Jongmense verlaat die kerk

It is so stupid of modern civilization to have given up believing in the devil when he is the only explanation of it –  Ronald Knox

Jongmense verlaat die kerk

Jong mense verlaat die kerk. Hoekom? Drew Dyke (Generation Ex-Christian) het gaan kyk hoe hierdie groep wat die kerk verlaat het, lyk. Hy noem ‘n paar kenmerke:

  • Hulle voel die boodskap van die evangelie is te nou – te beperkend.
  • Hulle het ‘n slegte ondervinding met die kerk gehad.
  • Die modernisme het ‘n anti-bonatuurlike wêreldsiening gevestig. Dit beteken dat wondertekens, soos in die Bybel opgeteken, onaanvaarbaar is. Daarom wil hulle niks met wat hierdie tekens as die “Bybelse waarheid” beskryf, te doen hê nie.
  • Mense speel vandag rond met verskillende vorme van spiritualiteit.
  • Baie van hulle is geestelike rebelle wat op hulle outonomie aandring.
  • Sommige het maar net stadig al verder van die kerk af weggedryf.

Mense het nog altyd die kerk verlaat, maar die getal kerkverlaters is besig om toe te neem. Hoekom verlaat hierdie jongmense die kerk. Christian Smith sê dit is as gevolg van moralistic therapeutic deism. Sjoe! Wat beteken dit?

  • Moralistic – God wil hê dat sy kinders hulle goed moet gedra
  • Therapeutic – God wil hê dat sy skepsels goed oor hulleself moet voel
  • Deism – God bestaan wel, maar is nie betrokke by die lewens van mense nie.

Baie teoloë voel dat hierdie jongmense nie werklik Christene is of was nie – altans nie volgens aanvaarde Bybelse/teologiese definisies nie. Hoe het dit gebeur? Hulle is nooit die evangelie van Jesus Christus geleer nie – nie in  die ouerhuis en nie in die kerk nie. In baie kerke is daar vandag ‘n afwesigheid van Bybelse/evangeliese prediking. Dit lei tot ‘n geslag wat grootgeword het met moralistiese, terapeutiese deïsme.




Lewe in die Kerk

Norman Schwarzkopf

Lewe in die Kerk

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 

Die Westerse kultuur lê klem op die individu. Ons helde is sterk manne wat selfversorgend is – hulle loop alleen. Dieselfde gebeur ook in die kerk. Elke individu moet Jesus Christus se opdrag om Hom te volg, gehoorsaam, maar ons kan Hom nie as individue volg nie. Ons kan nie dissipels los van Jesus Christus se kerk maak nie. Kyk net na al die mekaar stellings in die Nuwe Testament. Ons kan nie sê dat ons Jesus Christus volg as ons sy kerk verwaarloos nie. Hy het sy roeping aan sy kerk toevertrou.

 

Ons kan nie God se kerk verkleineer nie. Die kerk is nie ‘n sosiale klub of ‘n gebou of ‘n opsie nie. Die kerk is God se strategie om die wêreld te bereik – geen Plan B nie. Ons is so geneig om aan geboue en programme te dink as ons van die kerk praat. Wat vir God belangrik is, is ons interaksie met mense wat Hy op ons pad geplaas het.

In die Bybel word 114 keer na die kerk verwys – in meer as 90 gevalle verwys dit na die plaaslike gemeente en nie na die globale kerk nie. Hoekom leef ons dan so graag los van die kerk?

  • Ons vertrou op onsself; ons is selfversorgend. Ons hou nie van wedersydse interafhanklikheid nie; nog minder van aanspreeklikheid teenoor mekaar.
  • Ons is op soek na die volmaakte kerk. Ons loop van die een na die ander kerk en is elke keer teleurgesteld. Daar is nie ‘n volmaakte kerk bestaande uit volmaakte lidmate nie.
  • Ons het in die kerk seergekry.
  • Ons sien geen rede om aan die plaaslike gemeente verbonde te wees nie.

Die Bybel sê dat die plaaslike gemeente belangrik is. Daar kry ons leiers wat ons in sy woord onderrig – God  het ons opdrag gegee om in plaaslike byeenkomste te vergader waar God se woord verkondig word, die nagmaal gebruik word, nuwe gelowiges gedoop word, waar ons mekaar bemoedig en vir mekaar bid. Daarna versprei ons en deel die evangelie met ongelowiges. ‘n Dissipel wat dissipels maak, wy sy lewe saam met ander medegelowiges aan ‘n gemeente. Dit is waar ons saam met ander gelowiges kan groei en mekaar liefhê – waar ons ons liefde vir God en ons naaste kan uitleef.




Die groot opdrag en die kerk

I gave up all for Christ, and what have I found? Everything in Christ – Johannes Calvyn

Die groot opdrag en die kerk

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

Jesus se opdrag aan sy dissipels in Matteus 28:19 – 20 geld nie net vir leraars en sendelinge nie – dit geld vir my ook. Lees ons Handelinge sien ons dat al God se kinders saamwerk om sy opdrag uit te voer. Hulle reik uit na die mense om hulle; hulle vra die mense om Jesus Christus te volg; hulle leer hulle; hulle gehoorsaam alles wat Hy hulle geleer het; hulle doop die mense. Dissipels maak dissipels.  Hulle het Jesus se opdrag letterlik en ernstig opgeneem. Die gevolg is dat die evangelie gou oor die destyds bekende wêreld versprei het.

 

Is die maak van dissipels nog vir die kerk belangrik? Moet vandag se kerk dalk iets anders doen – ‘n ander opdrag kry? Hoekom doen die leraars en betaalde amptenare vandag al die werk in die kerk? Die lidmate woon eredienste by, sit iets in die kollektebord en gaan huis toe – geïnspireerd en gevoed! Meeste lidmate weet nie meer hoe dit lyk om dissipels te maak nie.

Een van die groot probleme is dat gemeentes op programme fokus. Ons het ‘n program vir alles wat ons doen. Maar om dissipels te maak, is meer as net ‘n program – dit is ons lewensroeping. Dissipels maak dissipels. Hoe lyk dit in die praktyk? In die Groot Opdrag is daar vier belangrike woorde: gaan, maak, doop en leer. Baie eenvoudig. Ons het beslis nie ‘n groot geleerdheid nodig om dit te verstaan nie; dit is beslis nie iets wat net ‘n leraar kan doen nie. Die probleem is dat die praktyk nie so eenvoudig is nie.

Die proses van dissipels maak kry ook nooit klaar nie. God bring voortdurend nuwe mense en nuwe geleenthede oor ons pad.  As hierdie nuwe dissipels uitgaan, beteken dit nie die einde van die verhouding nie – aanmoediging en rigtinggewing is nog altyd nodig. Ons moet egter bereid wees om die geleenthede aan te gryp en bereid wees om in die proses ‘n prys te betaal: As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat … As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg (Johannes 15:18 – 20). Dissipels maak dissipels: maklik om te verstaan, duur om te implementeer.

As ons opdrag is om dissipels te maak, hoe moet ons dit doen? Daarna kyk ons volgende keer.




Die kenmerke van die ware kerk

There have been some who were so preoccupied with spreading Christianity that they never gave a thought to Christ.” ~ C.S. Lewis

 

Die kenmerke van die ware kerk

In Efesiërs 1:15 – 23 kry ons ʼn opsomming van die kenmerke van ʼn ware kerk.  Paulus het gehoor van hulle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges.  Dit is die twee kenmerke van die ware kerk.  Geloof in Christus beteken nie noodwendig liefde vir medegelowiges nie.  Monnike was lojaal aan Christus, maar het hulle onttrek aan mense.  ‘n Ware Christen doen beide; hy besef hy kan sy liefde vir Christus op geen ander manier bewys as deur sy liefde vir sy medemens nie. 

Maak nie saak hoe suiwer ‘n kerk se teologie is nie, hoe edel sy aanbidding is nie, dit is nie ‘n ware kerk as daar nie ook liefde vir die medemens is nie.  Baie kerke maak openbare verklarings slegs as dit sensuur of kritiek is.  Ons haat die liberales en die radikales; ons haat die fundamentaliste; ons haat die Katolieke, ens.  Dit is goed as ons gereeld onthou: liefde vir Christus en liefde vir ons medemens is onlosmaaklik verbind in die kerk.

Daarom gebruik Paulus in hierdie gedeelte die beeld van die kerk as liggaam van Christus met Christus as hoof van die kerk.