Die doel van die kerk

The church that eats together and prays together stays together –  Michael Bird

Die doel van die kerk

Wat moet die kerk doen tot Jesus Christus se wederkoms? Bybel lees, bid en psalms sing? Goeie dinge, maar daar word meer van die kerk verwag. Kom ons kyk na ‘n paar dinge wat die kerk moet doen.[Om ‘n volledige lys op te stel, sou ek ‘n boek moes skryf.]

  • Evangelisasie en sending

Alle gelowiges behoort opgewonde te wees om die verspreiding van die evangelie te bevorder – hulle verkondig die goeie nuus van die verlossing deur Jesus Christus. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word (Markus 13:10). In Lukas 10 lees ons van die sending van die twee en sewentig. Hulle word uitgestuur met die boodskap dat die koninkryk van God baie naby is. Toe hulle terugkom sê Jesus vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val (10:18).

Dan Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19); Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8).

  • Maak dissipels

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels … leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:19 – 20). Ons opdrag is nie om mense te oorreed om besluite te neem nie, maar om dissipels van hulle te maak en hulle te leer.

  • Bedien die sakramente

Ons moet die sakramente integreer in mense se dieet van aanbidding om hulle geestelik te voed. Die doop vertel ons van ons sterwe en opstanding in Jesus Christus. Die doop verbind ook die gemeente aanmekaar. Die Nagmaal is die geleentheid van introspeksie en geestelike aanspreeklikheid.

  • Koninkrykswerk

Die kerk is die bewaarder van die koninkryk. Hierdie werk vereis optrede met deernis, barmhartigheid, openbare betrokkenheid, sosiale geregtigheid, ens. In sy bediening het Jesus nie onderskeid gemaak tussen verkondiging en genesing van siekes nie. Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig (Matteus 11:5). Koninkrykswerk beteken dat ons ons oor die kwesbares ontferm: Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld (Jakobus 1:27). Die heerskappy van God is ‘n dinamiese werklikheid wat sigbaar word in die liefdevolle optrede teenoor dié wat ly en geregtigheid teenoor dié wat uitgebuit word.

  • Aanbidding

Dit is meer as net elke Sondag die erediens bywoon. Aanbidding is om naby God te kom in diens, lofprysing en danksegging. Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ‘n offer van lof bring, die lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is (Hebreërs 13:15 – 16).

Voldoen my gemeente aan die paar vereistes wat hier genoem word?

 




Die kerk as familie

To be honest is to confront the truth. However unplesant and inconvenient the truth may be, I believe we must expose and face it – Martin Luther

 

Die kerk as familie

‘n Baie algemene beeld wat van die kerk in die Bybel gebruik word, is die van ‘n familie. Watter implikasies het dit? Kom ons kyk na ‘n paar:

  • Die lede versorg mekaar

In ‘n disfunksionele familie is die lede selfsugtig, onafhanklik en individualisties. Hulle probeer nie om mekaar beter te leer ken nie; hulle versorg nie mekaar nie. Maar wat help dit my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (Jakobus 2:14 – 17).

Ware geloof word uitgedruk in liefde vir jou medegelowiges. Jakobus praat nie hier oor Bybelstudie nie, maar oor liefdesdae. Ons omgee vir medegelowiges is meer as net geestelik – ons moet ook in hulle fisiese behoeftes voorsien.

 

  • Die lede spandeer tyd saam

Lede van ‘n familie spandeer tyd saam – tyd om mekaar beter te leer ken. Dit beteken nie net tyd tydens die geskeduleerde byeenkomste nie, maar ook buite hierdie byeenkomste. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede … Hulle het elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in eenvoud geëet (Handelinge 2:42, 46). Die moderne mens is egter bang vir intimiteit – ons wil nie weet wat in mekaar se lewens aangaan nie.

 

  • Die lede het mekaar lief

Groet al die medegelowiges met ‘n soen van Christelike broederskap (1 Tessalonisense 5:26). Wat hierdie vers basies sê, is dat ons ons liefde vir medegelowiges sigbaar moet uitdruk.

 

  • Die familie groei

Die getalle neem toe of deur natuurlike aanwas (nuwe kinders) of deur die uitgebreide familie. Net so in die kerk. Daar moet gedurig nuwe bekeerlinge bygevoeg word, maar daar is ook gelowiges wat van ander kerke kom.

 

  • Die lede deel die verantwoordelikhede

Elke lid van die familie het ‘n spesifieke rol wat hy/sy moet vervul. In 1 Johannes 2:13 – 14 skryf Johannes aan die vaders, die jongmense en die kinders en wys elke groep op hulle verantwoordelikhede

 

  • Die lede weerspieël die drie-enige God in hulle verhoudings

In 1 Johannes 1:1 – 3 lees ons:

Van die begin af was Hy daar.  Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak.  Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom;  ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê.  En die gemeenskap waarvan ons deel het, is dié met die Vader en sy Seun, Jesus Christus.

Hierdie gemeenskap van gelowiges is die lewensbron van die kerk.

 

Kyk ons na hierdie implikasies is dit duidelik dat baie gemeentes maar disfunksionele families is.

 




Watter kerk is die regte kerk?

Watter kerk is die regte kerk? – Kobus Kok

Sarie vra:

Daar is soooo baie kerke en leerstellings. Watter kerk (denominasie) is die mees Bybel korrek? Net as mens dink NOU het jy die regte plek vir aanbidding opgespoor, is daar weer n dwaalleer wat êrens kop uitsteek!!

Antwoord:

Prof. Kobus Kok antwoord:

Dit is baie moeilik om sommer so breedweg en kategories te kan sê watter kerk is goed en watter kerk is sleg. Gelowiges word deur God se Gees bemagtig om gees-geïnspireerde besluite te neem. Wat vir sommiges reg is, is dikwels vir ander verkeerd. Kyk maar net na die vroegste Christene. Selfs binne die kerke van Paulus was daar gelowiges wat verskillend oor sake geoordeel het. Vat maar net die groot debat in die gemeente in Korinte (1 Kor 8) rondom die eet van offervleis. Vir baie van die gelowiges was dit problematies om offervlies te eet. Vir ander gelowiges was dit nie ʼn probleem nie. Paulus verstaan beide kante en dink dat nie een van die twee opsies problematies is nie. In die oplossing wat Paulus aanbied, beveel hy aan dat die gelowiges wat voel dat die eet van offervleis aanvaarbaar is, eerder ter wille van die ander gelowiges vir wie dit onaanvaarbaar is, moet wegbly daarvan. Die punt is net dat selfs die heel vroegste Christene in die Bybelse tyd ook dikwels gevoel het dat hulle medegelowiges nou te ver gegaan het of die grense oorsteek het. Dit leer ons dat mense reeds van die heel begin af van mekaar verskil het oor die wyse waarop die geloof vergestalting moes kry.

 

Prof Kobus Kok

 




Ek gaan alleen kerk toe

Religion is the sunstance of culture, culture is the form of religion – Paul Tillich

Ek gaan alleen kerk toe

Baie mense kom by die kerk aan as die mense begin sing, kry hulle sitplek, luister na die preek en verlaat die kerk sonder om met iemand te praat. Hulle gee en ontvang geen gasvryheid nie; hulle deel nie hulle laste met ander nie; hulle help nie die swakkes nie; stram verhoudings word nie herstel nie; hulle is nie bly saam met ander nie; hulle huil nie saam met ander nie. Jy kan geen intimiteit in die kerk verwag as jy jou van almal onttrek nie.

 

Hulle mag voel dat die sang en preek hulle met Christus verbind het terwyl hulle die dele van die liggaam wat langs hulle gesit het, geïgnoreer het. Dit is baie maklik om alleen kerk toe te gaan. Hoekom gebeur dit? Is dit dalk omdat ons niemand ongemaklik in die kerk wil laat voel nie – ons wil geen druk op hulle plaas nie. Lidmate kry die indruk dat dit nie noodsaaklik is om by ander betrokke te raak nie. Ons gee voor mense kan met Christus verbind sonder om met sy liggaam verbind te wees.

Ons sing in die donker met vreemdelinge in plaas daarvan dat ons in die lig aanbid met mense wat ons liefhet en vir wie ons omgee. Ons is nie veronderstel om alleen kerk toe te gaan nie, Ons is verantwoordelike vir diegene om ons – ons is dan deel van een liggaam.