Die Groot Geloofswoordeboek: Goddelikheid van Christus

Die Groot Geloofswoordeboek: Goddelikheid van Christus

Die Goddelikheid van Jesus was van vroeg af onder Christene ‘n omstrede saak. Daar was in die vierde eeu die bekende stryd rond­om *Arius wat Jesus wel baie hoog geag het, maar Hom net beskou het as die eerste (en daarom ook die belangrikste) skepsel van God. Hy het hom ver­al beroep op uitsprake soos Kolossense 1:15 waar daar in die Grieks staan dat Jesus “die Eersgeborene van die hele skep­ping” is. (1983-vertaling: “Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.”) Hy het ook daarna verwys dat Johannes nie ‘n be­paalde lidwoord voor “God” gebruik as hy die Woord “God” noem nie, wat sou beteken dat die Woord “‘n God” is. Johannes 1:1 behoort dus te lees: “en die Woord was ‘n God.” Dit het hy dan weer in verband gebring met die gebruik in die Ou Testament om na hemelwesens (soos engele) as “gode” te verwys (Ps 82:1, waar die Hebreeus iets lees soos “God staan op in die vergadering van die go­de“.) Jesus is dus net ‘n hoogverhewe wese, maar nie self ook God soos die Vader nie. Die Jehovasgetuies het nog hierdie siening.

Nogtans het die kerk hierteenoor altyd bely dat Jesus ook God is net soos die Vader. In die *Belydenis van Nicea (325 nC) kom dit sterk na vore. Daar bely ons oor Jesus: “Die eniggebore Seun van God … God uit God, lig uit lig, waaragtige God uit waaragtige
God … van dieselfde wese met die Vader.”

 

Die Nuwe Testament

In die Nuwe Testament word Jesus in­derdaad “God” genoem, al is dit net ‘n paar keer. Die ontbrekende bepaalde lidwoord in Johan­-nes 1:1 is nie deurslaggewend nie. “God” word predikatief gebruik, en dan is dit normaal dat daar nie ‘n lidwoord gebruik word nie. Die lidwoord sou juis die betekenis verander het. Die feit dat Johan­nes hier duidelik terugverwys na Genesis 1 waar God die Skepper van alles is en beklemtoon dat die Woord alles geskep het, beteken dat hy Jesus op dieselfde vlak as God die Vader stel. Jesus protesteer dan ook nie as die Jode sê Hy stel Homself aan God gelyk nie (Joh 5:18). Hy gee selfs verdere aanleiding daartoe (Joh 5:21-23; 10:30; 14:9-11; 20:28; 1 Joh 5:20). Ook Paulus gebruik die woord “God” vir Je­sus (Rom 9:5; Tit 2:13) en beklemtoon dat God in sy volheid in Chris­tus woon (Kol 1:19; 2:9).

Jesus as Here

‘n Mens moet verder onthou dat die woord “God” in die Nuwe Testament eintlik hoofsaaklik vir die Vader gebruik word (en daar­om net ‘n paar keer vir Jesus), terwyl Jesus veral “Here” genoem word (1 Kor 8:5-6). Ons moet onthou dat “Here” eintlik in die Ou Testament vir God gebruik word en veral sy Naam aandui (Jahwe), en dat Jesus dan hierdie Naam kry “wat bo elke naam is” (Fil 2:9-11). Dit beteken dat Jesus eintlik God se Naam kry, wat sterk getuienis is dat Hy net soos die Vader God is. (*Naam van God)

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Bergpredikasie

Die Bergpredikasie – Jan van der Watt

Estelle vra:

Kan u my asb help? Verduidelik een van die bergpredikasies in die konteks van Jesus se bediening soos aan die dissipels oorgedra, en is dit nog in vandag se wêreld relevant?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Enkele opmerkings oor die Bergpredikasie

 

Die Bergpredikasie (Mat 5-7) is die naam wat gegee word aan Jesus se preek op die berg (die tradisionele plek wat mense vir jou vandag in Israel wys is op die noordelike oewers van die See van Galilea, maar niemand weet presies nie). As ‘n mens egter na die inhoud van Mat 5-7 kyk en dit met Lukas se parallelle vergelyk, word dit duidelik dat Matteus waarskynlik ‘n klomp van Jesus se preke bymekaar gesit het, byna soos ‘n preek bundel, om vir sy lesers ‘n goeie idee te gee hoe Jesus gepreek het. (Kyk na die parallelle gedeeltes in Lukas – hulle is in Lukas versprei – d.w.s. dit is nie een preek nie, en dit word ook nie van ‘n berg af gelewer nie, maar Jesus is met van die preke  in ‘n vlakte – vgl Luk 6:20-23; 14:35-35; 16:18; 6:27-28, 32-36; 11:2-4; 12:33-36; 16:13; 12:22-34; 6:37-38, 41-42; 11:9-13; 13:24; 6:43-44; 13:25-27; 6:47-49. Lukas se verse is genoem in die volgorde waarin dit in Matteus voorkom. Kyk hoe dit versprei is in Lukas).

Om die Bergpredikasie te verstaan, moet ‘n mens eers Matt 4:23 met 9:35 vergelyk. Die twee verse is byna dieselfde en sê dat Jesus a) gepreek het en b) wonders gedoen het, veral genesings. As jy nou na Matt 5-7 kyk, sien jy dat dit Jesus se preke is terwyl Matt 8-9 ‘n reeks wonders bevat (10 in totaal waarvan die meeste genesings is). Dit is dus duidelik dat Matteus wou illustreer hoe Jesus se openbare bediening verloop het deur vir ons ‘n klomp van sy preke saam te sit en ook ‘n klomp van sy wonders. So kry die leser ‘n idee hoe Jesus se openbare bediening was.

‘n Ander interessantheid van die Bergpredikasie is dat Matteus Jesus hier in die plek van Moses voorstel. Moses het ook van ‘n berg af die wet van God aangekondig. Jesus doen dit nou van hierdie berg af, maar wys wat God regtig met sy wet bedoel het. Kyk hoe Matteus 5 oor die wet gaan, maar hoe daar elke keer gesê word: julle sê so, maar Ek sê vir julle so…. Jesus gee dus die wet ‘n nuwe inhoud – Hy beweeg weg van die ‘wettiese interpretasie’van reëls hou, na die waardering van die mens. Jy moet nie iemand beledig nie, sê Jesus, want dit is so goed soos moord. Hoekom? Omdat die mens meer is as net ‘n liggaam. ‘n Mens het ook ‘n binneste, ‘n naam, ‘n persoonlikheid, gevoelens, en as jy dit seermaak, tas jy sy mensheid aan en oortree so God se wet van moord. Jy neem as’t ware ‘n geestelike mes en steek die persoon dood. Net so met die egskeidingswette. Die vroue het nie daardie tyd veel regte gehad nie en die man kon haar baie maklik met ‘n skeibrief wegstuur. Jesus keur dit sterk af, want die vrou is meer as wat die Joodse wet veronderstel. Sy is iemand met regte wat so hanteer moet word. So brei Jesus die betekenis van die wet uit om meer klem op die waarde van die mens te lê.

Is die Bergpredikasie nog vandag van toepassing? Natuurlik. Daar was oor die jare mense wat dit wou afwater, maar as ‘n mens na die opdragte van Paulus gaan kyk verskil dit nie veel van wat die Here hier van sy kinders verwag nie. Ons moet mekaar werklik liefhê.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Jesus se kruis en kroon

Jesus se kruis en kroon – Jan van der Watt

Johan Lotter vra:

Groet julle in Jesus se Naam. Ek wil graag gehelp wees: ek stel belang in die kruis en die kroon van Jesus Ek is n wedergebore kind van Hom en doen sodoende baie Bybelstudie en dit het na n interessante onderwerp gelyk. Ek sal graag wil weet of daar antwoorde is daarop–wat het van Sy kruis en Sy kroon geword? Dankie en Agape groete hier uit die Weskus -Vredenburg

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Wat het van die kruis en kroon van Jesus geword?

Ons weet nie seker nie. Daar het egter vroeg reeds die gebruik ontstaan om die beendere, eiendom ens. van die heilige persone te versamel en dit is toe relikwieë genoem. Daar is geglo dat die klere, hare, bene, belde (gordels), skoene, ens. van heiliges self heilig is en krag kan oordra. So kry jy stukkies van wat glo die kruis van Jesus was oral in Europa en elders. Die grootste stuk kruishout wat onverwerk is (ander stukke is verwerk in die vorm van kruise) is by ‘n klooster naby Wene in Oostenryk, met die naam van ‘Heilige Kruis Klooster’. Die beendere van die drie wyse manne, so word beweer, is in die katedraal van Keulen in Duitsland. Niemand kan egter bewys dat die stukkies hout regtig van die kruis van Jesus af kom of dat die bene regtig die drie manne uit die Ooste s’n is nie. Mense spot dikwels dat daar soveel stukkies hout is wat glo van die kruis af kom dat ‘n mens ‘n skip daarvan kan bou.

As ‘n mens egter dink wat die kanse was dat die gelowiges die spesifieke kruis sou opkap om stukkies daarvan te hou of dat hulle die kroon van Jesus sou gaan soek na die kruisiging is dit bitter klein of eintlik nul. Die dissipels het aan die begin almal weggehardloop of weggekruip wat beteken dat hulle nie spesiaal sou teruggaan en die kruis gaan opkap het in klein stukkies nie. Daarmee saam moet ons onthou dat die boeke van die Nuwe Testament eers 30 plus jaar na die gebeure neergeskryf is. As die eerste dissipels wel stukkies van die kruis gehad het, sou dit waarskynlik deur van die skrywers genoem gewees het. Dit is egter eers baie jare later waar die dinge kop begin uitsteek toe dit mode geraak het om sulke dinge te hê.

Daar is ook verhale oor die beker wat met die nagmaal gebruik is wat iewers weggesteek sou wees of die spies wat gebruik is om Jesus se sy mee te steek of die doek wat oor Hom gegooi is toe Hy in die graf was, ens. In Brugge (België) is daar selfs ‘n silindertjie met die bloed van Jesus.

Eers uit die sesde eeu is daar skrywers wat beweer dat die kroon van dorings nog bestaan en op die Sionsberg te sien is. Van die dorings of stukkies is vir verskeie mense gegee en word onder andere in Frankryk, Italië, Spanje, België, Engeland of in Trier (Duitsland) gehou. Die kroon self kan gesien word in die Notre Dame katedraal in Parys.

Geen van hierdie sake kon wetenskaplik geverifieer word nie. ‘n Mens moet dus maar ‘n knippie sout met die verhale neem. Die mooie is tog dat dit mens aan die werklikheid van die gebeure laat herinner.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Hoekom is Jesus nie herken nie? – Opvolg

Hoekom is Jesus nie herken nie? – Opvolg – Jan van der Watt

Erika vra:

Ek het die vraag gevra hoekom Jesus nie herken is na Sy opstanding nie en verskil van die antwoord wat u gee. In u antwoord beweer u dat Johannes 20 daarop dui dat Jesus herkenbaar was, maar dis dan juis Johannes 20 wat vertel van Maria Magdalena wat Jesus vir ʼn tuinwerker aangesien het! Sy smeek Jesus om haar te wys wat van haar Meester se liggaam geword het. In dieselfde gedeelte moes Jesus éérs sy hande en sy aan sy dissipels wys voordat hulle buite hulself van blydskap was om Hom te sien. ʼn Week later toe almal weer bymekaar was, moes Jesus vir Thomas OORTUIG dat dit Hy was deur te sê: Bring jou vinger en kom sit dit in My wonde! Thomas het hom dus nie herken nie. Jesus het skielik tussen hulle gestaan (Lukas 24:36). Hulle het hulle boeglam geskrik, want hulle het gedink dis ‘n spook (Lukas 24:37). Jesus sê toe vir hulle: Hoekom is julle so bang, staan nader (Lukas 24:38). Kyk die merke op My hande en voete, dis Ek Jesus, kom vat aan My (Lukas 24:39). Nadat hulle gevat en gevoel het, het party van blydskap rondgespring terwyl ander Hom met oopmond aangestaar het (Lukas 24:40). Verder beweer u , sonder verwysing, dat Jesus nie meer Sy gewone liggaam gehad het nie, maar dat Hy met ʼn verheerlikte liggaam opgestaan het. Is dit nie hoekom Hy nie herken is nie? Die vraag is dan: Wat is ʼn verheerlikte liggaam? Die Emmaus-gangers het ʼn gewone menslike liggaam gesien, Maria Magdalena het die liggaam van ʼn tuinier gesien, en Sy dissipels het ʼn spook gesien. Het Jesus ná Sy opstanding ʼn totaal nuwe voorkoms gehad? Verwysing: Van der Watt, Joubert & Smit (2008) Geloof in Aksie Bybel.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Met Maria Magdalena se rol by die graf in Johannes 20 moet op die volgende gelet word: Kyk waarmee is sy die hele tyd besig: sy soek die liggaam van die Here wat weggeneem is – sy noem dit ‘n paar keer. Die skrywer wil dus aandui dat Maria se hele verwysingsraamwerk die dooie liggaam van Jesus is. Sy verwag dus nie die lewende Here nie en daarom word dit in 20:14 gesê dat sy nie geweet het dit is hy nie. As Jesus haar op haar naam noem (wat die tuinopsigter natuurlik nie geken het nie), herken sy Hom. Jesus ken die name van sy skape (Hoofstuk 10:1-10) en dan besef sy wie dit is. Die rede vir die onsekerheid is om die buitengewone van Jesus se opstanding te beklemtoon. Die dissipels het dit nie verwag nie en daarom die onsekerheid en onkunde as dit regtig gebeur. Dit is dus nie Jesus wat nie herkenbaar is nie, maar die dissipels en Maria wat Hom nie verwag en dus nie dadelik besef dat dit Hy is nie. Die klem lê glad nie op die feit dat hulle Jesus nie kan herken nie, maar op die feit dat hulle nie verwag dat dit Hy sal wees nie. Daarom geld die merke aan sy hande en sy sy as tekens dat dit regtig Hy is en niemand anders nie.

Wat sy liggaam betref – lees maar 1 Korintiërs 15 waar Paulus beskryf dat ons liggame met die opstanding anders sal wees, maar tog dieselfde. Die feit dat Jesus se liggaam nog lyk soos ‘n gewone liggaam bots nie met die gedagte dat die liggaam in aard ook ander kwaliteite het nie. Dit is dus soos ‘n menslike liggaam maar ook anders, want Hy kan eet, maar Hy kan ook deur deure loop – en dit met dieselfde liggaam.

Outeur: Prof Jan van der Watt