Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God

Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God

Koninkryk van God • Satan/Duiwel Bose geeste/magteChaosmagte Eksorsisme (Duiweluitdrywing)

Eintlik lyk dit na ‘n vreemde samevoeging in een bespreking: die koninkryk van God en die duiwel! Maar daar is ‘n baie be­lang­rike verband tussen hierdie begrippe. Hulle staan presies teenoor mekaar. Daarom kan ‘n mens nie die een sonder die an­der verstaan nie. Die koninkryk van God kom juis wanneer Jesus die duiwels uitdryf. Daarom hierdie vreemde kombinasie van begrippe.

Teenoor die koninkryk van God staan die duiwel. Onder die “duiwel” sluit ons twee groepe wesens in: die chaosmagte waar­van ons eintlik net in die Ou Testament lees, en die duiwel/Satan en die bose magte waarvan ons min in die Ou Testament lees, en wat eintlik eers in die Nuwe Testament sterk na vore kom.

 

Chaosmagte

Die chaosmagte speel ‘n belangrike rol in die Ou Testament, veral in die vroeë geskiedenis. Dink maar net aan Rahab, Levia­tan, Behe­mot, die seemonsters (Ps 74:13-14; 89:11; Jes 51:9-10; Job 40:10 ev; 40:20 ev, waar “seekoei” ‘n vertaling van Behemot is, en “krokodil” van Leviatan). Seekoei en krokodil word as ver­teen­woor­digers van hierdie magte gesien omdat dit see­mon­sters was. Dit beteken dat ook die see self gesien is as ‘n bedreiging. Ons lees telkens dat God die see moes inperk agter grense of selfs tralies (Job 38:8-11; Ps 104:6-9).

‘n Mens kry die ongewone gedagte in die vroeë Ou Testament dat God alreeds by die skepping teen die chaosmonsters ge­veg en hulle oorwin het. In Genesis 1 is daar nog spore van hierdie oor­tuiging dat hierdie magte van die begin af God se skepping be­dreig het en dat Hy sy skepping teen hulle moes beveilig. Daar­om lees ons telkens dat Hy sy skepping teen bedreiging beskerm. Hy skei die duisternis van die lig, die nag van die dag, die water bo die firmament van die water onder, en die see van die land (Gen 1:4, 7, 9, 14, 17). So beskerm Hy die lig, die dag, die aarde en die land as die woonplek van die mense. Die duister­nis, die nag, die waters daarbo en die see is bedreigings. En dit is met hierdie dinge wat die chaosmonsters vereenselwig word.

Hierdie magte speel nie meer in die Nuwe Testament ‘n rol nie. Daar word skynbaar ook nie in die Bybel ‘n direkte verband tussen hulle en die duiwel gelê nie. Hulle word net hier saam met die duiwel behandel omdat hulle ook boos is en teenstanders van God is wat sy skepping bedreig.

 

Satan/Duiwel

In die Ou Testament kom die woord “dui­wel” net ‘n paar keer voor (Deut 32:17; Ps 106:37 waar ons van “veld­duiwels” lees) en speel nie enige noemenswaardige rol nie.

Die vroeë dele van die Ou Testament ken ook nie die woord “Sa­tan” nie. Die skrywer van Openbaring identifiseer wel die slang van die tuin van Eden met hom (Op 12:9), maar dit gebeur nog nie in die Ou Testament nie. “Satan” kom net drie keer in die Ou Tes­ta­ment voor (Job 1 en 2; Sag 3; 1 Kron 21:1). Anders as in die Nu­we Testament waar hy die verbete teenstander van God is wat die skepping en veral die mense probeer vernietig, is hy in die Ou Testa­ment ‘n onskuldige figuur. (*Toelating) Hy tree op as deel van die hemelse hofhouding wat in diens van God staan en sy bevele uitvoer. Hy het skynbaar die besondere funksie van ‘n soort publieke aanklaer wat mense dophou en kyk of hulle eer­lik is in hul diens aan die Here. Daarom kom rapporteer hy oor Job wanneer die engele voor die Here verskyn. Hy meen daar is bymotiewe by Job. Hy dink Job dien die Here net omdat die Here hom so seën. Die Here stem dan in dat hy Job op die proef stel, en hy voer die ooreenkoms wat hy en die Here bereik het, stiptelik uit, en later ook ‘n tweede keer (Job 1:6 ev; 2:1 ev).

Die implikasie is dat hy ‘n plek in die hemel het soos een van die engele, en dat hy sy werk getrou doen.

Hierdie rustige samewerking tussen die Here en Satan is ook die agtergrond van 1 Kronieke 21:1. Daar is baie geskryf oor die vreemde verskynsel dat ons in 2 Samuel 24:1 lees dat die Here Dawid aanhits om die volk te tel, maar in 1 Kronieke 21 dat Satan hom aanhits. Maar in die lig van wat ons in Job gekry het, is dit nie vreemd dat die Here en Satan saamwerk en dat die een skrywer kan sê dis die Here en die volgende een dis Satan nie. Die Here het Satan gebruik in sy diens.

Dit is natuurlik ‘n totaal ander prentjie as die een in die Nuwe Testament waar hy die verbete teenstander van God is wat Jesus probeer verlei, die mense se lewens verwoes en selfs die natuur probeer vernietig.

Die implikasie hiervan is dat daar iewers iets dramaties moes gebeur het wat die Satan se karakter totaal verander het van ‘n gehoorsame dienskneg van God tot sy verbete teenstander. Ons kry nie baie verwysings daarna in die Bybel nie, en veral Esegiël 26-28 handel nie daaroor nie. Dit gaan oor die stad Tirus en oor sy koning.

 

Satan uit die hemel gedryf

Daar is egter wel in die Nuwe Tes­tament twee verwysings. Wan­neer die dissipels terugkeer van ‘n sending waarop Jesus hulle gestuur het en triomfantelik vertel dat selfs die duiwels hulle aan hulle onderwerp, hoor ons uit Jesus se mond: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val” (Luk 10:18). ‘n Mens kan dit maklik in verband bring met sy posisie onder die engele soos ons dit in Job gekry het. Iewers in die verlede is hy dus uitgegooi uit die posisie wat hy onder die engele in die hemel gehad het.

Dit kom ooreen met die beskrywing van ‘n oorlog in die he­mel (Op 12), wat skynbaar ook lank tevore plaasgevind het. Die draak wil die kind verslind, maar die kind word deur God in be­sker­ming geneem. Dan kom die oorlog in die hemel waarin Mi­gael en sy engele die draak en sy engele verslaan. Hulle word uit die hemel op die aarde neergegooi. Uitdruklik word hier daarna verwys dat die draak/duiwel/Satan die gelowiges aanhoudend by God aan­gekla het. Net soos in Job gaan dit dus nog steeds om die Satan as aanklaer, maar die toon van hierdie uitspraak is anders as dié in Job. Dit is negatief, beskuldigend.

Hierdie verwysings laat duidelik deurkom dat die verhouding tussen die Here en Satan ná Job skeefgeloop het, dat hy in opstand gekom het en daarom uit die hemel uitgegooi is. En die gevolg is sy verbete stryd om die mense te vernietig gedurende die aardse bediening van Jesus. Trouens, hy probeer ook die natuur vernietig. Dis opvallend dat die woestyn sy blyplek is, dié deel van die aarde wat alreeds vernietig is. Jesus word ook deur die Gees die woestyn ingelei om deur Satan versoek te word (Matt 4:1 ev).

Uit Openbaring 12 is dit ook duidelik dat dit nie net om een wese, Satan, gaan nie, maar om engele saam met hom. Dit is die bose magte waarvan ons dikwels in die Evangelies lees.

 

Skrywer: Prof Adrio König




God is koning en gelowiges is koningskinders (Koninkryk van God)

God is koning en gelowiges is koningskinders (Koninkryk van God)

God was Israel se Koning. Toe kom die ballingskap en die Jode word as slawe Babel toe gevat. Wat het nou van hulle Koning geword? As ʼn volk in ʼn oorlog verloor, beteken dit mos dat hulle koning ook verslaan is. Nie God nie. Voor die volk in ballingskap weggeneem is, het God sy rug op hulle gedraai, want hulle wou nie meer na Hom luister nie. Dit is juis omdat hulle Koning nie meer daar was om hulle te help nie, dat die volk in ballingskap weggevoer is.

Die Koning van Israel is nie intussen dood nie. Hy leef en sal weer sy volk as Koning kom haal. Dit is wat Jesus, die Messias (ʼn Hebreeuse woord), kom doen het. “Messias” beteken God se gesalfde Koning. Jesus se hooftema van sy preke was byvoorbeeld: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (4:17). Dit beteken God as Koning is weer daar by sy mense en Hy sal sy mense van nou af weer regeer.

Die beeld van ʼn koninkryk met ʼn Koning is die belangrikste beeld van die kerk in die eerste drie Evangelies. As Jesus dus wonders doen, wys Hy God, die Koning, se krag is weer aan die werk. Die Koning is weer daar om sy mense terug te verwelkom en te regeer. As Jesus duiwels uitdryf, wys Jesus dat Hy sterker is as die Vors van hierdie wêreld. God sal vir sy mense sorg en hulle moet Hom as Koning dien

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy