Koinonia: Verbondenheid met God

– Aristoteles

Koinonia: Verbondenheid met God

Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel (Psalm 27:4).

Al wat ek wens, is om Christus te ken (Filippense 3:10).

 

Vir baie mense is Christus hulle Verlosser – ‘n onpersoonlike Een.  As ek my vereniging met Christus reg verstaan en aanvaar, lei dit tot verbondenheid met Hom. Hierdie verbondenheid met Hom lei tot ‘n beter verstaan en aanvaarding van die beloftes wat volg op ons eenheid met Hom.

 

Verbondenheid met die Here is meer as stiltetyd in die oggend – dit moet die volle dag duur. Luister wat sê Jesaja: In die nag smag ek na U, in die môre vra ek na u wil (26:9). Dawid sê: As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag (Psalm 63:6). Ons moet strewe om voortdurend in die teenwoordigheid van God te leef. Die vraag is: Wat is die belangrikste dryfkrag in my hart en denke?

 

24 uur verbondenheid aan God moet ‘n fondament hê – ‘n raamwerk om dit bymekaar te hou. Ons stiltetyd in die oggend is daardie fondament. Luister na die psalmis: U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag (5:4). Jesus het dit ook gedoen: Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid (Markus 1:35). Hierdie stiltetyd maak ons harte ontvanklik om die res van die dag met Hom te verbind. Ons kan ons volle wese konsentreer om Hom te aanbid; ons kan onverdeelde aandag aan sy woord gee en met Hom in gebed praat. Selfs Jesus het gedink dit is belangrik om sy dag met God te begin. As Hy dit nodig vind, hoeveel te meer nie ons nie.

 

Intense, georganiseerde gebed waar ek vroeg in die oggend alleen met God is, berei ons voor vir daardie vinnige, stil gebede wat so nodig tydens die dag is. Nehemia is ‘n goeie voorbeeld: by die aanhoor van die woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid (1:4). Eendag is Nehemia onverwags in die posisie om sy begeerte aan die koning bekend te maak. Voordat hy sy begeerte aan die koning bekend maak, lees ons: Ek het ‘n skietgebed opgestuur na die God van die hemel (2:4 – 5). Dit is daardie dae van intense gebed met God alleen wat hierdie kort, stil gebede doeltreffend maak. Almal van ons het hierdie kort gebede nodig, maar God sal nie daarmee alleen tevrede wees nie.

 

 




Koinonia: Geestelike Gemeenskap

– Ralph Waldo Emerson

 

Koinonia: Geestelike Gemeenskap

Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie (Hebreërs 3:13).

God het ons geskep om van Hom en van mekaar afhanklik te wees. Nie een van ons het die vermoë om alleen in ons Christelike lewens te vorder nie. Geestelike gemeenskap is dus noodsaaklik vir ons geestelike groei en gesondheid.

 

 

Kom ons kyk na ‘n paar praktiese aktiwiteite wat ons sal help om geestelike gemeenskap met ander gelowiges te ervaar.

  • Deel Bybelse waarhede met mekaar. Geestelike gemeenskap sentreer altyd om die onderrig van die Bybel. Johannes maak die waarheid aangaande Jesus Christus die basis vir sy oproep tot geestelike gemeenskap: Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus (1 Johannes 1:3). Die psalmis sê: Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond (119:13 – OAV). Hy vertel aan ander wat God hom geleer het. Hiermee bou hy nie alleen ander op nie, maar hy versterk ook sy eie verstaan van God se waarheid. Ons leer self, want as ons ander vertel, moet ons ons idees organiseer en ontwikkel. Of ons nou saam die Bybel lees of bestudeer of memoriseer, moet dit gebeur op ‘n manier wat relevant is vir ons daaglikse lewe. Wat beteken hierdie nuwe insigte uit die Bybel vir ons in die praktyk? Hoe het/gaan jy dit in jou lewe toepas? Oppas: ons is dikwels so gretig om vir ander te vertel wat ons geleer het dat ons nie na hulle luister nie – ons hoor nie wat God deur hulle vir ons wil sê nie. Ons stel eintlik nie in gemeenskap belang nie – ons wil net ons eie kennis ten toon stel. God wil dalk vir ons iets sê deur iemand wat moeilik praat.
  • Openheid met mekaar. Ons deel nie alleen Bybelse waarhede nie, maar ook ons sondes, mislukkings en ontmoediging plus ons seëninge en vreugde. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word (Jakobus 5:16). Vit baie van ons is dit ‘n bedreiging – wat sal die ander persoon van my dink as hy van my sondes hoor? Ons kan nie mekaar bemoedig of motiveer of vir hom bid as ons nie weet waarmee hy sukkel nie – voor watter probleme staan hy? Kry vir jou ‘n vriend en wees oop met hom.
  • Aanspreeklikheid. Geestelike gemeenskap vereis ook wedersydse aanspreeklikheid. Om mekaar te vermaan (Kolossense 3:16 – OAV)  en aan mekaar te onderwerp (Efesiërs 5:21), verwys na wedersydse aanspreeklikheid. Ons is aan mekaar aanspreeklik vir sekere dissiplines – soos Bybelstudie, nadenke, gebed, ens. ‘n Ander gebied van aanspreeklikheid is my swakhede – kort humeur, gebrek aan selfbeheer, ens.
  • Bid saam. Soms het ons behoeftes wat ons net met ons vriende kan deel. Ander behoeftes kan ons in ons kleingroep deel. Onthou: God werk in die lewens van ander veral deur gebed.

Natuurlik is daar ook ander aktiwiteite. Dink daaroor na en gebruik hulle

 

 




Koinonia: Lewe ‘n Christelike lewe.

– Dorothy Thompson

Koinonia: Lewe ‘n Christelike lewe.

Ons hoor ons moet ‘n Christelike lewe leef, maar hoe doen ons dit? Daar is ‘n paar moontlikhede:

  • Op ons eie – ons eie pogings en wilskrag.Mislukking en frustrasie is ons voorland. Die vrugte van die Gees sal skaars in ons lewens herkenbaar wees. Baie aktiwiteit, maar min vrugte. Sonder My kan julle niks doen nie (Johannes 15:5).
  • Ons besef die hopeloosheid van die eerste benadering en gaan na die ander uiterste oor – ons doen niks nie. Ons laat nou alles aan die Here oor. Ons moet Hom volledig vertrou – Hy moet die werk vir ons doen. Dit is nie God se manier van doen nie.
  • Die “Here-help-my benadering.” Dit beteken gedeeltelike afhanklikheid van die Here. Ek kan in my eie krag die Christelike lewe tot op ‘n punt leef, maar daarna het ek die Here se hulp nodig. Ek en die Here gaan saam die dinge doen. Hierdie is waarskynlik die algemeenste benadering van almal. Dit is die benadering van Christene wat soggens vroeg bid vir God se bystand, maar daarna voortgaan asof alles van hulle afhang – tensy ‘n krisis opduik.
  • Die Bly-in-Christus benadering. Hierdie gelowige weet dat die vorige benaderings net tot frustrasie lei. Hy het ook al geleer dat hy nie God net tot op ‘n punt nodig het nie, maar in elke aspek van sy lewe. Hy bid nie net in ‘n krisis nie, maar die hele dag lank; hy besef dat sonder die Here kan hy niks doen nie. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13). Paulus is nie tot alles in staat met so ‘n bietjie hulp van God nie – God stel Hom in staat.

 

Here help my = gedeeltelike vertroue in my eie pogings. God stel my in staat = totale vertroue op God. Bly in Christus beteken nie dat ek niks doen nie – dit beteken ‘n uiterste poging van my kant, maar ‘n poging gemaak in totale afhanklikheid. Paulus stel dit so: Hom verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens in geestelike volwassenheid in Christus kan bring. Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk (Kolossense 1:28 – 29). Paulus span hom in – ‘n volgehoue persoonlike poging. Hy was egter terdeë bewus van sy vereniging met Christus en van die lewe en krag van Christus wat in hom werk. Bly in Christus moet lei tot intense pogings van ons kant af plus totale afhanklikheid van Hom vir die wysheid en krag om die taak af te handel. Alles wat ons doen, is van geen waarde sonder sy bemagtiging nie. As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs (Psalm 127:2).

 




Koinonia: Deel materiële besittings

 

Koinonia: Deel materiële besittings

Die vroeë Christene het nie net geestelike dinge nie, maar ook materiële dinge gedeel (Handelinge 2:44 – 45). Paulus moedig ons aan: Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid (Romeine 12:13). Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is offers wat vir God aanneemlik is (Hebreërs 13:16). ‘n Bereidwilligheid om ons besittings te deel met mekaar is ‘n belangrike aspek van ware Bybelse gemeenskap.

 

 

Paulus sê dat alle dele van die liggaam van Christus vir mekaar moet omgee (1 Korintiërs 12:25 – 26). Dit is meer as net om deernis te bewys – selfs ongelowiges doen dit. Die deel van besittings is ‘n tasbare erkenning dat ons in ‘n verhouding staan – as een lid van die gemeenskap ly, ly almal. Gelowiges het die voorreg en plig om met ander lede van die liggaam te deel.

 

Ons moet besef dat ons rentmeesters en nie eienaars is nie. God het die besittings aan ons toevertrou – nie aan ons gegee nie. Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig (2 Korintiërs 8:13 – 14). Paulus sien ‘n gedurige vloei van gelowiges se besittings na dié wat behoeftes het. Dit is ‘n belangrike uitlewing van ware gemeenskap. Onthou Paulus vra hier dat hulle moet bedra vir die behoeftiges in Jerusalem – mense wat hulle nog nooit ontmoet het nie.

 

Die fondament van koinonia met mekaar is gemeenskap met God. Ons moet eers hierdie fondament lê, want dit is ‘n voorvereiste vir gemeenskap met ander.  ‘n Uitloopsel van ons verhouding met God is ‘n bereidwilligheid om ons materiële besittings met ander te deel.