‘n Toe Hemel

‘n Toe Hemel – Francois Malan

Davina vra:

Ons dominee. het Sondag in sy preek gesê dat toe Jesus dood is, het die Engele die hemel toegemaak, omdat Jesus nou vol van ons sonde is. Jesus is nie in die hemel nie, maar God hou egter Jesus se hand vas. En Jesus hou weer ons hande vas. In ons geloofsbelydenis (wat ons elke Sondag hard opsê), sê ons dan “…wat opgevaar het na die Hemel en sit aan die regterhand van God…” Hoe kan ons dit sê, as volgens ons dominee. Jesus nie in die hemel is nie, maar tussen die hemel en die aarde?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybel ken nie ‘n toe hemel nie, maar ‘n hemel wat juis oopgemaak is toe Jesus uit die dood opgewek is, en so is sy offer aan die kruis aanvaar, ons sonde vergewe, en die hemel vir ons oopgemaak. Sy hemelvaart was ‘n triomftog van sy oorwinning wat met vreugde in die hemel gevier is.

In Openbaring 5 sien Johannes die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, wat die oorwinning behaal het, wat waardig is om die boek oop te maak met God se wil vir die skepping, en wat die sewe seëls wat die boek verseël kan oopmaak. Want Hy is die Lam wat geslag is. En toe Hy die boek neem het die vier lewende wesens wat die hele skepping verteenwoordig, en die 24 ouderlinge wat die kerk van die Ou Testament en die kerk van die Nuwe Testament verteenwoordig, en die groot menigte engele, en die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde  en op die see voor Hom gebuig en Hom geloof: Aan Hom wat op die troon sit (die Vader) en aan die Lam behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.

Hebreërs 1:3 sê: Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van die sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

Romeine 8:34 sê: Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Daarom kan ons met vrymoedigheid na sy genadetroon toe gaan (Hebreërs 4:16).

Efesiërs 1:20-22 sê: deur sy krag het God Hom uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit: hoog bo alle bose magte en enige ander vorm van gesag waarvan daar sprake  mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.

1 Petrus 3:23 sê Jesus Christus is nou aan die regterhand van God nadat Hy die bose magte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

In Handelinge 7:56 sê Stefanus: Kyk, ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.

Hebreërs 8:1 sê: ons het ‘n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel. Hebreërs 7:25 sê: Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

Die engele is dienende geeste in sy diens!

Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit as die regter oor alle mense – so het Jesus gesê (Matteus 25:31).

Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld (Matteus 16:27)

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus se doop

Jesus se doop – Coen Slabber

Jesus se doop deur Johannes kan as ‘n oorgang tussen Johannes se doop en die Christelike doop gesien word. Dit word algemeen aanvaar dat Jesus se doop deur Johannes ‘n historiese gebeurtenis was – dit het werklik plaasgevind. Omdat die mindere gewoonlik deur die meerdere gedoop word, sou die doop van Jesus deur Johannes as ‘n verleentheid gesien kon word. Daarom beklemtoon al vier evangelies Johannes se verklaring dat die Een wat na hom kom groter as hy is en dat sy doop ook met die Heilige Gees sal wees (Matteus 3:11; Markus 1:7 – 8; Lukas 3:16; Johannes 1:26 – 34).

Johannes se doop was ‘n bekeringsdoop: Bekeer julle, want die koninkryk van die Hemel het naby gekom (Matteus 3:2). Dit was bekering gevolg deur vergifnis van sonde. Nou die dilemma: Hoekom sou Jesus Hom laat doop het, want Hy was tog sonder sonde? Dit word gesien as voorbereiding vir Jesus se aardse bediening – dit is in werklikheid die begin van die Christelike verhaal.

In die evangelies word die doop van Jesus verbind met Jesus se erkenning en aanvaarding van sy spesiale verhouding met God, sy Vader. Jesus se doop was ‘n spesiale gebeurtenis. Die verklaring dat Jesus die Seun van God is en die koms van die Heilige Gees op Hom tydens sy doop, loop parallel met die beloftes gekoppel aan die Christelike doop.

Wat sê die evangelies van Jesus se doop?

  1. Markus (1:9 – 11). Jesus kom van sy tuiste in Nasaret en word deur Johannes in die Jordaan gedoop. Jesus het besluit om erkenning te gee aan Johannes se bediening. In 1:5 lees ons dat die mense wat na Johannes gekom het om gedoop te word hulle sondes bely het. Jesus doen dit nie. Jesus is deur Johannes gedoop – Johannes het die doop waargeneem. In 1:10 kry ons ‘n balans: Jesus kom uit die water en die Gees daal uit die hemel neer. Die Gees wat soos ‘n duif neerdaal, mag herinner aan Genesis 1:2 waar die Gees oor die waters gesweef het. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My. Dit herinner aan Psalm 2:7: Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader. In Psalm 2 word na die koning verwys. Dit word ook toegepas op die dienaar van die Here (Jesaja 42:1). Daar word dit gevolg met die belofte: Ek laat my Gees op hom kom. Hierdie samestelling van Psalm 2 en Jesaja 42 wys vir ons dat Jesus die Koning is, maar ook die lydende Dienaar.
  2. Lukas (3:21 – 22): Alhoewel Lukas se beskrywing die korste is, voeg hy drie belangrike besonderhede by wat ons nie elders kry nie:

(a) Terwyl Hy staan en bid. Hy bid nadat Hy gedoop is. Dit was nie ‘n gebed van berou nie.

(b) Hy identifiseer die Gees as die Heilige Gees.

(c) Hy sê dat die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal het. Die koms van die Heilige Gees op Jesus was sy salwing as Messias.

  1. Matteus (3:13 – 17): Die beskrywing stem grotendeels met dié in Markus en Lukas ooreen. Daar is wel ‘n paar onderskeidende punte. Hier lees ons dat Jesus van Galilea na die Jordaan gekom het om deur hom gedoop te word. Ons lees ook dat Johannes beswaar gemaak het: Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe? Hierdie gesprek tussen Jesus en Johannes is waarskynlik ingevoeg as reaksie op die probleem wat baie ondervind het dat Jesus gedoop is. Iemand sonder sonde het tog nie die doop nodig nie. Jesus antwoord dat Johannes Hom wel moet doop, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen. Hiermee stel Hy ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid vir ons. Matteus verwys ook na die Gees van God en sê: Dit is my geliefde Seun en nie Jy is my geliefde Seun nie.
  2. Johannes. Daar is geen direkte verwysing na Jesus se doop in hierdie evangelie nie. Die skrywer aanvaar die gebeure is bekend en al wat hy doen, is om dit te interpreteer. Die doel van die doop was om Jesus te identifiseer. Johannes getuig dat hy die Gees op Jesus sien neerdaal het: Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God (1:34). Johannes getuig ook dat Jesus Christus die sonde van die wêreld sal wegneem. Johannes is die enigste evangelie wat vir ons vertel dat Jesus en sy dissipels mense gedoop het (3:22 – 23; 4:1 – 2). Dat Jesus self gedoop was en dat Hy en sy dissipels mense gedoop het, verduidelik waarom die dissipels kort na Jesus se opstanding die dooppraktyk ingestel het.

Die koms van die Gees soos ‘n duif word in al vier evangelies genoem. ‘n Ander aspek wat ons in al vier evangelies kry, is dat Jesus in die toekoms met die Heilige Gees gaan doop.

Maar hoe het die Christene die doop van Jesus geïnterpreteer? ’n Algemene siening was dat Jesus nie reiniging vir Homself nodig gehad het nie, maar deur sy doop maak Hy voorsiening vir ons reiniging. Soos Ambrosius dit stel: Ons menslike natuur is saam met Jesus in die water.

Deur Hom aan die doop te onderwerp, het Jesus Hom ten volle met die mensdom geïdentifiseer. Sy doop wys dus vir ons dat Hy werklik en ten volle mens was. Vroeë Christelik skrywers verwys gereeld na Jesus se geboorte en besnydenis plus sy doop as tekens van sy menslikheid.

Op 6 Januarie (die fees van Godsverskyning) word Jesus se doop herdenk. Hierdie is die geleentheid waar daarop gelet word dat Jesus deur sy doop water geheilig het en so die basis vir die Christelike doop gevestig het. Soos Gregorius dit stel: Christus is gedoop, laat ons saam met Hom afdaal sodat ons ook saam met Hom kan opstyg.

Die algemene uitgangspunt was dat Jesus, deur Homself te laat doop, die doop geheilig het. Daarom moet ons ook gedoop word. Eintlik het ons meer rede om gedoop te word, want ons is sondaars.

Ter opsomming:

  1. Jesus se doop word gesien as ‘n model vir die Christelike doop.
  2. Die teenwoordigheid van die duif trek ‘n verband tussen die doop en die koms van die Heilige Gees.
  3. Dit word gesien as die oorgang van die ou na die nuwe verbond.

Bibliografie:

Ferguson, Everett (2009); Baptism in the Early Church. William B. Eerdmans Publishing Company

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Jesus: God of mens

Jesus: God of mens – Francois Malan

Japie vra:

Was Jesus Mens of God vir die tyd wat Hy op aarde was. Baie dankie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Jesus was mens en God tydens sy aardse bediening, en daarna in die hemel.

Jesus is ware mens en ware God – dit word duidelik in die Skrif geleer:

Rom.8:3 God het sy eie Seun in die gelykheid van die sondige mens gestuur

Gal.4:4 God het sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet

Hy leef die lewe van ‘n gewone mens: word honger (Mat.4:2), en dors (Joh.19:28), besoek ‘n bruilof (Joh.2:1), huil by die graf van ‘n vriend (Joh.11:35) het sterwe en is begrawe.

Maar deur die brose mens (met geen skoonheid of prag nie; Jes.53:2), breek telkens sy goddelike heerlikheid en mag deur: as die mense van Nasaret Hom by die krans wil afgooi, loop Hy tussen hulle deur (Luk.4:30), in Getsemane moet die bende wat Hom kom vang, op die grond voor Hom neerval (Joh.18:6), op die berg van verheerliking word Hy van gedaante verander (Mat.17:2).

Matteus, Markus en Lukas getuig: die mens Jesus van Nasaret is God, gebore uit die maagd Maria (Mat 1:18; Luk 2:5-7).

Johannes getuig: God, deur wie die wêreld geskep is, het mens geword en onder ons gewoon (Joh.1:1-3,14), Hy en die Vader is een (Joh 10:30).

Paulus sê: Christus was sonder sonde, maar ter wille van ons het God Hom sonde gemaak

(2 Kor.5:21), in Hom woon al die volheid van die godheid liggaamlik (Kol 2:9), Hy wat in die gestalte van God was, het Homself verneder en die gestalte van ‘n slaaf aangeneem en aan mense gelyk geword (Filip 2:6-7).

Die twee nature van Christus, sy Godheid en sy mensheid, is in een persoon saamgevoeg – dit is heeltemal uniek, kan nie herhaal word nie, kan met niks anders wat ons ken vergelyk word nie.

Sy twee nature was nie vermeng nie. Sy mensheid het nie die grense van die kreatuurlikheid oorskry nie, en sy Godheid het nie sy goddelike eienskappe afgelê nie. Hy het ‘n menslike bestaanswyse bygekry. Daarin het Hy Homself verneder, selfs tot in die dood toe (Filip.2:8). Hy het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het (Hebr.5:8), en in Getsemane, waar Hy bedroef, beangs doodsbenoud geword het, sy wil prysgegee om die wil van die Vader te doen (Mat.26:37-44), maar na sy Goddelikheid kon Hy mense genees en uit dood opwek, duisende met ‘n paar brode voed, op die water loop, mense se sonde vergewe, en die wil van God bekendmaak. In al sy dade gaan dit egter om die dade en woorde van een persoon, die mens Jesus Christus, ons middelaar tussen die mens en God (1 Tim.2:5).

Slegs as ware mens sonder sonde kon Jesus ons sonde op Hom neem. Slegs as ware God kon Hy aan die kruis vir die straf op die sonde van die wêreld sterf. Hebreërs 5:15 sê: Die hoëpriester wat ons het, Jesus, die Seun van God, nie nie een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Romeine 5:6,8 sê: toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe… Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Kolossense 1:15-20 sê o.a. dat Hy die beeld is van God wat self nie gesien kan word nie…God het deur Hom alles geskep…deur Hom bly alles in stand…God het besluit om…deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Hoe die wonder moontlik is, van die een persoon wat volkome mens en tegelyk volkome God is, word voor sy geboorte vir Maria verduidelik: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek (letterlik: jou oorskadu). Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Luk.1:35). Aan Josef word verduidelik: wat in Maria verwek is kom van die Heilige Gees. Sy sal ‘n seun in die wêreld bring en jy moet hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos; en Matteus verduidelik dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur die profeet (Jesaja 7:14) gesê is, vervul sou word: die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons (Matteus 1:20-23).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus skryf nie

Jesus skryf nie? – Francois Malan

‘n Leser vra:

Graag wil ek net die volgende weet,hoekom het Jesus nooit self iets geskryf nie?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In die Ou Testament lees ons net twee maal dat God skryf: Eksodus 31:18; 32:16 verwys na die tien gebooie wat God met sy vinger op twee plat klippe geskryf/gegraveer het. Moses het die klippe flenters gegooi toe hy sien die volk dans om die goue kalf (v19). Daarna het die Here weer die tien gebooie op twee plat klippe geskryf (Eks.34:1; Deutr.10:1-4). Die plat klippe met die ark waarin dit gebêre is, het met die ballingskap in Babilon verlore geraak. Daniël 5:5 vertel van die mensehand wat op die muur van die paleis van Belsasar geskryf het; in 5:24 sê Daniël: die hand is deur God gestuur.

In die Nuwe Testament lees ons net een maal dat Jesus geskryf het: Johannes 8:6,8: Jesus skryf met sy vinger in die sand, maar wat Hy geskryf het weet ons nie.

Hoewel God en Jesus nie self geskryf het nie, het God gekies om sy openbaring aan sy kerk skriftelik te laat vaslê deur mense. Dikwels lees ons in die Bybel dat God aan mense opdrag gee om te skryf; bv. Eks.34:27; Jes. 30:8; Jer.30:2; 36:2; Eseg.43:11; Openb.1:19. Van die Ou Testament sê 2 Timoteus 3:16: Die hele Skrif is deur God geïnspireer – onder leiding van die Heilige Gees het die Bybelskrywers God se woord geskryf. God het gekies om met ons sondaars te praat deur sondige mense wat Hy gebruik, om sodoende met ons te praat in ‘n taal wat ons verstaan, deur spreuke, gedigte, wette, beelde, die geskiedenis van God se handelinge met sy volk, wat ons wys op die gevolge van die sonde, en van God se groot reddingswerk om sy doel met ons lewe te bereik.

So het Jesus dissipels, leerlinge, geroep, selfs ongeletterde manne (Hand.4:13), maar ook manne wat kon skryf, soos Matteus wat ‘n tollenaar was en van Jesus se woorde opgeteken het (Mat.9:9). Markus het waarskynlik Petrus se weergawe van Jesus se optredes neergeskryf, en Lukas, die dokter (Kol.4:14), het sy Evangelie opgestel uit die geskrifte van mense wat die verhale oor Jesus opgeteken het by die ooggetuies van Jesus se optrede (Luk.1:1-4). Paulus het briewe aan die gemeentes wat hy gestig het, geskryf oor probleme wat daar in die gemeentes opgeduik het, en antwoorde verskaf vanuit die mondelinge oorlewering van Jesus se woorde en uit die aanwysings in die Ou Testament, en dit alles onder leiding van die Heilige Gees (1 Kor.7:40). Jesus het vir sy dissipels gesê die Heilige Gees sal hulle alles leer en hulle herinner aan alles wat Hy vir hulle gesê het (Joh.14:26). Ja, dit is selfs tot hulle voordeel dat Jesus weggaan, sodat Hy die Gees na ons toe kan stuur om ons te lei en te oortuig (Joh.16:7,8)

 

Skrywer: Prof Francois Malan