Het Christene alle boeke van die kanon eenparig aanvaar?

Jesus is God spelling himself out in a language that man can understand. —S.D. Gordon

Het Christene alle boeke van die kanon eenparig aanvaar?

Die samestelling van die kanon was nie ‘n probleemvrye proses nie; almal het nie oor alles saamgestem nie. Sekere boeke is aanvanklik aanvaar en later as apokrief beskou. Maar daar was ook meningsverskille oor sekere boeke wat vandag deel van ons kanon was.

 

 So sê Origenes dat boeke soos 2 Petrus, 2 en 3 Johannes en Jakobus deur sommige mense bevraagteken was. Ander het geglo dat Openbaring nie deur die apostel Johannes geskryf is nie en daarom verwerp moes word.

 Die kanon is nie op goue tablette deur ‘n engel uit die hemel aan ons gegee nie (soos die Boek van Mormon beweer nie). God het besluit dat Hy die kanon deur normale geskiedkundige omstandighede vir ons sal gee … en geskiedkundige omstandighede gee soms probleme.

 Wat egter ongelukkig is, is dat hierdie verskille tussen Christene soms gebruik word om die geldigheid van die kanon te bevraagteken. Sommige vra: Maar hoe kan ons die eindresultaat aanvaar as sommige Christene verskil het? Hoe reageer ons hierop?

  • Ons moet altyd onthou dat hierdie dispute slegs enkele boeke geraak het. Die meeste boeke was reeds aan die einde van die 2de eeu in plek.
  • Origenes sê dat sommige boeke bevraagteken word, maar dat hy hulle wel as deel van die kanon aanvaar. Daar is geen rede om te glo dat ‘n betekenisvolle aantal Christene hierdie boeke nie aanvaar het nie. Mense soos Origenes erken net dat daar ‘n minderheidsiening was.
  • Die kerk het uiteindelik ‘n breë en langstaande konsensus bereik.

Ons kan maar die Bybel soos ons dit vandag het aanvaar.

 

 




Die kanon van die Nuwe Testament en Nicea

Only a mediocre person is always at his best – W. Somerset Maugham

Die kanon van die Nuwe Testament en Nicea

Michael Kruger skryf dat daar baie algemeen aanvaar word dat die kanon van die Nuwe Testament in 325 by die eerste ekumeniese konsilie in Nicea vasgestel is – onder die invloed van Konstantyn. Dan Brown maak hierdie selfde aanspraak in sy boek The Da Vinci Code. Dit was ‘n bestaande siening wat hy eenvoudig in sy boek gebruik het.

 

Hierdie aanspraak is vals. Die konsilie by Nicea, en Konstantyn, het niks met die samestelling van die Nuwe Testament te doen gehad nie. Nicea se bekommernis was hoe Christene Jesus Christus se Goddelikheid sou artikuleer. Dit was die geboorteplek van die Geloofsbelydenis van Nicea.

Sodra mense besef dat die vergadering by Nicea niks met die samestelling van die Nuwe Testamentiese kanon te doen gehad het nie, vra hulle gewoonlik: “Watter vergadering/sinode het oor die kanon besluit?”  Ons kan tog nie ‘n kanon hê sonder dat ‘n gesagvolle, amptelike liggaam daaroor besluit het nie. Iewers moes iemand tog hieroor gestem het.

Daar was nie so ‘n liggaam nie. Daar was streeksliggame wat uitsprake oor die kanon gemaak het – Laodisea, Hippo, Kartago. Hierdie liggame het nie boeke gekies wat dan in die kanon opgeneem is nie. Hulle het bloot daardie boeke wat reeds as fundamentele dokumente vir die Christelike geloof gefunksioneer het, bevestig. Hulle het verklaar hoe dinge was – nie hoe hulle dit graag sou wou hê nie. Hierdie liggame het nie geskep of bepaal of gesag verleen aan sekere boeke nie – hulle het bloot ‘n kanon erken wat reeds daar was.

Die Nuwe Testamentiese kanon se samestelling is nie deur ‘n stemmery of raad of sinode aanvaar nie, maar deur ‘n breë en langstaande konsensus.The canon of the New Testament was ratified by widespread consensus rather than by official proclamation (Bart Ehrman).

Die kanon is nie deur mense gemaak nie; dit was nie die gevolg van magspeleties deur die ryk, kulturele elite in een of ander donker, rookgevulde kamer nie. Dit was die resultaat van God se mense wat oor baie jare hierdie boeke gelees en gebruik het en daarop gereageer het.

Dieselfde geld basies vir die Ou Testamentiese kanon. Jesus self haal uit die boeke van die Ou Testament aan. Nêrens kry ons ‘n indikasie dat  daar enige onsekerheid was oor watter boeke daar behoort het nie. Hy het selfs sy gehoor aanspreeklik gehou daarvoor dat hulle hierdie boeke moes ken.

Mense het  ‘n rol in die kanonieke proses gespeel, maar beslis nie die rol wat so dikwels aan hulle toegedig word nie. Mense het nie die kanon bepaal nie – hulle het daarop gereageer. In wese het die kanon eintlik homself gekies.

 




Die Nuwe Testamentiese Kanon (2)

Blog41a

William Wilberforce

Die Nuwe Testamentiese Kanon (2)

Michael Kruger skryf ‘n reeks oor die Nuwe Testamentiese kanon. In die eerste artikel het ons gesien dat die Nuwe Testamentiese boeke die vroegste Christelike tekste is wat ons het. Die feit dat hulle vroeg geskryf is, maak hulle nie noodwendig deel van die kanon nie. Dit wys wel dat hulle geskryf is in ‘n tydperk toe ooggetuies van Jesus nog geleef het.

 

Wat  nou van die NT apokriewe? Hulle is nie ingesluit in die NT nie. Hulle genre stem ooreen met dié van die NT boeke – evangelies, handelinge, briewe, openbaring, ens. Hulle word dikwels toegeskryf aan bekende individue – Die Evangelie  van Petrus, die Evangelie van Tomas, Die Handelinge van Johannes, ens.

Ons kan nou nie elke boek individueel bespreek nie. Daar is egter een basiese feit: al hierdie apokriewe geskrifte word in die tweede eeu na Christus of later gedateer. Baie van hulle kom selfs uit die derde en vierde eeu. Selfs kritiese teoloë stem hiermee saam. Daar is dispute oor die datering van sekere NT boeke soos 2 Petrus en Paulus se pastorale briewe, maar feitlik almal stem saam dat die apokriewe later (tweede eeu of later) geskryf is.

Natuurlik is daar pogings om van die apokriewe in die eerste eeu te dateer. Crossan  beweer dat die “kruis evangelie” wat ons in die Evangelie van Petrus kry uit die eerste eeu dateer. Hierdie voorstel word deur min mense aanvaar as korrek. Onmiddellik moet ons dus ‘n vraagteken plaas oor van die sensasionele aansprake dat hierdie “verlore” boeke eintlik die “ware” siening van die Christelike geloof verteenwoordig.

Natuurlik mag ons argumenteer dat hierdie latere geskrifte steeds die ware Christelike geloof van die eerste eeu weerspieël. ‘n Teks hoef tog nie in die eerste eeu geskryf word om materiaal uit die eerste eeu te bevat nie. Ons moet egter ‘n baie goeie rede hê om hierdie latere geskrifte eerder as die vroeëre  geskrifte te aanvaar. Kyk ons na die apokriewe boeke is daar nie sulke oortuigende redes nie.

  • Ons weet dat baie van die apokriewe boeke vervalsings is – hulle gee voor dat hulle deur iemand geskryf is wat beslis nie die skrywer was nie. Dit laat ernstige vrae oor die betroubaarheid van die geskrifte ontstaan.
  • Baie van hulle bevat duidelike “versierings” of legendes wat bygevoeg is. In die Evangelie van Petrus kom Jesus uit die graf as ‘n reus – sy kop raak die wolke en Hy word dan deur die kruis uit die graf gevolg. Die kruis praat selfs.
  • Baie van hierdie apokriewe geskrifte bevat ‘n gnostiese tipe teologie wat eers in die tweede eeu na vore gekom het. Dit kan dus nie uit die eerste eeu kom nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die Evangelie van Filippus.

Dit beteken nie ‘n apokriewe boek kan nie uit die eerste eeu kom nie – so ‘n geskrif is nog net nie gevind nie. Dit beteken ook nie dat apokriewe boeke nie betroubare Jesus tradisie kan bevat nie. Ons weet dat van die vroeë Christene soms na die apokriewe boeke verwys het. Die belangrike punt is egter dat hierdie stukkies betroubare inligting in die apokriewe geskrifte kry ons ook in die NT boeke. Daar is niks wat dit wat ons in die NT boeke kry, kan vervang nie.

Die apokriewe geskrifte is ‘n interessante bron vir die studie van die vroeë Christendom. Ons kry egter in hulle nie ‘n meer oortuigende siening van die Christelike geloof as in die NT boeke nie.

Die Nuwe Testamentiese Kanon (1)

Die Nuwe Testamentiese Kanon (1)

Michael Kruger het ‘n reeks begin om ons te help om die basiese feite van die Nuwe Testament te verstaan. Hierdie is die soort feite wat jou sal help in ‘n gesprek met ‘n skeptiese persoon. Die eerste feit wat hy stel, is: Die Nuwe Testament is die vroegste Christelike geskrifte beskikbaar.

 

Dit is veral duidelik as ons na die vier evangelies – Matteus, Markus, Lukas en Johannes – kyk. Hierdie is die enigste vier evangelies wat uit die eerste eeu dateer. Daar is ‘n paar teoloë wat probeer het om die Evangelie van Tomas in daardie tydperk te plaas, maar sonder sukses. As al die stof gaan lê het, erken die kritici dat ons huidige vier evangelies die oudste beskrywings wat ons van Jesus het, is.

Daar is ‘n paar kantaantekeninge waarop ons moet let:

  • Daar is verskille oor die datums waarop party Nuwe Testamentiese boeke geskryf is. Daar is selfs kritici wat beweer dat van die boeke vervalsings is wat eers in die tweede eeu na Christus geskryf is. Al aanvaar ons hierdie siening (wat baie min teoloë doen) dan kan ons steeds sê dat die oorgrote meerderheid boeke in die eerste eeu geskryf is. Slegs ‘n paar boeke is onder bespreking.
  • Die eerste brief van Klemens aan die Korintiërs is ook in die eerste eeu geskryf, maar is nie in die kanon ingesluit nie. Dit is waarskynlik geskryf in die tyd toe die kerk deur keiser Domitianus vervolg is – ongeveer 95 nC. Dit is later as die ander Nuwe Testamentiese boeke. Die enigste moontlike uitsondering is Openbaring wat waarskynlik ook in hierdie tyd geskryf is.

Hierdie boeke is nie by die kanon ingesluit net omdat hulle in die eerste eeu geskryf is nie. Die 27 boeke is nie deel van die kanon omdat hulle so vroeg geskryf is nie, maar alle boeke wat in die kanon opgeneem is is vroeg geskryf. Ons mag later ander geskrifte ontdek wat ook so vroeg geskrywe is. Die keuse van die 27 boeke was dus nie arbitrêr nie.