Geloofsvrae: Die Kerk: Die wese van die kerk – Adrio König
DIE KERK
Die wese van die kerk
Daar is ‘n ongelooflike verskeidenheid perspektiewe op die kerk in die NT. Daarom is ‘n indeling onontbeerlik. Omdat daar so ‘n unieke band tussen die kerk en Jesus Christus is, gebruik ons dieselfde indeling wat ons in die Christologie gebuik het: van agter, van voor, van bo, van onder.
Die kerk, Israel, en God se skeppingsdoel (ekklesiologie van agter en van voor)
Die kerk pas in in die een groot geskiedenis wat God met die wêreld maak. As die mensdom as geheel nie God se doel vir hulle verwesenlik om in gemeenskap met Hom te leef, en Hom in liefde te dien nie (Gen 1-11), kies Hy vir Abraham om uit hom ‘n volk te bou wat Hy so sal sëen as hulle aan Hom getrou is dat die hele wêreld na Jerusalem sal stroom omdat hulle tot die oortuiging kom dat Israel se God die ware God is. Maar as Israel deur volhardende ontrou die verbond met die Here verbreek, kies Hy ‘n oorblyfsel om in Israel se plek op te tree. Die oorblyfsel trek uiteindelik in net één Jood saam wat die oorblyfsel, die hele volk, en die hele mensdom verteenwoordig as die één troue bondgenoot van God wat die verbond nie namens Homself nie, maar namens die ganse mensdom vervul: Jesus.
Hy vergader ‘n groepie dissipels en vroue om Hom, en na sy opstanding getuig hulle dat Hy die mensdom by God verteenwoordig het en namens hulle God se skeppingsdoel verwesenlik het, sodat elkeen wat in Hom glo, deel word van die nuwe mensdom in wie God sy doel bereik.
So is die kerk die voortsetting van Israel en die voorlopige vervulling van God se doel met die wêreld. In hierdie sin is die kerk, net soos Christus, die Gees en die heil, voluit eskatologiese werklikhede, deel van die vervulling van God se skeppingsdoel.
Hierdie band, enersyds na agter en andersyds na voor, is beslissend om die kerk te verstaan. Na agter is die kerk ‘n voortsetting van Israel. Na voor is die kerk die voorlopige realisering van God se skeppingsdoel.
Die kerk is die voortsetting van Israel. Die kerk is nie die nuwe Israel nie. Daar is nie ‘n nuwe Israel nie. Daar is net een volk van God, die volk wat Hy in die OT deur die geloof en die besnydenis (Rom 4:11ev), en in die NT deur die geloof en die doop in die genadeverbond met Abraham inlyf (Gal 3:26-29). Daar is nie ‘n ander genadeverbond nie, nie ‘n ander manier om in die heil te deel nie, nie ‘n ander manier om deel van die nuwe mensdom te wees wat God in Christus skep om sy skeppingdoel te verwesenlik nie. Abraham is die vader van alle gelowiges (Rom 4:16), ook die heidene kry deur Jesus se kruisdood deel aan die beloftes (verbond) met Abraham (Gal 3:14). Al is daar duidelike verskille tussen die Israel van die OT en die kerk, is daar ‘n wesenlike eenheid.
Paulus druk dieselfde waarheid uit met behulp van die beeld van die olyfboom: die Ou Testamentiese Godsvolk is die stam van die natuurlike olyfboom. God het die ongelowige Jode wat die Messias verwerp het, afgebreek, en die heidene wat glo, as wilde lote op die natuurlike stam ingeënt (Rom 11:17ev).
Daarom word die wonderlike eienskappe wat in die OT vir Israel gebruik word, in die NT op die kerk toegepas: heiliges, geliefdes, uitverkorenes, die volk van God, die koninklike priesterdom, die heilige priesterdom, God se eiendomsvolk, hulle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is. Verder word sommige van die sleutelelemente van die erediens in die OT op die kerk toegepas: die gelowiges is nou die tempel van God en van die Heilige Gees, hulle moet ‘n lewende offer aan God wees, mense wat geestelike offers bring, dié wat die ware besnydenis het (vgl oa 1Kor 1:2 OAV; 1Kor 3:16; 6:19; 1Pet 2:5,9-10; Kol 3:12; Fil 3:3).
Natuurlik is die kerk ook meer as Israel. Die een duidelike voorbeeld is dat die kerk óók die liggaam van Christus is, ‘n beeld wat nie in die OT voorkom nie. Dit word in die volgende paragraaf behandel. Maar wat hierdie nuwe beeld vir die kerk nie beteken nie, is dat die kerk heeltemal ‘n nuwe werklikheid sou wees en nie die voortsetting van Israel nie, dat die kerk net tydelik op die toneel sou verskyn het totdat Israel weer terug is (in die duisendjarige vrederyk). Ons sou dan nou `die tyd van die kerk’ of `die tyd van die heidene’ hê wat later weer deur die tyd van Israel opgevolg sal word.
Dit is ‘n miskenning van een van die rykste tradisies oor die kerk in die NT, die opvallende aansluiting van die kerk by die volk Israel. Dit hou verband met die aansluiting van baie ander sake in die NT by die OT soos die nagmaal by die pasga, en die voortsetting van sake soos die Abrahamverbond in die NT .
Dit was die kerk van agter gesien, as kontinuering van Israel.
Nou die kerk van voor af, as voorlopige gestalte van die skeppingsdoel van God. Christus is self die skeppingsdoel van God. Hy is in een persoon God én mens in volle harmonie. Maar Hy is nie net God se skeppingsdoel nie, Hy realiseer ook God se skeppingsdoel vir ons (deur vrede te maak, ons met God te versoen, een nuwe mens uit die verskeurde mensdom te skep), in ons (deur hierdie vrede deur die Gees in ons lewe in te dra sodat ons daadwerklik in vrede met God en die mense om ons begin leef), en uiteindelik met ons (deur die dooies op te wek, ons te verheerlik, en die aarde nuut te maak as die ewige woonplek van God by sy volk).
Die kerk is dus die een groep mense in wie hierdie doel alreeds gerealiseer is, nie volmaak nie, omdat ons nog so ver onder die maat leef (van ons ou lewe wat beëindig is en ons deelname aan Jesus se opstandingslewe), en so vreeslik terugval in die verlede van ons ou sondige lewe.
Maar juis omdat dit die waarheid is dat ons aan Christus se nuwe lewe deel het, roep die Here ons op om iets van hierdie nuwe lewe te vertoon. Daar is sterk oproepe om soos Christus te leef, en dan is die nadruk op sy nederigheid, sy diensbereidheid, sy onselfsugtigheid, sy lewe-na-onder. Dit lyk van buite gesien na ongelooflik hoë eise, maar as ons onthou dat ons aan sy lewe deel het en dat die Gees sy vrug in ons lewe wil dra wat presies die lewe is wat God van ons vra, dan besef ons `sy gebooie is nie moeilik om te gehoorsaam nie’ (1Joh 5:3). Maar dit beteken wel dat die kerk bedoel is om ‘n innige liedesgemeenskap te wees van mense wat die een die ander hoër ag as homself of haarself, wat nie na hul eie belange omsien nie maar na dié van ander, wat mekaar in nood dra, wie se lewens ongelowiges verbaas.
Verder mag dit nooit liefde ten koste van geregtigheid wees nie, omdat God in sy liefde juis alles op aarde wil regmaak. Ons het die opdrag om ons allereers te beywer vir die koninkryk (heerskappy) van God en vir sy geregtigheid (sy wil vir hierdie wêreld, Mat 6:33). As voortsetting van Israel staan ons onder die opdragte van die profete om reg op aarde te doen omdat ons aan God behoort. Waar Christene invloed op die breë samelewing het, het hulle dus die plig om ook op die groot strukture van die samelewing ‘n invloed uit te oefen sodat hierdie strukture die maksimum ruimte bied vir geregtigheid. Hierdie invloed op die samelewing moet ook uitloop op ‘n uitnodiging aan alle mense om Jesus as Here te kies. Dit bring ons by die sendingtaak van die kerk, sy eintlike taak.
Christus het nie die doel van God net vir ons gerealiseer nie, maar vir die wêreld (2Kor 5: 18ev). Daarom wil Hy die doel ook nie net in ons realiseer nie, maar in die hele wêreld. Terwyl die kerk die voorlopige gestalte van God se doel is, kan daar in laaste instansie net een rede wees waarom God ons nog op hierdie ou, onvernude aarde laat: om as instrumente van die Gees die res vir Christus te bereik. God het van die begin af die hele wêreld in die oog. Hy is aanvanklik direk by die hele mensdom betrokke (Gen 1-11), daarna kies Hy Israel juis om op ‘n nuwe manier alle volke te bereik (Gen 12:2), en uiteindelik stuur Hy sy dissipels die hele wêreld in om al die nasies te bereik (Mat 28:18-20).
Die gelowiges sou in elke opsig beter daaraan toe gewees het as die Here hulle liewer weggeneem het van die ou aarde af. Die bejaardes, die jeug, die siekes, die armes sou almal op die nuwe aarde beter versorg kon word. Al wat net hier op die ou sondige aarde gedoen kan word, en nêrens anders nie, is die sending. Daarom is die sending die sin van die tyd waarin ons leef, die sg. tussentyd. Sending is meer as net om mense tot bekering te roep, maar dit sluit dit in as een onontbeerlike element.
Sending sluit ons getuienis teenoor die Jode in. Hulle is van die oorspronklike olyfboom afgebreek omdat hulle die Messias verwerp het, terwyl ons, gelowige heidene, daarop ingeënt is (Rom 11:17ev). Maar Paulus sien die eintlike doel van sy hele heidensending om die Jode deur die gelowige heidene jaloers te maak op hulle Messias (Rom 11:13ev). Christene hoef nie die ortodokse Jode van die ware God en die Messias te vertel nie, hulle het dit met moedersmelk ingekry. Maar ons moet hulle deur ons lewe en ons woorde oortuig dat Jesus hul Messias is en dat ons alreeds die seëninge geniet wat hulle toekom. Hierdie bekering van die Jode, waarmee Paulus reeds aktief besig was, is die eindbekering van die hele Israel. Hy sien nie teen `die einde,’ iewers in die verre toekoms, ‘n ander bekering van Israel nie, want hy het besef die (enigste!) einde het met Christus se geboorte en die koms van die Gees aangebreek (61). Daarom is hy self, in sy hele bediening, gerig op hulle eindbekering. `Op hierdie manier’ (nie `dan’ nie) sal die hele Israel gered word (Rom 11:26). Dit het die implikasie dat die huidige gebeure in die Nabye Ooste nie profesieë is wat in vervulling gaan nie.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König