Behoort aan ‘n kultus – Francois Malan
‘n Leser vra:
‘n Lidmaat worstel met familie wat aan ‘n “kultus” behoort. Hoe weet mens?
Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
Die woord kultus word gebruik vir die verskillende maniere en gebruike om God mee te dien. So het Israel van die Ou Testament spesifieke maniere gehad om God te dien, bv. met offerandes, gebede, leringe, sang, ens. So het die verskillende kerke en gemeentes elkeen sy eie manier van aanbidding. Sommige kultusse is selfs teen God en teen alle godsdiens, of hulle het hulle eie god. Ander kultusse gaan aan asof daar geen God is nie.
Maar die woord ‘kultus’ word veral gebruik om kerke of groepe of organisasies aan te dui wat aanspraak daarop maak dat hulle leringe en praktyke bybels is en dat hulle die bybelse christendom verteenwoordig, maar wat in werklikheid onbybels is en hulle lewenswyse nie christelik van aard is nie.
Kultusse het gewoonlik ‘n godsdienstige verering en toewyding aan ‘n spesifieke leierspersoon of aan ‘n spesifieke soort godsdienstige aanbidding, wat afwyk van die evangeliese godsdienstige tradisie in die gemeenskap. Daarby doen sulke groepe alles in hulle vermoë om mense wat by hulle aankom by hulle te hou met groepsdruk en dreiging van ongeluk as hulle weggaan van hulle af.
Hoe weet mens? Dit gaan gewoonlik oor die groep se siening oor God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees en die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees.. En ten tweede wyk hulle dikwels af van sekere Bybelse aanwysings van hoe ‘n christen moet leef.
Dikwels word mense wat eensaam is, getrek deur die groep se hegte verbondenheid; sommige mense in depressie vind heling in die opwek van emosies in die groep; siekes word oortuig dat die kultus se leier genesende krag het; dit is veral mense wat ‘n geestelike behoefte het na godsdienstige belewings wat na groepe soek waar hulle behoefte bevredig kan word. Party verlaat die kerk omdat hulle met die predikant of pastoor bots of nie gelukkig is met hulle leiers of prediking soos hulle dit wil hê nie.
Dié mense het dikwels ‘n behoefte aan ‘n toenadering tot die onsigbare, die heilige. Maar daarmee gaan dit eintlik om hulleself, oor hulle belewenisse van die Onsigbare, die beveiliging van hulle lewe, hulle welvaart, hulle voorspoed en hulle sekerheid, terwyl hulle nie bewus is van die diepe kloof tussen God en mens deur die sonde nie, veral die sonde om self soos God te wil wees soos Eva wat so kennis wou kry om soos God te wees (Genesis 3:5-6), of hulle probeer om die kloof te oorbrug met godsdienstige handelinge (vgl. Jesaja 1:12-17). Dit word ‘n poging om God te manipuleer vir hulle voordeel. Daarmee word die skepping en die skepsel/mens vergoddelik en God verwêreldlik.
Dit is so anders as om in alle omstandighede met vreugde uit die Here se genade te leef, uit sy vergifnis van ons sonde, wat Jesus aan die kruis vir ons bewerk het, deur as God die sonde van die wêreld op Hom te neem (Johannes 1:29); Hy verlos ons van ons self deur die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons te lei en in staat te stel om God se liefde uit te leef en selfs ons vyande lief te hê (Matteus 5:43-48; Galasiërs 5:22-23).
Skrywer: Prof Francois Malan