Verskillende kerke – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek wil hoor of daar dalk ‘n kort saaklike studieresultaat is oor die magdom verskillende kerke in ons land.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

As dit net gaan oor kort saaklike inligting behoort die volgende webblaaie waardevolle inligting te verskaf oor die verskillende kerke in Suid-Afrika:

Afrikaans: https://af.wikipedia.org/wiki/Kerke_in_Suid-Afrika

Engels: https://en.wikipedia.org/wiki/Category:Christian_denominations_in_South_Africa

By bogenoemde twee webblaaie kan mens net verder klik op elke kerk om nog meer inligting te bekom.

Die volgende webblad gee ook inligting oor die verskillende godsdienste in Suid-Afrika — getalle, persentasies, ens:

https://en.wikipedia.org/wiki/Religion_in_South_Africa

Dan het prof Johan van der Merwe op ons webblad, http://www.bybelkennis.co.za, ’n artikel oor die ooreenkomste en verskille tussen die NG Kerk, Geref Kerk, Ned Hervormde Kerk en Afrikaanse Protestantse Kerk. Titel van die artikel: “Die verskillende Afrikaanse Kerke”.

Prof Adrio König het op dieselfde webblad ’n stuk oor die charismatiese kerke in Suid-Afrikas: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-pinksterkerkecharismatiese-kerke/

Daar is op die Bybelkennis-webblad ook artikels oor ander kerke, soos die Rooms-Katolieke Kerk, die Ou Apostel-Kerk, ensovoorts. Tik net die woord “kerke” by die soekfunksie in, en volg dan die bladsye.

Ek vertrou bostaande inligting sal help.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




’n Bonatuurlike kerkdiens – Hermie van Zyl

Anna vra:

As ‘n kerk ‘n “supernatural” of bonatuurlike diens aanbied, wat beteken dit? Is dit volgens die Bybel?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Verskillende kerke het verskillende tradisies waarbinne hulle opereer. Daar is byvoorbeeld die kerke van die Gereformeerde tradisie waar dit heel stemmig en sober daaraan toegaan omdat die klem hoofsaaklik op die Woordverkondiging val. Sulke dienste kan deur sommige mense as baie “intellektueel” beleef word, omdat dit meer gaan oor die kerkleer en oor kopkennis as oor die belewing van die Christelike geloof.

Ander kerke is weer meer sakramenteel ingestel, soos die Rooms Katolieke Kerk, waar bepaalde rituele die erediens bepaal. Dis amper asof die Christelike geloof in ‘n drama opgevoer word en die gemeente, hoewel passief, tog deel het aan hierdie drama, veral deur middel van vaste formules, gebede, simboliese handelinge en die sakramente. Die gemeente word as ‘t ware deur die voorganger (priester) begelei en kry so deel aan die “Christelike drama”.

Ander kerke, soos die sogenaamde charismatiese kerke, is weer meer op belewing ingestel. Hoewel Woordverkondiging ‘n rol speel, is die klem op die vrye werking van die Gees in lidmate se lewens. Daarom word mense aangemoedig om vrye uiting te gee aan hoe die Gees hulle in die erediens lei. Uiteraard is daar binne charismatiese kerke ook verskille, en dis veral gemeentes waar baie klem gelê word op die Gees se bonatuurlike werking waar hierdie “bonatuurlike” dienste aangebied word. Wat tipies gebeur, is dat mense tydens die diens in tale sal spreek, met hande in die lug die Here sal prys, “neergevel” word deur die Gees, en waar wonderbaarlike genesing ook mag voorkom. Ek vermoed dat die vraagsteller veral na laasgenoemde gebeure verwys in haar vraag na “bonatuurlike” dienste, want alle klem word geplaas op die bonatuurlike gawes van die Heilige Gees wat binne die diens tot uiting kom.

Mens kan nie sê dat die een tradisie beter of meer reg is as die ander nie, want al hierdie tradisies het hulle wortels in die Bybel. Neem byvoorbeeld waar Paulus raad gee aan die Korintiërs in 1 Kor 12,14 oor die beoefening van die geestesgawes. Daar was duidelik ‘n mate van “onordelikheid” in hierdie gemeente se eredienste. Mense het blykbaar geprofeteer en in tale gespreek. Paulus sê nie hulle moet ophou daarmee nie, maar sê wel dat alles ook ordelik daaraan moet toegaan (1 Kor 14:39-40). Daar is plek vir beide die beoefening van die bonatuurlike geestesgawes én die verstaanbare prediking, solank alles tot opbou van die gemeente geskied (1 Kor 14:26).

Dit is ook so dat mense in hulle godsdiensbelewing verskil. Sommige hou meer van stemmige en “verstaanbare” dienste, ander hou weer meer van dramatiese gebeure waar hulle die werking van die Gees kan erváár. Dit is een van die redes waarom daar verskillende kerklike tradisies rondom die erediens ontwikkel het. Maar mens kan nie sê dat die een tradisie beter, of meer Bybels, of meer reg in die oë van God is as die ander nie. Mens moet daar gaan kerk bywoon waar jy tuis voel en waar jy ervaar dat jy in jou verhouding met die Here die beste gevoed word. Solank ons net nie sê dat dit in die kerke waar daar opsigtelik meer opsienbare dinge voorkom, meer geestelik daaraan toegaan as in kerke waar die erediens stemmiger verloop nie. En solank alle tradisies vashou aan die kernwaarhede van die evangelie van Jesus Christus, kan ons mekaar ruimte gee vir verskillende belewinge van ons verhouding met Christus.

Laastens moet mens ook opmerk dat daar ongelukkig baie bedrog in die Naam van Christus plaasvind. En wanneer mens vermoed dat sekere gebeure nie eg is nie, geforseerd voorkom of opgeblaas word vir blote sensasie en vir mense se bevrediging, dan begin die gevaarligte aangaan. Mens moet dus ook voortdurend die “geeste ondersoek” en onderskei of dit eg is.

Saamgevat: die verskillende maniere waarop kerke hulle eredienste inrig, lê ingebed in die tradisies waaruit daardie kerke kom. Elkeen kan aanspraak maak op egtheid en op Bybelse begronding. Maar elkeen moet ook voortdurend selfondersoek instel of dit wat by hulle gebeur werklik tot eer van die Here is, en of dit bloot menseverheerliking is. Dit is waarskynlik beter dat daar in elke erediens ‘n gesonde mengsel is van lering uit die Woord én belewing van die verhouding met God, deur gebed, sang, simboliese handelinge en selfs “bonatuurlike” gebeure, as dit binne daardie kerk se tradisie val. Solank mens net besef dat “bonatuurlik” nie net in bepaalde opspraakwekkende gebeure manifesteer nie, maar ook voorkom wanneer die Gees stilweg sy oortuigingswerk in ‘n mens se hart doen.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Die Ou Apostoliese Kerk

Die Ou Apostoliese Kerk – Pieter Verster

Henk vra:

Ek wil twee dinge weet asb. Ek wil graag weet die ou apostoliese kerk, hoe reg of verkeerd hulle is, Ek het al paar goed gelees, maar een van hulle konfronteer my. Ek het Kitte Pienaar se boek gelees en wil graag net hulp hê in hierdie verband. Tweedens het ek diploma in Teologie gedoen en wil graag verder studeer, Waar en hoe kan ek dit doen  

Antwoord

Prof Pieter Verster antwoord:

Die Ou Apostoliese kerk. Reg of Verkeerd?

Edward Erwing (1794 -1834) ’n belowende Skotse prediker word as die stigter van die kerk beskou. Hy het beweer dat hy visioene gehad het dat die ampte herstel moes word, onder andere die Apostelamp. Groot klem word gelê op die feit dat die Apostel die persoon is wat werklik die ware lig deurgee. Die werk van die Apostel word as deurslaggewend beskou. Elke woord wat van die Apostel uitgaan, word as gesagvol beskou. Nie die woord van die Skrif is deurslaggewend nie, want volgens hulle maak die letter dood, maar die Gees maak lewend. Daarom word die Skrif ook nie letterlik beskou nie. Die Bybel word vergeestelik. Die Apostel spreek egter die ware woord en juis daarom word die Apostel erken as uiters gesagvol. Die hoofstroom kerke beskou agter die gesag van die Skrif as deurslaggewend. Daarom sal daar duidelik aangedui moet word dat Christus en nie die Apostel die ware Woord van God spreek.

Teologiese Fakulteite in Suid-Afrika bied baie kursusse aan wat ook geleentheid tot verdere studie vir diplomastudente bied. Die universiteit van Pretoria, die Universiteit van Stellenbosch, die Universiteit van die Vrystaat, die Noordwes-universiteit en die Universiteit van Kwa-Zulu Natal se tuisbladsye op internet kan bekyk word. Die South African Theological Seminary (SATS) bied ook verskeie kursusse aan.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster




Die Ou Apostelkerk – Vraag

Die Ou Apostelkerk – Francois Malan

Annelie vra:

Ek het in die Ou Apostel Kerk groot geword. Na Matriek het ek oor gekatkiseer in die NG Kerk en is ook oor gedoop. Ek weet presies hoekom ek alles moes oordoen, want ons almal weet watter tipe kerk die Ou Apostelkerk is. Alles wat hulle op my geplaas het omdat ek die kerk verlaat het, het ek nie aanvaar nie want ek het geweet GOD is in Beheer en ek is nie bang nie. Ek het my kinders in die NG Kerk groot gemaak. My dogter het getrou met iemand uit die Ou Apostelkerk. Ek het geweet wat wag, en het alles verduidelik voor hul troue en my skoonseun het gesê hy sal oor katkiseer in die NG Kerk. Dit het nie gebeur nie. Ons Ds het gesê my dogter kan haar kinders alleen doop met haar man aan haar sy, maar hy mag nie antwoord nie. (Ek weet hoekom) My vraag is die volgende : Daar word nou vir my gesê ons kerk het hom eintlik weggejaag omdat hulle hom nie toelaat om sy kinders saam sy vrou te doop nie en hom nie aanvaar nie. (Nie waar nie). Hulle sê ook dat kinders nie klein gedoop mag word nie omdat hulle nog nie self kan erken dat hulle Christene is nie. Dis verkeerd om klein te doop. Ek het baie geleer in die NG kerk, maar kan nie al hierdie vrae antwoord nie. Al wat ek weet is dat Alles gaan oor GOD, HY alleen moet alle eer kry. Ek sien die klein doop as my verbond met GOD om my kind van HOM te leer. Wat meer kan ek antwoord? Ek is bekommerd omdat daar nog geen verbond met GOD gemaak is rakende my 2 Kleinkinders nie. Ons DS was meer as behulpsaam, my skoonseun het nie die afsprake wat ek vir hom gemaak het, nagekom nie. Ek voel niemand kan gedwing word nie, dit moet van jouself af kom. Hulle is al 9 jaar getroud. Help asb. Baie Dankie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Annelie ken die Ou Apostelkerk, maar ek ken nie hulle leer en wat hulle oor die doop glo nie. Sy weet ook hoekom haar dominee nie die skoonseun wou laat antwoord nie. Ek verwys na ‘n paar tekse in die Bybel oor God se genadeverbond, die doop as teken van die verbond, en van die doop van kinders.

God het ‘n verbond met Abram en sy nageslag gemaak (Genesis 12:1-3) en 25 jaar later, toe Isak 13 jaar oud was, het Hy die besnydenis ingestel as teken van die verbond. Dit moes aan alle manlike lede van sy gesin gedoen word, ook aan die seuntjies vandat hulle agt dae oud is (Genesis 17:11,12). Die nageslag van Abraham se kleinseun Jakob, wat die Here by Pniël die naam Israel gegee het (Genesis 32:28), het na ‘n hongersnood in die beloofde land Kanaän na Egipte getrek (Genesis 46:2-7), waar hulle vir 400 jaar gebly het en later slawe geword het. Toe die Here Israel uit die plek van slawerny uitgelei het terug na Kanaän toe, het Hy sy gebooie vir hulle by Sinai gegee (Eksodus 20:1-17) en sy verbond met hulle gesluit toe Moses hulle met die bloed van bulle besprinkel het (Eksodus 24:8). Terug in Kanaän het hulle vir 600 jaar telkens die verbond verbreek deur afgode te dien en soos die heidense Kanaäniete geleef het. Toe het die Here hulle in ballingskap laat wegvoer Babilon toe, maar Hy het belowe dat Hy ‘n nuwe verbond met hulle sal maak, wat nie op die onderhouding van ‘n uiterlike wet gebaseer is nie, maar waarin die Here sy woord op hulle harte sal skryf en in hulle gedagtes sal vaslê (Jeremia 31:31).

Die Woord van God, self ook God, word mens so ‘n 600 jaar na Jeremia (Johannes 1:1,14). Voordat Jesus aan die kruis gesterf het om vir al ons sonde versoening te doen, het Hy tydens sy laaste paasmaaltyd die nagmaal ingestel as teken van die nuwe verbond wat Hy met sy bloed beseël (Lukas 22:19-20). Na sy opstanding stuur Hy sy dissipels na al die nasies toe met die opdrag om hulle sy dissipels te maak, hulle te doop in Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Hy hulle geleer het (Matteus 28:19). Met die opdrag verbind Jesus elke gelowige aan God die Vader wat ons roep en as sy kinders versorg (Romeine 8:14-17), en aan die Seun aan wie se dood en opstanding God ons verbind om saam met Christus aan ons self te sterf en saam met Hom te lewe (Romeine 6:8-11), en aan die Heilige Gees wat God is en wat self in ons kom woon om die geloof in Jesus in ons te kom bewerk, om ons te lei en om ons die liefdeskrag te gee om al meer soos Jesus te word (2 Korintiërs 3:18; Galasiërs 5:22-23).

Na Jesus se hemelvaart word die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort om by en in ons te kom woon. Petrus preek op die Pinksterdag en omtrent 3,000 mense sluit hulle by die dissipels aan deur die werking van die Gees in hulle harte. Vir hulle sê Petrus: Bekeer julle (van afgode en sondige lewenswyses) en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep (Handelinge 2:38-39). Daarmee word die teken van die doop vir seuns en vir dogters aangebied. Dit is nie meer net die seuns wat die teken van die verbond kry nie. Paulus sê: Deur die geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (Galasiërs 3:26-29).

In Romeine 4:9-12 praat Paulus van God se verbond met Abraham, dat Abraham aan God behoort en dat Hy sy Abraham se God sal wees, dat die verhouding begin het voordat Abraham besny was, toe God hom vrygespreek het omdat hy geglo het in God se woord en belofte. Later het hy die besnydenis as ‘n teken ontvang waardeur Abraham uitgeken kan word as God se kind, en verseker kan wees van God se verbond met hom. God het met hom ‘n verbond gesluit toe 75 jaar oud was en nog nie besny nie. Eers toe hy 99 jaar oud was het hy die besnydenis ontvang. God se doel met die verbond nog voordat hy besny was, is dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie, maar ook van die wat wel besny is en soos hy in God glo.

Aan die Kolossense skryf Paulus: In Christus is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor al die bose magte. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het (Kol. 2:9-15).

Vir die Filippense skryf Paulus: Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur die Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op die uiterlike dinge vertrou nie (Flp. 3:3).

Die doop maak nie ‘n mens lid van God se verbond nie. ‘n Mens word lid van God se verbond deur God se genadige besluit wat bewerk word die Heilige Gees wat in ons werk om ons te oortuig, onder andere deur God se woord wat ons van ander gelowiges hoor en self in die Bybel lees (Romeine 10:13-15). Die Gees maak ons verhouding met God reg deur ons aan Jesus en sy offer vir ons sonde te verbind. Hy maak ons kinders van God (Rom.8:11,14-17). Die doop is die seël waarmee God ons bestempel as lede van die verbond.

Ons doop die kinders van gelowige ouers, omdat God sy verbond met hulle en hulle kinders gemaak het. In die Bybel is daar voorbeelde van verskillende huisgesinne wat gedoop is, waarin baie moontlik ook kinders was: Handelinge 16:15 Lidia en haar huisgesin; 16:33 die tronkbewaarder en al sy mense; 18:8 Krispus en sy hele huisgesin; 1 Kor.1:16 die huisgesin van Stefanas. In 1 Kor 7:14 sê Paulus die kinders van ‘n gelowige man of gelowige vrou behoort aan die Here.

Die eenheid van die kinders saam met die gemeente sien ons bv. in Hand. 21:5 waar die vrouens en kinders ook deelneem aan die afskeid van Paulus; kinders word aangespreek in Paulus se briewe aan die Efesiërs (6:1) en Kolossense (3:20); in Johannes se briewe (1 Joh.2:12). Jesus sê: wie ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang my (Mat. 18:3); en: Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle (Mark. 10:14).

 

Skrywer: Prof Francois Malan