Opbou van Jerusalem (54:9-17) – Francois Malan

54:9 Die beeld vir die ballingskap verander hier na dié van die sondvloed. Israel se ballingskap word vergelyk met die diepe chaos van die sondvloed wat die Here gestuur het oor die sonde van die mensdom  (Gen 6:5-6), maar Israel se ballingskap kom nou tot ‘n end. En nou maak die Here ‘n belofte, soos aan Noag in Gen 9:11, dat daar nie weer ‘n oorstroming sal wees wat die wêreld sal oorweldig nie. So het die Here gesweer dat Hy nie weer toornig op Israel sal wees of hulle bestraf nie.

54:10 Die Here se trou teenoor Israel is groter as die skepping self: selfs berge en heuwels kan onstabiel word, maar nie my verbondenheid/solidariteit/lojaliteit aan jou  nie, en sy verbond van sjaloom  (vrede, welwese) sal nie wankel nie, sê Hy wat jou liefhet, die Here. Die Here se belofte, sy woord, is meer duursaam en vertroubaar as sy skepping (40:8).

54:11-12 Jerusalem word aangespreek as  Geteisterde, Deur-storm-vernielde (soos met die sondvloed), Nie-vertroosde – die uiterste gevaar vir Jerusalem tydens die ballingskap word geskilder met die chaos wat die sondvloed oor die aarde gebring het. En daar was niemand om hulle te troos nie. Hulle bure, selfs hulle broedervolk Edom/Esau, het met Babel saamgespan teen Jerusalem (Obadja 10-16).

Die materiaal en dele van die stad wat herbou gaan word, word opgenoem: klippe, harde messelklei, fondamente, torings, poorte, mure. Elke deel word in die gedig vergelyk met ‘n kosbare steen. Die nuwe stad gaan skitter en floreer in prag, gepas vir ‘n koning (vgl. Openb 21:18-21). Die ekonomie van die hele wêreld word omgegooi. Al die nasies bring hulle rykdom na Jerusalem – laastes gaan eerste wees (Mt 19:30; 20:16). Die ballinge gaan in die pragtige stad bly, maar die profesie sal eers in die nuwe Jerusalem van Openbaring 21 vervul word (vgl. 1 Petr 1:10-12).

54:13 Al jou kinders sal deur die Here geleer word. Die teruggekeerdes sal die besondere onderrig van die Here self ontvang met groot sjalom (vrede, welwese) vir Jerusalem se inwoners. Die herstel van Jerusalem gaan verder as die opbou van sy geboue. Een van die besondere prestasies van die Jode wat teruggekeer het, was die opleiding van feitlik alle Joodse kinders in die taal en inhoud van die Torah (die eerste vyf boeke van die OT). In die ballingskap, sonder  ‘n tempel, het die sinagoges ontstaan as leerhuise waar die Torah gelees is en die kinders geleer is om te lees en te skryf. En toe hulle terugekom het, is sinagoges in Jerusalem en in die stede gestig waar die kinders geleer is en die Woord van die Here elke week gelees en gehoor kon word (en nie slegs drie maal per jaar met die groot feeste by die tempel nie). Op die manier is die Here se doel met die ballingskap in 2:2-3 vervul. Die Hebreeuse woord  sjalom word gebruik vir geestelike stabiliteit: vrede met God, verlossing; sosiale stabiliteit: vriendskap en vrede tussen mense; en politieke stabiliteit, ook voorspoed en gesondheid. Dit vloei voort uit die onderrig van die Woord van die Here.

54:14 Geregtigheid verwys na die regte verhouding tot God en tussen mense. Reg en geregtigheid sal in Jerusalem bevestig word. Teenoor die verdrukking tydens die ballingskap wil die Here dat Jerusalem se inwoners steeds billik en reg met mekaar sal saam lewe en mekaar vertrou. Dan hoef hulle nie in vrees te lewe soos in die ballingskap nie (vgl. Jesus se goue reël in Mt 7:12; Paulus se aanwysing in Flp 2:3-4 spel uit hoe ‘n lewe in vrede met mekaar gelewe kan word).

54:15 As daar ‘n moeilikheidmaker in Jerusalem sou opstaan, of ‘n vyand van buite hulle wil aanval, sal hy nie slaag nie, want die Here is toewy aan Israel en het sy waarborg aan Jerusalem gegee. Hy sal nie weer ‘n roede teen hulle  stuur soos Hy Assirië (10:5) en Babel gestuur het nie.

54:16-17 Die Here beheer die maak en verspreiding van wapens, en Hy maak ook die verwoester. Maar Hy sal sorg dat dit nie teen Jersualem sal slaag nie, nie op die slagveld of in die hofsaal nie.

Hier word vir die eerste keer in die meervoud van ‘dienaars’ gepraat. Aan hulle sal die Here geregtigheid laat geskied. Dit raak blykbaar dié mense wat in 50:10 genoem word, dié wat die Here dien en na sy dienaar luister. Die geregtigheid word beskou as hulle erfdeel wat die Here vir hulle gee (1983: dit is hoe Ek vir my dienaars  sorg). Volgens Romeine 8:17 is gelowiges erfgename van God saam met Christus. En volgens 1 Kor 1:30 is Christus ons regverdiging.

Met vers 17b sluit die gedeelte af en dit is ook ‘n inleiding tot hoofstuk 55 waarin ernstige aanbidders  van die Here onderskei word van mense met bymotiewe, tussen die ou manier van lewe voor en tydens die ballingskap en die nuwe soort lewe waartoe die Here hulle verlos het, om dienaars van die Here te wees. In hoofstukke 55-57 word uitgebrei op die egte dienaars van die Here, terwyl hoofstukke 63-65 verwys na sommige in Israel wat hulleself uitskakel deurdat hulle weier om God se plan vir die nuwe bedeling te volg.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Here se verhouding met Israel (54:1-8) – Francois Malan

Met ‘n verskeidenheid beelde vier hierdie gedig Israel se nuwe status as bevrydes uit die ballingskap, deur die Here bevry, beskerm, omhels en geseën.

54:1-8 ‘n Geliefde en geseënde vrou. Beelde van ‘n huwelik en gesin beskryf die verhouding tussen die Here en Israel.

54:1 Die onvrugbare vrou word verseker dat sy met kinders geseën gaan word (soos Sara Gen 21:1-7). Hier is die onvrugbare vrou egter ‘n beeld van Israel se hooploosheid in die ballingskap en ‘n beeld van Jerusalem wat in puin lê sonder inwoners. Die belofte van ‘n kinderseën is die simbool vir Israel se hoopvolle toekoms wat nou gaan aanbreek. Hulle wanhoop is verbeeld as onvrugbaarheid, en die vreugdevolle vooruitsig van herstel as die geboorte van kinders. Die hoofstuk begin met drie opdragte: Jubel! Open julle mond om te sing! Juig! Die digter voorsien uitbundige vreugde vir die ballinge wat terugkom, soos by die langverwagte geboorte van ‘n kind wat eindelik voorsien word. Want die kinders van ‘onvrugbare’ Israel sal meer wees as dié van ‘getroude’ Babel, wat geen vreugdevolle toekoms het nie, teenoor die onvrugbare Jerusalem wat meer inwoners sal hê as wat daar voor die ballingskap gewoon het.

54:2 Die volgende vyf opdragte gebruik ‘n ander beeld, die van ‘n bedoeine tent, soos van Abraham (Gen 18:1). Dit is nodig dat die tent groter gemaak word, en stewiger gemaak word met toue en tentpenne. Want die tent gaan krioel van kinders wat orals gaan klim en die tent sal omgooi as hy nie stewiger geanker word nie. Jerusalem moet uitgebrei en sy mure stewig herbou word.

54:3 Die teruggekeerdes sal vreemde volke aantref in party van hulle vorige stede. Nou sê die Here in die gedig: jy sal na regs en na links uitbreek – van Jerusalem af na die dorpe en stede in die land – en jou saad (kinders) sal die nasies onderwerp/in besit neem – die stede wat hulle beset het terwyl Israel in ballingskap was (vgl. Gen 22:17 se belofte). Die ander stede wat nog verwoes lê sal weer herstel en bewoon word. Met die terugkeer uit die ballingskap herleef die ou beloftes en herinnerings aan die uittog uit Egipte 700 jaar tevore op dramatiese en vrugbare wyse.

54:4 Die beeld om Israel se ballingskap te beskryf verander  van ‘n onvrugbare vrou (v1), en ‘n bedoeine tent (v2) na ‘weduweeskap.’  Met die dood van haar man was ‘n weduwee sonder enige regte soos ‘n vreemdeling, en is sy dikwels onderdruk en uitgebuit. So was Israel in ballingskap gestroop van al haar regte en was verdruk. So is Israel in Babel gespot as ‘n volk wie se God dood is. Aan Israel word gesê: moenie vrees nie! Sy sal nie weer in die skande kom nie; nie meer aan die vernedering van haar weduweeskap dink nie. Dit gaan nou radikaal verander.

54:5 Haar Eienaar/Man (haar Baal in Hebreeus) is haar Maker (Skepper). Sy Naam is die HERE van die leërskare (die Almagtige). En jou Losser is die Heilige van Israel (wat aan Israel toegewy is). Hy sal genoem word: die God van die ganse aarde!  Die Losser herstel die vrou se regte en besittings en eer (Rut 3:9; 4:5). Die HERE is die altyd persoonlike teenwoordige Ek is. Die ganse aarde moet Hom as God vereer en dien. Hy beheer die leërs van die hemel en van die aarde, en is toegewy aan sy volk wat Hy gemaak het . Daarom: moenie bang wees nie (God is vír ons. Wie kan dan teen ons wees? Rm 8:31).

54:6  Die beeld vir Israel se ballingskap verskuif  weer. Nou word Israel geskilder as ‘n geskeide vrou, met ‘n verstote gees, en soos ‘n vrou wat deur jong mans verwerp is – ‘n oujongnooi.  Vir Israel sê jou God, Ek het jou geroep, uitgenooi. Die wete dat God haar geroep het verseker vir Israel, die geskeide vrou, van die herstel van haar waardigheid, sekuriteit en ‘n goeie lewe.

54:7-8 Vir ‘n kort kort oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot liefdesbetuigings maak Ek jou bymekaar (soos   skape wat verstrooi is). Met strome (sjêtsêf) van toorn (kêtsêf) het Ek my gesig vir jou vir ‘n wyle verberg, maar met ewige liefde het Ek jou lief, sê die HERE, jou Losser. Vir die ballingskap se 75 jaar het die Here die gesig van sy ewige liefde vir Israel verberg. Hulle het toe gekla: Die Here sien nie wat van my word nie (40:27). Maar sy liefde is ewig – ook in die ballingskap (Ps 30:6). Aan die kruis, met die straf op die sonde van die ganse mensdom op Hom, het Jesus, in solidariteit met die sondaars van die hele aarde, vir ’n kort oomblik gekla: My God, my God waarom het U my verlaat (Mt 27:46), maar daarna, met volle vertroue, met ‘n harde stem uitgeroep: Vader, in u hande gee Ek my gees oor, en sy asem uitgeblaas (Lk 23:46).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die vrug op die dienaar se lyding (53:10-12) – Francois Malan

53:10-11a Vers 9 vertel van die einde van die dienaar, maar dit is nog nie die einde nie, want die Here…! Die Here wil dat die gedig nog verder gaan. Dit was sy goeie wil om sy dienaar so te gebruik, so ’n effektiewe lyer te ontplooi. Dit is sy wil dat Hy deur sy dienaar sy doel bereik, suksesvol sal wees (5:13 gebruik ‘n ander woord vir suksesvol). Die Here se plan is dat sy dienaar wat alles gegee het, alles sal ontvang. Sy dienaar is ‘n instrument in sy hand, ‘n skuldoffer vir sonde, maar word op die ou einde nie verlaat nie. Hy sal nog ‘n nageslag hê en lank lewe. So iets van die lewe na die dood begin hier deurskemer (vgl. 26:19). Hy sal die lig sien en Hom ken (1983 die Here ken; letterlik: die wil van die HERE is suksesvol in sy hand). Hy sal die wil van die Here ken en daarvolgens lewe en optree (vgl. Jn 8:28-29; 12:27-28; 14:10).  So behoort elke gelowige te lewe (vgl. Mt 6:10).

53:11b-12 Die kernboodskap van dié loflied oor die dienaar van die Here word in verse 11b-12 saamgevat: Die Here noem hom ‘die regverdige,’ dit beteken hy lewe in die regte verhoudig tot God. En hy sal baie tot regverdigheid lei deurdat hy die skuld van hulle sonde dra. Dit is nederige werk om jouself te gee deur ongewaarborgde diens aan en uit innige belangstelling in mense wat dit nie verdien nie.

53:12 Die dienaar se selfvernedering is die rede (daarom) dat God hom verhoog. Die dienaar wat hom met die oortreders geïdentifiseer het, wat soos een van hulle gelyk het, wat vir hulle gebid het en as hulle advokaat opgetree het, ontvang nou die ‘daarom’ van die Here wat aan die geringe en misvormde ‘n aandeel gee saam met die magtiges en die sterkes.

[Sommige verklaarders skryf die lewensverhaal van Serubbabel verder as Sagaria 4:6-10, waar ons Bybelse kennis van hom ophou. Hulle pas dan hierdie hoofstuk op hom toe, as sou hy onregverdig gely het, omdat hy as Kores se agent beskou is, en deur goewerneur Tattenai onregverdig verhoor en doodgemaak is (vgl. Esra 5:3-6 waar hulle teen die bou van die tempel was, maar volgens Esra 6:13 het Tattenai Darius se opdrag om die tempel te laat bou uitgevoer. Die verklaarders meen Serubbabel was toe al dood. Dit is alles egter raaiwerk om hfs. 53 te probeer verklaar].

Uit hierdie hoofstuk, wat die ontmande Etiopiër op pad gelees het, het Filippus vir hom die evangelie oor Jesus verkondig (Hand. 8:30-35; vgl. ook die goeie nuus vir ontmandes in Jes 56:3-5. Die 1983-vertaling vertaal eunuch telkens met ‘amptenaar’ in Hd 8:34,36, 38).

Maar dat God anders werk as die wêreld, is duidelik uit hierdie hoofstuk en uit Jesus se lewe, sterwe en opstanding, wat die vervulling is van Jes 52:13-53:12. Daarmee het Jesus vir sy volgelinge ‘n voorbeeld gestel om soos Hy, vernedering, slae en lyding te verduur om die bose kringloop van geweld te verbreek – moenie ‘n slegte mens teengaan nie. As iemand jou op die regterwang klap, moet jy ook die ander een vir hom draai (Mt 5:39). Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees (Mt 5:44-45). Hierdie hoofstuk is egter die basis van die evangelie: ons verhouding met God word reggestel deur die soendood en opstanding van sy Seun, sodat ons kinders van God kan wees deur ons geloofsband aan sy Seun.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die lydende dienaar van die Here (53:1-9) – Francois Malan

Die vierde ‘dienaar van die Here’ gedeelte in Jesaja word hier voortgesit uit 52:13-15, met die klem op sy plaasvervangende lyding.

 

53:1 Die vernedering wat ‘n verhoging word, openbaar God se mag (sy arm) wat die onverwagte nuwe lewe bewerk. Die twee retoriese vrae  is ‘n oproep tot geloof en vertroue in God, die geloofspad wat nie die gewone verloop van sake in die wêreld volg nie (Ps 24:14 wag/vertrou op die Here!). Die antwoord op die twee vrae is: niemand sal dit glo of sien in die onaansienlike dienaar van die Here nie, wat in 52:13-15 geskilder is.

53:2-3 Die lewe van die dienaar van die Here word beskryf, van sy geboorte in vers 2 tot sy dood in vers 9. Sy geboorte was nie ‘n aanskoulike begin nie: uit droë grond, geen vorm, geen heerlikheid, niks om te bewonder of van waarde nie. ‘n Verworpene, nie waardeer nie, moontlik verstoot, miskien misvorm, iemand van wie niks verwag is nie. Iemand van geen belang nie. Daarby iemand wat in pyn en siekte lewe. Maar hy is soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit (11:1) en ‘n wortel uit droë grond – soos die wonder van lewe in die natuur, van die koringkorrel wat sterf om ’n groot oes te lewer (Joh 12:24). Alle lewe in die hele skepping kom van die Here, ook die loot wat voor die Here uitspruit.

53:4-6 Ten spyte van sy verwerping deur die mense geskied ‘n wonder van God. Hierdie gestremde geïgnoreerde veragte dienaar neem op homself die gestremdhede en die siektes, die lyding as gevolg van sonde, die straf op sondes. Hy word gewond, gepynig, gestraf – en ‘ons’ word genees! Die gedig sê nie hoe dit gebeur of moontlik is dat een vir ander kan ly nie, maar dit is die kern van die verlossing deur die Here. In sy selfverloënende liefde neem die dienaar van die Here die straf en smet van die sonde van die wêreld op hom (Rom 5:8). Die Here het al ons sonde op sy dienaar laat afkom. Die digter-profeet bied sy belydenis en erkenning met verbystering daaroor aan.

Die wonder van die genesing is in ver 6 verbind aan die belydenis van sonde: ‘Ons’ (7x met klem en persoonlik; in Hebreeus 12x ‘ons’ in die drie verse) was eiesinning, weerspannig, soos dom onverskillige skape wat van die regte weiding af gewei het, sonder om na die herder te luister; so het ons afgedwaal in die gevaar in. En die dienaar het verantwoording gedoen vir ons dwaling en sonde. Die verse praat telkens van ons. Dit is nie koue objektiewe stellings nie, maar die stem van hulle wat genees is en wat nou eers insien dat ons gedwaal het, verbyster oor die verlossing en van harte dankbaar. Dit geld eintlik vir alle mense wat die vloei van heling en verlossing, wat deur lyding bewerk word, heelhartig aanvaar. Daarby is die lewe en lyding van die dienaar nie slegs vir enkelinge nie, maar vir die hele gemeenskap – vir ons, in ons plek. Hierdie is ‘n diepe Joodse erkenning van hoe God met lyding sy doel met ons bereik. Deur sy Seun se lyding is ons oorgeplaas in die misterie van die nuwe lewe in Christus, en as ons saam met Hom ly, sal ons ook saam met Hom verheerlik kan word (Rom 8:17). So is Israel in die lyding van die baliingskap dienaar van die Here; Jesus die vervulling van die rol van die dienaar, en elke gelowige word deel van die lyding van Christus, die dienaar van die Here, deurdat Hy in ons kom woon het en saam met ons ly (Rom 8:17; in ons ly, Mat 25:15-40).

53:7-9 Die lewe en dood van die dienaar is ‘n vertoonstuk van hoe egte reg verdraai word. Deur ‘n verdraaiing van die reg is hy onregverdig weggeneem – hy het geen geweldsmisdaad gepleeg nie en daar was geen bedrog op sy lippe nie (v9). Hy was onskuldig en moes geen straf gekry het nie, die een wat onregverdig ly, soos die Psalms telkens sing. Die uiterste vernedering is dat hy tussen goddeloses begrawe is, tussen die rykes – wat woeker deur ander te misbruik. Voor die wêreld word sulke rykes geëer, maar hulle is inderwaarheid goddeloos.

In die hof waar hy verkeerdelik beskuldig is, verkeerd gevonnis is, verkeerd tereggestel is, het hy geen protes aangeteken nie en geen verdediging aangebied nie – hy het sy mond nie oopgemaak nie, soos ‘n skaap wat geskeer word of na die slagplek gelei word (v7). Stil en onderwope ontvang hy wat aan hom toegeken word, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:29), word onregverdig weggeneem. Hy gee sy lewe vir die lewe van ander – geen bevrediging van God se toorn nie, geen oorwinning oor die krag van die dood nie, maar slegs ‘n sagte plaasvervanger vir die straf op die sonde. So word die bose kringloop van pyn, geweld en dood deurbreek deur ‘n kwesbare lewe wat in die geweld en dood ingaan en hulle tirannie beëindig deur dit te ly.

Skrywer:  Prof Francois Malan