Job 23 – Johann Voges

Skriflesing                                   Job 23 1 – 17 Die Boodskap, CUM Boeke

1Job het gereageer op wat Elifas te sê gehad het. Hy het gesê: 2“Ek wil vandag weer kla. Ek is nog steeds opstandig omdat ek swaarkry. Ek kreun van swaarkry. 3Ek wens ek het geweet waar om God in die hande te kry. Ek sou na Hom toe gegaan het waar Hy ook al is. 4Ek sou my saak gestel het en al my argumente vir Hom uitgepak het. 5Ek sou na sy antwoord ge­luister het en probeer verstaan het wat Hy sê. 6Ek glo nie Hy sou sy groot mag gebruik het om my te oorrompel nie. Nee, Hy sou na my ge­luister het. 7’n Mens wat reg leef, sou met Hom oor sake kon redeneer. Ek is oortuig daarvan dat my Regter my sou vrygespreek het. 8“Ek gaan oos, en Hy is nie daar nie. Ek soek in ’n westelike rigting, maar ek kry Hom nie. 9Ek het in die noorde en in die suide gesoek, maar ek kon Hom steeds nie kry nie. 10Die Here ken my lewe. As Hy my sou toets, sal Hy uitvind dat ek soos suiwer goud is. 11Ek leef soos Hy wil hê ek moet leef. Ek volg Hom en draai nie links of regs van die koers af nie. 12Hy het sekere voorskrifte ge­gee wat ons moet navolg, en ek kom dit na. Ek vat sy woorde baie ernstig op. 13Maar Hy bly soos Hy is, Hy verander nie. Wie sal dit waag om Hom te probeer verander? Hy doen net wat Hy wil doen. 14Hy het planne met my. Hy sal sorg dat wat Hy vir my beplan het, sal gebeur. Dit lyk of Hy baie sulke planne het. 15Omdat ek weet dat die Here daar by my is, word ek vreeslik bang. Hoe meer ek daaroor dink, hoe banger word ek. 16Die Here maak my so bang dat my hart wil gaan staan. 17Alles voel donker om my. Dit is of ’n digte donkerte my gesig wil toemaak. Maar al voel dit so, die donker sal dit nie regkry om my stil te maak nie.”

Job 38 – 41

In hierdie vier hoofstukke antwoord die Here Job se dilemma van… waarom gebeur daar slegte goeters met goeie mense. Hierin word vir Job gevra… hoekom dink jy gebeur alles oral soos wat dit gebeur, maak nou nie saak hoe goed of sleg jy wat gebeur ervaar nie… al wat Job weet is dat hy nie weet nie. Dan antwoord die Here… Job die rede is ‘ginnam’… daar is nie altyd ʼn bepaalde rede of logiese ver­klaring daarvoor nie… die vraag is… of jy my met die ginnam’s in jou lewe kan vertrou!

Job 42 1 – 6a

1Job het die Here geantwoord en gesê: 2“Ek weet dat U alles kan doen. Daar is nie­mand wat u planne kan laat skeefloop as U eers ’n besluit geneem het nie. 3U het ge­vra: ‘Wie is dit wat my besluite in twyfel trek, maar self niks kennis het nie?’ Dit is ek. Ek het oor dinge gepraat waarvan ek niks weet nie. Hierdie dinge was net te groot vir my klein verstandjie om te verstaan. 4“U het gesê: ‘Luister net ’n slag as Ek praat. Ek het vrae vir jou wat Ek wil hê jy moet ant­woord.’ 5“Ek het vroeër net gehoor wat ander mense van U sê, maar nou het ek U met my eie oë gesien. 6Ek trek alles terug wat ek ge­sê het.

 

Preek

Die waarheid het kante… my kant, jou kant en die regte kant, het Langenhoven op ‘n keer gesê. Hoe ouer ek raak hoe meer bewus is ek ook daarvan dat daar nog ‘n vierde kant van die waarheid kan wees… die ‘geen kant’ daarvan. Of as jy wil, daai grys of misterie kant waarin daar meer hoekom vrae as antwoorde voor is. Wel, in ‘n sekere sin was daar nog altyd hierdie misterie kant van die waarheid, soos iemand eenkeer gesê het… as jy ʼn kind is vra jy vrae sonder dat antwoorde belangrik is en as jy ʼn tieners is klink dit asof jy al die antwoorde ken sonder om vrae te vra. Maar as ʼn mens ouer raak kom jy agter daar is meer as een antwoord op elke vraag en die reg en verkeerd van die meeste antwoorde is ook nie altyd meer ewe duidelik nie. Bygesê… die probleem is dat die meeste hoekom vrae jou gewoonlik by verkeerde antwoorde uitbring… wat jou dan op ‘n dag in een of ander geloofskrisis laat beland of maak dat  jy die Here van allerhande goeters begin verdink waarvoor jy in elk geval g’n bewyse het nie.

 

Maar hoekom vra ons dan hierdie hoekom vrae? Wel, is dit dan nie hoe ʼn mens probleme opgelos kry. Job se vrinne het destyds ook Job se probleem so probeer oplos. Daai idee van as ek net kan weet wat met my aan die gebeur is dan kan ek dit mos reggemaak kry en so sorg dat ek beheer kan kry oor wat my oorgekom het. Job se vriende het gedog hul werk met wat ons sou noem alledaagse common sense, naamlik vir alles wat in die lewe gebeur, moet daar ‘n logiese verklaring voor kan wees. Ons leer ons kinders nog steeds hierdie soort common sense. Byvoorbeeld as jy verkeersreëls oortree, veroorsaak jy ongelukke en as jy dit gehoorsaam sal jy veilig by jou bestemming uitkom en as jy ‘n ma is sal jy nog byvoeg… onthou net my kind vinniger as 120kpu ry die engele nie meer saam nie. As sodanig is dit goeie raad, rêrige logiese common sense. Maar die oomblik as jy die common sense in trurat gooi, werk dit nie meer nie. Jy kan nie na enige iemand in die hospitaal loop wat in ‘n motorongeluk was en sê… jy’t seergekry, omdat jy ‘n verkeersreël oortree het nie. Of nog erger – die Here het toegelaat dat jy seerkry, want jy wil mos nie hoor nie. Jy kan nie die teëspoed wat iemand oorkom sommer netso aan ‘n spesifieke oorsaak of sonde loop staan en koppel nie. Want dis dan wat jy in die vaarwaters van “hoekom ek” en “hoekom dan so” beland wat jou op die ou end nêrens bring nie. Dis dan wat gewone common sense in ‘n klomp non­sense verander.

 

Maar hoekom vra ons dan al hierdie hoekom vrae as ons weet dat hulle nie behoorlik geantwoord kan raak nie. Wel, jy weet mos hoe werk dit … ek voel dis deel van my menswees om te wil weet hoekom! Want enige onbeantwoorde hoekom en waaroms krap die orde van die lewe wat ons in wil glo, helemaal deurmekaar. Gee my daai gevoel van dat ek beheer verloor oor wat om of in my aan die gang is. Want ons wil graag glo dat ons in ‘n geordende heelal bly waarin alles sin maak, daarom dink ons dat vir alles wat gebeur moet daar ‘n logiese verklaring voor kan wees. Job se vrinne het ook destyds so gedog. Vir hulle was ‘n mens se sukses in die lewe verseker deur altyd te sorg dat jy die regte goeters doen. As jy dus sukkel of in die moeilikheid raak, moes jy iewers êrens iets verkeerds gedoen het wat die logiese orde omgekrap het en as jy kan uitvind wat dit is, kan jy mos regmaak waar jy drooggemaak het en dan is alles weer okei soos dit hoort. Is dit nou common sense of nonsens ?

 

Hoekom dink jy grawe Job se vrinne so in sy chaos rond ? Want Job se krisis raak hul persoonlik, nie in terme van die krisis wat Job deurmaak nie, maar jy moet darem weet as hulle nie ‘n behoorlike verduideliking vir Job se probleem kry nie, val die logika wat hul wêreld regop hou helemaal uitmekaar uit. Dis mos nou gewone common sense om te weet dat as ek ‘n logiese verklaring kan kry oor die krisis waarin my buurman of wie ookal is, weet ek mos wat om te doen sodat so iets my nie dalk ook oorkom nie. Daar­om raak ons sulke eksperts wat presies weet hoekom dit altyd met ander mense sleg gaan tot daai dag dat ek self in die moeilikheid raak en oppak en dan…

 

Het dit jou al ooit opgeval dat die dag as ek in die moeilikheid raak sal ek alles doen om te probeer agterkom waarom so iets met my gebeur. Maar hierdie drang om te wil weet kry ek byna nooit as dit met my goed gaan nie… al gewonder hoekom so? Is dit dalk ʼn common sense ding dat die goeie goeters in die lewe is soort van vanselfsprekend, dit hoort so… dis mos eintlik wat ek van die lewe verwag en van die Here ook… daarom gn vrae daaroor nie. Maar die slegte goeters wat gebeur, dit kannie, daarom moet ek weet wat waar verkeerd geloop het. Daar moet ‘n rede voor wees, moet iets of iemand se skuld wees. Dit vat dan ook gewoonlik nie lank nie om alles en almal te verdink oor dit wat my oorgekom het. Waarin lê die common sense of nonsense in die manier van dink oor die goed en sleg wat my in die lewe oorkom… weet jy dalk ?

 

Is die eintlik probleem agter al ons hoekom vrae nie ten diepste om­dat ek nie weet hoe om met die misterie kant van waarheid saam te leef nie? Een van die spreuke skrywers het amper 3,000 jaar gelede gesê die eer van God lê in wat Hy verborge hou terwyl konings se eer lê in wat hulle in die lig bringSprke 25;2. Jy sal weet dat leiers en politici gerespekteer word in soverre hulle mense kan oortuig van hoe goed hulle alles in be­rekening gebring het  in die besluite wat hulle neem. Maar in godsdiens ontdek ‘n mens wat aanbidding beteken die dag as jy bewus raak van die misterie kant van God se manier van werk waarin die verstaan en verduidelik van menslike logika g’n sin maak nie. Dis hier waar jy begin ontdek wat rêrig glo van jou vra… daai vertroue in die Here se daarwees vir my al verstaan ek gʼn snars van wat my aan die gebeur is of waar die Here met my heen oppad is nie.

 

Kom ek vertel jou ‘n fiktiewe storie om iets van die dilemma van hierdie “hoekom vra” probleem te probeer illustreer. Kom ons sê iemand met die naam Piet stap soos dit sy gewoonte is elke dag presies om 5nm, terwyl al die moeë mense van die werk af op pad huis toe is, na die kafee op die hoek om ‘n pakkie sigarette te gaan koop. Skielik kom daar om die blinde hoek by die kafee ‘n onverskillige bestuurder aan en ry Piet onderstebo. ʼn halfuur later toe die ambulans uiteindelik daar aankom, sterf Piet. Waar­om sou jy sê is Piet dood ? ‘n Vriend van Piet sou waarskynlik gesê het… as hy maar liewer nie in spitsverkeer kafee toe geloop het nie, sou hy nie dood gewees het nie. Sy vrou sou dalk sê… as Piet opgehou rook het, soos ek al hoelankal by hom oor gekerm het, sou so iets hom nooit oorgekom het nie. Die ou van die stads­raad sou sê… as die kafee nie op ‘n blinde hoek gewees het nie sou Piet dalk nog geleef het. Die verkeers­man sou sê… as die bestuurder nie so vinnig gery het nie, sou hy die ongeluk kon vermy het. Die paramedici sou waarkskynlik sê… as die ambulans gouer op die toneel was, sou ons Piet se lewe kon red. In die hof sou die regter die motoris skuldig bevind aan strafbare manslag vanweë nalatige en roekelose bestuur. So het elkeen op sy manier ʼn bydrae van sy kant van die waarheid probeer maak oor waarom Piet nou dood is. Beantwoord enige van hierdie weergawes rêrig waarom Piet dood is of is dit hier, wanneer daar nie meer “asse” oorbly om te verduidelik hoekom Piet dood is , dat ons begin vra waarom het die Here dit toegelaat… waarom nou juis Piet van alle mense. Is dit dan nie miskien tog uiteindelik die Here se wil nie… maw sy skuld dat Piet dood is nie, ek bedoel daar moet tog ‘n rede voor wees, sê ons common sense of is ons almal eintlik besig om ʼn klomp nonsens kwyt te raak oor waarom Piet dood is… want niemand weet rêrig nie. Maar omdat nie een van ons bereid is om te erken dat ek rêrig nie weet nie, begin ons almal rondkrap en grawe op soek na daai common sense wat sê as ek net kan weet hoekom sal ek dit regkry om Piet se dood beter verwerk te kan kry… common sense of nonsens

 

Die meeste probleme waarmee ons te doen kry raak in elk geval nooit opgelos met enige ’hoekom’ vrae nie, want voor jy jou kom kry beland jy in dieselfde sirkelredenasies as Job se vrinne wat jou nêrens bring behalwe net in groter moeilikheid en meer hoekom vrae as dié waarmee jy begin het nie. Die vraag is nie hoekom nie, miskien eerder net – wat nou gemaak, want dis ‘n vraag waarop daar antwoorde kan wees.

 

Jy sien, die ‘hoekom vra’ as jy die dag moelikheid optel werk baie selde, want baie min dinge in die lewe is so logies as wat ons baie maal dink. As jy deur die bladsy blaai van wat elke dag in ons leefwêreld gebeur, eintlik in Prediker se wêreld van duisende jare terug al… hoor jy van mense wat moord pleeg wat jy dit nie van verwag het nie en ander wat jy dink sou, doen dit nie. Netso is daar goeie kerkmense wat ander mense verneuk en ander wat nooit kerktoe kom nie wat eerlik mense is. ʼn Mens hoor van getroude mense wat wat skelm verhoudings het en saamblyers wat dit nooit doen nie. Ons weet van mense wat jonk doodgaan en ander wat stokoud raak. Ek hoor jy praat van aanspreeklik- en verantwoordelikheid vat… ja, natuurlik speel dit ‘n rol! Maar ‘hoekom vra’ se antwoorde verklaar nie waarom sekere dinge in die lewe anders gebeur as wat ek gedog het dit sou of waarom slegte goed met goeie mense gebeur of goeie goeters met slegte mense nie. Job en sy vrinne moes destyds elkeen op sy eie manier ontdek hoe om te midde van die misterie van hierdie hoekom en waarom die Here God te bly vertrou vir wie Hy as God is en daarmeesaam te ontdek dat die Here eintlik mense uitnooi om deel te raak van sy heelmaak van sy wêreld wat stukkend geraak het as gevolg van wat mense daarmee gemaak het. Met ons common sense sal ons nooit God se manier van doen ontrafel kan kry nie, daarom sal ons moet leer om in elke situasie nie eers te vra hoekom nie – maar eerder… Here, wat nou?

 

ʼn Mens moet die boek Job klaar gelees kry anders kan jy iewers êrens in die middel loop vasval in al die redenasies en oor en weer gestryer oor wie dink wat nou eintlik in Job se lewe aan die gang is. Hier in die laaste bladsye as die Here vir Job en sy vriende konfronteer oor hul slimgeit oor wie en wat hulle dink met Job aan die gebeur is, staan almal daar met hul mond vol tande… in Job se woorde… Here, al wat ons weet, is dat ons rêrig nie weet nieJob 42. Dan antwoord die Here, soms is daar ʼn antwoord of verklaring op wat aan die gebeur is… Langenhoven se my kant, jou kant en die regte kant van die waarheid… maar meeste van die tyd gebeur dinge met jou ‘ginnam’ is die Hebreeuse woordjie wat daarvoor hier in Job38 – 41 gebruik word… sonder enige bepaalde of verklaarbare rede oor hoekom … dis die misterie kant van die waarheid. As jy by die misterie kant gekom het is dit nie wat jy verstaan van dit wat jy nie verstaan kan kry nie, maar of jy die Here dan kan vertrou met die misterie kant … die ‘ginnam’s’ wat jou oorgekom het.

 

Die storie van Job is ʼn ou wêreldse wysheid om te sê… of dit nou met jou goed gaan en of jy in een of ander lewenskrisis is… op een of ander manier lei dit tot ‘n ontmoeting met die lewende God self… word jy gekonfronteer met die vraag wie God vir jou dan is. Hierdie ontmoeting is ‘n persoonlike belewenis en nie ‘n stel feite wat met logika uit­redeneer kan word nie. Ja, natuurlik mag jy hieroor vra en wonder, selfs dit kritiseer of bevraagteken, maar dan ook te onthou dat rondom die nadenke en uitpluisdrang jy soos Job, die Here in die oë sal moet kyk en dan gaan dit nie oor wat weet ek nie, maar wat glo ek !!! ‘n Geloof wat dit kan vat dat die uitkoms van wat God doen of nie doen nie, niks te make het met hoe goed ek dit kan verstaan of verklaar kan kry nie, maar of ek Hom dan daarin kan vertrou vir die God wat Hy is. Die uitdaging om die dag as my hemeltoekyk verward loop raak oor wat my oorgekom het om dan nie net te vra… Here wat nou nie. Is dit ʼn maklike pad… nee, gladnie want hierdie vertrou pad loop wipplank altyd tussen hoop en wanhoop… tussen jy dink jy weet en gladnie weet nie…. tussen saamgeloop kry en te voel Here, moenie vir my wegloop nie.

 

Kom ek probeer dit vir jou saamvat, deur vir jou ‘n gedig voor te lees wat André le Roux du Toit gedig het. André, wat in Weskoppies gesertifiseer is vir skitsofrenie, beskryf sy ervaring van God se anderswees op ʼn kostelike manier in sy gedig, getitel … ‘ek dood’ – dit klink so…

ek dood … ek kom by hemelse poorte … ek klop aan relings …

ek sien petrus vroetel met bos sleutels… ek vra… meneer god tuis? … petrus mompel … ek geloofoortuigings? … invul op pienk vorm drievoud … ek sê … ek nie seker nie … ek my katkisasietoets geslaag … destyds in erfurthuis … ek trek daarna na hillbrow … ek skree in pinksterkerke … ek hande-in-die-lug … ek gooi wagtoring mense uit woonstel… ek glo wederkoms antichris hel engele … ek na weskoppies … ek skitsofreen … ek roomskatoliek anglikaan … ek studeer filosofie … ek séances … ek orals … god alleen weet … meneer … god … petrus krap kop … glimlag dan, sluit oop … gaan maar binne … god nie godsdienstig … god liefde

 

Skrywer:  Dr Johann Voges




Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense? – Jan van der Watt

Johan vra:

Antwoord

Prof. Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ‘n eeu-oue vraag, wat handel oor die almagtige en goeie God in wie se teenwoordigheid daar steeds bose en slegte dinge gebeur, veral ook tussen sy eie goeie mense. Waarom laat Hy dit toe? Hy is dan ‘n God van liefde – dit is tog nie liefde om jou kinders te laat ly nie, ens. Deur die eeue is daar baie antwoorde gegee. Hier gaan ek net een of twee noem wat in die Bybel sentraal staan.

Die boek Job hanteer onder andere die vraag. Job was ‘n goeie man, verloor toe alles en kry baie swaar. Uiteindelik het dit weer goed met hom gegaan. Hy het juis geworstel met die vraag waarom hy as goeie, regverdige man so moet ly. Een ding wou hy nie aanvaar nie en dit is dat God hom gelos het. Nee, daar moet ‘n ander antwoord wees! Uiteindelik kom antwoord God hom, maar gee hom nie ‘n direkte antwoord nie. Hy wys vir Job die skepping en vra of Job daar was toe dit alles tot stand gekom het. Hy wys vir Job die diere – vra of Job ‘n krokodil vir sy dogter as speelding sal gee (dit is God se ‘speelding’), of waarom ‘n voël (volstruis) ‘n perd kan weghardloop, maar nie kan vlieg nie. Met ander woorde, As God werk, werk Hy ‘anders’ omdat Hy anders is. Wat Hy doen verstaan mense nie altyd nie. Ons moet besef, Hy is God en ons is mense. Daarom kan ons nie alles verstaan of verklaar nie en moet maar berus in die grootheid van God. Die belangrike punt is egter: Job se lyding was nie sommer vir niks nie. Aan die begin van die verhaal praat God met die duiwel wat God uitdaag – hy sê vir God dat Job huigel en God net vir die goeie dinge dien. Sodra God die goeie dinge wegvat sal Job vir God los. God stem nie saam nie en laat die duiwel toe om alles van Job af weg te vat. Op daardie oomblik het God sy eie eer, sy eie woord op die spel geplaas. As Job faal beteken dit God het misluk en was verkeerd oor Job – Satan was dan reg en het dan gewen. In sy lyding het Job eintlik ‘n geweldige vrag op sy skouers gedra, sonder dat hy dit besef het: hy het die eer van God op sy skouers gedra. Dit bevestig net weer: hoewel Job nie verstaan het waarom hy ly nie, kon hy as mens nie die groter plan van God raaksien nie. Hy het nie besef wat regtig aangaan nie. Vir ons vandag beteken dit dat ons nie alles sal kan verstaan of verklaar wat met ons gebeur nie. Ons moet vertrou dat God in beheer is en dat Hy die groter prentjie sien.

Dus, een antwoord is dat ons nie alles in die lewe sal kan verklaar nie. Die lewe is nie soos ‘n wiskundesom wat  ons kan uitwerk nie, bloot omdat ons die God wat ons aanbid nie soos ‘n wiskundesom kan uitwerk nie.

Deel van hierdie antwoord is ook die lewe van Jesus – as die liefde van God sou beteken dat alles net altyd goed moet gaan, sou dit beteken dat God nie vir Jesus liefgehad het nie (ook nie vir Paulus, of Johannes nie, want hulle het ook gely). Jesus het gely – gelukkig het Hy die plan van God geken. Tog sê dit vir ons dat ons nie God se liefde en teenwoordigheid direk moet koppel aan hoe dit met ons gaan nie. Die Bybel sê dit werk nie altyd so nie. Daarmee het God ons egter nie sommer in lyding gelos nie. Soos met Jesus (lees Fil 2:6-11) en Job wag daar ook in die toekoms die saligheid en heerlikheid wat niks kan oortref nie. Uiteindelik seëvier God se liefde en kry die gelowige net wat goed is.

Die boek Openbaring voeg ‘n ander perspektief by: ons leef nie in ‘n perfekte wêreld nie. Die bose (Satan, die ou draak en sy metgeselle – die diere wat uit die aarde en see opkom: Open 12-13) doen alles in hulle vermoë om God se mense en sy werk in hierdie wêreld te probeer afbreek (lees maar weer Open 12-13). Die bose is dus verantwoordelik vir die gemors wat in die wêreld gebeur. Dit beteken nie dat alles buite God se beheer is nie. Nee, Open 4 vertel vir ons dat God op die troon van die heelal sit, en dat almal uiteindelik voor Hom sal verskyn (Open 20) om geoordeel te word. God is in beheer, hoewel die duiwel nog sy laaste stuiptrekkings hier op aarde gee. Waarom gaan dit so sleg? Omdat die bose nog op aarde vernietiging aanrig en die gelowiges ontkom dit nie. Tog wag daar vir hulle die nuwe Jerusalem wat alles in alle heerlikheid sal oortref.

Hier is twee antwoorde uit die Bybel. Ons kan natuurlik wonder as dinge met ons skeefloop. Tog moet ons nie te veel antwoorde hier soek nie, want God is groter as die antwoorde wat ons kan uitdink. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Job se herstel

Job se herstel

(Job 42:10).

Geen wonder dat God die blymoedige gewer lief het nie (2 Korintiërs 9:7). Dit is ook interessant om te sien dat Job se herstel kom nadat hy sy vriende vergewe het en vir hulle gebid het. Jesus self beklemtoon hierdie benadering: Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word (Lukas 6:37 – 38).

Job se verhaal is ‘n les. Vir die eerste veertig hoofstukke van die boek kom hy voor allerhande vorme van lyding te staan. Soms lyk dit asof hy onder die las buig, maar nooit breek hy nie. Hy het rede gehad om oor homself te twyfel – hy kon selfs sy siening van God verander het – maar hy doen dit nie.

  • God sê nooit vir Job waarom alles met hom gebeur nie.
  • Aan die einde vind daar ‘n gesprek tussen God en Job plaas waarin Job se karakter bevraagteken word. Ons sou graag wou hê dat, noudat alles verby is, God vir Job sê waarom alles gebeur het.
  • Job word weer voorspoedig.
  • Hier is twee baie belangrike lesse om te leer:

    • Voorspoed is nie altyd die gevolg van harde werk nie. Daar is baie mense wat baie hard werk en nooit voorspoedig word nie. Hier maak God vir Job voorspoedig omdat Job getrou was.
    • Job is voorspoedig, nie net omdat hy sy lyding verduur het nie, maar ook omdat hy vir sy vriende gebid het al het hulle nie veel bygedra om sy lyding te verlig nie.

    Luister net na Samuel se woorde oor gebed: Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie (1 Samuel 12:23). Bid ons vir ander?

    Job bid vir sy drie vriende (2)

    Job bid vir sy drie vriende (2) – Francois Malan

    Johan het ‘n vorige vraag gevra. Prof Francois Malan het die geantwoord. U sal dit kry onder: Job bid vir sy drie vriende. Nou het Johan ‘n opvolgvraag gevra:

    Baie dankie vir die antwoord. Dit lyk my egter navrae is `n moeilike saak,want dit bring nuwe vrae na vore.

    In hierdie geval byvoorbeeld – wonder mens waarom Elihu se toespraak ingevoeg is,aangesien dit tog ook die sentrale mistasting van beloning op reg lewe en straf op sonde as inhoud gehad het.

    En dan ook God se reaksie op die drie vriende se wanvoorstelling van Hom. Kwaad en wou hulle straf. Ek besoek pasiënte as leke-vrywilliger by `n groot hospitaal(as deel van `n Christelike organisasie wat die toestemming het van die hospitaalbestuur). Die kwessie van siekte is myns insiens nie `n eenvoudige saak nie,en ek het sekerlik die Here al wanvoorgestel aan pasiënte in hulle besondere omstandighede. Wat is die Here se houding hieroor in die lig van Job.

    Ek was bewus daarvan dat die boek Job as `n wysheidsgeskrif beskou word. Volgens my persepsie was die hele boek `n wysheidsgeskrif. Dit lyk my egter volgens die antwoord asof daar wel `n werklike Job was soos geskets in die begin hoofstukke en die laaste hoofstuk. Indien dit reg is,gee dit my `n nuwe perspektief.

    Antwoord:

    Prof Francois Malan antwoord:

    Die boek Job sê self niks oor die skrywer, die tyd of plek van ontstaan nie. Wat ons daarvan sê, is hipoteses wat uit die boek self, vergelyking met ander Bybelboeke en uit buite-Bybelse gegewens afgelei word. Wat die Joodse rabbi’s, teenstrydig met mekaar, oor Job sê, word met ‘n knypie sout geneem; ook die Siriese tradisie dat Job uit Gauran Oos van die Jordaan (Eseg.47:16,18) afkomstig sou wees. Die land Us van Job 1:1 kan na die Oos-Jordaanse gebied verwys, vgl. Job 1:3 ‘onder die mense in die ooste’. Maar Klaagliedere 4:21 plaas Us in Edom, suid van Palestina (vgl. Jerem.25:20). Volgens Job 2:11 kom Bildad van Teman in Edom (Eseg.25:13; Amos 1:12, waar daar wyse manne was Jer.49:7); Bildad uit Suag, die naam van een van Abraham en Ketura se ses seuns (Gen.25:2); Sofar uit Naäma (verder onbekend).

    1 ‘n werklike Job

    Esegiël 14:14,20 praat van Job in dieselfde asem as van Noag en Daniël, as ‘manne van ouds wat volgens my wil geleef het’. Jakobus 5:11 verwys na die volharding van Job as voorbeeld van lyding en geduld, wat die Here laat uitloop het op seën, uit sy ryke barmhartigheid en ontferming.

    2 God se reaksie op die drie vriende se wanvoorstelling van die Here

    Elifas word as versigtigste en besadigde voorgestel; Sofar is die grofste van die drie en herhaal ru wat die ander gesê het; Bildad hou tussen die twee.

    Hulle uitgangspunt is dat God die sonde straf, en die straf bestaan in rampe. Daarmee verklaar hulle Job as sondaar. Die gedagte het hardnekkig in Israel voortgelewe en moes nog deur Jesus bestry word in Johannes 9:2-3, wat die blindgeborene se posisie vanuit God se siening verklaar ‘sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word’. In Lukas 13:1-5 word die saak van die menslike kant benader, as ‘n oproep tot bekering, wat tot ‘n mate ooreenstem met Elihu se standpunt in Job 33:24.

    Die boek Job gaan oor die soewereiniteit van God. Dit erken Job in 1:21-22. Dit doen hy nadat sy vrou hom aanspoor om God te vloek soos die satan wil hê. Ons kan in die algemeen weet dat God met alles sy bedoeling het. Maar wat sy bedoeling in elke spesifieke situasie is, is nie vir ons om ten volle te verstaan nie, ook nie vir Job nie.

    Na Job se eerste spontane antwoord, word die fundering daarvan getoets met die gesprekke met sy vriende. Hulle beskouing dat God die goeie beloon en die kwaad straf, met die aandrang dat Job hom moet bekeer om dit weer beter te kry, lyk amper soos satan se insinuasie. Maar God is nie gebonde aan die tradisionele vergeldingsleer nie. En Job begin die soewereiniteit van God aantas as hy God beskuldig van onregverdigheid. Daarom moet hy weer leer om te buig voor God se majesteit. Die drie vriende se gesprekke lei tot ‘n verdieping van Job se geloof en sy verhouding tot God deur die beproewing van hulle aanvalle. Job vervloek wel die dag van sy geboorte, maar nie vir God, soos sy vrou voorgestel het nie. Die vriende bring die waarom vraag wat Job nog nie gevra het nie. In sy eerste reaksie 1:21 het hy die rampe in aanbidding aanvaar. Die mens se reaksie oor die soewereiniteit van God is aanbidding! So word die wese van godsdiens in die boek Job geteken. Aanbidding ondanks alles, sonder vrae.

    Job kom in verset teen die beskuldiging dat hy gesondig het. Die gesprek wat daaruit volg lei daartoe dat Job tot die gevolgtrekking kom dat God hom as vyand behandel, God is onregverdig. Die gevolgtrekking kom uit die satan. Maar Job wag nog steeds dat God, van wie hy verlate voel, die moeilikheid sal oplos. Hy skuil by dieselfde Persoon wat hom pla. Sy gemis aan God is groter as die kwelling van sy rampe. Hy hou vas aan God wat hom slaan. Jakobus 5:11 noem dit volharding.

    God praat niks oor Job se onskuld nie, sy antwoord is slegs ‘n vertoon van sy majesteit in die storm, en dan aanbid Job weer. Job se onskuld het geen uitwerking op God se werke nie. Christus bewerk ons onskuld voor God, maar redding is nie die wese van die godsdiens nie, nl. aanbidding nie. Christus het deur sy reddingswerk dit weer moontlik gemaak dat ons God wil en kan aanbid.

    God bestraf Job nie oor sy sonde nie, maar vra slegs hoe Job dit waag om sy raadsbesluit te verduister met woorde sonder verstand in sy dispuut met sy vriende. Dan erken Job die majesteit van God, dieper as tevore. Na God se eerste verskyning sit hy sy hand op sy mond. Na die tweede verskyning erken hy dat hy nou eers vir God in sy grootheid gesien het.

    3 Elihu se bydrae

    Tussen Job se woorde en God se vertoon van sy majesteit staan Elihu se redevoering (32-37). Hy torring aan die tradisionele opvatting, dat daar vir rampe geen ander verklaring is as sonde nie. Hy praat van regverdiges wat in boeie gaan om hulle van hoogmoed te genees (36:7-9) en praat van ‘n losprys (33:24). Dit is ten slotte die grondslag van vrede met God.

    Wat Elihu sê is belangrik. Hy, Elihu, sien die redenasies het vasgeloop. Hy vind foute by die vriende en by Job (32:2-5). Hy besef ook wat God moet sê. Hy probeer nie dié verklaring gee nie, maar gee tog iets ter verklaring (34:31-33; 35:9-16; 36:1vv). Hy maak hom los van die drie vriende se starre opvatting. Hy gee ‘n verklaring wat op uitkoms gerig is, waar God se woorde laat blyk dat daar geen verklaring vir die mens is nie. Hy herhaal wat die vriende gesê het, en loop God se woorde in 38-41 vooruit. God het hom gebruik om dié dinge te sê. God wil dit nie self sê nie. God praat as die Verhewene, maar laat Elihu deur sy uitleg die boek help skryf. Party beweer dat die woorde van Elihu juis van die finale skrywer kom, wat hy hier invoeg.

    Ook hoofstuk 28, oor die verborgenheid van die wysheid, lyk of dit ‘n invoeging is. Job erken hier met volle berusting die begrensdheid van die menslike kennis. Dit lyk so asof die twee gedeeltes eintlik na die woorde van God in 38-41 moes ingepas wees, maar dat die skrywer hulle hier ingevoeg het, om hy God se woord aan die einde as ‘n klimaks wou stel.

     

    Skrywer: Prof Francois Malan