Is ‘n wit leuen verkeerd? – Francois Malan

Willem vra:

Dit gaan hier oor Joh 7:8-10

Ons weet Om te lieg is verkeerd God kan nie lieg nie – Num 23:19; Tit 1:2 Dit wat nie in die lig is nie is in die duisternis ens.. Maar wat antwoord ons ander Bybelstudente op die vraag – Help asb

– Jesus se tyd was nog nie daar nie, maar het hy dan ‘n wit leuen vertel?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Joh 7:5 sê Jesus vir sy broers wat Hom aanpor om na Judea te gaan om tydens die Loofhuttefees in Jerusalem Homself in die openbaar aan die wêreld bekend te stel: ‘My tyd (kairos – oomblik in die tyd vir ’n bepaalde gebeurtenis, bestemde tyd) is nog nie hier nie.’ Die Vader bepaal Jesus se tyd vir optrede (vgl. 5:19 ‘die Seun kan niks uit sy eie doen nie;’ 5:30: ‘Uit Myself kan Ek niks doen nie….Ek doen die wil van Hom wat My gestuur het.’  Hy word ook nie deur mense rondgestuur nie, allermins om vir Homself roem onder die mense te soek, soos die duiwel hom volgens Mat 4:5-7 en Luk 4:9-12 versoek het om Homself bekend te stel deur van die tempelspits af te spring en deur die engele gedra te word (die Johannesevangelie het nie die versoekings in die woestyn nie, maar hier tree sy broers as die werktuie van die duiwel op om Hom te versoek om Homself te verheerlik. Daarom sê Johannes dat sy broers nie in Hom geglo het nie, en dat die wêreld hulle nie kan haat nie, 7:5,7).

In 7:8 herhaal Hy dat sy tyd nog nie vervul is nie (soos ’n sandlopertjie wat tyd meet, vol loop; vgl. 2:4; 8:20). In 7:10  sê Johannes: ‘Maar nadat sy broers na die fees opgegaan het, het Hy toe ook opgegaan – nie openlik nie, maar in die geheim’ – juis anders as wat sy broers wou hê (7:4: ‘want niemand doen iets in die geheim én wil dan tog in die openbaar bekend wees nie.’ Sy broers het sy nederigheid nie verstaan nie. Dit is so anders as wat die wêreld soek. Jesus wil juis nie aandag op Homself trek met sy aankoms by die fees nie. Op die bestemde tyd, toe die fees al halfpad verby was het Hy na die tempelterrein opgegaan om onderrig te gee (7:14). In 7:17,18 gee Hy die rede vir sy optrede. Hy soek nie sy eie eer nie, maar van die Een wat Hom gestuur het. En dan op die laaste dag van die fees, wanneer water uit die Siloambad oor die altaar gegooi word, nooi Hy die skare uit om by Hom lewende water te kry, wat verwys na die Heilige Gees wat dié wat in Jesus glo sou otvang (7:37-39).

Nee Hy het nie ’n witleuen vertel nie, maar gewag op die aanwysings van sy Vader.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Leuens wat Christene dikwels hoor

 

Only God is capable of telling us what our rights and needs are. You have to surrender that right to Him. —Joni Eareckson Tada

 

Leuens wat Christene dikwels hoor

In die Christelike geloof en kultuur is daar baie wat ons kan loof. Maar daar is ook sekere leuens wat besig is om ons seer te maak. As ons God se verteenwoordigers in hierdie wêreld wil wees, moet ons van hierdie leuens ontslae raak. Hier is ‘n paar van hierdie leuens.

 

  • Sekere sondes is erger as ander

Onmiddellik skep ons twee tipes mense: Dié wat nou nie die erge sondes gedoen het nie en dié wat die ergste sondes gedoen het. Die groep wat net die “ligte” sondes gedoen het, is dan geneig om die ander groep te beoordeel. Die groep wat die “erge” sondes gedoen het, besef dan dat hulle net nie goed genoeg is nie. Natuurlik het sekere sondes ernstiger gevolge: vermoor iemand en jy beland in die tronk; skinder van jou kamermaat en niks gebeur nie. Tog is beide sondes. Ons moet ophou om sondes in ‘n sekere rangorde te plaas, want ons is almal sondaars. Elkeen van ons het die kruis van Jesus nodig. Kom ons hanteer mense dienooreenkomstig.

 

  • God is ontevrede as ons twyfel of kwaad word

As ons dit aanvaar, moet ons meeste van die Psalms ignoreer. Die skrywers van die Psalms maak hulle twyfel in geen onsekere terme bekend nie. God is magtig. Hy het ons so lief dat Hy sy Seun gestuur sodat ons kan lewe. Hy kan twyfel en kwaadword hanteer. Hy weet die lewe is moeilik; Hy weet ons is maar beperk. Alle Christene het op een of ander stadium oor God getwyfel. Twyfel is ‘n geleentheid om naby God te kom – nie van Hom af weg te hardloop nie.

 

  • God se liefde vir my word deur my gedrag bepaal

Ons dink te veel van onsself. Ons dink ons kan ons gedrag beheer en “goed” wees. Maar ons kom nie naby aan God se standaard nie. Ons is God se kinders vir een rede: as gevolg van dit wat Jesus vir ons gedoen het. Dit gaan nie oor ons nie; ons kan nie God se liefde of guns verdien nie.

 

  • Ons moet nooit die boodskap afwater nie

Ons moenie die boodskap verander nie. Dit is die boodskap van Jesus wat lewens verander (1 Korintiërs 15:1 – 3). Ons kan wel die manier waarop ons hierdie boodskap oordra, verander. In die kerk gebruik ons ‘n sekere “taal” wat buitestanders nie verstaan nie. Ons moet die evangelie op so ‘n manier verkondig dat almal dit kan verstaan. Ons verwag tog nie van ‘n kind in die kleuterskool om matriekkonsepte te verstaan nie. Dit beteken nie dat die boodskap afgewater word nie.

 

  • God wil hê dat ek gelukkig moet wees

Geluk is verbygaande. Geluk hang meestal van my huidige omstandighede af. Die goeie nuus is dat God meer in blywende dinge – soos vreugde en vrede – belangstel. Hierdie dinge word nie deur ons omstandighede bepaal nie.

 

Natuurlik is daar sekerlik ander leuens wat ons soms in die kerk glo, maar hierdie vyf is baie algemeen.

 




Mag situasies my dwing om leuens te vertel?

Sanctity has to do with gratitude. To be a saint is to be fueled by gratitude, nothing more and nothing less.Ronald Rolheiser

Mag situasies my dwing om leuens te vertel?

Moet Christene altyd die waarheid praat? Is dit nie reg om soms ‘n leuen te vertel nie?  In 1966 skryf Joseph Fletcher ‘n boek Situation Ethics: The New Morality. Fletcher sê dat dit soms reg is om God se morele wet te verbreek om ‘n hoër doel te bereik. Hy sê dat as iemand met ‘n geweer na jou huis kom om jou vrou en kinders dood te skiet, mag jy jok oor waar hulle is – die heiligheid van lewe het meer waarde as die heiligheid van die waarheid.

 

 Baie Christene verwys na die verhaal van Ragab (Josua 2) as regverdiging vir ‘n leuen. Twee verkenners kom na haar huis. Sy steek hulle onder die vlasstoppels op haar dak weg. Die koning van Jerigo vra dat sy die mans moet uitlewer, maar sy sê dat hulle net voor die stadspoort gesluit het, gevlug het. Sy het doelbewus gejok. Is haar leuen Bybelse regverdiging om te jok?

 Hier is ‘n paar beginsels wat ons in gedagte moet hou:

  • Die Bybel skryf dikwels oor dinge wat God nie noodwendig goedkeur nie.
  • As God een aspek van ‘n persoon goedkeur, beteken dit nie dat Hy alle aspekte van sy lewe en karakter goedkeur nie.
  • Toepassing moet berus op wat die Bybel seën of aanbeveel en nie op elke besonderheidjie in die verhaal nie.

 As ons na hierdie beginsels kyk, mag dit wees dat  die verhaal in die Bybel opgeteken is sonder uitdruklike goedkeuring van haar leuen? Ragab se lewe is gespaar omdat sy die verkenners se lewe gered het. Beteken dit ook dat God haar oor haar leuen gespaar het?

 Wat die Bybel wel goedkeur is haar geloof:  Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie (Hebreërs 11:31). Ons moenie verbaas wees dat Ragab gejok het nie – die middelpunt van haar lewe was onsedelike gedrag. Sy het waarskynlik gereeld vir die mans wat haar besoek het, gejok. Wat die verhaal wel beklemtoon, is dat, al was sy ‘n Kanaänitiese prostituut, Ragab in die God van Israel geglo het: Julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.

 As jong gelowige uit ‘n baie onsedelike agtergrond het Ragab ‘n leuen vertel. Haar voorbeeld  verskaf nie ‘n wettige etiese basis om leuens te vertel nie. Ons dien ‘n God van die waarheid wat ons oproep om die waarheid te praat: Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees (Sagaria 8:16); Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe … Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam (Efesiërs 4:15 en 25).

 Om te sê dat ‘n leuen regverdig is om ‘n lewe te beskerm, impliseer dat God so min hulpbronne tot sy beskikking het dat Hy onder moeilike omstandighede leuens moet gebruik. Moes Ragab gejok het om die verkenners te beskerm of kon God hulle op ‘n ander manier gered het?  Het God ons leuens nodig om sy groot en soewereine doel te bereik? Ons God is tog groter as dit.

 In sy bergrede praat Jesus oor die aflê van ‘n eed sonder om die waarheid aan te pas (Matteus 5:33 – 37). Dit lyk nie asof daar ‘n Bybelse regverdiging is om te jok nie. Gelowiges moet onder alle omstandighede die waarheid praat en op God se beskermende versorging vertrou.

 

 




Die leuens wat die kerk vertel (5)

“The Spirit is the first power we practically experience, but the last power we come to understand.” – Oswald Chambers

Die leuens wat die kerk vertel  (5)

Steve Hill (Spiritual Avalanche) beskryf hoe hy in ‘n whiteout beland het. Dit is waar die sigbaarheid skielik verminder as gevolg van sneeu. Hy voel dit is wat vandag in die kerk gebeur. Die verwysingspunte – die antieke landmerke – is bedek en ons sien hulle nie meer nie. Dwaalleer en waarhede word vermeng en lidmate word gedisoriënteerd – selfs blind.

Ons kom nou by Hill se vyfde leuen: die uitdaging van die gesag van God se Woord.

 

  • Uitdaging van die gesag van God se Woord

Die uitdaging van God se gesag kan ons na die paradys toe terugvoer. Dit begin by die slang se vraag aan Eva” Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie? Die Satan se uitdaging is tweeledig:

  • Het God dit werklik gesê?
  • God het nie bedoel wat Hy gesê het nie – jy sal tog nie doodgaan as jy van daardie boom eet nie.

Wat hoor ons vandag? Die Bybelse teks is nie betroubaar nie – die tekste wat ons tot ons beskikking het, weerspreek mekaar. Eintlik weet ons baie min, indien enigiets, van die historiese Jesus. Ander sê die Bybel is net ‘n versameling  van Godsdienstige tradisies en dat God eintlik net ‘n mite is. Hierdie is baie uitgesproke. Meestal is die uitdaging oor die betroubaarheid van die Skrif baie meer subtiel – die Bybel moet aan my standaarde voldoen. As die Skrif teenstrydig is met ons gevoelens en voorkeure kruisig ons nie ons gevoelens en voorkeure nie en buig voor God neer nie – nee, ons bevraagteken sy Woord.

Volgende keer gaan ons na die laaste twee leuens kyk: die verwerping van die hel en universele versoening.