Jesus se geslagsregisters

Jesus se geslagsregisters – Francois Malan

Barnie vra:

In Matteus en Lukas verskyn `n geslagsregister van Jesus, maar hulle verskil. Wat is die rede daarvoor?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Matteus skryf aan Griekssprekende Joodse Christene, en verwys telkens na die Ou Testament om te bewys dat Jesus die beloofde Messias van die Jode is. Aan sy Joods-Christelike lesers stel hy Jesus Christus aan die begin van sy Evangelie voor as die Seun van Dawid, die Seun van Abraham (1:1).

Matteus se geslagslys begin by Abraham (1:2), die vader van die gelowiges, wat deur die Jode as hulle voorvader beskou word (3:9), en eindig by Jesus (1:16), wat sy volk van hulle sondes sal verlos (1:21).

Matteus sê dat Jesus die Christus genoem word (1:16). Dit is die Griekse woord vir die Hebreeuse ‘Messias’ wat die Jode verwag, in Afrikaans ‘Gesalfde’ – gesalf as koning, wat ook priester en profeet is, soos Dawid. Later kom Matteus daarop terug, dat Jesus uit die geslag van Dawid kom (Mat.22:44).

Hy is ook Immanuel, God by ons (1:23; vgl. Jes.7:14) vir wie Dawid in Ps 110:1 sê ‘Die HERE (God die Vader) het vir my (Dawid se) Here (Jesus die Seun van God) gesê: sit aan my regterhand…’(Mat.22:43-45). Vergelyk ook Petrus se belydenis in Mat.16:16 ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.’

Matteus verdeel die tyd tussen Abraham en Christus in drie maal 14 geslagte: van Abraham na Dawid, van Dawid na die Babiloniese ballingskap, van die Babiloniese ballingskap tot by Christus (al word nie volstrek 14 geslagte genoem in die derde groep nie). Matteus stel Jesus voor as die vervulling van God se beloftes aan Abraham (Gen.12:1-3) en aan Dawid (2 Sam.7:4-17). Die Babiloniese ballingskap is die laagtepunt in die geskiedenis van Israel, soos Abraham die beginpunt en Dawid die hoogtepunt is. Agter die hele geskiedenis van Israel staan God wat alles uitwerk volgens sy plan, ten spyte van laagtepunte en hoogtepunte.

In Matteus se lys word 5 vroue genoem, wat nie Lukas se lys voorkom nie. Al vyf vroue het ‘n vraagteken agter hulle: Tamar wie se tweeling deur haar skoonvader verwek is (Gen.28), Ragab was ‘n prostituut (Josua 2:1), Rut was ‘n heidense Moabiet (Rut 2:2), Dawid pleeg owerspel met die vrou van Uria en laat Uria venmoor (2 Sam.11), en Josef wou sy verlowing met Maria stilweg verbreek toe sy swanger word (Mat.1:9). Matteus stel Jesus voor uit ‘n geslag waarin prostitute, heidene, owerspelers, en moordenaars voorkom – Hy kom hulle van hulle sonde verlos (Mat.27:42).

Matteus wil met die geslagslys bekend maak wie Jesus is en wat hy kom doen as vervuller van God se beloftes aan Israel (Mat.10:5-7). Maar na sy opstanding stuur hy sy dissipels uit na al die nasies (Mat.28:19) en verseker Hy hulle dat Hy by hulle is al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (daarmee sluit Hy alle gelowiges deur die eeue is).


Lukas rig sy twee werke, die Evangelie en Handelinge, aan Teofilus (Lk.1:1; Hand.1:1) met ‘n Griekse gemeente in gedagte. Sy geslagslys kom eers in hoofstuk 3, na die geboorte-verhale van Jesus se voorloper, Johannes die Doper, en van Jesus, en van hulle geskiedenisse tot by Jesus se doop. Jesus laat Johannes Hom doop, waardeur Hy Homself met die sondige mensdom vereenselwig. Nadat Jesus gedoop is, het Hy staan en bid, die hemel het oopgegaan, die Heilige Gees het in sigbare gestalte op Hom neergedaal (vgl. Hand.10:38), en ‘n stem uit die hemel het gesê: ‘Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My’ (3:21-22).

Tussen die doop en Jesus se eerste werk (waarna 3:23 verwys), nl. die versoekings van 4:1-13, voeg Lukas die stamboom van Jesus in om te wys dat Hy ten volle ware mens is, wat Hom met die sondaars vereenselwig in die doop en in die versoekings.

Anders as Matteus wat met Jesus eindig, begin Lukas met Jesus en noem 77 geslagte tot by Adam (teenoor Matteus se 3×14 geslagte). Vir sy Griekse gemeentes wys Lukas dat Jesus die seun van Adam is, die tweede Adam, soos Lukas in sy tweede boek aantoon, in Handelinge 17:26-31 (vgl. ook Rom.5:12-21; 1 Kor.15:45-49). Deur die al te menslike geslagte is Jesus aan die mens met sy swakhede en sonde verbind, nie net aan Israel nie, maar aan die ganse mensheid, en sy sending is eintlik gerig op die hele mensdom. God se doel met die skepping was ‘n noue kindskapsverhouding met die mens wat deur Jesus afgebeeld word, en wat Hy deel met almal wat sy dissipels word, soos Lukas uitwerk in Handelinge (vgl. bv. hoofstuk 10; 15; 17:30,31).

Maar Adam word geteken as die seun van God in Luk.3:38, om die mens Jesus ook as die Seun van God bekend te stel, soos die stem uit die hemel met sy doop gesê het, en soos Hy bewys het deur al die versoekings te weerstaan.

Matteus en Lukas maak gebruik van geslagslyste in Kronieke 1:28-34; 2:3-15 van Abraham tot Dawid. Lukas gebruik ook 1 Kronieke 1:1-27 van Adam tot Abraham, en Matteus 1 Kronieke 3:10-15 tot die ballingskap met die koninklike linie wat deur Salomo voortgesit word ná Dawid (vgl. ook Gen.5:3-32; 11:10-26; Rut 4:18-22).

Lukas volg ‘n lyn van Eli na Dawid oor Natan, wat Lukas as ‘n seun of nakomeling van Dawid noem, ‘n lys van gewone mense wat nie as konings regeer het soos in Matteus se lys nie (Sommige verklaarders meen Eli was die oupa van Maria, en dat Lukas die geslagslys van Maria aangee van Dawid af, wat onwaarskynlik is. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling van 1983 se invoeging van ‘Josef was die seun van Eli’ in 3:23 staan nie in die oorspronklike nie. Die oorspronklike sê net: ‘Hy was die seun, soos hulle gemeen het, Josef van Eli’ – nie eers ‘van Josef’ nie).

 

Skrywer: Prof Francois Malan





Hoekom moes Jesus sterf?

Hoekom moes Jesus sterf? – Kobus Kok

Jaco vra:

Waarom moes Jesus sterf? Ja dit was Sy straf. Wat sê die OT en wat sê die NT? Eenvoudige waarom moes Jesus sterf?

Antwoord:

 

Dr Kobus Kok antwoord:

Jaco, hierdie vraag kan nie sommer net eenvoudig beantwoord word nie omdat daar baie komplekse dimensies in ag geneem moet word. Daar is letterlik duisende boeke geskryf oor die onderwerp en mens het eintlik ‘n boek nodig om die vraag te beantwoord. Ons het eintlik net 800 woorde om mense te beantwoord maar die artikel gaan twee keer langer as dit moet wees. Ek gaan vinnig die kompleksiteit aantoon om net vir jou ‘n gevoel te gee vir die feit dat dit nie sommer net eenvoudig is nie en dan aan die einde sal ek ‘n eenvoudige antwoord gee. Sommige ingeligte en denkende lesers mag dit te simplisties vind. Ek verwys hulle dan na prof Jan van der Watt se internasionale boek “Salvation in the New Testament”. Dit sal hulle vir ‘n jaar besig hou. Daarin word die soteriologie (teologie van die redding) van elke Nuwe Testamentiese boek hanteer. Diegene wat nog verder en gespesialiseerd oor die saak wil lees kan ‘n Nuwe Testamentiese Teologie boek koop soos die van James Dunn, The Theology of Paul the Apostle, 1998, pp 1-808 of George Ladd se Theology of the New Testament, 1993, pp 1-757.

Een so ‘n komplekse saak is dat die teologie van die dood van Jesus in die Nuwe Testament deur die verskillende skrywers van die NT verskillend geïnterpreteer word. Ons sit dus met verskillende teologiese aksente in die Nuwe Testament. Dit is baie soos vandag. Vra nou vir 4 dominees om die vraag te beantwoord en almal van hulle sal vir jou ‘n perspektief gee wat so bietjie verskil. Jy sal dus vier verskillende perspektiewe kry. Hierdie verskillende teologiese perspektiewe sal egter ook sekere lyne en temas hê wat wel ooreenstem. Dit is dan die kernsake waaroor dit gaan. Net so kry ons in die Nuwe Testament verskillende teologiese perspektiewe. Een rede is byvoorbeeld dat die boeke in die Nuwe Testament uit verskillende tye dateer. Die vroegste brief is Tessalonisense wat deur Paulus geskryf is teen ongeveer 50 n.C. Die evangelies is almal na alle waarskynlikheid na 70 n.C. geskryf. Dit beteken dat hulle 40 jaar nadat Jesus geleef het geskryf is. Johannes is tussen 90 en 110 na Christus geskryf wat dit 70 jaar na Jesus se aardse lewe plaas. Jy kan jouself net indink dat daar in 70 jaar verskillende perspektiewe in die kerk ontwikkel en daarom kry mens verskillende perspektiewe op die rede waarom Jesus moes sterf. Tog kry mens duidelike goue lyne wat deurloop van Paulus dwarsdeur tot by Johannes.

Kom ons gaan dan net gou weer terug na Paulus. Hy skryf sy eerste brief so teen 50 n.C. en sy laaste brief voor sy dood in 64/65 n.C. Die vraag wat geleerdes vra, is hoe daar oor die dood van Jesus gepraat is in die tyd tussen Jesus se dood en opstanding en die tyd wat Paulus sy briewe geskryf het. Met ander woorde wat het in die ongeveer 15 jaar na die dood van Jesus en die eerste Bybelse dokument plaasgevind? Hoe het mense oor die dood van Jesus gepraat? In ‘n poging om daarby uit te kom moet geleerdes navors wat die sogenaamde pre- (of voor) Pauliniese materiaal sou behels het. Dit is ‘n hele wetenskaplike proses en baie ingewikkeld. Een so ‘n saak behels die hele kwessie oor die vraag hoe die dissipels kort na Jesus se dood en opstanding na die dood van Jesus sou verwys. Ons lees byvoorbeeld in Johannes 20 dat die dissipels na Jesus se dood vreeslik bang was en agter geslote deure vir die Jode weggekruip het. Hulle het toe nog nie mooi verstaan waarom Jesus moes sterf nie! Thomas, een van die twaalf het selfs so ver gegaan dat hy gesê het dat indien Jesus nie fisies aan hom verskyn en hy nie sy hande in Jesus se wonde kan plaas nie, hy gewoon net nie sal glo nie. En dan verskyn Jesus kort daarna aan hom, en Thomas maak sy groot belydenis dat Jesus Here en God is (Joh 20:28). Hoe het die dissipels daarna oor Jesus se dood gepraat? Hoe het hulle vir 15 jaar daaroor gepraat voor Paulus vir die eerste keer ‘n brief sou skryf waarin ons vandag ‘n venster op die vroeë kerk kan kry? Indien mens fyn navorsing gaan doen sal mens sien dat die Bybelskrywers oor die dood van Jesus praat en die woordjies dia (deur) en huper (ter wille van) gebruik. Die gebruik van die twee woorde maak ‘n groot verskil. Dink maar net aan die Afrikaanse sinne:

Ek loop in/deur (dia) krag

Ek loop ter wille (huper) van krag

In die Nuwe Testament word die word huper (ter wille van [kyk Rom 5, 6.8; 14, 15; 1 Kor 8, 11; 15, 3; 2 Kor 5, 14-15; 1 Tess 5:10) dikwels gebruik om te verwys na Jesus se plaasvervangende dood. Jesus moes dus sterf ter wille van ons (lees hier Joh 11:50-51). Die motivering vir die sterfte van Jesus en die resultaat daarvan word alles bepaal deur hierdie woord. Indien mens die plaasvervangende offermotief gebruik om oor Jesus se dood te praat, roep dit onmiddellik die gedagtewêreld van die Joodse offersisteem op. In die Joodse denke moes die Jode ‘n dier offer wat ter wille van hulle sondes sterf met die gevolg dat God die persone vryspreek. Indien Jesus dan soos ‘n offerdier moes sterf, is die funksie daarvan om namens ons te sterf. Die meeste mense dink vandag so oor die dood van Jesus.

Daar is egter ook ander maniere om te kyk na hoekom Jesus nou eintlik moes sterf. In Johannes sien mens myns insiens die beste voorbeeld daarvan. In Johannes 3:16 lees ons: 14 Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoogg word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. 16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.[1] Die basiese punt is dat dit nodig was dat God vir Jesus stuur omdat die wêreld fundamenteel gebroke is en vervreemd van God geword het (kyk ook Rom 1-2). God moes ingryp en genesing bring. Hy moes ons oë oopmaak, want mense was geestelik blind (Joh 9:40-41; 12:40-41; Joh 3:3-6) en vasgevang in ‘n geestelike doodsbestaan.

Hiervolgens moes Jesus dus “op ‘n paal (kruis) gesit word omdat God hom gestuur het om dit te kom doen. Ons sit myns insiens hier met ‘n plaasvervangende gedagte. Dit is interessant om teen hierdie agtergrond na Johannes 10:11 te kyk waar Jesus die metafoor van die goeie herder gebruik en sê dat hy soos ‘n goeie herder sy eie lewe ter wille van (huper in Grieks) sy skape. In Johannes 10:17-19 sê Jesus dat hy sy eie lewe neerlê met die doel om dit weer op te tel en dat dit gesien moet word as iets wat deel is van God se plan. Hier kom ons by ‘n belangrike punt in Johannes se teologie. Jesus moet dus sterf sodat hy kan opstaan uit die dood en dat dit deel is van God se plan. In Johannes 12:24 sê Jesus dan baie duidelik dat ‘n saadkorrel eers moet sterf voordat hy kan vermenigvuldig. Dood is dus die voorwaarde en konteks waarbinne die lewe kan ontspruit. Volgens Johannes moes Jesus sterf juis om te kan wys dat hy die bron van lewe is (Joh 1:4). As Jesus dan sterf, sterf hy ter wille van ons, soos ‘n offer, maar anders as in die geval van offers, staan Jesus uit die dood uit op en dit is waar die eintlike fokus lê. Dit is ook by Paulus duidelik dat as hy oor die dood van Jesus praat hy dit nooit losmaak van die belangrike ander kant van die munt, naamlik die opstanding nie (vgl. Rom 4:24-25; 5:6,8,18; 6:4,8-9; 8:11, 34; 10:9; 14:9, 15; 1 Kor 1:23; 2:2; 6:14; 8:11; 2 Kor 4:14; 5:15; 13:4; Gal 1:1; 3:1; 2:21; 6:14). Die Christendom het nie gestol in die dood van Jesus nie. Die storie van die dood van Jesus is van die begin af bedoel om uit te loop op die opstanding van Jesus. Die opstanding illustreer dat Jesus God is en dat hy die mag het oor dood en lewe. Daarom kan Jesus ook lewe gee en word geloof in Jesus die weg na die Vader (Joh 14:6).

In Johannes gebeur daar dan ook iets belangrik na die opstanding. Die dissipels is nog agter geslote deure in Johannes 20:19-23 en vol vrees en ongeloof. Hulle verstaan nog nie hoekom Jesus moes sterf nie. Dan verskyn Jesus aan hulle en blaas oor hulle en sê: Ontvang die Heilige Gees. Daar en dan word die dissipels vervul met die Heilige Gees en uitgestuur om die wêreld met die goeie nuus van Jesus se opstanding te bereik. Indien Jesus nie gesterf het nie, sou hy ook nie opgestaan het nie, en indien hy nie opgestaan het nie, sou niemand weet dat Hy die mag oor lewe en dood het nie en dan was ons nie net vasgevang in ons sonde nie, maar was ons geloof ook leweloos en kaal, leeg soos ‘n verdorde put in ‘n woestyn van pyn.

In kort: hoekom moes Jesus sterf? Hy moes sterf om op te staan uit die dood en aan te toon dat Hy die bron van lewe is en dat God ‘n plan het met ons. Hy moes sterf en opstaan sodat die Heilige Gees uitgestort kon word en mense die leweskeppende krag van God se Gees kon beleef – dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het is immers werksaam in ons (Kol 2:12-15; Rom 6:4; Rom 7:4; Rom 8:11; 1 Kor 6:14; 1 Kor 15).



g Vgl. Joh. 12:32-12:33

[1]Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1983 . Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Capetown, South Africa

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Die See van Galilea

Die See van Galilea – Coen Slabber

Die See van Galilea is die grootste varswater- meer in Israel. In die Bybel staan dit onder verskillende name bekend: Gennesaretmeer (Numeri 34:11; Josua 12:3; Lukas 5:1); die See van Tiberias (Johannes 6:1). In die Ou Afrikaanse vertaling lees ons in Josua 34:11 van die meer Kinneret. In Hebreeus is ’n kinnor ’n harp en die meer is harpvormig. Herodes Antipas het die stad Tiberias, vernoem na die destydse Romeinse keiser, aan die suid-westelike hoek van die meer gebou. Hierdie stad was naby warmbronne geleë. Die algemeenste naam is egter die See van Galilea, vernoem na die streek net wes van die See.

 

Hierdie is ‘’n skets van die See van Galilea volgens Google Images

seevangalilea


Die See van Galilea is in die skeurvallei van die Jordaan-rivier geleë ongeveer 100 km noord van Jerusalem. Dit is omring deur bergreekse. In die tyd van Jesus was daar heelwat klein dorpies al langs die kus van die see – Kapernaum, Betsaida, Magdala, Tiberias, ens. Die invloei kom van die Jordaan-rivier wat sy oorsprong by Berg Hermon het. Die uitvloei is ook deur die Jordaan-rivier. Van die See van Galilea vloei die Jordaan om ongeveer 105 km verder in die Dooie See te loop.

Die See van Galilea is ongeveer 20 km lank en 13 km breed en is 210 meter onder seevlak geleë. Op sy diepste is dit 60 meter. Daar is baie vis in die meer en visvang was ’n belangrike industrie. Ons sien dat Petrus en Andreas en Johannes en Jakobus deur Jesus as dissipels geroep is terwyl hulle visgevang het of besig was om die nette reg te maak.

Die See was berug vir die erge storms wat baie vinnig opgekom het. Dit was as gevolg van die botsing van warm en koue lug en die klowe in die omliggende berge wat ’n soort van tregter-effek gehad het.

Baie van die gebeure in Jesus se lewe speel naby die See van Galilea af:

  •  Jesus het hom gaan vestig in Kapernaum by die see (Matteus 4:13).
  •  Jesus het baie wonderdade in Kapernaum verrig (Matteus 11:23).
  •  Jesus het sy bergrede, volgens die tradisionele siening, naby Kapernaum gehou.
  •  Weens die subtropiese klimaat en die warmbronne wat volgens die mense genesende kragte gehad het, was daar baie siek mense gekonsentreer in hierdie omgewing. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en bose geeste uitgedrywe (Markus 1:34)
  •  Die twee besetenes in Gadara is genees toe Jesus die bose geeste uit hulle in ’n trop varke gestuur het. Die hele trop het meteens op loop gesit teen die hang af, die see-in en het in die water versuip (Matteus 8:32). Hierdie gebeurtenis het aan die oostekant van die See gebeur.
  •  Jesus het die hewige storm wat op die see losgebars het stilgemaak (Matteus 8:23).
  •  Jesus het op die See van Galilea geloop (Matteus 14:22 ev).

Ons kan sien dat hierdie relatief klein stukkie water ‘n baie belangrike rol in die bediening van Jesus gespeel het.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Groot Geloofswoordeboek: Woord as titel vir Jesus

Die Groot Geloofswoordeboek: Woord as titel vir Jesus

Woord as titel vir Jesus

Daar word ses keer na Jesus as “die Woord” verwys, almal in Jo­hannes se geskrifte (Joh 1:1, 34; 1 Joh 1:1; Op 19:13). Veral die ver­wysings in Johannes 1 herinner sterk aan die betekenis van “die woord” of “die woorde” van God, en ook aan die gebruik van die begrip “die wysheid” in die Ou Testament.

God se woorde of bevele doen iets in die Ou Testament (Ps 107:20; Jes 55:11; Jer 23:29). Hy sê of beveel dat daar lig moet wees, en dan is daar lig (Gen 1:3). (*Skepping) Trouens, Johannes 1 is duide­lik ’n verwysing na Genesis 1. Terwyl God in Genesis 1 die lig deur sy woord skep, is alles volgens Johannes deur “die Woord” ge­skep. Jesus word dus direk met die skepping in verband gebring. Ons glo dat Hy voor sy geboorte uit Maria al­reeds bestaan het as die ewige Seun van God en as sodanig by die skeppingswerk van God betrokke was. Trouens, Hebreërs 1:2 praat direk daarvan dat Hy “die Seun” is deur wie God alles geskep het. Ook Paulus meld dat alles deur Hom geskep is (Kol 1:16).

Skeppingsmiddelaar

Daar is ’n wydverspreide gedag­te dat Jesus net die Skep­pings­middelaar is, en nie regtig self die Skepper net soos en saam met die Vader nie. Dit is so ’n sterk oortuiging dat vertalers dit selfs in die Bybel indra waar dit nie staan nie. In Kolossense 1:16 lees die 1983-vertaling: “God het deur Hom (Christus) alles geskep,” maar die Grieks lui: “Alles is deur Hom geskape.” Die Grieks is die pas­siewe vorm van die aktief: “Hy (Christus) het alles geskape,” nie: “God het deur Hom alles geskape” nie. Trouens, daar was geen rede om die Griekse passief in ’n aktief te verander nie, behalwe die vertalers se oortuiging dat Jesus nie regtig Skepper was nie, maar net Skep­pingsmiddelaar.

Die Nuwe Testament het ’n paar duidelike uitsprake oor Je­sus as die Skepper, net soos en op dieselfde vlak as die Vader. Jo­hannes herhaal dit selfs om dit te beklemtoon.

1. Alles het deur Hom tot stand gekom
2. nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand ge­kom nie (Joh 1:3).

En Kolossense 1:16 lees in werklikheid: “Alles is deur Hom geskep,” en ook in hierdie geval herhaal Paulus dit in dieselfde vers: “Alles is deur Hom geskep” (1:16). Net in Hebreërs 1:3 het ons ’n uit­spraak oor Christus as Skeppingsmiddelaar, maar dit bots nie met die nadruk op Christus as self ook Skepper nie. Dit bevestig eer­der die ingewikkelde verhouding tussen Vader en Seun wat ons ook in Johannes 1:1-2 kry.

Terwyl Jesus dus as die ewige Seun van God self Skepper is, is dit des te merkwaardiger dat Hy self ’n skepsel geword het om sy skepsels te verlos. Dit is daarom nie vreemd nie dat die hele skepping ook deur Hom in stand gehou word, op Hom gerig is en onder Hom as Hoof verenig sal word (Kol 1:16-17; Ef 1:10). Dit is die kulminasie van die feit dat God se woord in die Ou Testament ’n bepaalde selfstandigheid ontwikkel. Ons lees nie net dat God deur sy woord bepaalde dinge doen nie, maar dat sy woord dinge doen (Jes 55:11; Jer 23:29). Uiteindelik is sy Woord ’n bepaalde Goddelike Persoon naas die Vader.

Dit beteken verder dat daar ’n unieke verhouding moet wees tussen Jesus as die Woord en God self. Johannes bring Hom in die allernouste verband met God. Maar Johannes doen dit op ’n besondere manier (1:1-2). Hy stel Hom so na moontlik aan God sonder om Hom totaal in God te laat opgaan of God in Hom asof daar in God niks meer as net Hy is nie.

1. Hy was by God

2. Hy was God

3. Hy was by God

Let op die herhaling in 1 en 3. In 2 word Hy totaal met God geïdentifiseer, maar in 1 en 3 is daar weer differensiasie tussen Hom en God. Hy is God, maar daar is meer in God as net Hy. Dit is die agtergrond vir die *Drie-eenheidsleer wat soms hoogs ­omstrede is en moeilik verstaanbaar, maar waarsonder ons tog moeilik sal kan klaarkom, al sou die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Gees sekerlik ook anders omskryf kon word.

Jesus as die Wysheid

Daar is ook interessante oor­eenkomste of minstens raak­punte tus­sen Jesus as die Woord en die wysheidsfiguur in die Ou Tes­tament. Hierdie wysheids­figuur was nie die wysheidsleraars van die Ou Testament nie. Van vroeg af was daar al wysheidsle­raars, mense wat allerlei interessante wyshede kwytgeraak het en ander baie laat dink het. Die skrywer van Spreuke was so ’n wysheidsleraar. Hy het wyse dinge gesê oor die konkrete lewe, oor ’n rein lewe, deugde, geluk, geld, die opvoeding van kin­ders en baie meer. Jesus was self so ’n wysheidsleraar, al was Hy na­tuurlik ook baie meer. Die hele bergrede is ’n versameling spreu­ke oor hoe ons moet leef.

Maar die figuur wat self “Wysheid” en “Insig” genoem word, was iemand anders as net ’n wysheidsleraar. Sy word as ’n vrou voorgestel (Spr 8:1), en veral in Spreuke 8:22-36 word haar ver­hou­ding met God bespreek.

Wat nou merkwaardig is, is die ooreenkoms tussen haar ver­houding met God en Jesus s’n. Na elk van die volgende stellings oor haar verhouding met God volg direk ’n stelling oor Jesus s’n.

1.   Sy het in ’n unieke verhouding met God gestaan, Jesus ook.

2.   Sy was die eerste skepsel, Jesus nie

3.  Sy was al by God voor die aarde geskape is, Jesus ook

4.  Sy was van die begin af die vreugde van God, wat seker ook van Jesus geld

5.  Wie haar vind, vind die lewe. Jesus word self die lewe ge­noem.

Die vroeë Christene het meer boeke in hul Ou Testament ge­had as ons. (*Bybel, *Septuagint) In twee van daardie boeke het nog meer oor die vroulike figuur “wysheid” gestaan (Die Wysheid van Salomo 7:26; 8:3-4; 9:1-18; en Jesus Sirag 24:3, 6, 23).

6. Sy is vereenselwig met die skeppingswoorde van God. Jesus ook.

7. Sy is die wet van God, iets wat nie van Jesus gesê word nie.

8. Sy regeer net soos God oor alle dinge, wat ook van Jesus geld.

9. Sy is die beeld van God se goedheid; Jesus is die beeld van God.

10. Sy maak alles nuut, wat nie direk van Jesus gesê word nie, maar netsowel waar kan wees.

11. Sy besluit vir God wat Hy moet doen, wat nie van Jesus gesê word nie.

12. Sy beskerm en onderhou die mense, wat ook van Jesus geld.

13. Sy sit langs God op sy troon, wat ook van Jesus geld.

14. Sy deel God se lewe met Hom, wat ook van Jesus geld.

In meer as die helfte van die gevalle word van Wysheid en van Jesus dieselfde gesê. Maar dit is nie al nie. In die Nuwe Tes­tament word Jesus ’n hele paar keer direk met haar verbind. Paulus noem Jesus twee keer “die wysheid van God” (1 Kor 1:24, 30). Matteus lê ’n uitspraak in Jesus se mond wat volgens Lukas deur “die wysheid van God” gesê is (Matt 23:34; Luk 11:49). En dan is daar die besonder interessante uitspraak (Matt 11:19; Luk 7:35) waarin Jesus Hom direk vereenselwig met die vroulike wys­heid van Spreuke. Ongelukkig het die 1983-vertaling dit heeltemal verknoei. Dit behoort te lees: “Maar die wysheid is ge­regverdig deur haar werke,” en die verband wys dat dit op Jesus self betrekking het.

’n Vroulike Jesus?

Hierdie kwessie sluit direk aan by die vraag of Jesus noodwen­dig manlik moes gewees het om God te open­baar en om ons te verlos. (*Feminisme) Daar is groe­pe wat oortuig is daarvan. Die *Katolieke Kerk voel so sterk daar­oor dat ’n vrou nie eens ’n priester mag word nie. Hulle is oor­tuig dat priesters God op aarde moet ver­teen­woordig, en omdat God dan manlik sou wees, kan ’n vrou Hom nie verteenwoordig nie en dus nie ’n priester word nie. Ander groepe is oortuig dat dit nie maar net deel van die kultuur van daardie tyd was dat God in die Bybel manlik voor­gestel word nie, maar deel van die openbaring. Net so is dit deel van die openbaring dat Jesus juis ’n man moes wees om God te openbaar.

Die feit dat Jesus in die allernouste verband gestel word met die vroulike wysheidsfiguur laat ’n mens egter hieroor wonder. Wat God betref, is dit inderdaad korrek dat Hy meestal manlik voorge­stel word in die Bybel. (*Manlikheid van God) Maar daar word ook sulke sterk vroulike beelde van Hom gebruik dat sy man­likheid nie regtig ernstig bedoel kan word nie. God word dikwels vergelyk met ’n ma in haar verhouding met haar kind, en ook met die sorg van ’n vrou vir haar gesin (Num 11:12; Deut 32:18; Jes 49:15; 66:13; Hos 11:3).

Dit kan dus beswaarlik waar wees dat die Bybelskrywers ern­stig bedoel het dat God van die manlike geslag is. Hulle skryf ook niks aan Hom toe wat met geslagtelikheid te doen het nie. Terwyl die volke rondom Israel manlike en vroulike gode ge­had het en hierdie gode allerlei geoorloofde én ongeoorloofde verhoudings met mekaar aangegaan het, kom niks daarvan in die Bybel na vore nie. Terwyl manlike gode kinders verwek en vroulike gode aan hulle geboorte gegee het, is dit vreemd aan die Bybel. Selfs vir die skepping van die mens word geen beelde van geboorte uit God gebruik nie, iets wat rondom Israel algemeen was. Dit beteken eenvoudig dat die manlikheid van God ’n kultuurverskynsel is wat ook ruimte laat vir die moontlikheid om God vroulik voor te stel.

In hierdie lig is dit nie aanvaarbaar om te meen dat Jesus juis ’n man moes gewees het om God te openbaar nie. Dit wat God God maak, soos sy liefde, genade, geregtigheid, heiligheid, oordeel, kan netsowel deur ’n vrou openbaar word.

En wat Jesus as ons Verlosser betref, daar is nooit enige verband in die Bybel tussen sy manlikheid en sy verlossingswerk nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König