Die Groot Geloofswoordeboek: Ballingskap
Die Groot Geloofswoordeboek: Ballingskap
Die ballingskap (exile) was die vernietigendste ervaring wat Israel ooit in die tyd van die Ou Testament beleef het.
Eintlik was daar twee ballingskappe. Die stamme van die Noordryk (“Israel”) is alreeds in 722 vC weggevoer, en Juda in 586 vC na ‘n kleiner wegvoering (597). “Israel” het nooit teruggekom nie, maar Juda wel teen 539. Soms word Juda ook “Israel” genoem.
As “Israel” nooit teruggekom het nie, klink dit vreemd dat ons later in die Nuwe Testament tog nog lees van mense uit hierdie stamme. So was daar Anna uit die stam van Aser (Luk 2:36). Maar die stam Aser is dan een van die tien stamme wat in 722 weggevoer is en nooit weer teruggekom het nie. Ons moet onthou dat nie alle mense tydens so ‘n ballingskap weggevoer is nie. Dit sou selfs glad nie eens moontlik gewees het nie. Hoe sou die veroweraar al die bejaardes en klein kindertjies met daardie ou voertuie deur die woestyn kon wegkry? En waarom sou hulle probeer?
Trouens, dit help as ons vra: Waarom het hulle in die geheel ‘n “volk” weggevoer? Om goedkoop arbeid te kry. Dit beteken dat hulle die mense wat kon werk, veral die jong mans en jong meisies, weggevoer het, die room van die volk. Maar daar het genoeg oueres en kreupeles en klein kindertjies oorgebly om weer voort te plant. Die *Samaritane was die gevolg van die ondertrouery tussen hierdie Jode wat agtergebly het en die veroweraar se mense wat hier ingetrek het.
Die ballingskap was in ‘n hele paar opsigte ‘n keerpunt in die geskiedenis van Israel. Dit was so ‘n vernietigende gebeurtenis dat sekere leiersgroepe dubbel seker wou maak dat so iets nooit weer gebeur nie. Dit het beteken dat hulle die wet van God ernstiger as ooit tevore opgeneem het en seker wou maak dat dit tot op die letter uitgevoer word. Dit het gelei tot ‘n nuwe vorm van wettisisme/moralisme wat veral deur die Fariseërs ontwikkel is.
Tydens die ballingskap het Israel ook met ‘n apokaliptiese wêreldbeeld (*Apokaliptiek) in aanraking gekom en baie daarvan oorgeneem. Dit het in die Ou Testament veral neerslag gevind in Daniël waar ons dan ook vir die eerste keer van die *opstanding aan die einde van die geskiedenis lees (12:2). Hierdie wêreldbeskouing vorm later die agtergrond van Jesus se optrede en toekomsverwagting.
Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek
Outeur: Prof Adrio König