Menslike Kloning (4)

Menslike Kloning (4) – Coen Slabber

Ons is klaar met die basiese wetenskaplike beginsels en kan nou kloning van nader bekyk.

Waarvan praat ons? Definisies

ʼn Vorm van voortplanting waar nakomelinge nie die gevolg is van die eenwording van eiersel en sperm nie, maar van doelbewuste replikasie van die genetiese materiaal van ʼn enkele individu – aseksuele voortplanting. Ons het dus hier die aseksuele vervaardiging van ʼn nuwe menslike organisme wat in al sy ontwikkelingstadia identies is met ʼn mens wat tans bestaan of vantevore bestaan het. Dit gebeur wanneer ons die kernmateriaal van ʼn menslike somatiese sel (donor) in ʼn eier wie se eie kern verwyder of onaktief gemaak is, inplant. Die produk het die menslike genetiese samestelling wat identies is aan dié van die donor. [Somaties is afgelei van die Griekse woord soma wat liggaam beteken. Dit beteken dit is nie ‘n saad- of eiersel nie. Gewoonlik word selle van die vel gebruik.]

 

Dit is jammer dat die woord kloning na drie verskillende prosedures met verskillende doelwitte verwys.

(1)          Embriokloning: een of meer selle word uit die bevrugte embrio geneem en gestimuleer om in een of meer embrio’s te ontwikkel. ʼn Tweeling of drieling met identiese DNA word gevorm. Dit word al jare op diere gedoen. Wat ons hier het, is ʼn duplisering van die proses wat die natuur gebruik om twee- of drielinge te produseer. Min eksperimente is nog op menslike embrio’s gedoen. [Embrio verwys na ‘n menslike of dierlike wese in die eerste ontwikkelingstadium. In die mens verwys dit na die eerste agt weke vanaf bevrugting. Daarna word dit ‘n fetus genoem.]

(2)          Voortplantingskloning: dit word gebruik om ʼn duplikaat van ʼn dier of mens te maak. Die DNA word uit ʼn eiersel verwyder en vervang met die DNA verwyder uit die sel van ʼn volwassene. Hierdie bevrugte eier word in die baarmoeder ingeplant en ontwikkel dan in ʼn nuwe mens/dier. Hierdie is in wese ʼn identiese tweeling van ʼn bestaande persoon.

(3)          Terapeutiese kloning: die aanvanklike stadia van hierdie prosedure stem ooreen met dié van voortplantingskloning. Hier word die embrio nie in die baarmoeder ingeplant nie, maar die stamselle word uit die embrio verwyder. Hierdie stamselle produseer nou weefsel of  ʼn orgaan wat weer oorgeplant word op die persoon wat die DNA geskenk het. In die proses sterf die embrio. Die doel is om ʼn gesonde kopie van ʼn mens se weefsel of orgaan oor te plant om siek of beskadigde weefsel te vervang. Hierdie tegniek het sekere voordele bo orgaanoorplanting deur donors:

  • Die voorraad is onbeperk.
  • Daar is geen orgaanverwerping nie, want die oorplantingsmateriaal het dieselfde DNA as dié van die siek persoon – dit is sy eie DNA. Dit is onnodig om langtermyn terapie te gebruik om verwerping te voorkom.

 

In die volgende artikel kyk ons na waar ons vandag staan met kloning.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 




Menslike Kloning (3)

Menslike Kloning (3) – Coen Slabber

In die vorige artikel het ons na bevrugting en kloning gekyk. In hierdie artikel kyk ons na partogenese en stamselle.

Partenogenese

Hier kry ons voortplanting van ʼn eiersel sonder dat bevrugting plaasgevind het. Dit gebeur spontaan in ongewerwelde diere, maar kan ook in die laboratorium nageboots word. Chemikalieë of ʼn elektriese stroom of ʼn ander stimulus word gebruik om die eiersel te stimuleer. Die eiersel tree dan op asof dit bevrug is en begin verdeel.

 

kloning3a

 

Stamselle

Stamselle is primitiewe selle wat die vermoë het om in ʼn verskeidenheid soorte selle te ontwikkel. Ons kry stamselle in embrio’s en in die volwasse liggaam. Ons kan hulle laat groei in ʼn kultuur in die laboratorium. Hulle kan dan potensieel gebruik word om terapeutiese weefsel te genereer. Hierdie embrio’s kan normale embrio’s of gekloonde embrio’s wees.

 

kloning3b

 

Hier word die embrio toegelaat om tot op die blastosistfase te ontwikkel. Stamselle word geoes. Hierdie selle het nog nie gedifferensieer nie en kan met die korrekte stimulasie in verskeie weefsels (soos spier of been of senuwee) ontwikkel.

 

Genetiese manipulering

Ons gaan ‘n afsonderlike artikel hieroor skrywe.

 

In die volgende artikel gaan ons kyk na die verskillende prosedures wat as kloning bekend staan

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber

 

 




Menslike Kloning (2)

Menslike Kloning (2) – Coen Slabber

In die vorige artikel het ons ‘n algemene oorsig oor kloning gegee. Vandag kyk ons na sekere basiese wetenskaplike beginsels.

Hoe kry ons ʼn embrio?

Die eiersel word bevrug deur ‘n saadsel en vorm ‘n sigoot. Hierdie sigoot verdeel dan en vorm die embrio. [Embrio = die vroeë ontwikkelingsfase. In die mens strek dit vanaf bevrugting tot op agt weke. Daarna staan dit as ‘n fetus bekend.] In normale voortplanting kry ʼn kind die helfte van die genes van die moeder en die helfte van die vader.

kloning2a

 

Kloning

Die tegniek van kloning.  Die volgende stappe word gevolg:

  • Verkry ʼn eiersel en verwyder sy kernmateriaal – die DNA.
  • Plaas die kern van ʼn volwasse sel van ‘n donor in die kernlose eiersel.
  • Aktiveer hierdie hersaamgestelde sel met chemikalieë of ʼn elektriese stroom. Dit stimuleer selverdeling.
  • Ondersteun die ontwikkeling van hierdie embrio in die laboratorium – soos gedoen word met proefbuisbaba’s.
  • Op die geskikte stadium word hierdie gekloonde embrio in die baarmoeder van die gasheer (?gasvrou) geplaas. Hierdie baarmoeder moet voorberei word om die embrio te ontvang. Die alternatief is dat hierdie embrio vernietig word om stamselle in die hande te kry. Hierdie stamselle se DNA is geneties verenigbaar met die DNA van die donor.
  • ʼn Lewende gekloonde soogdier wat geneties identies aan die donor is, word voortgebring.

Onthou die kernmateriaal is uit die eiersel verwyder. Die vrou wat die eiersel geproduseer het, het dus geen invloed op hierdie baba se eienskappe nie.

 

kloning2b

 

Kloning is ʼn aseksuele vorm van voortplanting. Al die kind se genes kom uit die sel van ‘n enkele individu.

Wie is hierdie kind se genetiese moeder of vader?  Streng gesproke het so ʼn kind nie ʼn genetiese moeder en vader nie, maar wel ʼn enkele kern skenker. As ʼn man homself sou kloon, is die baba sy kind of sy tweelingbroer?

In die volgende artikel gaan ons kyk na prosesse wat verband hou met kloning: partogenese en stamselle.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 




Menslike Kloning (1)

Menslike Kloning (1) – Coen Slabber

In die inleidingsartikel oor bio-etiek op die webblad het ek na bio-etiek verwys as ‘n moderne dilemma. Hoekom?  Met die geweldige vooruitgang op mediese gebied, veral op die gebied van genetika, gaan meer en meer probleme na vore kom. Party van hulle is reeds met ons (voorbeeld: genadedood); ander gaan ons iewers in die nabye toekoms tref (voorbeeld: kloning). In die volgende paar artikels gaan ons na kloning kyk. Die woord kloning is afgelei van die Griekse woord klon wat tak of stiggie beteken. Dit verwys na die vermoë om ‘n nuwe plant van ‘n stiggie te produseer.

Geskiedenis van Kloning

As mense die woord kloning hoor, dink hulle eerstens aan gruwelfilms. Hierin sien ons die skepping van menslike monsters of leërs van bomenslike soldate met submenslike breins. Maar kloning kry ook ʼn vastrapplek in ons populêre kultuur. Dink maar aan Alvin Toffler se Future Shock en Woody Allen se film Sleeper.

 

Kom ons kyk na die geskiedenis van die ontwikkeling van kloning:

  • Josua Lederberg het die Nobel-prys vir genetika gewen. In 1966 skryf hy ʼn artikel in die American Naturalist waarin hy kloning en genetiese manipulering voorstaan.
  • In 1997 verskyn daar ʼn belangrike artikel in Nature. Wetenskaplikes aan die Roslin Institute in Skotland het die bekende skaap – Dolly – gekloon. Dit open onmiddellik die moontlikheid van menslike kloning. Daar was wêreldwye belangstelling, maar ook kommer, oor die etiese en wetenskaplike implikasies van hierdie tegniek. Op 14 Februarie 2003 het Dolly ʼn dodelike inspuiting gekry – genadedood. Sy was toe ses jaar oud – meeste Finn Dorset skape lewe tussen 10 en 12 jaar. Voor haar dood het sy swaargekry as gevolg van longkanker en erge artritis. ʼn Nadoodse ondersoek het aangetoon dat behalwe vir die kanker en artritis sy oënskynlik normaal was. Sy het ses lammers gehad – almal volgens die tradisionele metode! Nie minder as 237 eiers is gebruik in die kloning van Dolly nie; 29 embrio’s is verkry, maar net een het oorleef – Dolly.
  • In November 2001 het wetenskaplikes van Advanced Cell Technologies in Massachusetts aangekondig dat hulle die eerste menslike embrio’s gekloon het. Hulle het eierselle uit die vrou se ovaria gekollekteer. Die genetiese materiaal is uit die kerne van hierdie eierselle verwyder deur ʼn naald met ʼn deursnit van 2/10 000ste van ʼn duim. Die materiaal uit die kern van ʼn sel van die vel is in die eiersel geplaas om as nuwe kern te dien. Daarna is die eier met chemikalieë gestimuleer en dit het begin verdeel. Agt eierselle is gebruik, maar net drie het ontwikkel, maar nie een verder as ses selle nie.
  • In Maart 2004 rapporteer ʼn Suid-Koreaanse groep onder Hwang Woo-Suk dat hulle daarin geslaag het om menslike stamselle te genereer uit ʼn gekloonde embrio. Hierdie werk word in die bekende wetenskaplike tydskrif Science gepubliseer. In Junie 2005 rapporteer hierdie groep heel sensasioneel dat hulle elf pasiënt-spesifieke stamsellyne uit gekloonde embrio’s gegenereer het. Hulle suksessyfer het dramaties verbeter – tot beter as 1 in 20. Hwang was ʼn pionier en ʼn held. Orals gaan oproepe op om alle beperkings op die navorsing oor kloning op te hef, want die Amerikaners was bang dat hulle nooit die agterstand sou kon inhaal nie. Teen die einde van 2005 begin die sprokie uitrafel. Kollegas beweer dat Hwang wetenskaplike bedrog gepleeg het. Teen Desember 2005 was dit duidelik dat alles net ʼn groot bedrogspul was.

 

Voordat ons na kloning kan kyk, moet ons eers iets weet van sekere basiese wetenskaplike beginsels. Dit gaan ons volgende keer doen.

Skrywer: Dr Coen Slabber