Raak my nie aan nie – Francois Malan

Jan vra:

Onderwerp: Joh 20: 17: Raak My nie aan nie.

By Jesus se verskyning aan Maria na Sy opstanding het Hy vir Maria gesê: Raak my nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na My broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na My Vader en my God en julle God.

Johan 20: 19: En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week het Jesus aan hulle verskyn en Sy wonde vir hulle gewys.

Vraag: Kan mens die afleiding maak dat Jesus gedurende hierdie tussepose dit wil sê vroeg oggend tot die aand ‘n hemelvaart onderneem het om Hom aan die Vader te gaan vertoon anders hoekom die besondere woorde aan Maria?

 

Antwoord

Prof francois Malan antwoord:

Die Griekse woord háptomai word gebruik vir ‘aanraak’ en vir ‘vashou.’ Hier pas ‘moenie my vashou nie’ beter by wat volg: ‘want Ek het nog nie na my Vader opgevaar nie. Sy moet Hom nie vir haarself hou nie (die Griekse opdrag hapto is in die refleksie vorm wat wil sê ‘moenie my vashou vir jouself nie,’ soos sy in Joh 20:15 gesê het dat sy sy lyk sal wegneem as sy sy liggaam gekry het. In plaas daarvan dat sy Jesus vir haarself wil vashou moet sy die goeie boodskap van sy opstanding aan sy broers die dissipels gaan oordra dat Hy in Galilea aan hulle sal verskyn. So moet haar liefde vir Hom uitgedra word aan ander.

Matteus 28:1,9 se weergawe is effe anders. Matteus praat van twee vroue, Maria Magdalena en die ander Maria wat sy voete gegryp het (kratéo vashou, in die aoristus-verlede tyd wat verwys na ’n moment in die verlede) en Hom aanbid het. Met die aanbidding van Jesus erken hulle die afstand tussen hulle as mense en sy godheid. Die erkenning bring mee dat hulle Hom nie vir hulleself wil vashou nie, maar dat hulle deur Hom vasgehou wil word.

Jesus nooi egter vir Tomas om Hom aan te raak. By Maria bestaan die gevaar dat sy Jesus vasklou in die beperktheid van haar liefde; by Tomas die gevaar dat hy Jesus sal los as hy nie die merke van die spykers in Jesus se hande sien en sy vinger in die spykermerke kan steek en sy hand in sy sy kan steek nie (Joh 20:25). Die uitleër Smelik vergelyk Maria se persoonlikheid met ’n klimop wat aan ’n paal of boom vasklou om te groei, en Tomas met ’n doringrige dissel wat steek as jy aan hom vat. Maar Tomas raak toe nie aan Jesus nie. Toe hy egter Jesus self sien en die spykermerke aan sy hande sien, erken hy Jesus as sy Here en sy God.

Die mens se kontak met die opgestane Jesus is in geloof wat die Heilige Gees in ons werk om te glo wat die woord van God oor Jesus getuig. Daarom sê Jesus vir Tomas moenie langer ongelowig wes nie, maar gelowig.

Jesus het nie tussen die twee optredes opgevaar en weer teruggekom nie. Hy het vir Maria gesê: Maar gaan na my broers en sê vir hulle ‘Ek vaar op (die teenwoordige tyd van die Griekse werkwoord anabaino druk ’n voortgaande handeling uit: Ek is aan die opvaar) na my Vader en julle Vader, en na my God en julle God.’ Dat Jesus in die proses was om op te vaar na sy Vader, is om sy werk te gaan voltooi. Volgens Joh 12:32-33 het Jesus gesê: As Ek van die aarde verhoog word, sal Ek almal na My toe trek. Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf.’ Sy verhoging tot die regterhand van sy Vader begin reeds met sy verhoging aan die kruis om die grootste liefdesdaad van God te volbring deur die sonde van die ganse wêreld op Hom te neem. En die verhoging loop deur sy opstanding tot sy hemelvaart. So is Hy besig om op te vaar.

Die doel van sy opvaring deur sy verhoging aan die kruis, sy opstanding uit die dood, en sy bekendmaking van sy opstanding aan sy dissipels voor sy hemelvaart deur sy verskynings aan hulle, is volgens Joh 14:2 om vir ons plek te gaan berei in die huis van sy Vader. Sy opvaring geskied deur sy kruisdood vir ons sonde en opstanding dat ons uit die bande van sonde verlos kan word, en deel kan kry aan die ewige lewe by God wat reeds by ons bly as ons Hom liefhet. In Joh 14:23 sê Hy: As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ In sy groot neerbuigende liefde woon die Vader en Jesus nou reeds by ons om ons gereed te maak om vir ewig by Hom te woon. Deur die werking van die Heilige Gees in sy kinders  (Joh 14:15-17) moet sy liefde ook in ons wees en teenoor ander uitgeleef word. Deur sy liefde deur ons te laat vloei na ander mense, selfs na ons vyande toe (Mat 5:43-48), word ons voorberei om in die Vaderhuis te bly. So berei Jesus tans vir ons plek in die Vaderhuis.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die blindgebore man – Hermie van Zyl

Jan vra:

In Johannes 9:3 maak Jesus ‘n opmerking wat ek nie verstaan nie. Hy sê: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word”. Met ander woorde hier is drie mense wat nie sonde ken nie en die seun se blindheid is vooraf georden met die doel dat Jesus hom op ‘n spesifieke tydstip siende kon maak om die “werke” van God openbaar te maak. Die vier Evangelies is vol van verhale van blindes wat deur Jesus siende gemaak is, óf deur aanraking óf slegs deur ‘n woord te spreek. In hierdie gevalle was die omstanders verbaas en die owerpriesters en skrifgeleerdes verontwaardig. In hierdie gevalle het Jesus seker tog ook die werke van God openbaar gemaak?

 

Prof Hermie Antwoord

Dit is belangrik dat mens eers die hoofoogmerk van die verhaal van die genesing van die blindgeborene in Joh 9 sal verstaan voordat mens na enkele verse kyk.

Dit is duidelik dat Johannes ‘n teologiese oogmerk met die verhaal het. Dié word reeds in 9:4-5 gestel, nog voordat die genesing vertel word, sodat die leser vooruit weet wat vir die verteller die swaarste weeg. Die sleutelwoorde vind ons in 9:5 – “Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Die genesing van die blindgeborene staan dus in diens van die teologiese tema dat Jesus die lig vir die wêreld is. Daarom val die hoofklem in die verhaal nie soseer op die genesing self nie, maar op die daaropvolgende gesprek tussen die Fariseërs en die geneesde en dié se ouers. Die doel is om te wys dat die man wat eens blind was, nou nie net letterlik kan sien nie, maar ook geestelik. Hy sien nou dat Jesus die Seun van die mens is, dit wil sê, die Gestuurde van God; hy glo in Hom en aanbid Hom (9:36-38). Daarteenoor is die Fariseërs wat daarop roem dat hulle kan sien, geestelik blind, want hulle kan nie insien dat Jesus die Gestuurde is nie (9:40-41). Daarom bly hulle blind. Die hele verhaal is dus daarop afgestem om aan te toon dat Jesus gekom het sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word (9:39).

En so word die werke van God geopenbaar, presies dit waarvoor Jesus in die wêreld gekom het (9:3-4). Jesus is die Een wat van God gestuur is om God se werke in die wêreld te kom bekendstel. Dít is sy identiteit: Hy is God se Gestuurde, die Lig vir die wêreld. Sommige sien dit raak (die blindgeborene), ander kan dit nie insien nie (die Fariseërs/Jode).

Nou kan in ons in groter besonderhede aandag gee aan Joh 9:3. Ten grondslag van die vraag van die dissipels in 9:2 is die destydse opvatting dat daar ‘n direkte verband is tussen sonde en siekte. Dit is egter moeilik om te aanvaar dat die man se blindheid die gevolg is van sy eie sonde, aangesien hy blind gebore is. Dan moet dit seker sy ouers wees wat gesondig het. Maar êrens moes iemand gesondig het, so is geglo. Hierdie gedagte vorm ook die agtergrond van die verhaal van Job in die Ou Testament. Job se vriende was van mening dat Job ernstig moes gesondig het om so te ly. Al wat hy nou kan doen, is om sy en sy kinders se sonde te bely, dan sal alles regkom (Job 8:4-7). Dieselfde gedagte onderlê ook die gebeure waar Pilatus sekere Galileërs laat doodmaak het, en waar ‘n hele klomp mense dood is toe die toring van Siloam ineengestort het (Luk 13:1-5). Populêre wysheid wou dit hê dat hierdie ongelukkiges se sonde groter moes gewees het as ander s’n, anders sou hierdie verskriklike dinge nie met hulle gebeur het nie. Jesus wys egter alle spekulasies rakende die oorsaaklike verband tussen sonde en siekte/ongeluk af.

Dieselfde doen Hy ook in Joh 9:2-3. Jesus ontken dat die man of sy ouers se sonde die oorsaak is van die man se blindheid. Trouens, Hy gaan glad nie op hierdie soort van spekulasies in nie, maar beklemtoon eerder dat God die man se blindheid gebruik om sy magtige werke as Redder en Geneser te openbaar. Ons mag dit egter nie so verstaan dat God die man se blindheid beskik het of “vooraf georden” het sodat God hom op ‘n spesifieke tyd gesond kon maak nie. Dan maak ons weer vir God, en nie ons sonde nie, die oorsaak van ons ellendes. Ons moet dus nie die “sodat” van Joh 9:3 deterministies verstaan nie, dit wil sê, asof God die man se blindheid vooraf beplan of verordineer het nie. Dit beteken bloot dat God hierdie ongelukkige situasie, ongeag die oorsaak daarvan (kan mens ooit weet?), so gebruik dat daardeur sy genesende krag blyk en dat Jesus die Gestuurde is wat namens God hierdie kragtige werk doen.

Hierdie gedagte om God se werke, mag of heerlikheid bekend te maak, is ‘n belangrike tema in Johannes. In Joh 11:4, by die dood van Lasarus, word ook gesê dat Lasarus se siekte nie op die dood sal uitloop nie (hoewel hy toe wel later dood is), maar gebeur sodat God se wonderbaarlike mag en die Seun se heerlikheid tot openbaring kan kom. En dit gebeur toe Jesus vir Lasarus uit die dood opwek. So val die fokus in Jesus se wonders nie soseer op die wonders self nie, maar op wat dit van Jesus sê. Hy is die Lig vir die wêreld, die Gestuurde van God. En in Joh 9 word die effek hiervan duidelik – die blinde man sien en glo, maar die Jode nie. Ook in die Ou Testament kom die gedagte voor dat God wonders doen om sy magtige werke en Naam bekend te maak. In Eks 19:16 (aangehaal in Rom 9:17) sê God aan Farao dat Hy hom spaar sodat dié al God se wonders en mag kan beleef. En so sal God se Naam oor die hele wêreld geroem word.

Die oogmerk van die wonders in die ander Evangelies is eweneens om Jesus se identiteit te openbaar, hoewel dit daar nie met die term “werke van God” omskryf word nie. Daar is dit meer so dat Jesus met sy wonders bewys dat die koninkryk van God ‘n werklikheid geword het op aarde (Luk 11:20). Maar saaklik gesproke is “werke van God” en “koninkryk van God” een en dieselfde ding. Ons moet dit dus nie so verstaan dat die genesing van die blinde in Joh 9 God se werke openbaar terwyl dit nie so is in die ander Evangelies nie. Johannes formuleer sy Evangelie net anders as die ander, maar almal demonstreer die werke van God.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




‘n Nuwe Graf – Francois Malan

Gideon vra vanaf Facebook

Wat is die betekenis daarvan dat Jesus in ‘n nuwe graf begrawe is volgens Matteus 27:60 en Lukas 23:53

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Johannes 19:41 beklemtoon dat daar niemand anders nog ooit in die nuwe graf neergelê is nie, soos Lk 23:53. Dit is gepas vir die Heilige van God en kon die onmiskenbare getuie wees van die oorwinning van die Here van lewe oor die dood. Matteus beklemtoon ook dat dit ‘n nuwe graf was, waarin nog geen ander lyke sou wees waarmee Jesus se liggaam kon verwar word nie.

Daarby sê Matteus 26:57 dat Josef ‘n ryk man was. Toe hy dit geskryf het, het Matteus dit waarskynlik gesien as ‘n vervulling van Jesaja 53:9, letterlik: ‘en hy gee aan die skuldiges/goddeloses (Hebreeus: resja‘im) sy graf, en aan ‘n ryke (‘asjir) in sy dood…’ Om ‘n grafkelder in ‘n rots uit te kap, was destyds in elk geval ‘n duur onderneming.

(Die 1983-vertaling verduidelik ‘’n ryke’ met ‘sondaars’: Hy het ‘n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood).

Jesaja 53 is ‘n gedig oor die lydende kneg van die Here, wat in Jesaja se tyd na die volk Israel en tot ‘n mate op hulle leier Serubbabel toegepas is, maar waarvan die vervulling in die Nuwe Testamentiese tyd op Jesus van toepassing gemaak is.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesus en Psalm 22 – Hermie van Zyl

Pine vra:

Psalm 22 – is dit van toepassing op Jesus se lewe? En waar in die Nuwe Testament is kruisverwysings?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In die Nuwe Testament is die bekendste verwysing na Ps 22 die aanhaling van Ps 22:1 deur Jesus as Hy aan die kruis uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46; Mark 15:34). Ps 22:1 word dus een van die sewe kruiswoorde van Jesus. Maar daar is ook ander, meer subtiele, toespelings op Ps 22 in die Nuwe Testament. Dit is partykeer net ‘n woord of ‘n frase wat terugverwys na Ps 22. Maar ons moet onthou dat die Nuwe Testament-gelowiges gedrenk was in wat ons vandag ken as die Ou Testament (hulle het daarna verwys as die “Skrif[te]”). Dit was hulle enigste Bybel. Daarom sou slegs ‘n frase genoeg gewees het om die leser te herinner aan die gedeelte in die Ou Testament waaraan dit ontleen is. Die verwysings en toespelings in die Nuwe Testament na Ps 22 is soos volg (in tabelvorm):

 

Nuwe Testament Ps 22 se verse
Rom 5:5 6
Matt 27:39 en Mark 15:29 8
Matt 27:43 9
Joh 19:28 16
Matt 27:35; Mark 15:24; Luk 23:34; Joh 19:24 19
Fil 3:2 17,21
2 Tim 4:17 22
Heb 2:12 23
Op 11:15; 19:6 29

 

Uit bogenoemde is dit duidelik dat Ps 22 ‘n gewilde Psalm was om deur die Nuwe Testament-skrywers op Jesus en die gelowiges van toepassing te maak. Veral die lydensaspekte word beklemtoon, van Jesus en van die gelowiges.

Vervolgens sluit ek ‘n oordenking oor die vierde kruiswoord in waarin Jesus se gevoel van Godverlatenheid breedvoeriger aan die hand van Ps 22 verduidelik word:

Met die vierde kruiswoord kom ons by die dieptepunt en misterie van Jesus se lyding aan die kruis. Soos Martin Luther dit gestel het (in Duits): Gott von Gott verlassen, wer kann das fassen? (“God van God verlaat, wie kan dit verstaan?”)

Jesus neem hierdie kruiswoord uit die ervaring van die digter van Ps 22. Die psalmis stort die pyn uit van iemand wat sy hele lewe lank op God vertrou het, maar nou voel asof God hom verlaat het. Hy is uitgelewer aan goddelose mense wat hom lewendig wil verslind soos honger leeus met ‘n weerlose prooi maak. Hulle dryf die spot met hom: “ja, jy wat op die Here vertrou; laat Hý jou red; laat Hý jou bevry as Hy dan so baie van jou hou.”

Waar ís U, God? Sien U dan nie my lyding raak nie? Hoekom laat U my in die steek?

Opmerklik is egter dat in hierdie uitroep van verlatenheid die psalmis – en Jesus – steeds hulle vertroue in God stel, want hulle sê: “my God”. In die diepte van hulle verlatenheid klou hulle soos drenkelinge aan die Een vas van wie hulle verlate voel, omdat hulle weet dat God hulle enigste hoop op redding is. Ten spyte daarvan dat Jesus Hom van God verlate voel, weet en glo Hy dat Hy veilig by God is.

Ons moet verder onthou dat daar vir Jesus nog ‘n dieper dimensie is wanneer Hy Hom van God verlate voel. En dit is dat Hy dit plaasvervangend doen, in ons plek. Daarom is dit nie maar net ‘n gevoel van Godverlatenheid nie; dit is werklik. In daardie donker ure tussen twaalf en drie in die middag – toe alles ook letterlik in duisternis gehul was – het Jesus werklike verlatenheid ondergaan. Hy het die hel ervaar, wat dit beteken om vir ewig sonder God se teenwoordigheid, barmhartigheid, liefde en versorging te wees, sodat ons nooit weer sonder God sou wees nie.

Maar nog meer: nie net het Jesus in ons plek die hel van Godverlatenheid ervaar nie, maar Hy het ook aan God vasgehou namens ons. Hy het oor die hel getriomfeer. Die mag van die hel – om sonder God te wees, om slegs sy oordeel te ervaar – het Hy gebreek. Nooit hoef ons weer deur God verlate te voel nie, nie eens in ons diepste nood en pyn nie. Omdat Jesus vir ons die hel van Godverlatenheid gely het, mag ons altyd verseker wees van God se teenwoordigheid en nabyheid.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl