Ouer se rol in ’n volwasse kind se lewe – Hermie van Zyl
Karwen vra:
My dogter, 23, word verkeerdelik beïnvloed. Wat is my rol as ouer?
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Ons vraagsteller sê nie wat die aard van die verkeerde beïnvloeding is waaraan haar dogter onderwerp word nie. Dit kan enigiets wees van wat die ouer nie van hou nie maar wat nie noodwendig verkeerd of nadelig is nie, tot wat regtig skadelik is vir die dogter, trouens vir enige volwassene.
In eersgenoemde geval moet die ouer aanvaar dat verskillende opvattings en leefstyle tussen die ouer en jonger geslag maar altyd probleme skep. Dit is moeilik vir ’n ouer om te aanvaar dat sy of haar kind ’n eie leefstyl ontwikkel wat dalk nie met die ouer s’n ooreenstem nie. Byvoorbeeld, die dogter besluit om eerder ’n ander kerkgenootskap se dienste by te woon as die kerk waarin sy grootgemaak is en belydenis van geloof afgelê het. Die nuwe kerk van die dogter het ander maniere van glo en doen wat die ouer nie aanstaan nie. En nou dink die ouer die kind is onder verkeerde invloede en besig om “af te dwaal”. Groot ongelukkigheid en konflik kan hieruit voortvloei. Elke kontak met jou kind kan in ’n “armdruksessie” ontaard waarin jy probeer om haar “terug te wen”. Maar in hierdie geval moet die ouer goeie oordeel aan die dag lê en liewer terugstaan. Vra jouself af: Is my kind “verlore” net omdat sy in ’n ander kerk is of is sy steeds ’n oortuigde gelowige? Is daar steeds genoeg gemeenskaplike grond wat maak dat ons as mede-Christene oor die weg kan kom, al is haar oortuigings nie (meer) presies dieselfde as myne nie? Met ander woorde, fokus op die dinge waaroor julle saamstem, eerder as waaroor julle verskil. Laat jou kind toe om haar eie ding te doen.
Maar dan is daar natuurlik beïnvloeding waaroor die meeste nugterdenkende Christene sal saamstem dat dit op die lang duur skadelike gevolge vir die dogter kan inhou. Dit kan die gevolg wees van slegte vriende wat ’n bedenklike invloed uitoefen op jou dogter en haar saamsleep op ’n pad waarvan die einde niks goeds voorspel nie. Niks is vir ’n ouer pynliker as om jou kind op ’n gewisse pad van seerkry te sien en daar is nie veel wat jy daaraan kan doen nie. Jou kind is volwasse, het die huis reeds verlaat, verdien haar eie inkomste, kies haar eie werk- en vriendekring, en neem haar eie besluite. Dis amper soos in die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15) waar die vader voor die voldonge feit van sy jongste seun se slegte keuses en latere dekadente leefstyl gestel word, maar nie veel daaraan kan doen nie. Al wat hy kan doen, is om te wag op die seun se terugkeer. Maar hierdie wag is nie een van ongeërgde niksdoen nie; dis ’n heilige wag van genade, liefde, gebed en verlange; ’n wag wat die seun later onthou en hom laat besluit om terug te keer na sy vaderhuis toe. Dis nie die vader se afkeuring en bittere teleurstelling wat die seun laat terugkeer nie, maar juis sy vader se liefde en die herinnering aan hoe goed en veilig dit by die huis is.
Uiteraard, nie alles in hierdie gelykenis is presies oordraagbaar na vandag toe nie, maar die suigkrag van die vader se liefde, genade en verlange op die seun kan steeds deel van ons optrede vandag wees teenoor weerbarstige volwasse kinders. Die volgende kom ter sprake:
- Hoe moeilik dit ook al is, eerbiedig jou kind se keuses. Uiteraard sal mens die slegte gevolge van die situasie waarin sy verkeer vir haar uitwys, haar daarteen waarsku en by haar pleit om aan die invloed daarvan te ontsnap. Maar hanteer die situasie so dat jou kind weet die keuses wat sy maak, is haar eie en dat sy ook die gevolge daarvan moet dra. Die beste wat mens eintlik in so ’n situasie kan doen, is om te bid en te vertrou dat die voorbeeld wat jy aan jou kinders gestel het uiteindelik die deurslag sal gee. Niemand kan die voorbeeld van liefde, volharding in en getrouheid aan die goeie wat in die ouerhuis gestel is, uitwis in die kind se gemoed nie. Hoe sy ook al daarteen rebelleer, dit is deel van haar geloofs-DNS. En een of ander tyd laat dit die pendulum terugswaai en bring dit weer koers en rigting in jou volwasse kind se lewe.
- Moenie jou kind afskryf nie. Bly betrokke, op so ’n manier dat sy weet die ouerhuis se deure staan oop; sy kan enige tyd reken op die ouer se bystand, begrip en hulp op die pad van herstel. Hierdie betrokkenheid beteken natuurlik nie goedkeuring van haar besluite of gedrag nie, maar beteken wel dat ten spyte van jou afkeur van haar keuses die ouerlike liefde en aanvaarding van haar as persoon blywend is. Dít is juis die verstommende waarheid van die gelykenis van die verlore seun – dat die vader nie verwyt nie, maar in sy groot liefde en genade verlang na die seun se terugkeer en hom uiteindelik terug ontvang en as kind herstel in die huis. Dit help nie om verbitter te raak en te sê: Ek het jou mos gewaarsku; jy wou nie luister nie; nou het jou lewenskeuses jou ingehaal en kan jy self sien en kom klaar. Wees dáár wanneer jou kind hulp soek.
- Daar kan natuurlik ’n ekstreme situasie ontstaan waar jou kind se lewe fisies in gevaar is – byvoorbeeld, weens dwelmmisbruik. Dan gaan dit nie net meer oor beïnvloeding nie, maar oor ’n lewensbedreigende situasie. Dit is dan klaarblyklik ’n geval waar ’n mens nie veel opsies het of keuses aan jou kind kan oorlaat nie, maar waar ouerlike liefde tot drastiese optrede moet oorgaan. In so ’n geval sal mens alles in werking stel om jou kind te laat opneem in ’n inrigting waar sy gerehabiliteer kan word, of sy dit nou wil hê of nie. Maar dít is uiterste gevalle wat waarskynlik nie ter sprake is in ons vraagsteller se situasie nie.
Gewis, die hantering van volwasse kinders wanneer hulle kennelik onder slegte invloede verkeer, is nie maklik nie. Die kernoptrede bly egter: Bly betrokke, maar op ’n manier wat hulle menswees respekteer en hulle graag na jou sal wil laat terugkeer.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl