Wat vertel die kruis vir ons?

Flatter me, and I may not believe you. Criticize me, and I may not like you. Ignore me, and I may not forgive you. Encourage me, and I will not forget you. -William Arthur Ward, skrywer (1921-1994)

Wat vertel die kruis vir ons?

Vandag hoor ons baie preke oor die verlossende effek van Christus se dood. Dit is goed en reg so, Ons hoor nie altyd wat die kruis vir ons van God se karakter  vertel nie en hoekom die kruis nodig was nie. Byvoorbeeld, as die dood van Jesus nie absoluut noodsaaklik en voldoende was vir die versoening van ons sondes nie, dan is dit baie moeilik om te aanvaar dat God ‘n liefdevolle Vader is.

Watter liefdevolle Vader sal sy Seun aan so ‘n aaklige lyding en dood onderwerp as dit nie absoluut nodig was nie? Is dit dalk ‘n geval van kindermishandeling? Beslis nie. Hoekom nie? Natuurlik is daar ander maniere waarop God kon wys dat Hy vir ons lief het. Dit bring ons by Goeie Vrydag en God se karakter.

In die Bybel lees ons gereeld dat God heilig en regverdig is. Die Bybel sê ook dat God nie sonde kan ignoreer nie. Kom ons kyk na Romeine 3:25 – 26: Hom het God gegee as  offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenwoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. Ons sien dat God die sondes tydelik ongestraf laat bly het, maar Hy kan dit nie vir altyd doen nie. Uiteindelik moet reg en geregtigheid seëvier. Dit is deel van God se karakter. God moet regverdig wees en terselfdertyd sonde straf. Paulus sê dat God dit gedoen het terwyl ons nog sondaars was, terwyl ons nog ver van Hom af was – terwyl ons nog vyande van Hom was. Goeie Vrydag demonstreer dus God se regverdigheid en genade. Dit moes eintlik ons gewees het wat aan die kruis gehang het. Jesus is die een persoon wat nie moes gesterf het nie.

Soms dink ons dat omdat God vergewe  dit nie nodig vir Hom is om sonde te straf nie. Hy is ‘n liefdevolle God en daarom kan Hy die sonde oorsien. Dit werk nie so nie. In ieder geval wie wil nou leef in ‘n wêreld waar geregtigheid nie gedoen word nie? Dink net aan al die verkeerde dinge wat in die wêreld gebeur en gebeur het. God kan dit mos nie ongestraf laat nie. Die ongelooflike waarheid is dat die een wat ons Regter is, is ook die een wat reeds vir ons sonde betaal het. Die kruis herinner ons daaraan dat God ‘n manier gevind het om beide regverdig te wees en om sondes te vergewe.

Goeie Vrydag herinner ons dat geregtigheid nie deur verlossing gekanselleer word nie. Dit word bereik deur verlossing aan die kruis. Geregtigheid word nie verwyder as God deernis en verlossing bewys nie. Die kruis beteken Goeie Vrydag is werklik goeie Vrydag – die beste Vrydag ooit.

 




Sewe woorde aan die kruis

Sewe woorde aan die kruis – Francois Malan

Drie van die sewe woorde aan die kruis is in Lukas opgeteken en drie in Johannes; en een wat in Markus en Matteus voorkom. Ons gaan eers luister na die drie kruiswoorde wat Jesus met die mense rondom Hom en met ons gepraat het as aanwysings vir die lewe. Aan die einde van die drie uur duisternis hoor ons na die vier woorde van sy worsteling met God oor ons en ons sonde.

Met sy eerste woorde aan die kruis bid Jesus

 

vir die Romeinse soldate wat Hom vasspyker aan die kruis,

vir Pilatus en die Joodse Raad wat Hom tot die dood veroordeel,

vir die volk wat aanhoudend geskreeu het: weg met Hom, kruisig Hom.

Jesaja sê: Hy het die sondes van baie op Hom geneem en vir die oortreders gebid

Jesus bid: ‘Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie! (Lk 23:34).      So stel Hy vir ons ‘n voorbeeld van die gebed wat Hy ons geleer het: Vader vergeef ons ons sondes, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree (Mt 6:12; Lk 11:4).

So pleit Hy ook vandag nog vir ons by sý Vader in die hemel, en deur sy offer ook óns Vader (Rom 8:34).

Die tweede kruiswoord: Daar is u seun – daarmee maak Jesus Hom los van Maria as sy moeder en bind haar aan Hom as haar Here (Joh 19:26). Sy word een van sy dissipels, een van sy  volgelinge, wat na die Hemelvaart saam met die dissipels in die bovertrek volhard in gebed (Hand.1:14). Reeds voor sy geboorte sing sy: ek juig oor God my Verlosser (Lk 1:47)

Daar is jou moeder – voortaan sal sy geliefde dissipel vir haar sorg as sý moeder; sy volgelinge, ons,  moet mekaar liefhê en mekaar versorg. Volgelinge van Jesus is aan mekaar gebind deur sy liefde vir ons. Die aand voor sy kruisiging het Hy gesê: Ek gee julle ‘n nuwe gebod; julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is

Die derde kruiswoord: Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.

Van die koning van hemel en aarde vra die misdadiger slegs ‘n gedagte, dat Jesus, die Verlosser, aan hom moet dink –  en hy kry ‘n paradys. Hy vra ‘n druppel, en word oorstort met ‘n oseaan van genade. Vir die mense wat na Hom toe kom, sluit Hy die paradys oop, uit sy liefde en volmag as koning van die koninkryk van God. Die misdadiger aan die kruis is soos die verlore seun wat uit die vér land teruggekeer het, die heerlike kus van vergifnis ontvang het, en gaan sit het aan die feesmaal van sy Vader (Lk 15:20).

So het Jesus ook vir ons die pad na die ewige paradys by God oopgemaak, en ons deel gemaak van sy sondaarsliefde, sodat ons ook ons vyande sal liefhê en vir hulle die pad na die paradys aan te wys deur die liefde van God waarin Hy ons laat deel.

Vierde kruiswoord: Toe God die Egiptenaars gestraf het oor hulle sonde en hardkoppigheid, het Hy dit vir drie dae pikdonker gemaak in die hele Egipte. En daarna het Hy elke eersgeborene in Egipte laat sterf (Eks 10:21-12:30). Daardie nag is die Joodse Paasfees ingestel.

Op die paasfees voltrek God sy oordeel oor die sonde van die wêreld aan sy enigste Seun.

Daar aan die kruis daal Jesus ter helle neer, in die vuur van God se toorn oor die sonde van die hele wêreld, ook oor my sonde, en Hy roep uit:

My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mt 27:46; Mk 15:34; Ps 22:2)

Die hel is die toestand van Godverlatenheid, dat God jou prysgee. Vir drie uur het Jesus die beker van God se toorn oor ons sonde gedra. Johannes die Doper het gesê: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (Joh 1:29). In die duisternis van God se oordeel oor ons sonde word die Seun van God deur God verlaat. Dit is sy diepste lyding.

Vyfde kruiswoord: ‘Ek is dors.’Joh 19:28 (Ps 69:22)

Toe die rykman in die doderyk in pyn verkeer vra hy dat Lasarus net die punt van sy vinger in water steek om sy tong te kom afkoel in die verskriklike vuur (Lk 16:24). So is Jesus dors na sy stryd in Getsemane, sy verhore voor die Joodse Raad en Pilatus, sy mishandeling deur die soldate, en sy drie-uur lange worsteling in die duisternis om ons verlossing te bewerk. Deur sy lyding vervul Jesus die profesie van Ps 22:16 my tong kleef aan my verhemelte; Hy wat die water van die lewe oorvloedig aan ons gee (Joh 4:10; 7:38), versmag in sy sterwe van die dors.

Sesde kruiswoord: Dit is volbring! (Jh 19:30) – ‘n juigkreet van die dienskneg van die Here.

Hy het die lyding deurstaan, die straf op ons sonde gedra, die werk voltooi wat die Vader hom gegee het om op aarde te volbring (Joh 17:4). God het deur Christus die wêreld met Homself versoen, en reken die mense hulle oortredinge nie toe nie (2 Kor 5:19). Sy versoeningswerk is volbring. Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Sewende kruiswoord: Met die gebed wat Maria Hom as kind geleer het, waarmee Hy elke aand gaan slaap het, is Jesus se laaste woorde in ‘n groot stem: Vader, in u hande gee Ek my gees oor (Lk 23:46; Ps 31:6). Hy lê self sy lewe af in die hande van sy Vader – Hy kan Hom nou weer ‘Vader’ noem. Sy Vader sal Hom op die derde dag opwek uit die dood, sodat Hy die angel uit die dood kan wegneem, ook vir ons. Daarom kan Stefanus, terwyl hulle hom stenig, uitroep: Here Jesus, ontvang my gees! (Lk 7:59). Niks kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Rom 8:39).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Kruis

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Kruis

Kruis

Die kruisiging van Jesus het ‘n ongelooflike ryk betekenis in die Nuwe Testament. Maar ‘n mens moet baie duidelik onderskei tus­sen die aanvanklike interpretasie van die kruis en die later inter­pretasie.

Jesus praat ‘n hele paar keer van die feit dat Hy doodgemaak gaan word (Mark 8:31 ev; 9:30 ev; 10:32 ev), en ‘n keer of twee gee Hy ook ‘n interpretasie daaraan: sy dood sal ‘n losprys wees vir baie (Mark 10:45).

Die kruis ‘n skanddaad

Soos baie ander dinge het die dissipels dit egter nie verstaan nie. Daarom gee hulle aanvanklik (dit is net na Pinkster) ‘n heel­temal negatiewe betekenis aan die kruis. Dis interessant om Petrus se preke in Handelinge na te gaan en te kyk hoe hy die Jode beskuldig dat hulle Jesus doodgemaak, selfs vermoor het (2:23-32; 3:15; 4:10; 5:30). Daar word nog geen besondere heilsbetekenis in hierdie tyd aan die kruis gegee nie. Selfs waar Petrus na sondevergifnis ver­wys (Hand 3:19; 5:31), verbind hy dit nie aan die kruis nie, maar bied dit eenvoudig aan soos in die Ou Testament: as jy jou sonde bely, sal God dit vergewe (2 Sam 12:13).

 

Die kruis ‘n heilsdaad

Elders (*Opstanding) is daarop gewys dat die evangelie aan­vank­lik die opstandingsevangelie was, en dat die kruisevangelie eers la­ter bygekom het. Dit het by Paulus gebeur. In sy brief aan die Galasiërs lees ons die eerste keer van die waarde van die kruis: “Christus wat Homself vir ons sondes gegee het” (1:3-4). Onthou dat Petrus sy preke net na die opstanding en hemelvaart van Jesus le­wer, dus om­trent in die jaar 30 nC, terwyl Paulus die brief aan die Galasiërs in omtrent 49 nC skryf, dus eers byna twintig jaar later. Dit is in hierdie tyd dat die oortuiging posgevat het dat die kruis nie net ‘n skanddaad van die Jode was nie, maar tegelyk ook ‘n ongeloof­like heilsdaad: die offer op grond waarvan God ons sonde vergewe. Die briewe van Paulus wat later geskryf is, en ook die ander briewe, is vol daarvan. (Om maar net ‘n paar te noem: Rom 8:3; 1 Kor 15:3; 2 Kor 5:18 ev; Ef 1:7; 2:14 ev; 5:2; Heb 9:12 ev; 9:26 ev.) Dit beteken dat hierdie oortuiging hoe langer hoe sterker geword het en van­dag nog deel van die geloof van die hele Christelike kerk is.

 

‘n Wrede God?

Hierdie betekenis van die kruis word egter ook al lankal aan he­wige kritiek onderwerp as sou dit ‘n onaanvaarbaar wre­de God veronderstel. “Wil God dan eers bloed sien voor Hy ver­ge­we?” is die vraag. (*”Nuwe Hervorming”) In die jongste tyd word daar dan ook nog ‘n “verduideliking” bygevoeg: Die tem­pel is in 70 nC ver­woes en toe kon daar nie meer offers ge­bring word nie. Toe moes daar iets in die plek daarvan kom, en die storie wat toe uitgedink is, is dat offers nie meer nodig was nie omdat die kruis van Christus hierdie offers oorbodig gemaak het.

Maar dis lagwekkend. Die Christen-Jode het lank voor 70 al­reeds opgehou om offers vir die sonde te bring. En verder is Paulus se briewe almal lank voor hierdie tyd geskryf, en hulle is vol van die oortuiging dat Christus se kruis die offer was wat alle sonde-offers finaal oorbodig gemaak het.

Tog is dit nodig om aan die beswaar aandag te gee dat dit ‘n wrede God sou wees wat “eers bloed wil sien voordat Hy kan ver­gewe”. Die vraag is inderdaad waarom Christus hierdie offer vir ons sonde moes bring. (*Versoening)

Die antwoord is nie so maklik nie. Natuurlik sou ‘n mens kon antwoord dat die eis van offers vroeg in die Ou Testament al voor­kom, en dat Christus se offer maar net die vervulling of vol­tooiing hiervan is. Maar dit verplaas net die vraag: Waarom is daar in die geheel, dus ook alreeds in die Ou Testament, offers vir sonde­vergifnis nodig? Mense bied verskillende antwoorde: Om God se teenstand en afkeer van die sonde te beklemtoon, om God se heilig­heid te beklemtoon, om goed te maak wat verbrou is, om die eer van God te herstel, en nog ander.

Maar nie een van hierdie redes word in die Skrif gegee nie. Trouens, ek kry geen duidelike rede of verduideliking in die By­bel waarom offers vir sonde in die geheel nodig was nie, ook nie Christus se offer nie.

Maar die feitelikheid van die offers is duidelik: offers is vereis en moes gebring word in die Ou Testament, en Chris­tus se offer was uiteindelik noodsaaklik. Dit is eenvoudig deel van die Bybel se boodskap sonder dat dit verduidelik word.

Maar maak dit God ‘n wreedaard wat bloed moet sien om te vergewe? Ja, as ‘n mens ‘n veldtog teen die Bybel voer en dit op elke moontlike punt belaglik wil maak. Nee, as ‘n mens die Bybel ernstig opneem en probeer verstaan.

 

Die toppunt van genade

God eis ‘n offer. Ons kan die offer nie bring nie. Liewer as om ons dan verlore te laat gaan, gee God self die offer. Is dit wreed? Of is dit die toppunt van genade? Is dit nie net om hierdie rede alleen al oor en oor die moeite werd om in hierdie God te glo nie? Is dit nie juis een van die unieke fasette van die evangelie wat in geen ander godsdiens voorkom nie?

En moenie dink die eintlike wreedheid is juis dat God nie kans sien om self geoffer te word nie en dan so wreed is dat Hy sy Seun gee nie. Het dit nie die Vader meer gekos om sy Seun te gee as om self te kom nie? Sou dit jou nie meer gekos het om jou kind te laat ly as om liewer self te ly nie? En het God nie in Christus in werklikheid Homself gegee nie? (*Drie-eenheid)

 

Die kruis: ‘n rykdom van betekenisse

In plaas daarvan dat die betekenis van die kruis in die Nuwe Testament geminimaliseer word soos sommige dit vandag pro­beer doen, word dit in werklikheid gemaksimaliseer. Kom ons maak ‘n lys wat by die offer vir ons sonde begin en dan al die ander betekenisse insluit.

1.            Hy het aan die kruis vir ons sonde gesterf.

2.            Hy het aan die kruis vir ons siekte gesterf.

3.            Hy het aan die kruis die bose magte oorwin.

4.            Hy het deur die kruis ‘n nuwe wêreldorde geskep.

5.            Hy verenig ons deur die doop en die geloof met sy kruis­dood.

6.            Sy kruis is ‘n simbool van hoe ons moet lewe.

Na die eerste betekenis het ons reeds gekyk. Die tweede beteke­nis is dat Jesus se kruis in verband gebring word met ons siekte. “Deur sy wonde is julle genees,” lees ons in 1 Petrus 2:24. Dit is ‘n vervulling van Jesaja 53 en hou verband met die wondergenesings (*Wonderwerke) van Jesus wat ‘n integrale deel van sy aardse bediening was en dus wesenlik deel van die evangelie is.

Derdens het Jesus se kruisdood nie net vir individue betekenis nie. Deur sy kruis het Hy ‘n hele nuwe wêreldorde geskep, ‘n nu­we skepping! Volgens Paulus het Jesus se kruis ‘n nuwe mensheid en selfs ‘n nuwe skepping tot stand gebring. Deur sy kruis het Hy Jode en nie-Jode (dus die hele mensdom) “tot een nuwe mensheid verenig” (Ef 2:15). Iemand wat aan Christus behoort, is deel van ‘n nuwe skepping (en nie maar net “‘n nuwe mens” nie), die oue is verby, die nuwe het gekom – absoluut omvattend (2 Kor 5:17).

Die vierde betekenis van die kruis hang direk saam met die derde. As daar deur die kruis ‘n nuwe wêreldorde geskep is, moet die bose magte oorwin wees (Kol 2:15). As Jesus alreeds ty­dens sy aardse optrede soveel demone uit mense uitdryf en verklaar dat dít juis is hoe die koninkryk kom (Matt 12:28), is dit te verwagte dat daar die een of ander tyd een beslissende oorwinning oor hulle behaal sal word.

Hierdie eerste vier betekenisse van Jesus se kruis staan almal in ‘n sekere sin los en ver van ons praktiese lewe. Dis vir ons en in ons belang gedoen, en ons geniet net die vrug daarvan, ons was nie daarby betrokke nie. In die volgende betekenisse word ons egter baie meer direk betrek by die kruisgebeure.

Die vyfde betekenis van Jesus se kruis is dat ons saam met Hom aan die kruis was en dus deel het aan sy sterwe vir die sonde. Dit beteken dat die sonde in beginsel net so min oor ons kan heers as oor Hom. Terselfdertyd het ons ook saam met Hom opgestaan sodat ons ook ‘n aandeel het aan sy oorwinningslewe wat Hy net aan God wy (Rom 6; Kol 2-3).

Dit is nogal ‘n vreemde gedagte waaraan ons selde aandag gee. Ons is meer gewoond om te dink aan wat Christus vir ons gedoen het (dit wil sê lank gelede al, buite ons, ver van ons af, in ons plek aan die kruis), as wat Hy (deur die Gees) in ons doen: Hy verenig ons met Hom (die wynstok en die lote in Joh 15). Ons sonde word nie net vergewe omdat Hy aan die kruis daarvoor gesterf het nie, ons kry ook oorwinning oor die sonde omdat ons met Hom verenig word, en daarom kan ons met die sonde ophou.

Ons besef te min dat dit juis hierdie wonderlike waarheid is wat ons die moed gee om met die sonde te breek en ons lewe aan God te wy. Dit is nie ons taak om onsself vir die sonde dood te maak en ons lewe volkome aan God toe te wy nie. Dit is God wat ons ‘n geskenk gee: Hy verenig ons met Christus.

Dink maar net aan Galasiërs 2:19-20. Daar staan nie dat Paulus homself gekruisig het vir die sonde of soos baie mense dink dat hy sy “eie ek” vir die sonde gekruisig het nie. Daar staan dat hy saam met Christus aan Christus se kruis was en daarom vir die sonde dood is.

Hoe is dit moontlik dat Paulus – en ons – wat lank ná Christus se kruisiging tot geloof kom, saam met Hom aan die kruis was en saam met Hom uit sy graf gekom het?

Dit staan duidelik in Paulus se Romeinebrief: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe” (6:3-4).

Hoe kry ons deel aan Jesus se dood, begrafnis en opstanding? Deur die *doop! (Rom 6:3-4) Hier word nie spesifiek na ons geloof verwys nie, maar dit word veronderstel.

Ons weet mos as ons onsself vir die sonde probeer dood­maak, as ons dit met ons eie krag probeer doen, werk dit nie. En nou kry ons die wonderlike nuus dat ons nie onsself deur inspan­ning hoef dood te maak vir die sonde nie, maar dat ons deur die doop en die geloof só deel van Hom word (ons word immers deel van sy liggaam) dat ons deel het aan sy hele lewe, dus ook aan sy kruis, dood en opstanding.

As gelowiges het ons nie meer ons eie lewe nie, Hy is ons lewe (Kol 3:4). Daarom kan ons diens aan die tiran “sonde” weier en net ore hê vir God. En dit moet ons dan daadwerklik ook doen (Rom 6:11-12).

Die laaste sin is nie maar net ‘n terloopse opmerking nie. Ons weet goed dat ons nie outomaties met die sonde ophou en ons le­we aan God wy nie. Daarom is die hele tweede helfte van Ro­meine 6 daaraan gewy om vir ons te sê dat ons die gawe van God, ons vereniging met Christus, nou moet gebruik, dat ons in­derdaad diens aan die sonde moet weier en ons lewe volkome tot God se be­skik­king moet stel. Maar nou weet ons ons kan, juis omdat ons aan Christus se sterwe en opstanding deel het. (*Heiligmaking, *In Christus)

Die sesde betekenis van sy kruis word bespreek onder *kruis dra.

Wat ‘n ryk betekenis het die vroeë Christene in die kruisdood van Jesus gesien! Saam met die *opstanding vorm dit inderdaad die hart van ons geloof. Wie daarmee peuter, peuter met die evangelie, en dan kan ons maar die kerkdeure toemaak.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Jesus se kruis en kroon

Jesus se kruis en kroon – Jan van der Watt

Johan Lotter vra:

Groet julle in Jesus se Naam. Ek wil graag gehelp wees: ek stel belang in die kruis en die kroon van Jesus Ek is n wedergebore kind van Hom en doen sodoende baie Bybelstudie en dit het na n interessante onderwerp gelyk. Ek sal graag wil weet of daar antwoorde is daarop–wat het van Sy kruis en Sy kroon geword? Dankie en Agape groete hier uit die Weskus -Vredenburg

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Wat het van die kruis en kroon van Jesus geword?

Ons weet nie seker nie. Daar het egter vroeg reeds die gebruik ontstaan om die beendere, eiendom ens. van die heilige persone te versamel en dit is toe relikwieë genoem. Daar is geglo dat die klere, hare, bene, belde (gordels), skoene, ens. van heiliges self heilig is en krag kan oordra. So kry jy stukkies van wat glo die kruis van Jesus was oral in Europa en elders. Die grootste stuk kruishout wat onverwerk is (ander stukke is verwerk in die vorm van kruise) is by ‘n klooster naby Wene in Oostenryk, met die naam van ‘Heilige Kruis Klooster’. Die beendere van die drie wyse manne, so word beweer, is in die katedraal van Keulen in Duitsland. Niemand kan egter bewys dat die stukkies hout regtig van die kruis van Jesus af kom of dat die bene regtig die drie manne uit die Ooste s’n is nie. Mense spot dikwels dat daar soveel stukkies hout is wat glo van die kruis af kom dat ‘n mens ‘n skip daarvan kan bou.

As ‘n mens egter dink wat die kanse was dat die gelowiges die spesifieke kruis sou opkap om stukkies daarvan te hou of dat hulle die kroon van Jesus sou gaan soek na die kruisiging is dit bitter klein of eintlik nul. Die dissipels het aan die begin almal weggehardloop of weggekruip wat beteken dat hulle nie spesiaal sou teruggaan en die kruis gaan opkap het in klein stukkies nie. Daarmee saam moet ons onthou dat die boeke van die Nuwe Testament eers 30 plus jaar na die gebeure neergeskryf is. As die eerste dissipels wel stukkies van die kruis gehad het, sou dit waarskynlik deur van die skrywers genoem gewees het. Dit is egter eers baie jare later waar die dinge kop begin uitsteek toe dit mode geraak het om sulke dinge te hê.

Daar is ook verhale oor die beker wat met die nagmaal gebruik is wat iewers weggesteek sou wees of die spies wat gebruik is om Jesus se sy mee te steek of die doek wat oor Hom gegooi is toe Hy in die graf was, ens. In Brugge (België) is daar selfs ‘n silindertjie met die bloed van Jesus.

Eers uit die sesde eeu is daar skrywers wat beweer dat die kroon van dorings nog bestaan en op die Sionsberg te sien is. Van die dorings of stukkies is vir verskeie mense gegee en word onder andere in Frankryk, Italië, Spanje, België, Engeland of in Trier (Duitsland) gehou. Die kroon self kan gesien word in die Notre Dame katedraal in Parys.

Geen van hierdie sake kon wetenskaplik geverifieer word nie. ‘n Mens moet dus maar ‘n knippie sout met die verhale neem. Die mooie is tog dat dit mens aan die werklikheid van die gebeure laat herinner.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt