Die Groot Geloofswoordeboek: Pinkster- en Charismatiese Kerke
Die Groot Geloofswoordeboek: Pinkster- en Charismatiese Kerke
Four Square Gospel • Apostoliese Geloofsending Kerk • Volle Evangelie Kerk (*Pinkster- en Charismatiese kerke)
Die Four Square Gospel word ook die Vierkant-evangelie genoem. Dit is die siening van die viervoudige amp van Jesus as die Verlosser, die Geneser, die Doper met die Gees en die komende Koning. Alhoewel daar dikwels gesê word dat dit in “Pinkster”, dus die Pinksterkerke (waarvan die grootste in Suid-Afrika die Apostoliese Geloofsending, die Volle Evangelie Kerk van God, en die Assemblies of God is) hoofsaaklik en selfs eensydig om die Heilige Gees gaan, het navorsing aangetoon dat hulle boodskap in werklikheid op Jesus konsentreer, en dan juis op die vier aspekte van sy bediening wat in die Four Square Gospel saamgevat word.
Jesus as Verlosser is ‘n belydenis wat “Pinkster” deel met die hele Christelike kerk. Dit is miskien selfs die algemeenste belydenis van Christene. Dit gaan gewoonlik oor die verlossing van sonde, maar dit word soms beperk tot die vergifnis van sonde; sonder om die verlossing van die mag van die sonde in te sluit. By Paulus en Johannes is verlossing van die mag van sonde minstens net so belangrik as vergifnis van sonde. Dink maar aan Johannes 8:34-36 en Romeine 6.
Jesus as Geneser is nie so ‘n algemene belydenis nie. Die *wonderwerke van Jesus word in die meeste kerklike tradisies óf verwaarloos, óf vergeestelik. Selfs in kerke waar dit wel aandag kry as egte fisieke wonderwerke is dit opvallend dat daar min opsienbarende wonderwerke gebeur. Egte wonderwerke soos dié van Jesus is dun gesaai. Dit is ontstellend omdat Jesus se wonderwerke direk verband gehou het met die hart van sy boodskap: die koms van die koninkryk. As Hy die soveelste maal ‘n bose gees uit ‘n man uitdryf, verklaar Hy: “Die koninkryk van God het inderdaad tot by julle gekom” (Matt 12:28). (*Duiwel)
Die Pinkster- en Charismatiese tradisies maak baie van wondergenesing (*Goddelike genesing), maar dit is nie seker dat daar altyd regtig soveel daarvan in die praktyk tot sy reg kom nie.
Jesus as Doper met die Heilige Gees is tipies Pinkster en Charismaties. Die doop met die Gees is saam met die beklemtoning van die gawes van die Gees, en spesifiek die spreek in tale, ‘n paar van die mees kenmerkende beklemtonings in hierdie tradisies van die Christendom. Hulle maak aanspraak op ‘n besondere ervaring wat elke gelowige met die Gees moet hê. Dit word die doop met die Gees genoem. In die Heiligheidsbeweging word van “die *vervulling met die Gees” gepraat en dit lei tot oorwinning oor sonde. In die Pinkstertradisie word van “die *doop met die Gees” gepraat en dit lei tot krag vir getuienis. Daar is mense wat oortuig is dat dit twee verskillende ervarings is.
Jesus as komende Koning is weer een van die algemene belydenisse van Christene. Dit verwys na die wederkoms van Christus. Die feit dat Hy in hierdie verband Koning genoem word, het besondere betekenis. Tydens sy aardse optrede was Jesus die vernederde *Dienaar. Sy Messiaanse heerlikheid is heeltemal bedek deur sy vernedering en sy selflose diens om te soek en te red wat verlore is. Eers by sy wederkoms sal die profesieë in die Ou Testament vervul word oor die *Messias wat die koninklike heerlikheid van Dawid kom herstel. (*Wederkoms)
In die Pinkster- en Charismatiese tradisies skuil daar egter meer agter die begrip “Koning”. Baie van hierdie Christene is sterk oortuig dat daar ‘n *Duisendjarige Vrederyk moet kom wanneer Christus letterlik op die troon van Dawid in Jerusalem sal sit en as Koning oor die hele wêreld regeer.
Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek
Outeur: Prof Adrio König