Die kanon in die moderne wêreld

“Do All the Good You Can,
By All the Means You Can,
In All the Ways You Can,
In All the Places You Can,
At All the Times You Can,
To All the People You Can,
As long as Ever …
…You Can!”

John Wesley

Die kanon in die moderne wêreld

Die Rooms-Katolieke/Protestantse verdeling oor die samestelling van die kanon duur nog voort. Daar is egter eenstemmigheid dat die kanon uit die Ou Testament en die Nuwe Testament bestaan. Vroeër is hierdie siening uitgedaag. Friedrich Schleiermacher het sekondêre status aan die Ou Testament toegeken. Hy was egter ‘n uitsondering en nie die norm nie.

 

In die moderne tyd kry ons egter ‘n opbloei van historiese kritiek. Nou word die outeurskap van meeste Bybelboeke met suspisie bejeën. Die samestelling van die kanon word nou as ‘n volledige menslike aktiwiteit gesien en enige Goddelike oorsig oor die proses word ontken.  Maar meeste Christene staan teen hierdie gety. Sekere aanpassings is wel gemaak. As filter vir toelating tot die kanon moet die boeke deur apostels geskryf gewees het. Sommige glo dat dit nie noodwendig deur ‘n apostel geskryf moes gewees het nie, maar die apostels het wel die inhoud bepaal. Ridderbos: Jesus Christus  gee gesag aan die apostels om sy getuies te wees en om die gesagvolle dokumente te skryf waarop die kerk gebou is. Die kanon is nie die produk van die kerk nie, maar die kerk is die produk van die kanon. ‘n Kernbeginsel wat hieruit voortvloei is dat die kanon gesluit is.

Brevard Childs het hierdie histories-kritiese benadering sterk gekritiseer. Hy glo ons moet fokus op die finale, kanonieke vorm van die Ou en Nuwe Testament. Die evangelical beweging aanvaar vandag verskillende benaderings tot die kanon, maar beklemtoon die Christologiese ontwikkeling van die kanon. Uit hierdie mondelinge en geskrewe getuienis van Christus het die vroeë kerk sy lewe getrek. Die proses waardeur die geskrewe getuienis mettertyd meer prominent geword het, was  natuurlik en spontaan.

Opsomming: Die Protestantse kerk met sy wortels in die Hervorming, en in sy luister na die vroeë kerk, aanvaar ‘n kanon van 39 Ou Testamentiese boeke wat nie die apokriewe insluit nie en 27 Nuwe Testamentiese boeke.

 




Die kanon tydens die Hervorming en post-hervorming

Divine fullness is only going to be reached by a progressive and ever-increasing revelation of Christ and His significance – T. Austin-Sparks

Die kanon tydens die Hervorming en post-hervorming

Die Hervormers, geïnspireer deur die humaniste, reageer op die probleme soos volg:

  1. Die Ou Testament moet op die korter Hebreeuse Bybel gebaseer word – nie op die Septuagint met sy addisionele apokriewe geskrifte nie. Hoekom? Die Hebreeuse Bybel was die Woord van God wat deur Jesus en sy dissipels gebruik is. Van die apokriewe boeke het ook verkeerde chronologiese en geskiedkundige inligting bevat. Die apokriewe is dus nie deel van die Hervormers se Ou Testament nie.
  2. Die Hervormers aanvaarse klassieke onderskeiding: die kerk kon net die kanonieke geskrifte gebruik om sy leer en praktyke te vestig. Die apokriewe kon nie gebruik word as basis vir die kerk se leer nie. Dit beteken dat die sakrament van boetedoening en die praktyk om vir die dooies te bid word nie Bybels gesteun nie en moet dus gestaak word. Maar die apokriewe was nie nutteloos nie. Martin Luther het byvoorbeeld Judit en die Wysheid van Salomo aangeprys – boeke wat Christene met vrug kan lees. Die lees van die apokriewe is aangemoedig, maar kon beslis nie vir die ontwikkeling van die leer van die kerk gebruik word nie. Ons is terug by Hieronimus se onderskeiding.
  3. Die Nuwe Testament moet op die oorspronklike Grieks gebaseer word. Waar die kerk se leer en praktyke berus op die swak vertaalde Vulgaat moet hulle verander of geskrap word. Luther open sy 95 stellings (31 Oktober 1517) met hierdie twee punte:
  • Wanneer ons Here en Meester, Jesus Christus, sê: Bekeer julle (Matteus 4:17) wou Hy gehad het dat die hele lewe van gelowiges een van bekering moet wees.
  • Hierdie woord verwys nie na die sakrament van boetedoening, dit is belydenis, soos deur die priesters geadministreer word nie.

In sy verduideliking van hierdie twee punte  gebruik Luther die Griekse woord metanoeite wat beteken om ‘n ander denke en gevoel aan te neem, om ‘n oorgang te maak van een vorm van denke na ‘n ander, om ‘n verandering van gees te hê. Hierdie ontdekking lei tot Luther se verwerping van boetedoening as ‘n sakrament. Dit bevestig dat die kerk se Nuwe Testament die oorspronklike Grieks moet wees.

Die Hervormers verwerp ook die siening dat die Rooms-Katolieke kerk se gesag hoër as dié van die Skrif is. Die formele beginsel was sola Sciptura – die Skrif alleen. Die Skrif, omdat dit die Woord van God is, het genoeg status en geloofwaardigheid in homself. Dit is nie nodig vir die kerk om gesag aan die Bybel te gee nie. Dit beteken dat die kerk nie die kanon bepaal het nie. Calvyn haal Paulus aan om hierdie punt te bewys: Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en profete (Efesiërs 2:20). Dit beteken die Skrif het die kerk voorafgegaan. Die kerk erken en bevestig die Goddelik geïnspireerde geskrifte is wat God bedoel het in die Skrif geplaas moes word. Hoe weet die kerk wat die kanonieke Skrif is?  Die getuienis van die Heilige Gees en die Skrif se eie bewys van sy waarheid.

Die Protestantse geloofsbelydenisse beklemtoon dit. Die Rooms-Katolieke kerk reageer op die verwerping van die apokriewe  by die Raad van Trent. Hulle probeer die Protestantse “foute” regstel deur die  Katolieke kanon – met apokriewe ingesluit – te herbevestig. Hulle gee ook ‘n sterk waarskuwing: mense wat hierdie tradisie verwerp sal vervloek word. Die Protestante word met veroordeling deur die kerk gedreig. Die Protestante staan vas – die apokriewe is nie deel van die Skrif nie.

Volgende keer kyk ons na die kanon in die moderne tyd.




Die kanon in die Middeleeue

Occasions make not a man fail, but they show what the man is – Thomas â Kempis

Die kanon in die Middeleeue

Vir meer as ‘n millennium dien die  Latynse Vulgaat as die amptelike  Bybel van die kerk. Nou vind daar egter twee ontwikkelinge plaas:

  1. Die Rooms-Katolieke kerk besit absolute gesag – selfs groter as dié van die Skrif. Die Rooms-Katolieke kerk kon dus die kanon bepaal. Omdat die Rooms-Katolieke kerk die kanon gedefinieer het, moet alle Christene die kanon aanvaar. Hierdie kanon bestaan uit die Ou Testament  met apokriewe en die Nuwe Testament.
  2. Die ontwikkeling van die humanisme. Ons moenie hierdie beweging verwar met die sekulêrevan die 20 en 21ste eeu nie – hierdie latere beweging  was grootliks anti-Christen. Die humanisme van die 14, 15 en 16de eeu was primêr ‘n kulturele en opvoedkundige  beweging wat veral welsprekendheid bevorder het. Dit is ‘n uitvloeisel van die Italiaanse Renaissance en het gou na die noorde van Europa versprei. Hierdie beweging was nie anti-Christen nie en is deur leiers van die kerk aanvaar. Hulle leuse was: ad fontes (= terug na die bronne). Vir die kerk beteken dit terug na die Hebreeuse Ou Testament,  die Griekse Nuwe Testament en die werk van die vroeë kerk. Dit lei tot verskeie ontwikkelings en vrae:
  • Die verskil tussen die Hebreeuse Bybel en die Latynse Vulgaat. Die vraag oor watter een as bron gebruik moet word, kom weer na vore.
  • Hieronimus se ou onderskeiding tussen kanoniek en apokrief kom na vore. Hy het geglo dat die apokriewe gebruik kan word vir geestelike opbou, maar nie vir die ontwikkeling van die kerk se leer nie. Augustinus het hierdie onderskeid verwerp. Daarom het die kerk sekere dinge geglo en gepraktiseer op gesag van die apokriewe. Voorbeelde hiervan is die vaevuur en bid vir die afgestorwenes waarvoor die primêre bron 1 Makkabeërs 12:38 – 45 was. Die vraag is gevra of die kerk nog hierdie leerstellings kan gebruik of mag slegs die kanonieke Skrif gebruik word.
  • Op sekere plekke blyk dit dat die Latynse Vulgaat ‘n swak vertaling van die oorspronklike Griekse Nuwe Testament was. Die probleem was dat sekere van die kerk se leerstellings op hierdie gedeeltes gebaseer was. Byvoorbeeld: die Vulgaat vertaal Matteus 4:17 met doen boete, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Dit is die Bybelse fondament vir die sakrament van boetedoening – ‘n manier om God se genade te ontvang nadat jy gesondig het deur te bid, vir die armes te gee, afstand te doen van sekere fisiese plesier, ens. Erasmus, ‘n leier onder die humaniste, sê egter dat die korrekte vertaling moet wees: Bekeer julle. Hierdie is ‘n oproep  vir ‘n innerlike hartsverandering en nie ‘n uitwendige praktyk wat deur die kerk afgedwing word nie. Vraag: Moet die kerk sy leer op die swak vertaalde Vulgaat of op die Griekse Nuwe Testament baseer.

Volgende keer kyk ons wat het tydens die Hervorming en daarna gebeur.




Die ontwikkeling van die kanon

Every word of the God-breathed character of Scripture is meaningless if Holy Scripture is not understoord as the witness concerning Christ – G. C. Berkouwer

 

Die ontwikkeling van die kanon

Daar is heelwat op die webblad geskryf oor hoe die kanon tot stand gekom het. Maar nou sien ons dat die kanon van die Rooms-Katolieke Kerk en die Protestantse Kerk verskil. Hoe het dit gebeur?

Ons glo dat die lidmate van die vroeë kerk, soos ons, elkeen ‘n geskrewe Bybel gehad het. Dit was nie die geval nie. Daar was geen drukpers nie en boeke moes met die hand gekopieer word. Die gevolg was dat die kerk staatgemaak het op mondelinge oordrag van een geslag na die volgende.

Hierdie geskrewe rekords (die Ou Testament) en die ongeskrewe tradisie (die Nuwe Testament) is deur die vroeë kerk as twee dele van ‘n verenigde geheel gesien. Die ontvangers en oordraers van hierdie tradisie was veral die biskoppe – die opvolgers van die apostels. Hulle was die leiers in die kerk en die waarborg dat wat in die kerke geglo en gepraktiseer is in ooreenstemming  met die apostels se leringe was. Hierdie biskoppe was nie ‘n bron van nuwe openbarings van die waarheid nie – hulle het alleenlik oorgedra wat die apostels gesê het. Mettertyd is van hierdie apostoliese tradisie neergeskryf.

Die kanon van die Nuwe Testament is onveranderd sedert die laaste deel van die 4de eeu, maar dit was nie die geval met die Ou Testament nie. In die 3de eeu vC is begin met die Griekse vertaling van die Hebreeuse Bybel – die Ou Testament.  Hierdie Griekse vertaling staan as die Septuagint (sewentig) bekend. (Ook bekend as die LXX.) Hierdie Bybel word wyd versprei onder Griekssprekende Jode en ook onder nie-Jode soos die kerk in die heidense gebiede versprei het. Die Septuagint bevat ook die apokriewe. Die skrywers van die Nuwe Testament het die Septuagint geken en van hulle aanhalings kom hieruit.

Aan die begin van die 2de eeu (na Christus) is daar met ‘n Latynse vertaling van die Bybel begin. Dit is omdat Latyn die taal van die Romeinse Ryk was. Omdat die Septuagint aanvanklik as basis vir hierdie vertaling gebruik is, het die Latynse weergawe die apokriewe ingesluit. In 382 nC vra die biskop van Rome vir Hieronimus om ‘n nuwe Latynse vertaling te doen. Hieronimus besef gou dat ‘n goeie vertaling  die oorspronklike Hebreeuse Bybel as bron moet gebruik.

Hieronimus vertaal eerste vir Samuel en Konings. In sy voorwoord vir hierdie boeke gee hy ‘n lys van kanonieke boeke – die apokriewe verskyn nie op sy lys nie. Hulle het nou sekondêre status. Hy sê dat die apokriewe vir geestelike opbou gebruik kan word, maar  die kerk kan dit nie as gesag vir sy leer gebruik nie. Hierdie vertaling staan later as die Latynse Vulgaat bekend.

Augustinus glo dat dieselfde Gees wat deur die skrywers van die Hebreeuse Bybel gewerk het ook deur die vertalers van die Septuagint gewerk het – die Gees se inspirasie was in beide aktief. Die Ou Testament met die apokriewe en die Nuwe Testament word nou die Skrif van die kerk. Hierdie siening word nie ernstig uitgedaag voor die Hervorming nie.

Volgende keer gaan ons verder met die geskiedenis van die kanon.