Jesus se korrekte Naam – Hermie van Zyl

Anna vra

Ek het ’n vriend ontmoet wat glo dat die name “Jesus”, “God”, “Here” afgodsname is wat deur Grieks ingebring en foutiewelik vertaal is in ons Bybel om ons te verlei. Volgens my vriend mag ons nie deur Jesus bid nie, maar wel deur Jeshua Elohim.

Ek is baie verward; ek wil graag die regte name gebruik. My vriend is van die Israel-beweging, of so-iets. Hy verwys na Jesus as “daai ding”.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In William Shakespeare se toneelstuk, Romeo and Juliet, sê Juliet aan Romeo:

“What’s in a name? That which we call a rose
By any other name would smell as sweet”

Die populêre interpretasie van hierdie aanhaling is dat dit nie saak maak wat jy iemand of iets noem nie, dit kan niks verander aan wie of wat daardie iets of persoon in werklikheid is nie. En in ’n sekere sin is dit ook waar van Jesus. Al was Jesus se naam ook iets anders sou dit geen verskil gemaak het aan wie Hy werklik was en wat Hy kom doen het op aarde nie.

Ek haas my egter om te herhaal: “in ’n sekere sin”, want in Jesus se geval (ek beperk my tot die naam “Jesus” in my antwoord) is sy naam inderdaad belangrik, maar nie in die sin wat ons vraagsteller se vriend, en ander wat soos hy dink, dit wil verstaan nie. Vir hulle gaan dit klaarblyklik daaroor om ten alle koste vas te hou aan die oorspronklike Hebreeuse naam van Jesus, asof die saligheid in die Hebreeusheid van die naam opgesluit lê. Ons weet almal Jesus was na sy mensheid ’n Jood, en uiteraard sou Hy ’n Hebreeuse naam ontvang het. Sy Hebreeuse naam was na alle waarskynlikheid Jeshua, wat op sy beurt ’n verkorte vorm van die naam Jehoshua was, dieselfde naam wat Josua, die opvolger van Moses, gedra het, van wie ons veral in die boek Josua in die Ou Testament lees. Hierdie naam – in sy lang én verkorte vorm – beteken letterlik: “Die Here help”. In die meer oordragtelik-teologiese sin van die woord het dit dan die betekenis van “die Here verlos”. Matteus 1:21 koppel juis hierdie betekenis aan Jesus se naam, as daar staan dat die engel aan Josef die opdrag gegee het om die Kind wat sy verloofde, Maria, verwag, Jesus te noem, “want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos”. Jesus se naam is dus ryk aan betekenis. Reeds vóór sy geboorte is sy naam al klaar ’n aanduiding van die werk wat Hy as die Seun van God sou verrig: Hy sal die Verlosser van sy volk, ja, van die wêreld wees. ’n Mens kan dus sê: Jesus het nie net ’n naam nie, Hy is sy naam. Sy naam is inderdaad uitdrukking van wie Hy werklik is – Verlosser of Redder.

Maar nou – en dis die belangrike punt – die belangrikheid van Jesus se naam lê nie primêr in die Hebreeusheid van sy naam opgesluit nie, so asof dit nooit in ’n ander taal vertaal mag word nie omdat die betekenis dan verlore sou gaan en dit dan skielik die naam van ’n afgod sou word. Nee, daar is ’n lang tradisie verbonde aan die vertaling van die Hebreeuse Jeshua in die Grieks. Die aanvanklike naam Jehoshua kom talryk in die Hebreeuse Ou Testament voor, maar na die ballingskap (6e eeu vC) het die verkorte vorm, Jeshua, die meer gebruiklike een geword. En dit is hierdie vorm wat in die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint (gemaak in die 3e eeu vC), met Iēsous weergegee word. Iēsous is dus die Griekse vorm van Jeshua, en indirek ook van die langer vorm Jehoshua. En Iēsous is dan ook die manier waarop Jesus se Hebreeuse naam, Jeshua, in die Grieks van die Nuwe Testament weergegee word. (Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf.) In die Latynse vertaling van die Nuwe Testament is dit later as Iesus/Jesus vertaal, en dít is dan die vorm waarin dit vandag in die meeste vertalings voorkom. Maar hoe die naam Jeshua ook al in vertalings weergegee word, dit bly dieselfde naam met dieselfde betekenis, verwysende na dieselfde Persoon – Jesus van Nasaret, die Verlosser van die wêreld, die naam waardeur ons gered word (Hand 4:12). En dit is in hierdie sin van die woord dat ek na Shakespeare aan die begin verwys het. Dit maak regtig nie saak hoe Jesus se naam in verskillende vertalings weergegee word nie, dit bly steeds dieselfde naam met dieselfde betekenis. By wyse van spreke: Die “roos” het steeds dieselfde geur, dit maak nie saak hoe jy die naam “roos” in ander tale weergee nie.

Mense wat dus daarop aandring dat ons net Jesus se oorspronklike Hebreeuse naam mag gebruik, as sou die verlossingskrag slegs in die Hebreeusheid van sy naam geleë wees, en as sou die vertaling van hierdie naam in ander tale ’n aanduiding wees dat mens dan ’n afgod dien, weet gewoon nie hoe vertaling werk nie. Wanneer iets in ’n ander taal weergegee word, probeer die vertaler(s) nie om die oorspronklike taal te vervals nie, maar juis om die oorspronklike taal so getrou moontlik in die teikentaal weer te gee, maar dan so dat die eie aard van die teikentaal ook behoue bly. Begrippe en name moet immers ook verstaanbaar wees vir die teikentaal-gehoor.

Verder, die bewering dat as jy nie die oorspronklike taal se Godsname presies so hou nie, jy dan verraad pleeg en daar ’n “afgod” ontstaan, is gewoon nie waar nie. Toegepas op Jesus se naam: Dis nie waar dat iemand skielik tot ’n afgod bid net omdat die naam nie meer in Hebreeus uitgespreek of geskryf word nie. Dit hang alles af of die Hebreeuse naam so weergegee word dat dit steeds ooreenstem met die bedoeling van die oorspronklike. En, let wel, die omgekeerde kan ook gebeur: Net omdat iemand tot of deur die naam Jeshua bid, beteken nie dat jy noodwendig tot die regte God bid nie. Selfs al gebruik jy die Hebreeuse Jeshua kan dit met soveel wanvoorstellings gepaardgaan dat dit nie meer die Jesus van die evangelie is nie. Ons kan gerus onthou wat sê Matteus 7:21: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.” Dit help nie jy gebruik die korrekte Hebreeuse naam van Jesus maar jou dade getuig nie daarvan dat jy sy volgeling is nie. So gesien kan die vashou aan die Hebreeuse naam Jeshua ewe goed dui op afgodsdiens, want dan word daar eintlik ’n afgod van die Hebreeuse naam Jeshua gemaak, asof slegs hierdie letters ’n soort magiese krag bo ander weergawes van die naam het. Nee, die beslissende toets is nie of jy die naam van Jesus korrek uitspreek of skryf nie, maar of jy die wil van die Vader doen.

’n Verdere interessantheid is dat die naam Jeshua/Iēsous ’n baie algemene naam onder die Jode van so ongeveer vier eeue vóór Jesus se geboorte tot aan die begin van die tweede eeu ná die geboorte van Jesus was. (Amper soos “Johan” vandag onder Afrikaanssprekendes.) Dit is daarom nie vreemd nie dat ons ook ander mense in die Nuwe Testament aantref met die naam Jeshua/Iēsous. In Handelinge 13:6 staan die Joodse towenaar op Siprus as Barjesus (= seun van Jeshua/Iēsous) bekend. En in Kolossense 4:11 is die helper van Paulus se naam ook Jeshua/Iēsous. Die Ou-Testamentiese Josua, word ook Iēsous genoem (Hand 7:45; Heb 4:8). En selfs Barabbas, wat in Jesus se plek vrygelaat is, het die naam Jeshua/Iēsous gehad (Matt 27:16). Dit alles wys dat daar nie iets besonders aan die naam Jeshua/Iēsous as sodanig was nie. Die besondersheid van die naam is die feit dat dit gekoppel was aan ’n besondere Persoon. Dit is hierdie Persoon en sy werk wat belangrik en uniek was. Dit is Hóm wat ons aanbid en dien, nie sy naam nie. En dit is deur Hóm wat ons tot die Vader nader, maak nie saak hoe hierdie naam in die verskillende tale van die wêreld weergegee word nie.

Ons vraagsteller hoef dus regtig nie verward te wees oor die naam Jesus nie. Sy dien nie ’n afgod met hierdie naam nie, maar die ware Jesus van die Evangelies.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




“Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Lukas 23:46) – Hermie van Zyl

Clifford vra:

Wat is die betekenis van hierdie woorde van Jesus?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie is een van die sogenaamde sewe kruiswoorde van Jesus. Die kruiswoorde verwys na die sewe keer toe Jesus gepraat het terwyl Hy aan die kruis van Golgota gehang het. ‘n Mens kan sê dat dit Jesus se sterfbedwoorde was. Daarom dra dit besondere gewig. Dit trek die gordyn effens weg en gee ons ‘n kykie in die siel van Jesus – hoe Hy Self in daardie oomblikke sy lyding en naderende dood ervaar het.

Die kruiswoorde is egter baie meer as ‘n selfonthulling van Jesus se sielestryd. Dit laat ons ook die betekenis van sy dood vir ons beter verstaan. Wanneer Jesus aan die kruis sterf, is dit immers nie as gevolg van sy eie oortredinge nie, maar juis ter wille van ons (2 Kor 5:14-15, 21).

Die sewe kruiswoorde kom nie almal in elkeen van die vier Evangelies voor nie. Hulle lê verspreid: drie kom uit die Lukasevangelie, drie uit die Johannesevangelie en een uit Matteus en Markus gesamentlik. Dit is dus nie moontlik om te sê in presies watter historiese volgorde die kruiswoorde uitgespreek is nie. Want ondanks die onderlinge ooreenstemming tussen die Evangelies, gee elkeen sy eie weergawe van die kruisgebeure. Die volgorde van die kruiswoorde soos dit soms voorgehou word, is dus eerder ‘n samestelling deur die kerk wat baie ver in die geskiedenis teruggaan.

Na alles is dit egter nie belangrik om te weet presies in watter volgorde die kruiswoorde uitgespreek is nie. Wat wel belangrik is, is of ons die boodskap daarvan in die geloof toe-eien.

Die kruiswoord “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46), is volgens kerklike tradisie die laaste van die sewe kruiswoorde. Volgens die Lukasevangelie was Jesus se eerste woorde aan die kruis ’n gebed: “Vader, vergeef hulle ….” (23:34). Dieselfde Evangelie berig dat sy laaste woorde ook ’n gebed was. Daar is vier momente van hierdie gebed wat uitstaan:

Eerstens, bloot die feit dat dit ‘n gebed was. Seer sekerlik is gebed ‘n gepaste manier om jou lewe mee af te sluit. Maar om dit te kan doen, moes jy saam met God gelewe het. En dit was by uitstek waar van Jesus. Hoeveel maal lees ons nie dat Hy die aangesig van sy Vader in gebed opgesoek het nie. En nie net in krisistye nie (Matt 26:36,39), maar dit was sy gewoonte (Matt 14:23; Mark 1:35; Luk 3:21; 9:18, 29; ens).

Tweedens is hierdie gebed ‘n aanhaling uit die Skrif – Psalm 31:6. Soos gebed natúúrlik by Jesus gekom het, het die Skrif ook. Hy het gelewe vanuit die Woord van God. Kleintyd al het Hy die Skrifgeleerdes verbaas met sy kennis (Luk 3:46-47). Verder, die ooreenkoms tussen Jesus en Stefanus se laaste woorde is opmerklik. Handelinge 7:59 sê dat Stefanus met dieselfde gebed op sy lippe gesterf het, behalwe net dat hy sy gees aan Jesus toevertrou het en nie aan die Vader nie. Maar wesenlik is daar geen verskil nie. Verder, Stefanus bid ook vir sy vyande terwyl hy sterf (“Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie”, Hand 7:60), net soos Jesus dit aan die kruis gedoen het: “Vader, vergeef hulle …”.

Wat geld van gebed, geld ook hier: as jy wil sterf met die Skrif op jou lippe, moet jy leef met die Skrif in jou hart.

Derdens spreek hierdie gebed van vertroue. Van kleinsaf was dit die vrome Jood se aandgebed. In die aand vertrou jy jou gees aan God toe sodat Hy dit in die môre weer aan jou kan teruggee. Wanneer Jesus dit hier aan die kruis doen, is dit met die volle vertroue dat sy Vader weer sy lewe aan Hom sal teruggee. Wat ook op die derde môre na sy dood gebeur het toe sy Vader Hom opgewek het uit die dood om nooit weer te sterf nie. Dis treffend dat Jesus op die negende uur (d w s omtrent 15:00, Luk 23:44; Mark 15:33), op dieselfde tyd dat die basuingeskal in die tempel die volk oproep tot die aandgebed, ook sy aandgebed tot die Vader rig. In hierdie stadium, net voor sy dood, vind Hy ook weer vrede en rus by sy Vader, nadat Hy volgens Matteus en Markus in sterwensangs was en deur God verlate gevoel het (“My God, my God, waarom het U my verlaat?”). In sy ervaring van Godverlatenheid bly Hy egter steeds aan God vashou (My God …). Dit is dus nie vreemd dat Hy sy Gees aan sy Vader toevertrou nie. Verder, Jesus se opregte Godsvertroue word bevestig in die volgende vers (Luk 23:47) wanneer die toesighoudende Romeinse offisier opmerk dat Jesus “werklik onskuldig” was. Daar staan letterlik dat Jesus “regverdig” was – sonder skuld voor God. Jesus is by uitstek die waarlik vrome of onskuldige mens omdat Hy Homself ten volle aan sy Vader se wil oorgegee het, selfs toe Hy deur sy Vader verlate gevoel het.

Laastens, in Christus is God ook my Vader. Aan Hom kan ek my ganse lewe toevertrou. Daarom kan ek aan die einde daarvan my gees in die dood aan God oorhandig, in die volle vertroue dat Hy, net soos met Jesus, dit in die opstanding aan my sal teruggee. Soos die pragtige aandgesang se laaste vers lui:

Ek weet aan wie’k my toevertrou het,

al wissel dan ook dag en nag;

ek ken die Rots op wie’k gebou het,

van wie ek al my heil verwag.

Eens aan die einde van my lewe

sal ek, van dood en sonde vry,

vir al u seën en goedheid, Here,

U nuut my dank- en loflied wy.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Jesus besoek die doderyk – Hermie van Zyl

Lizette vra

In watter boek van die Nuwe Testament besoek Jesus die doderyk?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die gedeelte wat ter sprake is, is 1 Petrus 3:19-20. Letterlik staan daar: “So het Hy (Christus) gegaan en ook vir die geeste in die tronk gepreek, wat destyds ongehoorsaam was, toe God in Noag se dae geduldig gewag het terwyl die ark gebou is, waarin min, naamlik agt persone, deur die water gered is.” Soms word 1 Petrus 4:6 ook by dié saak betrek. Daar staan: “Want hiervoor is die evangelie ook aan dooies verkondig sodat hulle soos gewone mense geoordeel kan word wat die liggaam betref, maar in die gees kan lewe, soos God lewe.”

Die vraag is hoe dié gedeeltes verstaan moet word. Wat 1 Pet 3 betref, is die verklaring wat vandag deur die meeste Bybelkenners aanvaar word, die volgende: Die “geeste in die tronk” is die gevalle, sondige engele waarvan ook in 2 Pet 2:4 en Judas v6 sprake is. In die buite-Bybelse Joodse geskrifte van destyds, soos 1 Henog, wat goed bekend en baie gewild was onder die Jode, word ook melding gemaak van hierdie geeste of gevalle engele wat deur God in gevangenskap gehou word tot en met die oordeel. En die plek van aanhouding is waarskynlik die doderyk. Daar was destyds die siening dat die doderyk ook ’n plek van aanhouding was (vgl Op 20:1-7; 2 Pet 2:4). Volgens 1 Henog moes Noag aan die bose engele God se oordeel gaan aankondig.

Die agtergrond van hierdie sondige engele lê in Gen 6:1-4, waar gepraat word van die “hemelwesens” wat met die dogters van die mense getrou het, en waaruit die “reuse” ontstaan het. Dit was in die tyd net voor Noag op die toneel verskyn het. Daarom dat 1 Pet 3:20 melding maak van die geeste wat destyds in Noag se tyd ongehoorsaam was toe hy die ark gebou het. God het volgens Joodse denke egter hierdie gevalle engele veroordeel en hulle gevange gehou tot die eindoordeel. Maar tog was daar die vrees by baie Jode en latere Jode-Christene dat hierdie engele of “geeste” steeds gevaar inhou vir gelowiges.

Petrus het waarskynlik by hierdie bekende tradisie aangesluit. Wat hy nou doen, is om te sê dat Christus se oorwinning oor die dood so kragtig en allesomvattend is dat dit selfs gevolge inhou vir hierdie bose engele in die gevangenis. Na sy dood het Christus gegaan en aan hierdie geeste aangekondig dat Hy die oorwinning behaal het oor alle magte, ook oor die dood en bose engele. En die troosboodskap vir die lesers van 1 Petrus is dat hierdie bose engele nou geen gevaar meer inhou vir die gelowiges nie. Hierdie “prediking” van Christus aan die “geeste in die gevangenis” het dus niks te make met die evangelieprediking om hulle tot bekering te bring nie, maar is bloot daarop gemik om Christus se oorwinning oor alle bose magte aan te kondig.

Vervolgens sluit Petrus aan by die vloedwater in die tyd van Noag en laat slaan dit simbolies op die doopwater (v20-21). Net soos wat die vloedwaters vir dié binne die ark redding gebring het, so bring die doopwater vir die huidige gelowiges ook redding, deurdat hulle nou ’n skoon gewete het voor God. Vers 22 sluit dan af met die gedagte dat Christus nou aan die regterhand van God is en dat alle engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is, dieselfde gedagte wat hy in v19 wou belig.

Wat 1 Pet 4:6 betref, moet dit nie met 1 Pet 3:18-19 in verband gebring word nie. Die “dooies” van 4:6 is gewoon die gelowiges wat eens geleef het maar nou dood is. Al wat Petrus hier sê, is dat aan hierdie gelowiges die evangelie verkondig is toe hulle nog op aarde geleef het. En hoewel hulle gesterf het, leef hulle nou by God.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die volgorde van die eintydgebeure – Hermie van Zyl

Anna vra:

Ek het, vir my, ’n komplekse vraag. Kan iemand vir my die volgorde van gebeure gee, vanaf Jesus se kruisiging tot Jesus weer kom. Ek weet dis die kruisiging, dan die opstanding, dan hemelvaart. Maar wat gebeur daarna, en wanneer? Wanneer is die wederkoms? Waar gaan die nuwe aarde wees en dan ook die nuwe hemel? Wie gaan waar heers? Wanneer gebeur Armageddon, wanneer is die wegraping, duisendjarige vasbind van satan, wanneer gaan God met sy een voet op die Olyfberg staan?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Wat die volgorde van die eindtydgebeure betref, hang dit af van watter siening ’n mens huldig oor sake soos die duisendjarige vrederyk, die wegraping en die groot verdrukking. ’n Tipies chiliastiese standpunt (dat daar letterlik ’n tydperk van ’n duisend jaar sal kom waar Christus op aarde regeer en die Satan gebind sal wees, en dat Christus se wederkoms vóór die duisendjarige vrederyk sal plaasvind – die sg premillennialistiese standpunt) sal byvoorbeeld die onderstaande volgorde van gebeure tot gevolg hê (ek laat kruisiging, opstanding en hemelvaart uit aangesien dié reeds plaasgevind het):

  • die wegraping van alle lewende gelowiges
  • die opstanding van gelowiges wat reeds gesterf het
  • die oordeel oor alle gelowiges
  • die bruilof van die Lam in die lug
  • die verskyning van die Antichris op aarde
  • die groot verdrukking wat sewe jaar lank duur (in hierdie tyd sal slegs diegene wat die merk van die dier [666] op hulle hand of voorkop het, kan koop of verkoop)
  • die wederkoms van Christus
  • die slag van Armageddon
  • die massabekering van die Jode
  • die binding van Satan
  • die duisendjarige vrederyk waar Christus vanuit Jerusalem die wêreld sal regeer
  • die ontbinding van die Satan ná die millennium
  • die oorlog van Gog en Magog
  • die vernietiging van Satan en die bose magte
  • die opstanding van die ongelowiges en dié se veroordeling
  • die vernuwing van die hemel en die aarde

By bogenoemde volgorde is daar kleiner verskille tussen chiliaste, byvoorbeeld dié wat sê dat die wegraping nie vóór nie maar in die middel van die verdrukking plaasvind, en ander wat weer sê dat dit ná die verdrukking sal gebeur. Daar is ook die standpunt van die sogenaamde postmillennialisme wat sê dat die wederkoms van Christus eers ná die duisendjarige vrederyk sal plaasvind.

Die Chiliastiese standpunt word veral aangehang in die meer fundamentalisties-evangelikaliese stroom van die Protestantisme.

Dié wat die duisendjarige vrederyk nie letterlik opneem nie maar as ’n simboliese tydperk van (relatiewe) vrede op aarde sien, ingelui deur die eerste koms van Christus na die aarde en moontlik gemaak deur die daaropvolgende wêreldwye prediking van die evangelie, se toekomsverwagting van die eindgebeure en dié se volgorde is eintlik baie eenvoudig in vergelyking met dié van die chiliastiese standpunt. Dit behels:

  • kruisiging, opstanding, hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees (hierdie gebeure het reeds plaasgevind)
  • ’n voortgang van die huidige tyd tot die wederkoms van Christus
  • die wederkoms van Christus
  • die opstanding van alle dooies (gelowiges én ongelowiges)
  • gelyktydig daarmee die transformasie en verheerliking van alle lewende gelowiges
  • die laaste oordeel
  • die ewige straf van die bose
  • die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde waar God alles in almal sal wees, waar Hy tot in alle ewigheid sal regeer en die gelowiges ewige heerlikheid saam met God sal geniet

Hierdie standpunt word deur die meeste hoofstroomkerke in die Oosters-Ortodokse, Anglikaanse en Rooms-Katolieke tradisies gehuldig, asook in ’n groot deel van die Protestantisme.

Ek nooi die leser wat meer oor die besonderhede van bogenoemde gebeure wil weet om die artikels op Bybelkennis se webblad te lees wat oor hierdie sake handel ten einde ’n weldeurdagte en goed begronde teologiese siening te bekom. Die mees uitvoerige artikel is dié van prof Adrio König, met die titel: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-die-eindtyd/. Dan is daar ook een deur myself geskryf, wat by http://www.bybelkennnis.co.za/eindtyd/ te vinde is. Daar is egter heelwat ander artikels ook; sleutel net die soekwoord “eindtyd” in en ontdek hulle almal.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl