Is daar ‘n patroon vir die eindtyd? – Francois Malan

Willie vra:

In Openbaring verskyn ‘n Engel aan Johannes en openbaar baie dinge wat soms moeilik verstaan word. Daar word in Hoofstuk 20 tot 22 geskryf van die eerste opstanding / die tweede dood / die laaste oordeel en ‘n Nuwe Hemel en aarde. Ook van 1000 jaar van vrede en Satan word oorwin en weer vrygelaat! Is daar ‘n kronologiese patroon van wat en wanneer dit gaan gebeur??

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

1      Oor die 1,000 jaar

Daar is baie verklarings vir die 1000 jaar. Die verklarings kan hoofsaaklik verdeel word in drie groepe (die woord ‘millennium’ kom van Latyn  mille vir 1000 en annus jaar; ‘chiliasme’ kom van die Griekse chilioi vir duisend):

1 post-millennialisme (‘ná-duisend jaar’) dink dat God die kerk geleidelik lei tot herlewing deur die verkondiging van die evangelie en ‘n wêreldwye uitbreiding deur evangelisasie tot die 1000 jaar van vrede en geregtigheid aanbreek waarin God sal regeer en die Satan gebind sal wees. Aan die einde van die 1000 jaar word die Satan losgelaat, Christus keer terug, oorwin die Satan, oordeel oor alle mense, en die gelowiges word deel van die nuwe hemel en nuwe aarde.

2 pre-millenialisme (vóór-duisend jaar) glo dat die samelewing en gedrag van die mensdom geleidelik agteruitgaan gelei deur ‘n bose regering van die eindtyd met die groot verdrukking en vervolging van gelowiges. Ná die verdrukking kom Christus.

Daar is hoofsaaklik drie takke van die premillenialisme:

(i)             dispensasionalisme of bedelingspremillianisme genoem: voor die 7 jaar verdrukking word die gelowiges deur Christus weggeraap en Christus kom hulle in die lug ontmoet (die eerste opstanding). Na die sewe jaar se heerskappy van die antichris, kom Christus, verslaan die antichritelike magte by Armageddon om vir 1000 jaar op aarde te regeer en Israel daarby inskakel. Na 1000 jaar vaar Christus na die hemel met sy gelowiges. Die Satan word ‘n kort tydjie losgelaat om die wêreld te teister. Daarna kom Christus vir die tweede maal weer vir die tweede opstanding en die finale oordeel.

(ii)            die tweede groep sien die wegraping na drie en ‘n half jaar se verdrukking voordat God se oordeel oor die volke uitgestort word.

(iii)           die derde groep meen die wegraping vind plaas na die 7 jaar se verdrukking, die gelowiges ontmoet Christus in die lug en kom saam met Hom om deel te wees van sy 1000-jarige vrederyk op aarde, terwyl die satan vir die 1000 jaar gebind is. Ná die 1000 jaar se vrederyk word Satan losgelaat, hy voer oorlog teen God, word verslaan en in die vuurpoel gegooi. Ongelowige gestorwenes word opgewek vir die oordeel, en gelowiges word deel van die nuwe hemel en nuwe aarde.

3 a-millennialisme sien die duisend jaar as ‘n simbool vir ‘n afgeronde getal (vgl. bv. Openb 7:4 se 144,000 wat al die gelowiges uit die Ou Testament en die Nuwe Testament simboliseer), soos alle getalle en beelde in Openbaring simbole is. Vir die hele tyd van Christus se eerste koms tot sy wederkoms sal gelowiges en goddeloses langs mekaar lewe (vgl. Mt 13:30). Dan breek die volmaakte koninkryk van God aan. Die duisendjaar dui die volle tydperk aan van Christus se huidige geestelike heerskappy in die lewe van die gelowiges op aarde en van die wat gesterf het en in die hemel by Hom is. Volgens Mt 12:29 het Christus met sy menswording en sterwe aan die kruis die Satan reeds gebind – hy kan die gelowiges nie meer voor God aankla nie, want Christus het hulle sondeskuld op Hom geneem, maar hy  probeer hulle met geweld, misleiding en verleiding weglei van Christus af.

(vgl. Openb 12-13 vir die draak/Satan wat as god vereer wil word as die godsdienstige mag, die dier uit die see, nl. die antichris, wat Christus na-aap, maar met politieke mag mense dwing om die draak te aanbid, en die dier uit die aarde wat die Heilige Gees na-aap en mense met ekonomiese beperkings en versoekings weglei van God af).

Deur die volle tydperk voor Christus se wederkoms gaan gelowiges dood om ook vir die volle tyd (simbolies 1000 jaar) tot sy wederkoms in die hemel saam met Christus te regeer. Die eerste opstanding breek dus aan vir elke gelowige met sy/haar sterwe (Openb 20:4-6; Flp 1:23).

Net voor Christus se wederkoms is daar vir ‘n kort tydjie ‘n hewige toename in verdrukking van die gelowiges deur die Bose en die antichris (Openb 20:3; 2 Tess 2:3-10). Die tyd word deur God ingekort ter wille van God se uitverkorenes (Mt 24:21-22).

Op die oordeelsdag daal Christus neer en versamel sy eiendom (vgl. Mt 13:37-43). Die dooies word opgewek en verskyn saam met die lewendes voor Christus (1 Kor 15:51-52 Almal verskyn voor die regterstoel van Christus (Openb 20:11-15). Dié mense wie se name nie opgeskryf is in die boek van die lewe nie, word in die vuurpoel gegooi, dit is die tweede dood. (Openb 20:14; 21:8; vgl. Mt 25:41), en die getroue gelowiges word deel van die nuwe hemel en die nuwe aarde van Openb 21:1-7; vgl. Mt 25:31-34).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Kinders van God by die laaste oordeel

Kinders van God by die laaste oordeel – Dirk Venter

Francois vra oorKinders van God by die laaste oordeel” die volgende twee vrae:

a) Sal gereddes by die laaste oordeel verantwoording moet doen vir hulle verkeerde dade en woorde alhoewel hulle nie veroordeel sal word nie? (Openbaring 20:12 +15)

b) Na aanleiding van 1 Petrus 4:17 + 18: Word gereddes hier op aarde getugtig en gestraf vir verkeerde dade ens sodat hulle nie by die oordeelsdag saam met die wêreld veroordeel word nie?

Antwoord: 

 

Ds Dirk Venter antwoord:

a) Ons kan inderdaad van Op. 20:11–15 verstaan dat alle mense met die Wederkoms voor die troon van God verantwoording sal doen vir hul lewens: woorde, dade ens. — nie net dié wat veroordeel word nie, maar ook die wat wel uiteindelik gered is. Die teksgedeelte druk dit uit in terme van twee soorte boeke. Die eerste is die stel boeke waarin alle mense se doen en late opgeteken is. Na aanleiding van dié boeke word mense geoordeel op grond van hul dade. Aangesien alle mense skuldig is aan sonde, sou die uitkoms hiervan eintlik vir almal “sleg” wees. Ander skrifgedeeltes wys ons tog daarop dat ‘n mens aan die hele wet skuldig is, selfs al het jy net een van die gebooie oortree (bv. Jak. 2:10). Ten opsigte van dié eerste stel boeke verdien alle mense dus eintlik om veroordeel te word. Selfs al sou jy ook baie goed gedoen het, bly die feit staan dat elke mens aan sonde skuldig is en daarvoor die doodstraf verdien (vgl. Rom. 3:23, 5:12, 6:23, ens.) Maar dan word daar ‘n ander boek oopgemaak, naamlik die boek van die lewe. Dit word elders in Openbaring beskryf as die boek van die Lam (Op. 13:8, 21:27). Almal wat die versoeningsdood van die Lam van God, Jesus Christus, aangeneem het deur geloof, se name is in dié boek opgeteken. Op grond van die groot versoenoffer wat Hy vir hulle gebring het ter vergifnis van hul sondes, word dié mense dan vrygespreek. Al die ander wie se name nie in die boek van die lewe staan nie, bly onder die oordeel wat hulle verdien op grond van die eerste stel boeke, en kry dan op grond daarvan die verdiende doodstraf deur in die vuurpoel gewerp te word.

Ander teksgedeeltes in die Skrif bevestig ook dat alle mense (d.w.s. gelowiges én ongelowiges) voor God verantwoording sal moet doen oor hul dade (selfs al word die gelowiges uiteindelik vrygespreek ter wille van Christus), bv. Jak. 2:8–13, 1 Pet. 1:17, 2 Kor. 5:10 en Joh. 5:24–29. Vgl. ook 1 Kor. 3:12–15.

b) Om 1 Pet. 4:17–18 reg te verstaan is dit baie belangrik om dit te lees binne die konteks van 1 Pet. 4:12–19, en natuurlik 1 Pet. as geheel. Dit is uit verskeie dele van die brief duidelik dat die oorspronklike lesers aan wie die brief gerig was, deur die ongelowiges in hulle omgewing vervolg is oor hulle geloof (bv. 1 Pet. 2:12, 15, 19–23; 3:13–17; 4:12–19 ens.) Dis ‘n belangrike veronderstelling van die brief dat die gelowiges hierdie vervolging beleef, nie omdat hulle verkeerd doen nie, maar ten spyte daarvan dat hulle doen wat goed en reg is, bloot omdat hulle in Christus glo (bv. 4:14–16). 4:17–18 se “oordeel” oor die huis van God staan dus in ‘n konteks van lyding ter wille van Christus, waar die gelowiges nie aan verkeerde dade skuldig is nie. (Daarom sê 4:19 ook dat hulle moet “aanhou goed doen” — dit impliseer hulle was besig om goed te doen, maar moes ten spyte daarvan lyding verduur).

Twee dinge in 4:17–18 self bevestig ook hierdie uitleg:

(a) 1 Pet 4:17 in die Ou Afrikaanse Vertaling (wat die Grieks meer direk weergee) lees: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” Twee groepe word in teenstelling met mekaar gestel: “die huis van God” en “die wat aan die evangelie ongehoorsaam is”. Die aard van die teenstelling impliseer dat die huis van God mense is wat aan die evangelie gehoorsaam is. Die lyding wat die huis van God in hierdie wêreld ervaar is dus nie toe te skryf daaraan dat hulle aan God ongehoorsaam is nie, en is dus nie op ‘n direkte manier straf op sonde nie.

(b) 1 Pet 4:18 gaan voort met hierdie teenstelling van twee groepe. Hier (letterlik vertaal) word die een groep (die kerk) “regverdiges” genoem, en die ander “goddeloses” en “sondaars”. Die feit dat die gelowiges “regverdiges” genoem word, impliseer dat hulle onskuldig staan voor God se oordeel (natuurlik op grond van Jesus Christus wat hulle “regverdig gemaak” het deur versoening met God en vergifnis van sondes te bewerk). Weereens bevestig dit dat die lyding wat hulle verduur nie gelees moet word as straf op hul sonde nie.

As mens die twee verse so binne hul konteks lees, kom dit op die volgende neer:

God stel selfs ondersoek in na die doen en late van sy eie huisgesin, die gelowiges. Hy is op die punt om uitspraak te gee oor aan watter kan van sy Hoë Reg hulle staan. God se eie huis moet dus reeds op hul hoede wees en let op hul lewens. Aangesien dit die geval is, moet mense wat nié (soos God se huis) gehoorsaam is aan die evangelie nie, eintlik baie bekommerd wees oor wat eendag van hulle gaan word. Wat gaan met húlle gebeur as God ondersoek instel na húlle doen en late? Op die finale dag van oordeel sal God se eie huisgesin, wat wel gehoorsaam en geregverdig is, dit net-net maak om gered te wees van ewige lyding (vanweë God se genade in en deur Jesus Christus). Gevolglik sal dié wat vér van God af lewe deur hul ongehoorsaamheid daardie dag in baie groot moeilikheid wees. Lg. is wat 1 Pet 4:17–18 wil beklemtoon.

Uiteindelik bedoel 1 Pet. 4:17–18 dus nie dat gereddes hier op aarde vir hul verkeerde dade gestraf word sodat hulle nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Die twee verse verwys ook nie na tugtiging deur God as sulks nie.

Om egter meer in die algemeen jou vraag te beantwoord, los van die konteks van 1 Pet. spesifiek, kan daar wel bevestigend geantwoord word dat God sy kinders tydens hul aardse lewens tugtig sodat hulle die sonde sal aflê en sal doen wat reg is (kyk bv. na Heb. 12:4–13). Hierdie tugtiging moet egter nie sondermeer gelykgestel word aan die swaarkry, lyding, vervolging of verliese wat mense beleef nie. In die era van genade waarin ons tans leef (na Christus se koms) tug God sy stout kinders in die eerste plek deur Sy Woord en Gees en deur medegelowiges, en nie deur allerlei vorme van swaarkry oor hulle te bring nie.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter