Die Tweede Konsilie van Nicea

“Nobody dies early.” Matt Chandler

 

Die Tweede Konsilie van Nicea

Hierdie is die laaste van sewe konsilies en het in 787 in Nicea plaasgevind. Tussen 258 en 335 biskoppe het die vergadering bygewoon. Na die dood van Konstantyn V word sy seun, Leo IV, die nuwe keiser. Hy behou sy vader se ikonoklasme (Ikonoklasme = die vernietiging, verbreking van beelde), Sy vrou, Irene, daarenteen was ‘n voorstander van die aanbidding van beelde. In 780 sterf Leo en word hy deur sy vrou opgevolg.

 

In 784 versoek die patriarg van Konstantinopel Konstantyn om ‘n vergadering byeen te roep om die kloof tussen die Westerse en Oosterse Kerke te probeer oorbrug. Hulle sou ook die gebruik van ikone bespreek. Van 24 September tot 23 Oktober 787 word agt sessies gehou. Die finale sessie is in die Magnaura paleis gehou. Irene en haar seun Konstantyn VI was ook teenwoordig.

Die gevolge van die vergadering kan soos volg opgesom word:

  • Polities was dit ‘n faktor in die verdere vervreemding van die Westerse en Oosterse kerke.
  • Ikonoklasme het vooruitgang gestrem en waardevolle antieke skatte verwoes. Dit moet gestaak word. Dit lei tot ‘n bloeitydperk van die Bisantynse kuns.
  • Kloosters vol ikone/beelde word nou plekke van meditasie. Die monnike word die fokus van dit wat heilig in die wêreld is.
  • Dit was eers in die 16de eeu wat die Hervormers die gevare van ikone besef het en die kerk opgeroep het om hulle weer te verwyder.




Die derde Raad/Konsilie van Konstantinopel

 “ “If you can trust God to save you for eternity, you can trust him to lead you for a lifetime.” – David Platt

 

Die derde Raad/Konsilie van Konstantinopel

Hierdie is die sesde van sewe konsilies. Keiser Konstantyn IV het die konsilie bymekaar geroep. Sy doel was om die verskille tussen die Westerse en Oosterse Kerke by te lê. Die verskille gaan hoofsaaklik om Christus se wil en mag. Die vergadering begin op 7 November 680 in die Trulles – ‘n kamer met ‘n groot koepel in die paleis in Konstantinopel. Net 43 biskoppe was teenwoordig. Dit was die kleinste van die sewe vergaderings.

 

Die vergadering is deur die keiser geopen en hy was die voorsitter van die eerste elf sessies – daar was 18 sessies in totaal. Die vergadering duur tien maande. Daar was geen persone wat die verrigtinge oorheers het nie. Daar was veral twee geskilpunte:

  • Monoenergisme –  Christus mag wel twee nature gehad het – menslik en goddelik – maar net een energie wat werksaam was in sy persoon – die goddelike energie. Dit beteken dat alles wat die mensgeworde Christus gedoen het, het Hy as Skepper en God gedoen.
  • Monotelitisme – Christus het net een wil naamlik sy Goddelike wil. Hier verplaas sy wil die energie van die vorige teorie.

Patriarg Macarius van Antiogië was ‘n sterk voorstander van hierdie twee leerstellings.  In die proses het hy die skrywes van die kerkvaders vervals om sy saak te steun. Hy word skuldig bevind en uit sy pos ontslaan.

Uiteindelik bevestig hierdie konsilie die besluite  van die vorige vyf vergaderings sowel as die belydenisse van Nicea en Konstantinopel I. Die biskoppe onderteken ook ‘n dokument – Die Definisie van Geloof – wat beide monoenergisme en monotelitisme verwerp.

 Die kerk verklaar weer die aard van Christus – volledig mens en volledig God. Hulle brei die definisie uit om nou ook Christus se natuur, mag en wil in te sluit. Die ortodokse leer van die Drie-eenheid word weereens bevestig. Tydelik was daar nou vrede tussen die Westerse en die Oosterse Kerke.

 




Die tweede Raad/Konsilie van Konstantinopel

We must all suffer one of two things: the pain of discipline or the pain of regret or disappointment – Jim Rohn

Die tweede Raad/Konsilie van Konstantinopel

Hierdie konsilie vergader in wat vandag Istanbul is. Hulle vergader van 5 Mei tot 2 Junie 553. Keiser Justinianus I het die vergadering byeengeroep om te kyk of hy die twee groepe wat ‘n honderd jaar vantevore by Chalcedoon van mekaar verskil het, kan versoen. Tussen 151 en 168 biskoppe woon die vergadering by. Eutychius, die patriarg van Konstantinopel, was die voorsitter. Die belangrikste rolspelers was Keiser Justinianus en die pous, Vigilius.

 

Justinianus was ‘n vroom keiser en hy sien dat die noodsaaklik was om die eenheid van die Christelike geloof te behou. Hy en die pous kon egter nie ooreenkom wie na die vergadering genooi moet word nie. Die pous wou meer biskoppe uit die westelike gedeelte van die Ryk gehad het. Daarom weier hy om die eerste drie weke van die vergadering by te woon.

Die Raad aanvaar die besluite van die eerste vier rade. Op 24 Mei kom die pous daar aan met ‘n nuwe dokument, wat die keiser verwerp. Die keiser beskuldig die pous van ‘n gebrek aan integriteit en ‘n onwilligheid om saam te werk. Die Raad besluit om alle bande met die pous te verbreek – nie met die kerk in Rome nie.

Die vergadering vaardig veertien anatemas (vervloekings) uit oor Christus se aard – wat reeds by vorige vergaderings aanvaar is. ‘n Verdere vyftien anatemas oor die leer van Origenes word ook met die vergadering verbind, maar dit is onseker of dit deel van die amptelike verslag was.

Die pous vra verlof om na Rome terug te keer, maar die keiser weier die versoek – hy moes hom eers aan die besluite van die vergadering onderwerp. Ses maande later gee die pous bes en sê dat slegte raad van sy raadgewers verantwoordelik was vir sy siening. Hy sterf egter voor hy Rome bereik het. Sy opvolger, Pelagius I, aanvaar ook die besluite van die vergadering.




Die Raad/Konsilie van Chalcedon

The word grace on the lips of an ungrateful person is profane – William Shakespeare

Die Raad/Konsilie van Chalcedon

Ons is besig om na sewe ekumeniese konsilies te kyk. Almal het probeer om ‘n uniforme Christelike teologie daar te stel. Die vierde het by Chalcedon plaasgevind. Toe Marcianus, ‘n ortodokse Christen, keiser word, wou hy die wanorde wat na die tweede konsilie by Efese ontstaan het, probeer regstel. Hierdie konsilie kom van 8 Oktober tot 1 November 451 in Chalcedon plaas. Chalcedon is tans ‘n distrik van die moderne Istanbul. Dit is nie in Italië gehou nie weens die bedreiging vir die Romeinse Ryk deur Attila en sy Hunne.

 

Die vergadering is deur tussen 350 en 500 biskoppe bygewoon. Die hoofkarakters was Eutyches en Dioscorus. Eutyches was ‘n bejaarde en invloedryke monnik van Konstantinopel. Weens sy onortodokse leringe oor Christus is hy in 448 veroordeel as dwaalleraar deur die plaaslike sinode in Konstantinopel. Dioscorus word die biskop van Aleksandrië na die afsterwe van Kurillos in 444. Hy verdedig vir Eutyches. Hy word die president van die tweede konsilie van Efese waar Eutyches herstel word en diegene wat hom uitgeban het self uit die kerk geban is.

By Chalcedon is probeer om die verwarring wat by die tweede konsilie by Efese ontstaan het, op te klaar. Die belydenisse van die vorige konsilies, soos dié by Nicea is bevestig. Die vergadering ontwikkel ‘n belydenisskrif wat ortodoksie bevestig het en dit verduidelik het teenoor ander teenstrydige sienings.

Dioscorus en ander biskoppe wat die besluite van die tweede konsilie by Efese ondersteun het, het voor die vergadering verskyn. Dioscorusis word skuldig bevind aan die misbruik van sy priesterlike gesag. Die vergadering bevestig Jesus se menslike en goddelike natuur wat saam in een persoon bestaan. Hierdie konsilie het min permanente gevolge gehad – die geskil het vererger. In 484 het Feliks III, die pous in Rome, vir Acacius, die aartsbiskop van Konstantinopel , sy priesterlike gesag ontneem. In reaksie verbreek Acacius alle bande met Feliks. Binne 33 jaar, as gevolg van die besluite van die vergaderings, skei die kerk in die Ooste en dié in die Weste.