Die Groot Geloofswoordeboek: Lankmoedigheid/Geduld

Die Groot Geloofswoordeboek: Lankmoedigheid/Geduld

Lankmoedigheid/Geduld

“Lankmoedigheid” is ‘n ouer woord wat soms ook ‘n negatiewe konnotasie het soos in “die lankmoedige Neelsie”, wat ‘n mens aandui wat lammerig en papperig is. Ons praat deesdae eerder van “geduld”. Dit word ingesluit onder die *vrug van die Gees, en verwys daarna dat ‘n mens aanhou om rustig en vriendelik te wees al moet jy ‘n bietjie wag, of al word jy die soveelste keer met die probleem van ‘n ander opgesaal. Dit het niks met pap­perigheid te doen nie.

Trouens, die teendeel is eerder waar: daar is aktiwiteit in ge­duld, en dit vra baie emosionele krag. In die Ou Testament is dit deel van die bekendste beskrywende Naam van God: “Hy is barmhar­tig en genadig, lankmoedig, vol liefde en trou” (Eks 34:6; Neh 9:17; Ps 86:15; 103:8; 145:8; Joël 2:13). Die ouer Engelse ver­talings het “lankmoedigheid” pragtig vertaal met “slow to anger”. Die geduld van *God is nie ‘n blote passiewe gewag nie. Wan­neer mense in Petrus se tyd gedink het die Here moes al gekom het, verwys hy hulle na die geduld van God wat “nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Pet 3:9). En ons weet God wag nie passief in die hemel nie, maar Hy het sy Gees gegee om mense se harte sag te maak sodat hulle hulle sal bekeer. Dit is dus aktiewe geduld.

Jy verstaan lankmoedigheid/geduld dus heeltemal verkeerd as jy met ‘n dik mond in die hoek van die kar sit en wag vir jou vrou of man. As jy haar of hom help om gouer klaar te kry, het jy beter verstaan.

 

Skrywer: Prof Adrio König