Die Groot Geloofswoordeboek: Jesus
Die Groot Geloofswoordeboek: Jesus
Jesus
Jesus, die Jood van Nasaret, is sonder meer die hart van die Christelike evangelie. Dis nie verniet dat gelowiges “Christene” genoem word nie. Ons kry ons identiteit van Christus, of altans ons behoort ons identiteit van Hom te kry.
“Jesus” is Jesus se Naam, nie ‘n titel soos Christus, Seun van God, Seun van die mens nie. Dit is die Griekse vorm van Josua of Jeshua wat in Hebreeus eintlik Jehoshua gespel word. Dit beteken oorspronklik waarskynlik iets soos “die Here is heil of verlossing”.
Daar is in die Bybel ‘n hele paar mense wat dié naam gehad het.
1. Josua, die seun van Nun (Jos 1:1).
2. Die hoëpriester Jesua (Sag 3:1).
3. ‘n Leviet Jesua (Esra 2:40).
4. Josua ‘n voorvader van Jesus (Luk 3:29).
5. Jesus die seun van Sirag (wat een van die bekende apokriewe boeke met dieselfde naam geskryf het).
6. Jesus wat ook Justus genoem is en wat ‘n Christen was wat in Rome gebly het tydens Paulus se gevangenskap daar (Kol 4:11).
Dis merkwaardig dat daar oor niemand anders in die wêreldgeskiedenis meer gepraat en geskryf is as oor ‘n Jood nie. Jode is beslis nie die belangrikste volk met die grootste prestasies in die wêreld nie. Hulle is in baie opsigte klein en onbelangrik op die groot internasionale toneel.
Jesus het ook nie die persoonlike agtergrond gehad om uit te styg nie. Hy kom nie uit Jerusalem, die godsdienstige sentrum nie. Hy kom nie uit ‘n belangrike, invloedryke familie nie. Hy het by wyse van spreke nie aan die voete van Gamaliël gesit soos Paulus nie. Hy het geen besondere prestasies op sy kerfstok nie. Trouens, Hy was van die begin af in konflik met die mense wat saak gemaak het.
Hy trek aandag net deur sy persoonlike kwaliteite. Telkens lees ons die skare was verbaas oor wat Hy gesê en gedoen het. Veral sy wonderwerke het aandag getrek en die skare laat saamstroom. Juis dit het Hom die gramskap van die godsdienstige leiers op die hals gehaal. Hulle probeer Hom beskuldig van samewerking met die duiwel, van ongemanierdheid (“‘n vraat en ‘n wynsuiper”), van vriendskap met tollenaars en straatvroue, van godslastering, van minagting van die “Skrifte”, dit is die Ou Testament, en van wat nie alles nie! Al hierdie uiterste beskuldigings is niks anders as tekens van hulle radeloosheid met Hom nie. Hy het nêrens in hul skemas ingepas nie.
Daar is ongelooflik baie wat ‘n mens oor Jesus kan skryf. As ek ‘n keuse moet maak, dink ek aan sy “lewe na onder”, sy uitreik na dié wat nie in tel was nie. Volgens die Sinoptiese Evangelies wy Hy prakties sy hele bediening aan die mense in Galilea, dié wat eintlik maar die uitvaagsels van die samelewing was. Sy dissipels was vissers wat rowwe manne was, tollenaars wat volksverraaiers was. Hy raak aan melaatses wat Hom onrein gemaak het; Hy prys Samaritane wat ‘n gebroedsel was; Hy laat ‘n prostituut toe om ‘n openbare skandaal te veroorsaak aan die tafel van ‘n gesiene Fariseër; Hy spreek ‘n vrou vry wat in egbreuk betrap is, reg teen die wet in wat eis dat sy (en die man, waar was hy?) gestenig moet word.
Ons spreuk is: Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou op. Syne is: Meng die semels met jou, dan word dit koekmeel.
Want dis een van die groot verskille tussen ons en Jesus: Hy het die mense om Hom verander, terwyl ons so geneig is om deur hulle verander te word.
In hierdie boek is op baie plekke oor Jesus geskryf, soveel plekke dat dit sonder meer duidelik word dat Hy die hart van hierdie boek en trouens ook van die hele evangelie is. Die volgende trefwoorde (in alfabetiese orde) is die belangrikste: *beeld van God, *boodskap van die Bybel, *Christus/Messias, *Drie-eenheid, *Four Square Gospel, *Godheid van Christus, *heiligmaking, *heilsweg, *hemelvaart, *historiese Jesus, *inkarnasie, *kruis, *maagdelike geboorte, *mensheid van Christus, *Middelaar, *opstanding, *Seun van die mens, *Seun van God, *vereniging met Christus, *wederkoms, *wonderwerke, *Woord – genoeg verwysings om te bevestig dat Hy inderdaad die hart van die Bybel is!
Skrywer: Prof Adrio König