2 Johannes vers 9 en 10 – Francois Malan

‘n Leser vra:
Kan u asb. 2 Joh vers 9,10 aan my verduidelik.

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
9 ‘Elkeen wat nie bly by die leer van Christus nie, maar ‘vooruitgaan,’ het God nié;…’ Die eienaardige figuurlike gebruik van die woord ‘vooruitgaan’ word waarskynlik deur die dwaalleraars gebruik, met hulle sogenaamde meerdere kennis en progressiewe insig, dat hulle nie langer by die naïewe geloof in Christus as God en mens kan bly nie; hulle beweer blykbaar dat hulle by die naiewe geloof verby ontwikkel het.

Maar die oudste sê dat elkeen wat nie by die ware leer van/oor Christus bly nie, ‘het God nié’ – Christus bly nie in hom nie, en hy verloor ook die Vader. 1 Jn 2:23 sê: ‘elkeen wat die Seun verloën, het ook nie die Vader nie’ – het nie ‘n persoonlike en intieme verhouding met die Vader nie (In Jn 15:23 sê Jesus: wie My haat, haat ook my Vader).

‘Die leer van Christus’ – in Jn 7:16-17 het Jesus gesê: Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het. Hierdie leer het die apostels verder gedra – ‘die leer oor Christus’ – wat self die boodskap van God is (Die Griekse voorsetsel kan van of oor aandui) . Vooruitgang wat nie bly by die leer wat Jesus van sy Vader af gebring het nie, gaan by God self verby, en laat die ware God agter.

‘…wie in dié leer bly, hý het die Vader en die Seun.’ Terwyl die dwaalleraar die Seun en die Vader verloor het, bly die ware gelowige by die leer van/oor Jesus as Seun van God wat vir ons mens geword het, en daarom het hy gemeenskap met die Vader en die Seun deur die Gees van God, wat in ons kom woning maak om altyd by ons te bly om ons te lei, te versterk, en te bewaar ( 1 Jn 3:23-24). In Jn 14:23 het Jesus gesê: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon; 1 Jn 1:3 sê: ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

10 ‘As iemand na julle (meervoud: as gemeente, die ‘dame en haar kinders’ van vers 1) kom, en nie hierdie leer oordra nie, moet julle hom nie in ‘n huis (waarin julle vergader) ontvang nie, en hom nie groet nie’ – nie ‘n welkomsgroet soos in v3 of ‘n afskeidsgroet nie – wat gewoonlik vreugde en voorpoed of die seën van die Here toewens. Dit word ‘n te groot geleentheid vir die dwaalleraars om die gemeente te probeer oortuig om hulle verkeerde leer te aanvaar, en so die waarheid te verkrag. Dit beteken nie dat nie met liefde na die dwaalleraars uitgereik moet word nie, maar liefde is nie eg sonder die waarheid nie, en die waarheid kan nie om liefdeswil gekompromitteer word nie.

11 Die rede vir Johannes se aanwysing in vers 10 word hier gegee. ‘n Leer wat Christus ontken en mense so van die Vader beroof, is nie slegs ‘n ongelukkige fout nie, maar ‘sy bose werke’ wat mense na die verderf kan lei, waaraan jy meedoen deur die dwaalleraar met ‘n groet aan te spreek. In die Oosterse wêreld is die groet meer as ‘n blote formaliteit; dit bied aan die persoon wat jy groet heil en seën aan, en verplig jou tot gemeenskap. In die gemeente is dit ‘n uitdrukking van verbondenheid tussen mede-gelowiges, kinders van God se gesin. Deur die misleier met ‘n seën te groet het jy deel aan sy bose werke, word jy medeverantwoordelik daarvoor en bied jy aan hom ’n vrybrief vir sy valse leer en optrede. Vir die oudste is dit ‘n baie ernstige noodsituasie. Dit gaan nie hier bloot om ‘n wêreldsgesindheid nie, maar om die uitsluiting van ‘n slinkse aanbieding van super-christelikheid wat die ware Christus verloor (vgl. Mt 10:12-15; 1 Kor 10:21).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Seun van Jona of Johannes? – Francois Malan

Wollie vra:

Graag sal ek wil weet. Volgens die 33 uitgawe van die Bybel was Simon Petrus die seun van Jona. In latere uitgawes van die Bybel word gepraat van Simon Petrus die seun van Johannes. Kan u asb vir my n uitklaring daarvan gee.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Grieks word die twee name verskillend geskryf

In die Griekse teks van Johannes 1:42 sê Jesus: ‘jy is Simon die seun van Johannes’ (die Grieks het die genitiewe vorm ’Iooánnou wat beteken ‘van Johannes’) volgens twee van die oudste manuskripte uit ongeveer die jaar 200 n.C., een uit die derde eeu n.C., twee uit die vierde eeu n.C. wat deur die 1983-vertaling gebruik is, terwyl latere manuskripte vanaf die vyfde eeu n.C., wat destyds deur die 1933 vertaling gebruik is, lees ‘seun van Jona’ (Griekse genitief vorm’Iooannâ) So ook in Joh 21:15,16,17 ‘van Johannes’ teenoor lateres se ‘van Jona.’

Die verandering van Johannes na Jona deur latere afskrywers het waarskynlik gebeur deurdat hulle die Johannesteks aangepas het by die Griekse teks van Matteus 16:17 se ‘Simon Barjona,’ wat die Hebreeuse vorm netso in Grieks (Barioonâ) oorgeneem het. ‘bar’ in Hebreeus beteken ‘seun.’ Die 1933 teks het dit tot ‘Bar-Jona’ verander, amper soos twee manuskripte uit die 8e eeu n.C. wat dit as twee woorde geskryf het ‘Bar Jona.’ Die 1983 teks skryf dit soos in die oudste manuskripte as Barjona.

Die vrou wat in Grieks in Lukas 8:3 en 24:10 ‘Joanna’ (’Iooánna) genoem word, is deur die Hollandse en Afrikaanse vertalers as ‘Johanna’ vertaal. Die Griekse vroulike vorm kon meegehelp het aan die verwarring.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Kinders, vaders en jongmense – Francois Malan

Japie vra:

Wil Johannes iets besonders vir ons gee deur vir kinders ,vaders en jongmense te skryf.
Ek sal baie wardeer as u ‘n verduideliking kan gee oor die gedeelte.
Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Eintlik verwys die drie terme wat in hierdie digterlike gedeelte gebruik word na dieselfde persone, die lede van die gemeente aan wie Johannes skryf., waar daar wel kinders, jongmense en ouer mense is; maar die toeseggings aan die drie groepe is vir almal bedoel, en daarom is dit ‘n digterlike manier wat elke lidmaat aanspreek.

 

2:12 Die Griekse verkleinwoord teknia word gebruik as ‘n troetelnaam vir ‘n persoon van enige ouderdom met wie daar ‘n besondere verhouding is, en kan bv. vertaal word as ‘my liewe kindertjies’ of ‘my dierbare vriende,’ en word in 1 Johannes gebruik in 2:2,12,28; 3:7,18; 4:4; 5:21 vir die gemeentelede aan wie Johannes skryf (vgl. bv ‘geliefdes’ in 2:7; 3:2,21; 4:1,7,11 en in 3 Johannes 1,2,5,11.

‘omdat julle sondes vergewe is op grond van (dia) sy Naam.’ Die gelowiges se sondes is deur God vergewe en dit bly so (is vergewe – passiewe voltooide tyd). ‘sy Naam’ verwys na alles wat God in die persoon en bediening van Jesus Christus gedoen het. Dit is die rede waarom God hulle sondes vergewe het en gelowiges as God se gereinigde ‘kindertjies’ kan lewe (Hand 4:12). Jesus Christus is die fondament van ons ganse lewe en die stand van die Christen, mense wat aan Hom verbind is en sy Naam dra.

 

2:13 Die ‘vaders’ van die gemeente kan verwys na die ouer persone (moeders ingesluit) of die meer ervare gelowiges, maar ‘die kennis van Hom wat van die begin af is’ is eintlik die voorreg van elke gelowige. Joh 1:1 sê reeds dat die Woord van God wat mens geword het van die begin af was, dat Hy by God was en self God was – die gelowige is seker dat Jesus God is, teenoor die dwalende Joodse gelowiges, wat Jesus se Godheid betwyfel en teenoor die ‘verligte’ Hellenistiese gelowiges, wat op hulle kennis van God vertrou en nie op Jesus wat God kom openbaar het nie.

Die ‘jongmense’ kan na die jeug in die gemeente verwys, of na nuwe gelowiges. Maar die oorwinning oor die Bose verwys na alle gelowiges (‘jonges’ neanískoi, julle het oorwin nenikékate het in Grieks ‘n fonetiese verband in die digterlike gedeelte). ‘Julle het oorwin’ is ook in die voltooide tyd, wat verwys na ‘n oorwinning in die verlede wat daaglks voortgaan, nadat Jesus aan die kruis die Bose oorwin het (Jn 12:31; Kol 2:15) en ons daaglikse toepassing daarvan deur nie toe te gee aan die Bose en ons sondige selfsugtige begeertes nie. Van die 28 keer wat die werkwoord ‘oorwin’ (nikaoo) in die Nuwe Testament voorkom, kom 24 daarvan in die Johannese geskrifte voor en ‘oorwinning’ (nike) slegs in 1Jn 5:4.

Wat die gelowiges en die kerk in verse 12-13 onderskei van valse aanspraakmakers op geloof, word opgesom as vergifnis van sonde deur Christus, kennis van God deur Jesus, en die oorwinning oor die duiwel deur hulle verbondenheid aan Jesus se lewe en sterwe.

 

12:14 In hierdie vers word die stellngs in verse 12-13 opgesom en ‘n bietjie uitgebrei as inleiding tot die vermanings wat daaruit voortvloei in verse 15-17. ‘Ek het aan julle geskryf’ – met verwysing na wat in die voorgaande twee verse geskryf is.

‘Kinders’ of: ‘my liewe kindertjies’ (paidia in 2:14,18 is ook ‘n troetelnaam soos vers 12 se ‘my liewe Kindertjies teknia) as aanduiding van al die gelowiges, van oud tot jong, vaders en jonges ingesluit. ‘omdat julle die Vader ken’ (in vers 12 was dit omdat hulle sondes vergewe is);

‘Vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is (dieselfde as in vers13)

‘Jongmense, omdat julle sterk is, en die woord van God in julle bly (uitbreiding), en julle die Bose oorwin het’ (herhaling van v13).

Deur Jesus te ken, ken ons die Vader (Jn 14:7; vgl. 14:10: die Vader is in Jesus en Jesus in die Vader). Die gelowiges is geestelik sterk deurdat die woord van God in hulle bly, deur die inwoning van die Heilige Gees, die Gees van die waarheid, wat ons alles leer en herinner aan alles wat Jesus vir die dissipels gesê het (Jn 14:17,26). Daarom is die egte gelowige in staat om die Bose te oorwin (soos Jesus Hom oorwin het deur gebruik van die woord van God, Mat.4:4,7,10).

 

In verse 12-14 was die werkwoorde in die voltooide tyd – wat God reeds aan die gelowiges gedoen het, en waarvolgens hulle nou lewe. In verse 15-17 is die werkwoorde waarskuwings wat in die teenwoordige tyd gegee word, waarvolgens hulle nie behoort te lewe nie. Waar 12-14 telkens die nuwe orde in drie parallelle frases bespreek, wat met Jesus se koms aangebreek het, verwys verse 15-17 in drie parallele frases na die ou orde wat nog voortbestaan tot die wederkoms van Jesus, en die verhouding van die gelowige teenoor die voortgaande ou bedeling:

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Gelowiges moet spesialis spoorsnyers word

Gelowiges moet spesialis spoorsnyers word – Kobus Kok

Vandag het Prof Nelus Niemandt by ‘n ontmoeting ‘n belangrike punt gemaak. In ons tyd, volgens Niemandt, word ons oorspoel met inligting of data oorstroming. Vir hierdie rede is onderskeiding een van die belangrikste vaardighede wat gelowiges in Millennium drie kort. Ons leef in ‘n wêreld van kodes, tekens en metafore.

Sit jy jou selfoon aan, dan sleutel jy jou kode in. Maak jy oorplasings op die internet, dan sleutel jy jou geheime kodes in. Ons wêreld is vol tekens wat gekodeer moet word. Katastrofiese gevolge kan volg indien ons ‘n gebrek aan kodering het. Dit was ook die geval in die tyd van Jesus. Ons sien dikwels hoe die Bybel vir ons prentjies skets van mense wat die spoor gemis het, of wat nie die tekens van die tyd reg kon lees nie. Dink maar aan Johannes 10 waar Jesus in beelde of metafore met sy gehoor praat. Jesus sê dat hy die goeie herder is, en die ingang van die kraal. Niemand kan na die Vader gaan as dit nie in en deur Jesus gebeur nie.Tog staan daar in die teks dat al het Jesus in beelde en metafore met hulle gepraat, het die wat na hom geluister het nie verstaan nie. Hulle kon nie die spoor lees nie. Hulle het nie die semiotiek of tekens van die tyd reg gelees nie. Dieselfde gebeur met Thomas in Johannes 20. Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Jesus aan ʼn paar van sy volgelinge verskyn. Hulle het vir die res vertel dat hulle vir Jesus gesien het. Thomas het nie geglo nie. Hy het gesê dat hy definitief nie sal glo nie, alvorens hy fisies sy hande in Jesus se wonde steek. Ongelowige Thomas kon aanvanklik nie die geestelike spore sny nie. Hy kon nie die boodskap kodeer nie. Dieselfde gebeur met die Emmaus-gangers. Hulle wandel saam met Jesus op die pad, maar kon nie die geestelike spore sny nie. Die ryk jongman slaag ook nie daarin om die spoor te sny of die tekens van die tyd reg te lees of raak te sien nie.

 

Tog is dit telkens die blindes en die onrein siekes wat wel raaksien en die tekens reg lees. In Johannes 10 is daar ʼn duidelike boodskap. Die wat die stem van die Herder hoor en die tekens reg lees, is die wat na groen weivelde geneem word en lewe in oorvloed kan beleef (Joh 10:10). Diegene wat by die hek ingaan, is die wat geslaag het om reg te onderskei.

 

Nelus Niemandt vertel van die bekende Karl Barth wat eendag in ʼn tram in Basel ry. Langs hom was daar ʼn student. Barth het die student vriendelik gegroet en agter gekom dat die persoon ʼn besoeker in Basel was. Barth vra toe vir hom wat hy in Basel doen. Die jong man sê toe dat hy en sy vriendin die bekende Karl Barth se Universiteit wil besoek. “Ken u vir Karl Barth?”, vra die student. “Ja”, sê Barth, “Ek het vanoggend sy hare geskeer en gekam”, sê Barth. By die busstop by die Universiteit klim hulle uit, en die jong student se vriendin wag toe ook by die busstop. Die jong man stel toe sy vriendin voor aan die ouer man wat hy pas ontmoet het. “Jy sal nie glo wie dit is nie!” Hierdie man is Karl Barth se barbier!”.

 

Dit is die gevaar as mens die tekens van die tyd of die semiotiek verkeerd lees. My en jou uitdaging is dat ons opgeskerp moet word om die geestelike tekens van die tyd reg te lees en die semiotiek te dekodeer.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok