Word Lidmate geïgnoreer? (2)

Word Lidmate geïgnoreer? (2) – Francois Malan

‘n Paar dae gelede het Prof Malan ‘n leser se vraag oor of lidmate geïgnoreer word geantwoord. Hierdie leser het nou verdere vrae:

Baie dankie dat u die moeite gedoen het om my te antwoord. Om eerlik te wees, na wat my ondervinding die afgelope drie jaar was om ‘n Christenlewe te probeer ly en hoe ek die leiers van my kerk ervaar het, was ek in vertwyfeling dat ek weer geïgnoreer sal word. So, ek waardeer dus u reaksie, moeite en tyd wat u bereid is om aan my af te staan en vertrou dat u of wie ook al, by my sal bly om my vrae en versugtinge behoorlik aan te spreek. Ek besef dat ek nie in ‘n behandelingsessie met u kan tree nie vir baie goeie en ooglopende redes van tyd en bronne nie, maar dit is vir my lewensbelangrik om die ernstige kwelvrae oor my verbintenis met die kerk beantwoord te kry. Ek sal dus so kort en saaklik moontlik wees as wat dit sinvol is.

Ek het geen probleem met die wese van die ware evangelie oor die Koninkryk van God nie. Ek het ‘n ernstige probleem met my verbintenis en assosiasie met die kerk, ampsdraers en leraars wat uit hoofde van ‘n veronderstelde heilige roeping, sodanige optree wat my na my mening en gevoel, my ernstig te nakom en grief, ongeag of ek reg of verkeerd is daarin.

Ek deel heelhartig u siening met 1 Pet 5:1-4 en glo dat dit is wat God wil hê hoe sy skape onvoorwaardelik na omgesien moet word. Wat nou as dit nie gedoen word nie ?

Die NG kerk het ‘n ‘n pragtige stel reëls, die Kerkorde, wat sekerlik vir ‘n doel saamgestel is om juis sekere aspekte binne die kerk te reël, veral die optrede van leraars en ampsdraers. Vir wie is daardie reëls tot beskikking ?

Wat moet ‘n predikant of ouderling doen as hy bewus raak van sulke kwelsake en woelinge van ‘n lidmaat van die gemeente ?

As ek my net na die Here moet wend met my probleem, soos u sekerlik tereg aanhaal en dan moet wag dat iets gebeur, waarvoor en vir wie is die Kerkorde dan geskryf ? Dan moet alles mos maar net eenvoudig na die Here verwys word en mag geen Kerkraad of Sinode of Kommissie mos menslike besluite neem of vonnisse en oordele vel daaroor nie ?

As ek dan nie wil of kan hoor wat die Here vir my sê daaroor nie – vir wie moet ek dan gaan vra as my probleme onopgelos bly ? By wie moet ek dan aanklop om daardie verdere nuwe probleem vir my uit te lê en te help oplos ?

Dank die Here predikante af wat die Kerkorde en kerkreëls oortree ? Skors die Here lidmate uit ‘n kerk wat die Kerkleer en ander maatreëls oortree ? Daar is miljoene mense wat nie die Here ‘hoor’ nie – waar klop hulle om hulp aan ? In die kerk ? Die kerk luister weer nie na jou gesanik nie en sê bloot, gee dit vir die Here ? Dan doen ons dit en begin ons weer voor – die sirkel is dan voltooi en die arme lidmaat sit in die straat, nog steeds met niks. Wat is die doel van die kerk en kerkleer dan ? ‘n Doel tot ‘n middel om ‘n bestaan aan ‘n uitgelese groepie mense te voorsien ?

Hoekom kan ek nie ook staatmaak op optrede deur die kerkraad en ampsdraers vir wat ooglopend ‘n versuim van die predikante en ouderlinge is nie ? Elke saak het drie kante – joune, die ander kant s’n en die waarheid (wat NIE rond is soos soms beweer word nie – God se Woord is die waarheid – ‘n

2 skerp tweesnydende swaard – is dit nie ?). Hoekom word my kant van die saak en my versugtinge en ernstige geloofskwelvrae dan bloot teenoor my geïgnoreer, eensydig ter tafel gelê en dan eenvoudig eensydig van die tafel afgevee sonder my kennis en wete ? Wat van die populêre wêreldse woord deesdae – ‘deursigtigheid’ ?

Wat staan my te doen Prof. Malan ? Ek kan dit nie net los en passief sit en wag dat iets gebeur nie. Ek is geseën met ‘n gesonde verstand en kennis wat uit God se genade aan my toegedeel is deur Sy Heilige lewensasem wat hy in Adam geblaas het. God vra werke ook en nie net geloof nie, anders het ons almal maar net ernstig geglo en langs die swembad gaan sit en wag dat wat ons gevra en in Sy hande gelaat het, bloot inrol !

Ek is nie ‘n skrifgeleerde soos u of die leraars, goed onderlê in die Bybel, kerkleer en teologie nie. Ek is ‘n onkundige lidmaat wat gekwel is en nie antwoorde kry nie, ook al vra ek daarna in my onkundigheid dalk op die verkeerde manier of in die verkeerde styl en trant.

Wat stel u voor hoe word die saak verder in terme van die kerkgeformuleerde kerkorde gehanteer ?

Vriendelike groete en dankie by voorbaat vir u moeite.

Antwoord

Prof Malan antwoord:

Die kerklike weg begin by Matteus 18:15-17

1 As jou broer verkeerd teen jou opgetree het, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen (v15).

Dit is die swaarste van die pad van versoening. Voor enige aksie geneem kan word, vra die Here dat ons met die persoon of persone wat betrokke is, elkeen apart gaan praat. Vooraf is dit egter nodig dat ek vir so ‘n persoon sal begin bid, en ook die ontmoeting met so ‘n persoon aan die Here opdra, sodat my eie gesindheid reg sal wees. In Matteus 18:21-22 sê Jesus ons  moet bereid wees om 70×7 te vergewe as my broer iets verkeerds teen my doen. God doen daagliks veel meer vir my. Hy vergewe my verkeerde gesindhede, gedagtes, woorde en dade. Om te vergewe vra liefde, selfs vir die vyand en vir dié wat ons vervolg, sê Jesus in Matteus 5:43-48. Ons kan slegs liefhê as ons ingeskakel is in die liefdesverhouding wat daar tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees  as die God van liefde bestaan (vgl. 1 Johannes 4:7-17 die liefde kom van God, daarom behoort ons mekaar lief te hê, want Hy het sy Heilige Gees gestuur om in ons te bly, en elkeen wat liefhet is ‘n kind van God en ken God, maar wie nie liefhet nie het geen kennis van God nie, want God is liefde, en Galasiërs 5:22 sê: die vrug van die Gees in ons is liefde.)

2 Matteus 18:16 gaan voort: Maar as hy (jou broer wat verkeerd teen jou opgetree het) nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word,deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.

Hier begin die kerklike proses van broers en susters wat saam die probleem pak, en met geduld en verdraagsaamheid aanhou. Galasiërs 6:1-2 vra dat dat dit steeds in die gees van sagmoedigheid sal geskied, terwyl almal oppas dat hulle nie self ook in die versoeking kom nie; om mekaar se laste te dra en op die manier uitvoering te gee aan die wet van Christus.

3 Matteus 18:17 sê: En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar behandel.

Hier kom die proses van sensuur ter sprake, steeds met die doel om die oortreder tot bekering en redding deur die Here Jesus te lei (vgl. 1 Korintiërs 5:5).

Die Kerkorde van die NG Kerk is op die webwerf beskikbaar vir enigiemand wat dit wil lees of aftrek. Soek NGKerk Kerkorde; en gaan na artikel 12 oor die pligte van die bedienaar van die Woord, en Hoofstuk 5 oor kerklike tug.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Word lidmate geïgnoreer?

Word lidmate geïgnoreer? – Francois Malan

‘n Leser vra: 

Is dit normaal vir NG Kerk leraars om die hulpkrete van n lidmaat te ignoreer ? Wat staan my te doen as hulle op eie houtjie besluit het dat hulle nie na my wil luister nie omdat ek dalk die heilige vrede van hulle kerk mag versteur – of ek nou reg of verkeerd is – dit reg of verkeerd aanvoer – die ketter wat sy letter in die Bybel kry of nie ? Ek is tydens ‘n onheilige egskeiding wat deur bose magte aangevoer is, deur die ouderling-prokureur gewetenloos/ongeregverdig vir eie gewin van sy kliënt verbied om in die kerk te kom – drie jaar gelede en nog nooit deur enigeen van die kerk daaroor genader of bespreek nie – kennis daarvan deur die leraar ten spyt. Ek dwaal buite rond en het ‘n afsku in die valse wêreldse kerk en valse predikante opgebou. Ek word geïgnoreer soos n stopstraat asof ek nie bestaan nie – my lidmaatskap ten spyt – ek is nie belangrik genoeg en het status in daardie kerk nie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die woord ‘kerk’ beteken ‘(die mense) wat aan die Here behoort’ of ‘die Here s’n (sy mense)’. Ons status in die kerk is ‘kinders van God’. Ons status is afhanklik van Jesus Christus. Hy is die Seun van God wat vir die sonde van die wêreld gesterf het aan ‘n kruis. Van Hom sê Jesaja 53:3 ‘Hy was verag en deur die mense verstoot… Tog het hy óns lyding op hom geneem…Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel, die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.’ (Jesaja 53:3a,4a,5-6). Hierdie profesie van Jesaja is deur Jesus vervul (vgl. Matteus 8:17). Petrus verwys onder andere hierna in Handelinge 10:43: ‘Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.’ Die Heilige Gees van God werk in elkeen van ons, om ons deur geloof aan Jesus te verbind, aan sy offer vir ons sonde, en aan sy status as Kind van God (vgl. Romeine 8:14-17).

Al ignoreer mense ons, ons hemelse Vader nie! Romeine 8:31b, 35,38,39 sê: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?’ … niks kan ons skei van die liefde van Christus nie… ‘geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.’

Jou vraag: ‘Wat staan my te doen…’ Jakobus 4:6,7a,8a,10 sê: ‘God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade (vgl. Spreuke 3:34; 1 Petrus 55b). Onderwerp julle dan aan God…Nader tot God en Hy sal tot julle nader…Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.’ 1 Petrus 5:6,7 sê ook: ‘Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.’

Lê jou hele saak en situasie voor die Here, jou egskeiding, die behandeling wat jy van die kerk se amptenare ontvang het, jou huidige posisie en jou self, en wag op Hom vir ‘n oplossing op sy tyd. Oor die mense wat jou benadeel sê Paulus in Romeine 12:17-19 ‘Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teen oor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God’ – dit is sy reg om te straf, Hy sal vergeld (vgl. Deuteronomium 32:35).

Jou vraag: ‘Is dit normaal…?’ – nie as jy die rol van ‘n ouderling en predikant vergelyk met Petrus se aanwysings in 1 Petrus 5:1-4 nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: Eredienste, kleingroepe, selgemeentes

Geloofsvrae: Eredienste, kleingroepe, selgemeentes – Adrio König

Eredienste, kleingroepe, selgemeentes

Die saak waaroor dit in hierdie paragraaf gaan, is die feit dat daar twee tipes byeenkomste in ‘n gemeente kan wees: gesamentlike byeenkomste (soos eredienste) en kleiner byeenkomste van belangegroepe. Dit is nie ‘n nuwe saak in die historiese kerke nie, trouens waarskynlik in geen kerke nie, maar daar het oor die laaste dekade of meer nuwe vorme van kleiner byeenkomste ontstaan wat nie altyd almal se goedkeuring wegdra nie. Sulke groepe het allerlei name soos Bybelstudiegroepe, kleingroepe, selgroepe, selgemeentes, en nog ander.

Sulke groepe kan wyduitlopende belange hê en daarom verskillende vorme aanneem. Dié kan nie in besonderhede hier bespreek word nie. Maar kleiner byeenkomste in groot gemeentes is nie ‘n toegewing nie, dit is onontbeerlik.

Gesamentlike byeenkomste en kleiner byeenkomste voorsien in verskillende behoeftes van die kerk: gesamentlike byeenkomste help om ‘n openbare atmosfeer te skep en die grootheid van God te beklemtoon (Hy sit nie iewers in ‘n klein hoekie waar Hy nie regtig ‘n verskil maak nie), en is ook goeie leer- en onderriggeleenthede. Die kleiner byeenkomste voorsien in lidmate se behoefte om as die gesin van God in nabyverhoudinge te leef, hul gawes te beoefen, en konkreet betrokke te raak by nood.

In die Bybel is goeie getuienis van dié twee soorte byeenkomste. Die OT het groot volksvergaderings geken, Jesus het dikwels groot skares getrek, en die Gees het met sy uitstorting baie mense saamgetrek, verteenwoordigers van die hele (destyds bekende) wêreld (Hand 2:5-11). Aan die ander kant het Jesus Hom doelbewus met die twaalf afgesonder en was die eerste gemeentes onder die heidene klein en kon hulle meestal in huise vergader.

Die groot byeenkomste hou verband met die breër verbande waarin gemeentes (behoort te) funksioneer. Dit is baie verarmend en beperkend as ‘n gemeente sonder verband met ander gemeentes is. Dit skakel hom uit groter projekte uit en beperk sy betrokkenheid by sake wat die samelewing kan verander.

Die klein byeenkomste het egter ook hul eie onontbeerlike waarde. Hulle was nie bloot ‘n toevalligheid omdat die  gemeentes uit die heidene aanvanklik klein was nie. In die belewing van die evangelie is hierdie behoefte ingebou aan nouer gemeenskap in ‘n kleiner groep. Dink allereers aan die beelde van die kerk wat juis kleiner groepe veronderstel: die gesin van God, die bruid van Christus, die liggaam van Christus, die klein kuddetjie. Dink verder aan die charismatiese leefwyse van die gemeente in ‘n klein groepie van 10 of 20. Die gawes van die Gees word vergelyk met die rol wat die ledemate in die menslike liggaam speel (1Kor 12). Dit is ‘n beperkte aantal, netsoos ‘n enkele persoon ook net ‘n beperkte getal mense met sy of haar gawe kan bedien. Dieselfde veronderstelling kry ons in die nagmaal wat ‘n fees tydens ‘n gesamentlike ete in ‘n huis was – ook weer net toeganklik vir ‘n klein groepie. Daarom is dit byna onmoontlik om in ‘n groot gemeente ‘n nagmaalsfees te vier. Dit neig om styf en onpersoonlik te bly. Honderde mense kan mekaar nie ken en sinvol ondersteun nie. Hulle moet in kleiner groepe konstitueer wat in ‘n onafgebroke gemeenskap mekaar met hul gawes kan dien. Daarom is dit volkome sinvol dat die nagmaal en die doop in kleiner groepe in die gemeente bedien word. Geen enkele doopgeleentheid in die NT het in elk geval tydens ‘n gemeentebyeenkoms plaasgevind het nie. Dit maak dit natuurlik nie verkeerd om tydens die erediens te doop of die nagmaal te bedien nie, maar dit mag ons van ons wettisisme oor dié saak verlos, en ruimte skep vir sakramentsgebruiik in kleiner groepe.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die vrou in die amp

Geloofsvrae: Die vrou in die amp – Adrio König

Die vrou in die amp

Onder `die vrou in die amp’ verstaan ons die toelating van vrouelidmate tot die besondere ampte (predikant, priester, pastoor, ouderling en diaken). Dit is nie ‘n eenvoudige saak nie en daar is sterk emosies by betrokke. Dit is nie waar dat die verskil bepaal word deur die feit dat ‘n kerk progressief (`liberaal’) of konserwatief is nie. Kerke wat as liberaal beskou word, was en is steeds baie terughoudend oor die vrou in die amp (Anglikane), terwyl volkome `konserwatiewe’ kerke, byvoorbeeld in die Heiligheidsbeweging, al vir dekades lank vroue aanvaar het.

Dit lei geen twyfel nie dat sekere uitsprake in die NT (soos 1Kor 14:34ev en 1Tim 2:11ev) ernstige probleme skep vir vroue in ‘n leeramp. Maar dit is net die helfte van die waarheid. Die kerke wat haar uit die leeramp weer, laat haar wel toe om in verskillende hoedanighede in die erediens en andersyds in die gemeente op te tree terwyl die genoemde uitsprake duidelik alle deelname in gemeentebyeenkomste verbied. Tot vyf keer toe staan in genoemde tekste dat sy in byeenkomste moet stilbly en nie moet praat nie, en daar is geen rede om dit skielik te beperk tot amptelike, gesagvolle onderrig nie. En hierdie verbod word ondersteun met die argumente dat Adam eerste gemaak is (en dus skynbaar belangriker as Eva is) en dat Eva, en nie Adam nie, verlei is (1Tim 2:13ev).

Wat die probleem nog moeiliker maak, is die feit dat ons aan die ander kant in dieselfde 1Korintiërbrief lees dat die vrou nie met ‘n onbedekte kop mag profeteer of bid nie, wat beteken dat sy dit wel mag doen as sy ‘n hoofbedekking of sluier op het (1Kor 11:5).

As ‘n mens die leeraktiwiteite van vroue in die vroeë gemeentes hier byvoeg (o.a. Hand 18:26), word dit uiters moeilik om die verskille te harmoniseer. Kon ‘n vrou in ‘n gemeentebyeenkoms optree of nie?

Intussen is dit nie onmoontlik om die probleem teen ‘n kulturele agtergrond te sien nie, en dan te aanvaar dat die negatiewe uitsprake veroorsaak is deur die feit dat dogters en vroue normaalweg net geleer is om huis te hou en kinders groot te maak, en nie dieselfde akademiese en vormende onderrig as seuns en mans ontvang het nie. Hulle was dus normaalweg eenvoudig nie instaat om op die vlak van mans te kommunikeer nie, en moes daarom wag tot hulle tuis vir hul eie mans vrae kon vra.

Omdat ons egter in ‘n nuwe situasie leef waarin dogters en vroue presies dieselfde akademiese en professionele onderrig ontvang, en leiding neem op die meeste gebiede in die samelewing, is dit natuurlik uiters frustrerend vir hulle, en verarmend vir die hele gemeente, as hulle skielik nie in die gemeente mag deelneem nie.

Die argumente van 1Timoteus moet op dieselfde vlak hanteer word as die argumente dat slawe aan hulle base onderdanig en getrou moet wees. As ‘n mens ‘n gegewe situasie regverdig, kan jy argumente gebruik wat later, in ‘n nuwe situasie, nie meer oortuigingskrag het nie. In hierdie lig kan daar nie prinsipiële besware wees teen vroue in die besondere ampte nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning

 

Skrywer: Prof Adro König