Josef en Jakob se taal – Hermie van Zyl
Willie vra:
- Watter taal het Josef en die Egiptenare gepraat tydens sy verblyf in Egipte ?
- Het Jakob en sy seuns in dié tyd Hebreeus gepraat ?
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Ek beantwoord vraag 1 en 2 saam omdat mens hulle nie werklik uitmekaar kan haal nie.
Allereers moet mens sê dat die voorgeskiedenis van die Israeliete, wat historiese detail, datums en taal betref, in ‘n taamlike waas gehul is. Die rede hiervoor is dat dit baie moeilik is om die gebeure wat in die Bybel – in hierdie geval die Ou Testament – opgeteken is, met buite-Bybelse bronne te korreleer. In hierdie verband praat ons gewoonlik van ‘n relatiewe en absolute raamwerk. Eersgenoemde is die poging om net die Bybelse gegewens self in ‘n geheelraamwerk te plaas (dit is klaar moeilik genoeg); laasgenoemde is om hierdie raamwerk en buite-Bybelse gegewens te sinkroniseer sodat ‘n totale historiese prentjie geskilder kan word. Veral wat die voorgeskiedenis in Genesis betref, skets die Bybel ‘n verhaal met weinig historiese dekor. Dit is soms asof die Bybelfigure op ‘n planeet van hul eie is, asof daar niks anders in daardie tyd gebeur het as wat in die Bybel opgeteken staan nie. Twee voorbeelde sal die dilemma illustreer: (1) daar is geen vermelding van enige van die aartsvaders – Abraham, Isak en Jakob – in enige buite-Bybelse bron nie, en daar sal waarskynlik ook nooit getuienis hiervan opduik nie, gewoon omdat die aartsvaders nie belangrike antieke figure was soos konings wat ‘n impak op die wêreldgeskiedenis gemaak het nie. (2) Daar is geen vermelding van die Israeliete se verblyf in Egipte in eksterne bronne nie, ook nie van die name van die Egiptiese farao’s wat in die Bybel genoem word wat ons in staat kan stel om die Israeliete se verblyf min of meer te korreleer met buite-Bybelse historiese data nie. Die beste wat historici kan doen, is om scenario’s op te stel vanuit Bybelse gegewens en dit so ver moontlik in verband te bring met ‘n tydperke en gebeure vanuit die algemene geskiedenis waar hulle die beste inpas. Weens hierdie vae aanduidings spreek dit vanself dat geleerdes soms drasties van mekaar verskil oor hierdie scenario’s. Tog is daar ‘n soort konsensus wat ons in staat stel om die vrae van die vraagsteller by benadering te antwoord.
Die taal waarin die Ou Testament opgeteken is, is Hebreeus. (Enkele dele is ook in Aramees.) Hieruit sou mens kon aflei dat die aartsvaders Hebreeus gepraat het. Maar dit sou ‘n oorvereenvoudiging wees. Laat ek verduidelik. Hebreeus behoort tot die Noordwes-Semitiese taalgroep. Hierdie taalgroep sluit ook ander Semitiese tale in soos Ugarities, Fenisies, Moabities en Aramees. Hebreeus is waarskynlik in Palestina (Kanaän) gepraat van ongeveer 1500-500vC, waarna Hebreeus deur Aramees verdring is toe laasgenoemde die omgangstaal van die uitgebreide Persiese Ryk geword het. Aramees was ook die taal van die Jode in die tyd van Jesus. Hebreeus het wel as religieuse taal bly voortbestaan, maar net in geskrewe tekste, soos die Ou Testament.
Maar watter taal het die aartsvaders gepraat? Abraham kom oorspronklik uit Ur en Haran in Mesopotamië (Gen 11:27-32). Hiervandaan het hy later na Kanaän verhuis (Gen 12:5-6). Geleerdes stel dié verhuising op enigiets tussen die 20e en 17e eeu vC, met die 1800’s die waarskynlikste opsie. Toe Abraham nog in Mesopotamië was, was hy en sy mense waarskynlik deel van die sogenaamde Amoritiese (“Westerse”) nomade wat hulle in Mesopotamië gevestig het. Hulle sou dan “Amorities” gepraat het. Sommige geleerdes bring dit in verband met ‘n vroeë vorm van Aramees, ‘n Noordwes-Semitiese dialek wat in Bo-Mesopotamië ontwikkel het. Ons weet dat Abraham se familie wat in Mesopotamië agtergebly het, Aramees gepraat het. Ons lees byvoorbeeld in Gen 31:47 dat Jakob ‘n ooreenkoms met sy oom Laban aangegaan het en ‘n klipstapel as getuienis hiervan opgerig het. Die naam van die klipstapel is in “Laban se taal” en in “Jakob se taal” opgeteken. Die naam van die klipstapel in “Laban se taal” is ‘n Aramese woord (vgl ook Gen 31:24). Die naam van die klipstapel in “Jakob se taal” is ‘n Hebreeuse woord, maar ons kan nie hieruit summier aflei dat Jakob die Hebreeus gepraat het wat in ons Ou Testament voorkom nie, want die skrywer noem bloot wat die klipstapel se naam in Hebreeus is ter wille van die Hebreeuse lesers van sy eie tyd. Wat eerder gebeur het, is dat die aartsvaders aanvanklik met die Mesopotamiese dialek, Aramees, na Kanaän toe getrek het, en daar onder invloed van die plaaslike bevolkings geleidelik ander inheemse Noordwes-Semitiese dialekte geassimileer het, waaronder dalk ‘n voorstadium van Bybelse Hebreeus.
Punt is, ons is nie seker watter taal Jakob en sy seuns gepraat het toe hulle later na Egipte verhuis het nie, maar dit was heel waarskynlik ‘n voorstadium van die Hebreeus van die Ou Testament. Om dit verder in perspektief te plaas: Geleerdes noem dat die Hebreeus van die aartsvaders in so ‘n mate verskil het van die Hebreeus in koning Dawid se tyd (ongeveer 1000 vC) dat die aartsvaders en Dawid mekaar nie sou verstaan nie as hulle in die posisie was om met mekaar te praat. Daar lê immers ‘n ontwikkeling van ongeveer 800 jaar tussenin. Dit is vergelykbaar met die verskil tussen Afrikaans en Duits vandag.
Vervolgens, Josef in Egipte. Egipties behoort tot die Afro-Asiatiese taalfamilie en het ‘n baie lang geskiedenis – van argaïese Egipties (voor 2600 vC), wat daarna verskillende fases deurloop het, tot Demoties (vanaf 7e eeu vC) tot Kopties (vanaf 1e eeu nC) tot Egiptiese Arabies (geleidelik vanaf 7e eeu nC tot vandag). Toe Josef in Egipte aangekom het (ongeveer 1700-1600’s vC, indien geleerdes se rekonstruksie van gebeure reg is), sou dit min of meer in die tyd gewees het toe middel-Egipties in Egipte gepraat is (lg van ongeveer 2055-1650 vC). Aangesien die Egipties van daardie tyd bepaalde verwantskappe met Semitiese tale vertoon, is daar sommige geleerdes wat van mening is dat Josef, met sy voorstadium van Hebreeus, en die Egiptenare mekaar min of meer sou kon verstaan. Dit is egter hoogs te betwyfel. Dit is eerder so dat Josef die Egipties van sy dag sou moes aanleer. Uit Gen 42:23 blyk duidelik dat dié voorstadium van Hebreeus en Egipties nie na genoeg aan mekaar was vir wedersydse begrip nie, want toe Josef se broers daar aankom, het hy met behulp van ‘n tolk met hulle gekommunikeer. Josef moes natuurlik aanvanklik ‘n “Egiptiese front” voorhou en durf nie weggee dat hy wel hulle “Hebreeus” verstaan het nie. Hy kon hulle verstaan, nie vanweë die verwantskap tussen middel-Egipties en “Hebreeus” nie, maar omdat Hebreeus sy moedertaal was. Maar sy broers kon hom nie verstaan nie.
Bostaande uiteensetting is hoogs vereenvoudig, maar gee nogtans ‘n beeld van wat moontlik die taalsituasie was in die tyd van Israel se aartsvaders.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl