Die sewe ekumeniese konsilies (1)

We all want progress, but if you’re on the wrong road, progress means doing an about-turn and walking back to the right road; in that case, the man who turns back soonest is the most progressive – C. S. Lewis

Die sewe ekumeniese konsilies (1)

[Konsilie = algemene kerkvergadering; ekumenies = verteenwoordig hele kerk]

Hierdie konsilies het met die eerste Konsilie van Nicea in 325 begin en die laaste een was die tweede Konsilie van Nicea in 787. Tussen hierdie twee was daar ‘n verdere vyf. Vir elkeen gaan ons kyk na die agtergrond en doel, die belangrikste rolspelers, die aard van die konflik, die resultate en die blywende betekenis.

 

 Kom ons begin met die eerste Konsilie van Nicea Hierdie eerste konsilie is deur keiser Konstantyn in 325 bymekaar geroep. Konstantyn het gehoop dat hy sy ryk onder die vaandel van die Christelike geloof sou kon verenig. Hierdie eenheid is egter deur ‘n dreigende en ernstige teologiese  geskil bedreig.  Hosius van Cordoba het ‘n konsilie voorgestel om die geskil te besleg. Konstantyn roep kerkleiers by Nicea (die huidige Iznik in Turkye) bymekaar. Tussen 250 en318 kerkleiers van oor die hele Romeinse Ryk woon die vergadering by.

 Die hoof besprekingspunt was die aard van Christus se goddelikheid en die verhouding tussen die Vader en die Seun. ‘n Sekondêre besprekingspunt was die viering van Paasfees.

 Die twee belangrikste persone by die vergadering was Athanasius, ‘n jong diaken wat saam met Biskop Aleksander van Aleksandrië as metgesel gekom het en Arius, ‘n kontroversiële presbiter en priester van Aleksandrië. Konstantyn was teenwoordig as toesighouer, maar hy het nie gestem nie.

 Aan die een kant van die konflik was diegene wat geglo het dat Jesus Christus deur God die Vader geskep is. Aan die ander kant was diegene wat geglo het dat Jesus deur die Vader verwek was. Arius het geglo dat Jesus God se eerste skepping was en dat deur Hom God alles daarna gemaak het. Die Seun was uniek en die enigste skepping wat God direk gemaak het. Daarom is die Vader se goddelikheid groter as dié van die Seun. Daar was dus ‘n tyd wat die Seun nie daar was nie.

 Aleksander en Athanasius glo egter dat Jesus verwek is en daarom gelyk aan die Vader is. Hierdie siening is deur vergadering aanvaar. Athanasius sê: Jesus wat ek as my Verlosser ken, kan nie minder as God wees nie.

 Die debat het van20 Mei tot 19 Junie geduur. Hierna is ‘n voorlopige vorm van die Geloofsbelydenis van Nicea goedgekeur. Net twee lede het vir Arius se siening gestem en hulle is saam met Arius uit die kerk geban. Al Arius se geskrifte is gekonfiskeer en verbrand.

 Hierdie vergadering was baie belangrik, want die probleem oor die goddelikheid en menslikheid van Jesus Christus is hier besleg. Dit is verklaar dat Jesus Christus ewig en goddelik was – gelyk aan die Vader en groter as enige geskape wese. Die vergadering was die eerste poging om konsensus tussen Christene te kry deur ‘n debat tussen verteenwoordigers wat teenoorgestelde kante. Dit lei tot verdere vergaderings om leerstellige en praktiese kerksake te beslis. Hierdie besluite word dan in belydenisskrifte vervat.

 Eers 56 jaar later vind die volgende vergadering plaas: Die Eerste Konsilie van Konstantinopel