Die Groot Geloofswoordeboek: Kenmerke van die Kerk

Die Groot Geloofswoordeboek: Kenmerke van die ware Kerk

Kenmerke van die ware kerk

  • Woordverkondiging Sakramentsbediening Tug

Daar word gewoonlik onderskei tussen kenmerke en eienskappe van die kerk. Die kenmerke is die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente en die suiwer toepassing van die tug.

*Eienskappe van die kerk behels eenheid, heiligheid, Chris­telik­heid of apostolisiteit, algemeenheid of katolisiteit. (*Kerk)

Daar is ‘n interessante onderskeid tussen die eienskappe en ken­merke van die kerk. Die eienskappe kom al ‘n lang pad saam met die kerk. Hulle staan van vroeg af in die *Apostoliese Geloofs­belydenis en die *Belydenis van Nicea. Daarteenoor is die ken­merke eers in die tyd van die *Kerkhervorming opgestel. Dit was ‘n poging om te sê waarom die Hervormers nie meer die *Katolie­ke Kerk as die ware kerk beskou het nie. Volgens die Hervormers het hulle nie meer die Woord suiwer verkondig nie, nie meer die sakramente suiwer bedien nie en nie meer die tug suiwer toegepas nie.

Die klag dat die Katolieke Kerk nie meer die Woord suiwer ver­kondig het nie, het gespruit uit wat die Hervormers as op­sigtelike dwalings gesien het, soos die beklemtoning dat goeie werke deels tot ons saligheid bydra. Wat die sakramente betref, het die Ka­tolie­ke sewe *sakramente gehad in plaas van net die twee van die Pro­te­s­tante (die doop en die nagmaal). Hulle het ook geglo dat die brood en die wyn tydens die nagmaal regtig verander en die liggaam en die bloed van Jesus word. (*Trans­substansiasie)

Wat die tug betref, het die Hervormers gevoel die Katolieke tree op teen hulle wat gelowiges is en doen niks aan mense in die kerk wat soos heidene leef nie. Daarteenoor was die tug veronder­stel om die kerk suiwer te hou, om mense wat afdwaal, weer nader te trek (“tug” kom van ‘n ou Duitse woord tiën, wat “trek” beteken; mense moes dus weer nader getrek word), of in uiterste gevalle uit die kerk uit te sit.

Daar is vandag baie huiwering oor hoe effektief ‘n kerk se sui­wer­heid regtig deur hierdie kenmerke getoets kan word. Die tug word in verreweg die meeste Protestantse kerke hoege­naamd nie of uiters selde gebruik. Die basiese probleem met die tug is dat dit net in ‘n klein, hegte geloofsgemeenskap kan werk, en nie in die ge­formaliseerde gemeenskap van die meeste historiese kerke nie. Oor die suiwer bediening van die sakramente is daar onder Prote­stante self soveel verskille dat dit eweneens nie eintlik as kenmerk kan funksioneer nie. Daar is ingrypende verskille oor die bediening én die betekenis van die doop, en net so oor die nag­maal.

‘n Mens sou ook graag ander eienskappe wou oor­weeg, soos die liefde. Jesus het dit nogal beklemtoon (Joh 13:35).

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Kenmerke van die ware kerk

Die Groot Geloofswoordeboek: Kenmerke van die ware kerk

Die Christelike kerk het vier besondere eienskappe: algemeen­heid, Christelikheid of apostolisiteit, heiligheid en eenheid. Maar hierdie eienskappe is tegelyk ook vermanings en uitdagings waarna ons met aandag moet luister. Die vraag sal elke keer wees of die kerk, en dan spesifiek die kerkgenootskap waaraan ons be­hoort, regtig hierdie kenmerk duidelik vertoon, en of ons nie baie ernstig daaraan moet werk om duideliker te wees wat ons veronderstel is om te wees nie.

  • Algemeenheid

Die kerk is algemeen. Hiervoor word ook die woord “katoliek” gebruik. Dit beteken dat die kerk gedurende alle eeue die hele wêreld met die hele evangelie moet bereik. Eer­stens mag die kerk in die algemene sin van die woord hom nooit tot ‘n deel van die mensdom beperk, byvoorbeeld net die Weste, of net ‘n bepaalde volk of kul­tuur nie. Omdat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het (2 Kor 5:18 ev), moet die hele wêreld bereik word (Matt 28:19). Maar tweedens moet die wêreld met die hele evangelie bereik word. Die kerk mag hom nooit beperk tot net ‘n deel van die evangelie nie, soos net die “redding van siele”, of net die algemene heerskappy van Christus oor die samelewing om ‘n sogenaamde Christelike samelewing te vorm nie. Vandag word ons al meer bewus daarvan dat die Bybel ook ‘n boodskap bevat oor die besker­ming van die aarde of die natuur teen die aggressiewe aan­slag van ons kultuur op die hulpbronne sodat ons ons lewe al gemakliker en veiliger kan maak. (*Heil) ‘n Paar dekades gelede het ons bewus geword van die nadruk van veral die Ou Testament op ‘n regverdige samele­wing waarin daar nie teen sekere men­se of groepe mense gediskri­mi­neer word nie (swart mense – én wit­ mense, vrouens, bejaardes, gestremdes). Daar kom dus telkens nuwe in­sigte na vore wat ons help om die volle evangelie in sy ryk om­vang te verkondig. En derdens moet die kerk in alle tye die hele evangelie bring. Daar sal geen tyd in die geskiedenis van hierdie wêreld kom waarin die wêreld nie meer behoefte aan die evangelie sal hê nie.

Soos al die ander kenmerke is die algemeenheid van die kerk ‘n vermaning en ‘n uitdaging aan ons. Is ons regtig daarby be­trokke dat die volle waarheid van die evangelie deur alle tye heen aan die hele wêreld verkondig word? Of hou ons self­sugtig die waarheid van die verlossing vir onsself en gee net hier en daar ‘n krummeltjie weg wat van ons oorbelaaide tafel afval?

  • Christelikheid of apostolisiteit

In die Apostoliese Geloofsbelydenis bely ons dat die kerk “Chris­telik” is, en in die Geloofsbelydenis van Nicea dat die kerk “apo­stolies” is. Dat die kerk Christelik is, be­teken dat dit van Christus af kom. Dit word op baie maniere in die Nuwe Testament verdui-­de­lik. Die woord “Christelik” kom direk van “Chris­tus” af. Verder is daar die allernouste band tussen Christus en die kerk. Christus word die hoof van die kerk genoem, en die kerk sy liggaam (Ef 1:22-23). Hy is die hoeksteen op wie die kerk gebou is (Ef 2:20). Deur die doop word ons in Christus ingelyf om deel te hê aan sy kruisiging, dood, begrafnis, opstanding en hemelvaart (Rom 6:4-6; Ef 2:6; Kol 2:12-13, 20; 3:1). Christus word selfs ons lewe genoem (Kol 3:4). Die kerk, dit beteken die totale geloofsgemeenskap, is dus sonder meer Christus se kerk, en dit is wat “Christelike kerk” beteken.

Dit beteken natuurlik nie dat die kerk nie aan die Vader of aan die Gees verbonde is nie. Christus is die Seun van God, en die Gees is die Gees van Christus. Daarom is daar eweneens die aller­nouste verband tussen die kerk en die Vader en die Gees. Die kerk is die volk van God en die tempel van die Gees (1 Pet 2:9-10; 1 Kor 3:16-17; 6:19; 2 Kor 6:16).

Dit alles beteken dat die kerk direk onder die gesag van Christus (én die Vader én die Gees) leef. Aan sy woorde moet ons ons hele lewe meet. Sonder oorgawe en verbondenheid aan Hom kan ons nie kerk wees nie, en kan niemand ‘n Christen wees nie.

Maar waar kry ons sy woorde? Natuurlik in die Bybel. Die Bybel kry ons van die apostels. Hulle, of mense na aan hulle, het die boeke van die Nuwe Testament geskryf. En hulle het in hul geskrifte vir ons geleer dat die Ou Testament ook vir hulle die Woord van God is. Ons het geen ander toegang as die geskrif­te van die apostels om te weet wie Jesus was en wat Hy gesê en gedoen het nie.

Uit hulle geskrifte leer ons dat Jesus hulle spesiaal afgerig en voorberei het om die evangelie verder te dra. Daarom kan ons glo wat hulle oor Hom vir ons nagelaat het, en Hom in hulle voetspore volg. Die apostels word dan ook saam met die profete die fonda­ment van die kerk genoem (Ef 2:20). In hierdie sin is “Christelik” en “apostolies” beide kenmerke van die kerk: ons ken Christus deur die getuienis en die apostels wat Hy self vir hierdie taak voorberei het. Hulle geskrifte bevat die waarheid oor Hom. Daarom is die Bybel die maatstaf waaraan ons die lewe van die kerk in die algemeen en ons eie lewe in die besonder moet meet.

Ook hierdie kenmerk van die kerk is ‘n vermaning en ‘n uit­da­ging aan ons. Is ons denominasie regtig onvoorwaardelik gehoorsaam aan Jesus Christus? Is die geskrifte van die apostels ons rigsnoer? Volg ons hulle na soos hulle Christus nagevolg het? (1 Kor 11:1) Of is daar ander tradisies en mensgemaakte reëls wat vir ons swaarder weeg as hulle woorde oor Hom?

• Eenheid

Die eenheid van die kerk is in die Nuwe Testament vanselfspre­kend. Dink maar net aan die beelde wat by die Chris­telikheid van die kerk gebruik is: Ons is die liggaam van Christus, die volk van God, die tempel van die Gees. Wat is vanselfsprekender as dat God net een volk het, dat Christus net een liggaam het en dat daar net een tem­pel is? Paulus gebruik dit inderdaad as argument teen verdeeldheid in die gemeente van Korinte: “Is Christus dan in stukke ver­deel?” (1 Kor 1:13). Hy noem die eenheid tussen al die kinders van God selfs ‘n vrug van die kruisdood van Jesus (Ef 2:15-16). Hy kan nie ophou om die dinge in te ryg wat almal een is in die kerk nie: één liggaam, één Gees, één hoop, één Here, één geloof, één doop, één God en Vader (Ef 4:4-6). Omdat die eenheid so belangrik is, roep hy ons op om hierdie eenheid te bewaar deur in vrede met me­kaar te leef (Ef 4:3). Die eenheid van God se kinders sal die wêreld oortuig om in Hom te glo (Joh 17:21).

Ons het waarskynlik in hierdie kenmerk van die kerk die op­vallendste anomalie tussen die norm van die Nuwe Testament en dit wat duidelik sigbaar is: die verskeurdheid van die kerk van die Here. Hierdie verdeeldheid is nie net sigbaar in die talle de­nominasies oraloor nie, maar in die opvallende spanning en selfs vyandskap tussen baie denominasies. Ons probeer mekaar vlieë afvang, en bewys dat ons die suiwerste is. Ons word uit­mekaar gehou deur allerlei redes wat niks met die evangelie te doen het nie.

Die vermaning en die uitdaging wat hierdie kenmerk van die kerk aan ons stel, is om die Here te vertrou, oor denominasione­le grense heen hande te vat en saam die evangelie na die wêreld te neem. Nêrens in die Bybel word dit as ‘n vereiste gestel dat ons eers oor alles moet saamstem voor ons hande vat nie. Alle denomina­sies behoort eers saam ‘n verenigde front te vorm en dan na hul ver­skil­le te begin kyk. Dit is slegs die uiterste af­wy­king van die hart van die evangelie wat afstand tussen deno­minasies kan regverdig.

• Heiligheid

Die heiligheid van die kerk het verskillende as­pekte. Om heilig te wees vir die Here beteken eerstens om an­ders te wees, afgeson­­-derd, opsy gesit vir Hom. Dit is nie iets waarna die gelowiges moet streef nie, hulle is dit. Die gemeente word herhaaldelik in die brie­we in die Nuwe Testament “heiliges” genoem. Dit geld selfs ge­meen­tes waar daar skokkende sondes voorgekom het (1 Kor 5:1 ev). Die nuwer vertalings omskryf “heilig” gewoonlik as “mense wat aan God behoort” – wat ‘n mooi betekenis vir heilig is, maar die oor­spronklike taal lees letterlik “heiliges” (Rom 1:7; 1 Kor 1:2; 2 Kor 1:1; Ef 1:1). Hulle is heilig, ondanks hulle sonde. Dis ‘n gawe van God.

In een sin noem Paulus Christus ons verlossing en ons heili­ging (1 Kor 1:30). En ons weet dat Hy ons verlossing as ‘n geskenk aan ons gee. Net so ons heiliging. Ons ontvang dit as ‘n gawe uit sy hand.

Maar dan moet ons dit in werking stel en daarvolgens lewe. Dit is die tweede aspek van heiligheid: om nie aan hierdie son­dige wêreld gelyk te wees nie, maar deur God verander te word (Rom 12:2), anders te leef as die ongelowiges. Om heilig te wees beteken om ‘n heilige lewe te leef wat aan Hom gewy is. Omdat Hy die sonde haat (Ps 5:4-7), moet sy kinders wegvlug vir die sonde. “Aardjie na sy vaartjie” beteken dat kinders soos hulle vader is; dus is ons soos ons Vader. Christus se liggaam moet tog by Hom as die hoof (die kop) pas. Christus moet in ons gestalte kry (Gal 4:19). ‘n Moderne Duit­se vertaling lees: Die mense moet aan julle kan sien wie Christus is. Daarom is die briewe in die Nuwe Tes­tament vol vermanings om met die sonde op te hou en ons lewe onvoorwaardelik aan God te wy. Ons moet in die praktyk word wat ons in Christus is. Dit geld elke ge­lowige, en ook die kerk as geheel. By *heiligmaking word die saak breedvoeriger behandel. Ook by *Beeld van God.

 

Outeur: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Biskop

Die Groot Geloofswoordeboek: Biskop

‘n Biskop is deel van ‘n hiërargiese sisteem van kerkregering (*Amp), dit wil sê ‘n sisteem waarin sommige ampsdraers gro­ter ge­sag het as ander. Dit staan teenoor die sogenaamde presbi­teriale sisteem waarin alle ampte in die kerk gelyk is. Daar is ‘n hiërargiese sisteem in hoogkerklike denominasies, soos die *Katolieke Kerk, die *Anglikaanse Kerk, en die *Ortodokse Ker­ke van Oos-Europa. In die Katolieke Kerk is daar van onder af: pries­ters, biskoppe, aartsbiskoppe, kardinale en die pous heel bo. Elke amp is belangri­ker en dra meer gesag as die vorige een. Die biskop is die hoof van ‘n diosees, wat uit ‘n aantal kerke/ge­meentes in ‘n bepaalde gebied bestaan.

 

Hierdie sisteem staan teenoor die presbiteriale sisteem in die Gereformeerde wêreld waar alle ampte (predikant, ouderling, dia­ken) gelyk is (of ten minste behoort te wees) sodat die een nie ge­sag oor die ander het nie.

 

In die Bybel kom die woord “biskop” nie in Afrikaanse ver­talings voor nie. Daar is ‘n Griekse woord episkopos/episkope (Hand 20:28; Fil 1:1; 1 Tim 3:2; Tit 1:7; 1 Pet 2:25) wat in Katolieke vertalings met biskop vertaal word. Protestantse vertalings wis­sel tussen opsie­ner/overseer, gemeenteleier en ouderling/elder, met die probleem dat daar alreeds ‘n ander woord is wat redelik konsekwent met ouder­ling of oudste vertaal word (presbuteros, Engels: presbyter). Die verskil tussen Katolieke en Protestante oor die vertaling van epi­skopos is interessant. Die Katolieke gebruik graag “biskop” omdat dit hulle pas om dié woord in die Bybel te hê. Hulle het immers die amp van biskop in die kerk. Maar dit pas nou weer die Protestan­te om nie hierdie woord in die Bybel te hê nie omdat hulle nie so ‘n amp het nie. Dis ‘n interessante voorbeeld van hoe ‘n vertaler se eie situasie die vertaling (soms onbewus) beïnvloed. (*Bybelverta­ling)

Alle woorde gemerk met  ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




Verhoudings teenoor reëls; ander se menings teenoor verhouding met God

Verhoudings teenoor reëls; ander se menings teenoor verhouding met God – Jan van der Watt

Izak du Plessis vra:

Ek lees verskeie stukke hier raak aangaande “kerk” en Sondag of Sabbat. My kwessie is egter die feit dat ek van mening is dat ons die punt mis. Jou teologiese agtergrond, denominale verwantskap of persoonlike ervarings, is soms die faktore wat jou dryf tot ‘n spesifieke oortuiging. Ons hang grotendeels oortuigings aan van ander mense en daardeur het ons nie ons eie unieke verhoudings met God nie. Bewyse hiervan is vrae soos die oor vryery, Sabbat of Sondag byeenkomste, Kerk toe gaan of huisgemeentes, selfs aspekte soos kleredrag. Ons is so geneig om mense van wette te oortuig dat verhoudings daardeur skade kry. Ons moet ophou om denominasies en teoloë se oortuigings te vra en ons moet konsentreer op die Een wat nou in my woonagtig is – die Heilige Gees, en daardeur vir ieder en elke skepsel van God hier op aarde die liefde demonstreer wat alle verstand te bowe gaan. Jammer as hierdie nie die forum is om aspekte soos hierdie genoem mag word nie, maar iemand kan my dalk reghelp daarmee. Die vraag moet egter bly – “Waarvan is ek oortuig deur die Gees van God wat in my woon?”

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die volgende twee punte kom in sy brief na vore en gaan aandag kry:

a)      Die belang van verhoudings bo reëls

b)      Die aanhang van ander se opinies wat hy dan teenoor die verhouding met God stel.

Izak is 100% reg wanneer hy sê dat die kern van Christenskap oor verhoudings gaan. In die eerste plek gaan dit oor ‘n liefdevolle God was sy verhouding met mense wil herstel. Dit is wat geloof doen: dit wil ons hand in die hand van God sit. Omtrent alle beskrywings wat gebruik word om die redding van mense mee uit te druk gaan oor die herstel van die verhouding tussen God en mens, bv. om regverdig te word, is om in die hof van al jou skuld vrygespreek te word, die skuld wat jou gekeer het om in God se teenwoordigheid te kom; of om losgekoop te word – jy word uit die mag van die sonde gekoop sodat jy vry saam met God kan wees; weergeboorte – jy word weer gebore om as kind van God te kan leef, ens. Met sondebelydenis laat God jou nie vir elke sonde betaal nie, maar vra dat jy jou verhouding met Hom sal herstel, met ander woorde, dat jy ʼn goeie kind van Hom sal bly deur die verkeerde dinge vaarwel toe te roep. Dit gaan oor verhoudings, en nie net teenoor God nie, maar ook teenoor jou naaste. Jy moet jou naaste so liefhê soos jy vir God het. Die belangrikste is om goeie verhoudings met jou naaste te bly handhaaf.

Oor Izak se tweede onderskeiding, naamlik tussen die opinies van ander en die verhouding met God, moet ietsie meer gesê word. In die Christendom kan kennis nie van verhoudings geskei word nie. In die Nuwe Testament word geestelike volwassenheid (wat volwasse verhoudings met God en jou naaste insluit) altyd aan die regte kennis gebind. Immers, jy moet gedurig besluite neem en dit moet die regte besluite wees. Hoe gaan jy die regte besluite neem as jy nie die kennis het om te weet wat reg of verkeerd is nie (m.a.w. wat God eintlik van jou verwag nie)? Verhoudings bou dus op die manier op kennis. Ons verhouding met God groei as ons weet hoe om Hom tevrede te stel en wat sy wil is. Kolossense 1:8-12 beklemtoon juis dat hoe meer ons weet hoe beter gaan ons leef en hoe meer ons van God se wil in die lewe leer ken hoe, meer gaan ons van Hom self leer ken. Die twee dinge hang saam.

Nou is die vraag of ons na die idees van ander moet luister. Eers moet gesê word dat ons eintlik net na God moet luister, maar God se wil kom (ook) deur ander na ons toe. In die eerste plek hoor ons God se woorde in die Woord van God. Ons kan dus maar gerus luister na wat mense daaroor sê. Maar dan moet ook gesê word dat ons met goeie onderskeiding moet luister. Ons moet nie sommer alles vir soetkoek opvreet nie (1 Johannes 4:1-2). Ons moet dus die opinies van ander weeg aan die Woord. Dit beteken dus dat ons nooit mag dink ons weet alles of dat net ons reg is nie. Waarheid word gewoonlik saam ontdek. Die saam sluit ook die miljoene Christene in wat voor ons die pad van Christenskap gestap het (ons noem dit die Christelike tradisie). Hulle het ook met die Woord en die vrae van die lewe geworstel. Ons kan baie by hulle leer, al was hulle partymaal heeltemal verkeerd. Dan kan ons ten minste uit hulle foute leer en nie dieselfde foute maak nie.

Ons moet ook versigtig wees om nie te vinnig te sê dat ons net op die Gees staatmaak nie. Natuurlik is die Gees die Een wat in ons werk en getuig, maar die Gees getuig nooit anders as wat Jesus getuig het nie. Sy boodskap sal altyd met die boodskap van Jesus ooreenstem. En as ons nie weet wat Jesus sê nie (die Woord leer nie), hoe kan ons weet of dit die Gees is wat met ons praat. In 1 Johannes 4:1-2 sê Johannes dat ons maklik ‘n valse gees (of selfs ons eie gees) met die ware Gees kan verwar. Die manier om die verwarring teen te werk en seker te maak dat dit die Gees is wat werk, is om dit met die boodskap van Jesus te vergelyk. Daarvoor het ons kennis nodig, asook die insig wat ander ons kan gee.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt