— Johannes Calvyn
Betrokke by die kultuur
As kerke die roeping van Jesus Christus – maak dissipels van al die nasies – wil uitvoer, moet hulle betrokke raak by die kultuur. Die kerk kan nie sy werk in ‘n lugleegte buite die kulturele milieu waarin mense woon, uitvoer nie.
Paulus se ondervinding in Atene (Handelinge 17) wys vir ons hoe om mense in ‘n spesifieke kultuur te benader. Paulus is in Atene, nie as gevolg van sorgvuldige beplanning nie, maar omdat hy in Tessalonika en Berea teenstand teen sy bediening ondervind het. God druk hom na ‘n unieke plek om die evangelie daar te verkondig – Atene, die wêreldstad. Hier is drie dinge van belang as ons let op Paulus se bediening soos hy by die kultuur betrokke raak.
Paulus word deur die verlorenheid en afgodery van die mense aangespoor
Paulus fokus op die oorkoepelende verhaal van God wat sy hoogtepunt in die werk van Jesus bereik
In Atene doen Paulus wat hy altyd doen: hy verkondig Jesus Christus as Here. Hy gaan eers na die sinagoge waar die Skrif beskikbaar was – om te lees en uit te lê. Hy het nie ‘n totaal nuwe benadering gevolg om betrokke te raak by die mense in hierdie wêreldstad nie. Hy gaan eenvoudig voort om sy roeping te vervul – hy verkondig die gekruisigde Christus. Toe die Ateners hierdie boodskap hoor, word hulle nuuskierig – hulle kon nie glo wat Paulus verkondig nie. Hulle staan verwonderd.
Paulus wys die Ateners hoe hulle kultuur en lewens verbind is met en tog nie verbind is aan die waarheid van God nie.
Hy kon dit doen, want hy het genoeg van die godsdiens en wêreldsiening van die Ateners verstaan om te beklemtoon dat hulle verlossing nodig het. Hy bring vir hulle die goeie nuus.
Betrokkenheid by die kultuur beteken nie die onkritiese aanvaarding van alle dinge in die kultuur nie. Dit beteken wel dat ons die wêreld van die mense wat in ‘n spesifieke kultuur woon, betree. Ons verstaan hulle wêreld, maar ons verstaan ook hoe die evangelie hulle gebrokenheid en vervreemding van God kan hanteer. Om by die kultuur betrokke te raak, is nie die doel van ons bediening nie. Dit is wel ‘n noodsaaklike element as ons getrou die evangelie wil verkondig. Dit beteken ons ken die waardes en afgode – en wat hulle glo en nie glo nie – van die mense. Ons weet hoe, waar en wat hulle aanbid. Ons werk dus om duidelik aan hulle te wys dat Jesus oor al hierdie dinge oppermagtig is. Dit beteken ons fokus op die roeping wat God vir die kerk gegee het.