaal ‘in plaas van’ gebruik om sterkte en eer vir Jerusalem aan te dui. Alles in die stad sal opgradeer word weens die instroming van buitelandse rykdomme. Die vers gaan voort met ‘n gedugte verpersoonliking van sjalom en tsedakah (vrede en geregtigheid) as magte wat die welsyn van die samelewing sal bewerk soos in Ps 85:10-14. In die ballingskap was Israel onder harde werkgewers (vgl. Egipte se slawedrywers, Eks 5:14) maar nou stel die Here die genadigste, grootmoedigste en vriendelikste beheerders oor hulle aan, naamlik vrede en geregtigheid – die regte verhouding met God en medemens!

60:18 Die nuwe ‘opsigters’ sal sorg dat al die ou negatiewes uit die land en binne sy grense uit die weg geruim word: geweld, verwoesting, afbreek (o.a. met gedwonge verhuisings). Die mure van die stad sal ‘Verlossing’ (jesju‘ah soos in Jesaja –‘ die Here is Verlosser’, en die naam jesju‘ah  ‘Jesus’ (Mat 1:21) genoem word en die poorte ‘Lofprysing,’ (tehillah soos in Halleluja-  loof die Here).  Die stad het nie mure van klip nodig nie, want die Here (Die Ek is Teenwoordige) is haar beskerming (Ps 90:1; 91:1-16), wat lei tot ‘n oneindige lofprysing van die Here (Ps 95:1-2). Die nuutheid van die Here se nuwe bestel verskil totaal van die ou manier van lewe.

60:19-20 Die digter-profeet waag om hier nog groter beelde te gebruik om die welsyn van die nuwe bedeling aan te kondig. Tot hier is politieke en ekonomiese beelde gebruik om die verandering te verduidelik. Nou gaan hy na die wyer perspektief van die skepping: Die nuwe Jerusalem van die teruggekeerdes sal vir seker nog die son en die maan nodig hê, maar in die profesie word die son en die maan deur die Here self vervang. Hy sal die lig en die heerlikheid, die waarborg en die versekering van Israel wees, ‘n ewige lig wat alle duisternis verdryf, geen nag meer nie, of gevaar of verloor van beheer nie (Ps 139:11-12; Openb 22:5). In die Jerusalem van die teruggekeerde ballinge is die tempel ook nie meer die plek van lig nie, maar die Here, sy liggaam wat vir ons sonde aan die kruis gebreek is (vgl. Joh 2:19-22). Hierdie direkte verhouding met die Here is beter as die tempel (Joh 14:23).

60:21 Al die inwoners sal regverdiges wees – mense wat reg en geregtigheid sal laat geskied. Dit kan hulle egter slegs doen as hulle aan die Here en sy woord vashou, aan Hom wat hulle sondes vergewe het en hulle in die regte verhouding met Hom laat lewe (58:8-10; 59:20). Die besit van die land, in plaas daarvan om huurarbeiders van ‘n vreemde regering te wees, loop dwarsdeur Jesaja (49:8 om die land weer te herstel; 57:13 vir wie by die Here skuil; 61:7 ‘n dubbele porsie in die land vir vreugde; 65:9 die Here se bergland), soos aan Abraham belowe in Gen 15:18 (vgl. egter Hebr 11:13-16 se beter vaderland).

In 11:1 is voorspel dat ‘n loot (netsêr) uit Isai se wortels vrugte sal dra. Hier sê die Here dat Israel ‘n loot is wat Hyself geplant het toe Hy hulle teruggebring het uit die ballingskap, toe Hy hulle sonde vergewe en hulle verhouding met Hom reggemaak het, hulle wat deur hulle sonde weggegooi was soos ‘n boomtak (loot, netser) wat al klaar vrot is (14:19). Hulle is die skepping van sy hande (meervoud soos in die Dooie See manuskrip), Hy het hulle gevorm om in hulle sy heerlikheid te toon. Hulle moet die toonbeeld van hulle God voor die nasies wees, ‘n toonbeeld van reg, geregtigheid en barmhartigheid teenoor alle mense. Daarvoor het Hy hulle geplant en nuut geskep, gevorm na sy beeld (Gen 1:27).

60:22 Die geringste word ‘n groot nageslag en die minste ‘n sterk nasie (soos belowe aan Abraham,  die vader van baie nasies; Gen 17:3-6). ‘Op die regte tyd sal Ek, die Here, dit haastig aan haar (Jerusalem) doen.

Die eerste groep Jode het uit Babel  teruggekeer onder Sesbassar en Serubbabel, ná Kores se dekreet in 538 v.C. (2 Kron 36:22; Esra 1:1). Na sewe maande, toe hulle gevestig was, het hulle in Jerusalem bymekaargekom om ‘n altaar vir die Here op te rig, en het hulle die huttefees gevier (Esra 3:1-2, 4). Na nog sewe maande het hulle begin om die fondament vir die tempel te lê (Esra 3:6,8,10).

Kores is in 524 v.C. opgevolg deur sy seun Kambuses, wat almal dood gemaak het wat hom teenstaan. Hy het Egipte onderwerp  en op pad terug in Palestina gesterf in 522 v.C. Toe was daar vir twee jaar opstande in die Persiese ryk tot Darius, Kambuses se militêre leier, die oorhand gekry het na 29 veldslae. (Serubbabel se gedagte om met geweld vir Israel se vryheid te veg in hierdie deurmekaar tyd, is deur die Here gekeer (Sag 4:6: met mag en krag sal jy nie slaag nie, maar deur my Gees). Dit was ‘n tyd toe dit swaar gegaan het met Israel. Die profeet Haggai het die swak ekonomiese toestand van die Judeërs toegeskryf aan die feit dat die tempel nog in puin gelê het. As hulle dit herbou sal die Here ingryp, die nasies skud en die tempel luisterryker maak as dié van Salomo. Sagaria 9-14 het in soortgelyke terme die volk aangespoor om die tempel te voltooi. Die Jode het weer moed geskep en die bouwerk hervat, sestien jaar na die fondament gelê is. Spoedig is teenstand gekry van die inwoners van Samaria wat vroeër deelname aan die tempelbou geweier is. Die bouwerk is hervat nadat die Persiese koning Darius versoek is om in die argiewe te laat soek na Kores se proklamasie, wat toe gevind is (Esra 6:1-2), en is daar toe aan die tempel gebou van 520-515 v.C.

Na Darius kom sy tweede seun Ahasveros aan bewind 486-464 v.C. wat nie so vriendelik was met die Jode nie, en in sy tyd is hulle openlik vervolg, sodat Jode in die ryk bang was om hulle identiteit te openbaar (vgl. Ester 2:10).  Die lewe in die hele Persiese ryk het in sy tyd agteruitgegaan. Die boek Ester vertel hoe die Jode van algehele uitwissing gered is.

Ahasveros is opgevolg deur sy derde seun Artasasta (464-423 v.C). Die nie-Israelitiese inwoners van die omgewing het aan die begin van Artasasta se regering ‘n klagskrif teen die inwoners van Juda en Jerusalem by hom ingedien teen die opbou van die mure van Jerusalem, waarop hy opdrag gegee het dat die bouery gestaak moes word (Esra 4:6, 21-23).  Maar in sy sewende regeringsjaar gee hy aan Esra volmag om die tempeldiens in Jerusalem, die regspraak en die opvoeding van die volk te gaan herstel en herorganiseer (Esra 7). In die twintigste bewindsjaar van Artasasta stuur hy Nehemia met volmag om die mure van Jerusalem te herbou (Neh 2:12-7:3). Daar was toe weer herhaalde male pogings van die Samaritane om die bouwerk tot stilstand te bring, maar Nehemia het voortgegaan, en selfs die volk bewapen om hulleself te verdedig teen aanvalle (Neh 4:13).

Dit is in hierdie tye dat die derde deel van die boek Jesaja afspeel (hoofstukke 56-66). Dit reflekteer die teologiese krisis in die vormingsjare van die Judaïsme. Dit was ook ‘n sosiale rekonstruksie. Dit volg op die visie van hoofstukke 40-55 oor die terugkeer van die ballinge en wat die Here se heerlike doel daarmee is. Ten spyte van die woelinge van die jare na die terugkeer, is hoofstukke 60-62 en dele van 65 seker dat die Here se plan nog deurgevoer sal word in hulle verswakkende omstandigheide. Dit volg op hoofstukke 56-59 se stryd tussen die mense wat ‘n oop samelewing as die nuwe pad van die Here verkondig, met gehoorsaamheid aan die wet van die Here se etiese eise van reg en geregtiheid en barmhartigheid vir alle mense, en die kwaai teenstand daarteen van hulle wat staan by die ou manier waarop hulle die wet toegepas het om hulleself te beskerm (vgl. ook die stryd in die eerste kerk in Hand 15 en in Petrus se hart in Hand 10; Gal 2:11-14 teenoor Gal 3:28).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Israel as die lig van die Here vir die nasies (60:1-22) – Francois Malan

Drie motiewe dra die gedeelte: die hoofmotief is lig (verse 1-3,5a, 19-20; die verwysing na die verfraaiing van die tempel en die stad oorheers die kern gedeelte (verse 7b-9,13,21); die oproep tot vreugde word duidelik uitgespel in verse 5a, 15b, 22. Jerusalem word aangespreek oor haar nuwe status en voorreg.

Esra 7 vertel dat Esra na Jerusalem vertrek het in 458 v.C.; 80 jaar na die eerste groep onder Serubbabel wat met koning Kores van Persië se opdrag daar aangekom  het. Esra kom  met die toestemming en opdrag van koning Artasasta (Artaxerxes) van Persië. Nehemia kom 13 jaar later die mure van die stad opbou  (445-433 v.C.) met die goedkeuring van koning Artasasta en kom weer in 430-428 v.C om die tempeldiens te herstel. Die hoofstuk speel miskien af gedurende die tyd van Esra en Nehemia.

60:1 ‘Staan op! Skyn! want jou lig het gekom; en die heerlikheid van die Here skyn oor jou.’ Die werkwoord en die voornaamwoord is vroulik, wat die stad Jerusalem aandui wat moet opstaan uit hulle wanhoop en lusteloosheid om weer met hoop en dryfkrag te lewe en te werk. Die rede vir die dubbele opdrag is die versekering dat hulle lig, naamlik die heerlikheid van die Here, duidelik sigbaar vir die wêreld (die volke van v2 en nasies van v 3) in en deur hulle skyn. Die Here is hulle lig. Dit word uitgebrei in vers 2.

60:2 Die volke van die aarde lewe in duisternis van onkunde oor God en sy doel met die mens, en in negatiwiteit sonder hoop; maar die Here verlig sy volgelinge en die lig wat die Here aan hulle gee sal raakgesien word deur die volke. Soos deur die hele boek Jesaja staan die Here op om Israel op te hef en te verlig, maar die ander volke is altyd ook op die horison.

60:3 ‘Nasies sal na jou lig toe kom en konings na die helder glans wat van jou uitstraal’ – in die verlede was Jerusalem onderhorig aan ander nasies. Maar nou, as gevolg van die Here se nuwe besluit, word daar ‘n groot omkeer gesien. Terwyl die volke in die duister van negatiwiteit sonder hoop lewe (v2) is Jerusalem die voorwerp van die Here se positiewe aandag. Daarom sal nasies en konings getrek word deur Jerusalem se lig – iets wat lank laas gesien is. Dit is reeds in Jes. 2:2-5 vir Israel voorgehou as die wil van die Here. In Joh 12:32-33 verwys Jesus na sy kruisdood in Jerusalem as die toppunt van God se selfopofferende liefde vir die wêreld: En as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.

60:4 Die teks begin ook met ‘n dubbele opdrag: slaan julle oë op en kyk rondom julle – na die skare wat aanstroom na die stad wat aan die herstel is. Hulle (die nasies) kom almal bymekaar, hulle kom na jou toe (soos die Samaritane van Sigar in Joh 4:39-42). Hulle bring ‘n swaar vrag:’ jou seuns bring hulle van ver af’ – die Jode wat nog verstrooid in die Persiese ryk bly, word teruggebring, ‘en julle dogters word op die heup versorg’ – die nasies bring hulle met groot sorg terug na Jerusalem. En saam met hulle ook groot vragte goed:

60:5 Tot nou toe moes Israel skatplig betaal, eers aan Assirië en toe aan Babilon. Die proses is nou egter omgedraai:  Maar as jy (vroulik: Jerusalem) jou oë opslaan en rondom jou kyk sal jy sien en straal (van blydskap) en jou hart sal tintel van vreugde, want die oorvloed van die see word na jou gebring en die rykdom van die nasies kom na jou toe – handelsrykdomme wat per boot en oor land aangebring word. (vgl. Artasasta se opdrag in Esra 7:15-20, Neh 2:8).

60:6  ‘n Menigte kamele bedek/beklee jou – hulle bring materiaal vir klere aan. Jong kameelbulle uit Midian en Efa (in Noord-Arabië), almal uit Skeba (in Suid-Arabië) bring goud en wierook. Die gawes verkondig die lof van die Here. Die koningin van Skeba het gehoor wat vertel word van Salomo en die Naam van die Here, en het self gekom met ‘n menigte geskenke om ondersoek in te stel. Haar bevinding was: Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys het…Omdat die Here Israel vir altyd liefhet, het Hy u as koning oor hulle aangestel om die orde en die reg te handhaaf (1 Kon 10:1-2,9-10). Sy is ‘n voorloper van hierdie belofte van die Here aan sy volk. Die heidense sterrekenners uit die Ooste het ook goud en wierook gebring na die Kind van Betlehem om  aan Hom eer te bewys en te aanbid  (Mt 2:2,11).

60:7 Die kleinvee van Kedar en die ramme van die Nebajot omgewing (nomadiese gebiede in Arabië; vgl. die name van Ismael se seuns in Gen 25:13) – hierdie gawes van die heidense nasies – is vir die Here aanneemlik as offers op sy altaar!  Jerusalem word die sentrum vir geestelike en stoflike seëninge vir Israel en die volke. Arabië was destyds die hele gebied wat reg Oos en Suid van Israel geleë was.

60:8-9 Die visioen oor die herstel van Israel begin in hierdie verse met die tuiskoms vanuit die Middellandse See, die wêreld van seevaart en skepe. Die skepe wat die Middellandse See deurkruis met hulle ware, verteenwoordig die enorme rykdom wat deur handel geskep word (vgl 2:16 se handelskepe en al die vaartuie vol kosbaarhede). Maar voordat die skepe heeltemal sigbaar is, is die toppe van hulle seile soos ‘n wolkie en duiwe wat op die horison verskyn. As hulle heeltemal in sig kom, word hulle herken as vragskepe. Hulle vrag is ‘julle kinders’ plus ‘silwer en goud,’ mense en rykdom op pad na Jerusalem. Agter die beweging staan ‘die Here (Die Ek is), jou God, ‘Die Heilige van Israel’ – wat aan Israel toegewy is (Lg. is Jesaja se geliefkoosde titel vir die Here, vgl. bv. 1:4; 5:19 en nog 28 maal in Jesaja).  Hy is die borg wat hierdie wonderbaarlike herstel van Israel kan bewerk, die openbare proses van vernuwing van hulle samelewing.

60:10 Die afdeling sluit in vers 14 ook met die Here, die Heilige van Israel. Vreemdelinge en konings word gewillige instrumente vir die nuwe welvaart van Israel. Maar agter dit alles sit die Here wat vroeër in toorn teen Israel se sondige lewenswyse, waardeur hulle mekaar vertrap het, moes optree, en nou in sy genade hulle lewe ná die ballingskap voorspoedig maak, soos in 54:7-8 uitgespel is.

60:11 As gevolg van die Here se nuwe lewe vir Israel moet die poorte van die stad dag en nag oopstaan vir die stroom Jode wat terugkom en al die rykdomme wat daarmee saam  aankom (vgl. Esra 7:13,15-16).

60:12 Die nasies word gewaarsku dat hulle onderwerping aan Jerusalem ‘n aanbod is wat nie geweier kan word nie. Die alternatief is vernietiging. Die enigste manier waarop ‘n nasie kan vooruitgaan, selfs om te kan bestaan, is om nou verbind te wees met die vernuwing van Jerusalem – want die Here se nuwe lewe vir die stad beteken ‘n samelewing van reg en geregtigheid en barmhartigheid, die voorvereistes vir ‘n samelewing om goed en in vrede te kan bestaan.

60:13 Die bosse op Libanonberg het destyd hout voorsien vir Salomo se tempel (1 Kon 5:8-9). Nehemia het ook toestemming gekry om hout uit die staatsbos te kry vir die bou van die stadspoorte (Neh 2:8). Hier voorsien die Libanon ook hout vir die bou en versiering van die tempel

60:14 Die profeet sien dat die nasies wat vir Israel vroeër verdruk en onderdruk het, hulle nou in nederigheid aan Jerusalem onderwerp. Hulle sal die stad noem: die stad van die Here – Die Ek is die teenwoordige, Sion van die Heilige van Israel – aan Israel toegewy (vgl. Luk 14:11 en 18:14: Elkeen wat homself verhoog sal verneder word, en wie homself verneder sal verhoog word – dit is die weg van die Here vir elke mens en samelewing, vgl. die betekenis van die menswording-lewe-sterwe-opstanding-hemelvaart van Jesus vir gelowiges in Filip 2:5-11).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Here se reaksie (59:15b-21) – Francois Malan

59:15b In vers 1-2 het die digter gesê die Here verberg Hom vir Israel weens hulle sonde, maar hier is die Here self in die prentjie. Hy is wel oral, soos blyk uit die aanklag in verse 2-8 en volgens die belydenisklag van verse 9-15a, maar hier tree die Here self op. Die Here sien daar is geen reg in die samelewing nie (soos in verse 8,9,13,14 herhaal is) en Hy is ongelukkig daaroor.

59:16 Hy het ook baie meer en skerper gesien, tot in die harte en gesindheid van die mense, dat daar  niemand is wat daarvoor omgee en iets daaraan wil doen nie. Daarom tree Hy self op om sy eer te beskerm (letterlik: daarom het sy arm vir Hom hulp gegee), en sy geregtigheid het Hom onderskraag.  In Eseg 34:11-16 neem die Here die herderskap oor sy kudde self oor omdat die herders so sleg is. Hier tree Hy in as ‘n soldaat om sy heerskappy van reg, geregtigheid, waarheid en vrede te vestig, iets waarvoor niemand gewerk het om dit te verdien  nie.

59:17 Die digter-profeet teken die Here in die rol van ‘n vegter wat ‘n soldate uniform aantrek vir die stryd. Maar dit is ‘n stryd sonder die geweld van oorlog of met fisiese wapens, soos later in Efesiërs 6:11-17 vir die gelowige voorgeskryf word: geregtigheid is sy borsplaat om die pyle/aanslae van die bose af te weer; verlossing is sy helm, wat  kop en denke beskerm en onderdruktes en verdwaaldes verlos van verkeerde gedagtes en planne; Hy klee Hom met wraak oor die onreg wat sy mense aangedoen word (vgl. Deut 32:35 en Rom 12:25); en Hy draai Homself toe met ‘n mantel van toorn oor sy mense se verwerping van Hom en sy goedheid en geregtigheid.

59:18 Die woord ‘daad/dade’ (gemul) kom drie keer in die vers voor. Dit gaan om die lewenswyse van die mense en hulle verkeerde dade teen mede-mense. Elke verkeerde daad van die vyande van die Here en van sy teenstanders tot aan die eindes van die aarde (eilande/kuslande as beelde vir die verste uithoeke van die aarde) word vergeld en kom op hulle koppe neer.

59:19 Die dreiging van die Here dat Hy reg en geregtigheid sal inprent, word voorgestel as die koms van ‘n onweerstaanbare mag, soos ‘n rivier wat alles voor hom wegvee (1983  ‘wanneer die teëstander, tsar, aanstorm soos ‘n rivier’ is ‘n afwyking van die ander vertalings, wat tsar as ‘n byvoeglike naamwoord vertaal, wat beter pas in die gang van die betoog: ‘Hy sal kom soos ‘n ingehokte/stormende rivier,’ 1953: ‘saamgeperste stroom,’ NLV: ‘opgedamde vloed,’ BVA: ‘vol rivier’) ‘wat aangedryf word deur die Gees van die Here’  (sommige vertalings: ‘die wind van die Here’ wat die stroom aanjaag – want die Hebreeuse woord ruach word gebruik vir wind en gees). Die gevolg sal wees dat almal, van wes en oos (letterlik: van sonsondergang tot die opkomende son) hulle onderwerp aan die Here se heerskappy met reg en geregtigheid, wat soos die opkomende son sal skyn en met sy Gees indring in die lewens van mense (vgl Joh 16:8-11).

59:20 Die belofte van die Here toe Israel nog in ballingskap was, 43:1: Ek verlos jou, en 44:6: jou Losser, word hier herhaal met ‘n beperking daarby: Ek sal kom as Losser, na dié wat hulle omdraai/bekeer van hulle oortredings. Die Gees van die Here oorwin deur Israel innerlik te verander.

59:21 Wat my betref, dit is my verbond met hulle – verwysende na hulle wat hulle omdraai van hulle oortredings af volgens die vorige vers. (1983: ‘met die volk’ vertolk die woord ‘hulle’  te wyd). Die term ‘my verbond’ word verder verduidelik met ‘my Gees’ en ‘my woorde.’ Die drie: my verbond, my Gees, my woorde, sal in jou mond wees om dit te verkondig en te omhels. Ps 1:2 sê: Gelukkig is die mens wat vreugde in die wet van die Here vind en sy wet dag en nag prewelend oordink. Die ware verbondsmense is hulle wat lewe in hulle verbintenis met die Here, met sy Gees en met sy woord. En dit sal van geslag tot geslag voortgaan. Daarmee sal die gelowiges hulle onderskei van die oortreders wat hulle nie aan die Here, ‘Die Ek is’ persoonlik teenwoordige, en aan sy Gees en gesindheid en sy torah/onderwysing hou nie.Die hele hoofstuk, wat handel oor die diepe verdeeldheid in die gemeenskap oor wat die wil van die Here vir hulle is, sluit met die versekering van die Here se teenwoordigheid en verlossing vir dié wat hulle by Hom skaar met sy ope samelewing vir alle mense wat aan Hom verbind lewe in reg, geregtigheid en barmhartigheid (vgl Rom 10:8-13).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Here wag op geregtigheid (59:1-15) – Francois Malan

Die lang gedig, wat nie altyd duidelik is nie, weerspieël die konflik in die vroeë Jodendom, en ondersteun hoofstuk 56 se aksent op ‘n oop inklusiewe gemeenskap en hoofstuk 58 se eis van ekonomiese regverdigheid in die samelewing. Die situasie het vererger en die onderlinge gemeenskap is  verskeur. ‘n Regsorde wat persoonlike vryheid waarborg bestaan nie, en mense blameer God.

59:1 Daar is iets radikaal verkeerd in die samelewing. Die verbondsooreenkoms  tussen die Here en die gemeenskap werk nie, en sommige verwyt die Here vir die chaotiese toestand waarin die land verkeer (soos in 40:27), maar die beskuldiging word kortaf verwerp met een vers: ‘Kyk! die hand van die Here is nie te kort om te help/red nie, en sy oor nie  te  swaar (doof) om te hoor nie! (vgl. 50:2). Sy krag is nie verswak of ingekort nie. Sy hand, dit is sy krag om te red/help en in te gryp word nie verminder nie. En hulle oneffektiewe godsdiens kan nie God beskuldig dat Hy nie hoor nie (vgl. Jak 4:3).

59:2 Verse 2-8 beskuldig Israel dat húlle nie die verbondsooreenkoms nakom nie, en dit is nie die Here wat in gebreke gebly het nie! Vers 2 stel hulle tekortkominge in algemene terme. Dit gaan oor hulle oortredings en sondes. In die volgende verse word dit duidelik uitgespel. Hulle oortredings het’n  skeiding gebring tussen hulle en hulle God en hulle sondes het gelei tot ‘n onwilligheid by God om hulle gebede te verhoor. ‘Julle God…’ beklemtoon die verbondsverhouding, en maak die oortreding daarvan so ernstig.

59:3 Julle hande is bevlek met bloed – skuldig aan  misdadige geweldshandelinge teenoor medemense (vgl. 1:15)

julle vingers met onreg – onbillike behandeling, teistering van swakkeres

julle lippe praat valsheid/leuens – om mense te mislei en te beswadder

julle tong uiter/mompel verkeerdheid/slegtheid – wat net verhoudings vertroebel.

Al hulle optredes (hande en vingers) en woorde (lippe en tong) is ‘n skending van die beeld van hulle God, die Here (Die Ek is die Teenwoordige), en maak mense (sy skepsels) seer. Dit getuig van die innerlike onvrede van mense wat net vir hulleself lewe.

59:4-6 Die vers kyk na die regspleging as die plek waar verontregtes veronderstel is om  reg, geregtigheid en billikheid te verkry, waarvan openbare verhoudings afhang. Maar dit geskied nie in howe waar leuens die waarheid verdring nie (Eks 20:16). As die hofprosedures verdraai word deur leuens en valse voorstellings, is niemand veilig nie. Dit is die soort onreg wat skeiding bring tussen die Here en sy volk (v2). Goeie menslike verhoudings en ‘n gesonde samelewing is verbind aan toegang tot die Here.

Israel se verdraaide samelewing word beskryf met twee metafore: slangeiers wat uitbroei en spinnerakke wat geweef word. Die slangeiers wat uitbroei bring net meer gif in die gemeenskap, meer onreg en geweld. Skynbaar beskeie verdraaiings van die reg (‘’n skuldige los lieg in die hof’) het geweldige en langdurige gevolge in die lewens van mense. Met ‘n web van woorde (o.a. met valse getuienis) word die slagoffers vasgespin en uitgesuig, en die mense wat die woorde gespin het, kan nie daarmee ‘n kleed van geregtigheid vir hulle weef nie, dit is ‘n web van  oortredings/boosheid en geweld.

59:7 Hulle voete hardloop na die kwaad en hulle haas hulle om onskuldige bloed te vergiet

Hulle gedagtes is gedagtes van boosheid/oortreding, geweld/vernietiging in hulle hoofstrate/hoofweë.

Nêrens is dit nog veilig in die samelewing wat in anargie verval het nie. Hulle het ‘n opstandige gemeenskap sonder hoop geword wat hulleself vernietig.

59:8 Die pad van vrede, sjalom,  ken hulle nie

In hulle (diep) spore (van die waens wat die oes wegry; as beeld van hulle lewenswyse) is daar geen reg nie

Hulle paaie (lewenswyses) wat hulle vir hulleself gemaak het,  is krom (oneerlik) – hulle gekose manier van  lewe is nie reguit, met reg en geregtigheid, nie.

Elkeen wat daarop loop (so lewe) ken nie sjalom nie.

Die slotsom van die gedeelte is: geen sjalom – geen reg – geen sjalom. Die rede daarvoor is dat die basiese vereistes vir ‘n  menslike samelewing makeer. Die vasgelegde praktyk van onregverdige uitbuiting is wyd verspreid – en dit vloei voort uit die regbank (regstelsel en praktyk). Israel is inderdaad vergiftig.

59:9  Die klagstaat van verse 2-8 lok ‘n beswaargebed uit, wat enersyds Israel se erkenning/belydenis is en andersyds die aanklagte van die Here bevestig. Reg en geregtigheid (vriendelikheid) word deurgaans van Israel verwag, bv. in 56:1. Maar hier verwys dit skynbaar nie na Israel se verpligting as die Here se volk nie, maar wat hulle van die Here verwag, maar nie van Hom kry nie. ‘Daarom bly die reg (in hofuitpsrake) ver van ons af, en die goeie (tsedakah kindness)  haal ons nie in nie; ons wag op lig – op ‘n duidelike verduideliking deur die Here, maar kyk! duisternis!, maar  ons wandel (lewe) in die duisternis’. Om op die lig te wag sonder om iets aan die geweld te doen, is hopeloos.

59:10 Hulle hoop op ‘n ordelike en voorpoedige samelewing, maar hulle ondervind slegs duisternis asof hulle soos blindes teen ‘n muur aanskuifel, en hulle struikel asof hulle besig is om dood te gaan. So erken hulle hulle toestand en die hopeloosheid daarvan.

59:11 Ses terme som op wat Israel van die Here verwag: reg en geregtigheid/vriendelikheid (v9a); lig en verduideliking (9b), reg en hulp/redding (v11). Met beelde wat die geluide van eensame diere en voëls maak, op soek na ‘n maat, word die hele volk (‘ons almal’)  se treurige toestand beskryf: die lae gegrom van ‘n beer, en ‘n duif se aanhoudende gekla:

‘ons verwag reg, maar daar is geen (reg nie), op redding, maar dit is ver van ons af’. Die gemeenskap kort alles wat hulle van God nodig het om ‘n leefbare en vreugdevolle lewe te leef (58:14). Maar hulle is in so ‘n ellendige toestand dat hulle niks van die Here vra nie. Hulle bekla slegs hulle behoefte.

59:12-13 Die aanklag was dat Israel nie die Here gehoorsaam het nie. Hier erken Israel die inhoud van die aanklag. Die fout lê nie by die Here nie (59:1 word bevestig), maar by Israel se verset teen die Here en dit maak dat die gemeenskapslewe totaal bederf het. Hulle erken hulle menigvuldige rebellies (teen die Here), hulle sondes (teen die Here en hulle medemense), hulle oortredings (van die Here se wet) en onregverdigheid/boosheid. Opstande in die naam van maatskaplike geregtigheid lei  nie baie keer na reg in die samelewing nie, veral nie as dit deurspek word met leuens nie.

59:14-15a Die gedeelte vanaf vers 9 word afgesluit met ‘n opsomming van die belangrikste en ooglopende dinge wat kortkom in die gemeenskap van Israel wat teruggekom het uit die ballingskap. Dit word saamgevat met vyf sinonieme terme vir die handelinge wat ‘n gemeenskap lewensvatbaar maak: die reg (misjpat) en geregtigheid (tsedakah) soos in vers 9; waarheid (‘emet) wat volgens verse 4 en 13 in die howe makeer;  opregtheid/wat nie verdraaid is nie (nekogah) en waarheid  (‘emet) herhaal die vorige twee om dit te beklemtoon. Die vyf wys duidelik dat die lewe van ‘n gemeenskap afhang van sy etiese verantwoordelikheid. Maar dit makeer alles in Israel se samelewing. Vers 13 se wegdraai van die Here af en vers 9 se reg wat ver van hulle verwyder is, onderstreep hoe jammerlik die gemeenskap ontaard het. Die ononderhandelbare vereistes van reg en geregtigheid is die voorwaarde vir ‘n nuwe gemeenskap van verlossing en vreugde  wat die Here vir die teruggekeerdes aangedui het in 56:1-2. Dit het verdwyn. Nou is dit duidelik: as daar geen reg en geregtigheid is nie – is daar geen lewensvatbare samelewing nie!