Eusebius (313 n.C. se Eccl hist. 3.11.1 en 3.32.3-7) skryf dat Hegisippus (’n Joodse Christen uit die 2e eeu n.C.) geskryf het dat Klopas wat in die Skrif genoem word, ’n broer was van Maria se man Josef, met ander woorde, dat Klopas ’n oom van Jesus was. Klopas se vrou was ook ’n Maria (Joh 19:25) en hulle seun Simeon het vir Jakobus, Jesus se broer, opgevolg as leier van die gemeente in Jerusalem. Hierdie Simeon, wat 120 jaar oud geword het, het vir Jesus geken, en is in 107 n.C. deur die Romeinse konsul Attikus vir dae lank laat martel en toe gekruisig (vgl. ook Eusebius 4.21.4). Moontlik was Kleopas van Luk 24:18 dieselfde as Klopas in Johannes 19:25, wat net verskillend gespel is deur die twee Evangelieskrywers. Die twee manne was moontlik Kleopas en sy seun Simeon, wat nou al in die dertig moes gewees het. By hulle twee kon Lukas moontlik die verhaal van die Emmausgangers gehoor het, toe Lukas saam met Paulus in Jerusalem was, ná sy derde sendingreis (vgl. Hand 21:17).
24:13 ‘En kyk!’ – Lukas vra die leser se aandag vir ’n besondere verskyning van Jesus, wat slegs in Lukas opgeteken is. Volgens Lukas is dit die eerste verskyning van Jesus ná sy dood. Lukas gee ’n kunstige en uitgebreide verhaal van die verskyning, wat op ’n kenmekaar en ’n hereniging uitloop. Die verskyning van die opgestane Christus is vir Lukas die bewys dat Jesus opgestaan het. Daarmee lei Lukas in sy twee geskrifte die tema in van die Opgewekte wat as onbekende wandelaar sy volgelinge begelei, as gas by hulle liefdesmaal teenwoordig is, en by die breking van die brood beleef word.
Twee van Jesus se volgelinge stap die Sondag van Jesus se opstanding die ongeveer sewe myl van Jerusalem af na die dorpie Emmaus. Waar Emmaus geleë is, is nie met sekerheid te bepaal nie. Soos die meeste van die feesgangers is hulle op pad huis toe na die Pasga.
24:14 Die twee loop en gesels (homileō met mekaar praat) oor alles wat gebeur het, waarskynlik oor Jesus se verhoor, kruisiging, begrafnis, en nou berigte oor sy opstanding.
24:15 Terwyl hulle loop en gesels (homileō) en bespiegel (sudzêteō redeneer met verskillende menings oor ’n saak en ’n oplossing daarvoor soek), kom Jesus nader en loop saam met hulle – sunporeuomai ‘saam loop’ het Lukas reeds in 7:11 gebruik vir die volgelinge van Jesus wat saam met Hom geloop het, en in 14:25 van die groot skares wat saam met Hom geloop het. Hier is dit Hy wat as die onbekende wandelaar saam met hulle kom loop om die beloftes oor sy lyding in die Skrif aan hulle te verduidelik. Vir hulle is dit die begin van Christus met hulle.
24:16 Hulle oë is egter weerhou om hom te herken (is weerhou, passief. Om die Naam van God nie ydellik te gebruik nie, gebruik Bybelskrywers dikwels die passiewe vorm van die werkwoord. Hier is dit ‘n aanduiding dat God hulle oë weerhou het). Hulle oë moes eers deur Hom geopen word om Hom te herken en in Hom te glo as hulle Opgestane Heer.
4:17 Jesus vra hulle toe: ‘waaroor loop julle met mekaar en redeneer (antiballō bespreek met teenstrydige menings)? Hulle gaan staan as mense wat treur en moed verloor het (skuthrōpoi)). Jesus se benadering is om saam met hulle te loop, en vrae te vra om hulle diepste gedagtes aan Hom bloot te lê.
24:18 Kleopas vra vir Jesus of Hy die enigste vreemdeling (paroikos iemand wat vir ’n bepaalde tyd nie in sy normale woonplek is nie) in Jerusalem is, wat nie weet wat hier gebeur het en nie saam met hulle verward is nie. Daaruit is dit duidelik dat hulle nie glo dat Jesus opgestaan het nie en die getuienis van die vroue nie aanvaar het nie. Hulle neem ook aan dat al Jerusalem se inwoners weet wat daar gebeur het. Eintlik is Jesus vir die Jode ’n gas en vreemdeling onder mense, met sy woorde en optrede wat vir hulle vreemd is.
24:19 Jesus prikkel hulle met ’n verdere vraag: ‘Watter?’ wat verwys na die dinge waaroor hulle met mekaar praat. Hulle verwys toe na Jesus van Nasaret, ’n man, ’n profeet, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk. Van sy profeteskap is hulle oortuig. Die werk van ’n profeet was juis om die woord van God aan mense bekend te maak deur sy optrede en woorde. En dit het hierdie man van Nasaret in getrouheid aan God aan die hele volk bekendgemaak volgens hulle twee. Met die aankondiging van Jesus se geboorte het die engel aan die herders gesê hy bring vir hulle ’n goeie boodskap wat vir die hele volk ’n bron van groot vreugde sal wees (Luk 2:10). Hier erken die Emmausgangers dat Jesus se kragtige werke en woorde die hele volk geraak het.
24:20 Hulle lê die skuld vir Jesus se dood en kruisiging vierkantig op hulle volksleiers en die leierpriesters. Die woord paradōmi vir oorlewer, beteken ook verraai. Die twee mans beskou hulle leiers se misdaad as verraad, ’n optrede teen God en teen sy volk.
24:21 Vir die twee manne was Jesus meer as net ’n profeet. Hulle het in Hom die Verlosser vir Israel gesien. Wat gebeur het, het hulle hoop wat hulle van Hom gehad het, verydel. Hulle het die nasionale bevryding van Israel verwag met die onthulling van sy Messiasskap, die Koning wat kom in die Naam van die Here, soos hulle gesing het met sy intog (Luk 19:38). Met die aanbreek van die derde dag, waarvan Hy voorspel het dat Hy sal opstaan, is hulle hoop teen die einde van die derde dag eintlik verby.
24:22-23 Hulle hoop het nog ’n slag opgeflikker maar hulle weet nie so mooi nie. ’n Aantal vroue uit hulle geledere het hulle heeltemal dronkgeslaan (ekshistêmi). Met hulle vroegoggend-besoek by die graf het die vroue nie die liggaam gekry nie.Toe hulle teruggekom het, het hulle vertel dat hulle ’n visioen/gesig gehad het van engele wat sê dat Jesus lewe (hoptasia ’n visioen, ’n gebeurtenis waarin iets duidelik en eg is vir jou denke).
24:24 Enkeles uit die groep volgelinge van Jesus het ook graf toe gegaan en dit net so gevind soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie. Omdat die manne nie soos die vroue die engele gesien het nie, is hulle bevestig in hulle idee oor die vroue se leë praatjies (Luk 24:11). Daarmee het die dissipels se hoop heeltemal versink en is hulle nou verward in hulle denke oor Jesus. Die dissipels se latere geloof in die opstanding van Jesus het duidelik nie in die kring van die Jesusvolgelinge ontstaan deur die berig oor die leë graf nie. Hulle twyfel is eers oorwin toe Jesus hulle oë geopen het en hulle toe geglo het dat Hy opgestaan het uit die dood.
24:25 Jesus sê vir hulle ‘O, onverstandiges… Met ‘O’ word hulle direk aangespreek en ‘onverstandiges’ genoem (anoêtoi dwases, stompsinniges – onwillig om te dink sodat hulle kan verstaan). In Luk 9:45 het Lukas reeds gesê dat die betekenis van Jesus se woord oor sy opstanding vir hulle verborge was. Hierdie onverstandigheid kom uit hulle valse verwagtings oor die Messias (vgl. 24:21 en Luk 19:11). Daarby sê Jesus dat hulle ‘stadig/traag/talmend van hart is om te glo’ – wat hulle verhinder om te hoor of te begryp en so tot ander insig te kom (kardia ‘hart’ in Grieks, soos leb in Hebreeus fokus nie op die emosionele nie, maar op die denke, die bron van jou innerlike lewe). Daarom kon hulle nie begryp wat die profete alles gesê het nie. ‘Alles’ verwys na die hele omvattende profetiese verkondiging van die Ou Testament oor die koning wat sou kom. Hulle het ’n gesalfde (messias) koning verwag wat hulle polities sou bevry van die Romeine, soos Dawid in die ou tyd. Maar vir ’n Messias wat ook die lydende Kneg van die Here is, wat vir ons sonde deurboor is (Jes 53) hulle geen begrip gehad nie.
24:26 Hulle het vertel van Jesus die groot profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die mense (24:19). Jesus se retoriese vraag aan hulle is: ‘Moes die Christus (hulle verwagte Messias, Gesalfde Koning, Profeet, Priester) nie hierdie dinge ly en (alleen so) in sy heerlikheid ingaan nie? (vgl. Luk 9:22). Dit kon hulle ook uit die profete se geskrifte geleer het. Met dié vraag vul Jesus hulle siening van Hom as ’n profeet aan met ’n nuwe insig in sy messiasskap. Hy gaan sy koninklike heerlikheid in, juis deur sy lyding en sterwe uit liefde vir die mensdom en sy skepping, om mense na Hom toe te trek (Joh 12:32-33). Die raaisel oor Dawid se seun, waarmee Jesus sy vyande getroef het in Luk 20:41-44 word hier uit die Skrif belig.
24:27 So begin Jesus vanaf Moses (die Wet, nl. die eerste vyf boeke van die Bybel) en die Profete (vroeë en laat-profete) en al die Geskrifte oor Hom vir hulle uit te lê (die drie dele van die Hebreeuse Tenach: Tora, Nebiim, Ketubim). In die lig van die Skrif verloor Jesus se lyding en sterwe die skyn van sinneloosheid en word dit met diepe sin en betekenis gevul. In die onbegryplike en skynbaar sinnelose lyding van Jesus kom God se wil om die mensdom te verlos tot sy volle betekenis. Na die sondeval het die profesieë oor God se verlossing reeds begin: Uit die Wet – Eva se nageslag sal die kop van die slang vermorsel en die slang sal hom in die hakskeen byt (Gen 3:15); uit die Geskrifte Ps 22: hulle het my hande en my voete vasgemaak; v7-9 ek is deur die mense bespot; v19 hulle verdeel my klere onder mekaar, hulle loot oor my kleed; v16 my tong kleef aan my verhemelte; v2 my God, my God, waarom het U my verlaat; uit die Profete Jesaja 53 (vgl. bv. Luk 22:37).
Vir Lukas is hierdie gedeelte so belangrik dat hy dit herhaal in 24:44-48. Deur die hele Ou Testament word die plan van God, wat moes eindig aan die kruis, uitgewerk. Die skrikwekkende van die sonde word dwarsdeur die Ou Testament beskryf en so ook die diepe liefde van God. Die twee saam, die mens se sonde en God se liefde, het Golgota onvermydelik gemaak. Die twee Emmausgangers het ’n verkeerde idee gehad oor wat die Ou Testament verkondig en het daarom verkeerde idees oor die kruisiging van Jesus. Die Skrif het vir Jesus sy weg gewys. Deur die paasgeskiedenis het Jesus sy verstaan van die Skrif vir sy volgelinge geopen. In die uitlegging en prediking van die Skrifwoord is Hy teenwoordig en werksaam (vgl. vers 32). Deur die woord van die Skrif kom die onbekende Wandelaar na sy mense toe.
24:28-29 Toe hulle by hulle dorpie kom laat die twee Emmausgangers hulle onbekende begeleier nie los nie, en dring by Hom aan (parabiazomai) om by hulle te bly, want dit is al amper aand. Jesus willig in en gaan saam om by hulle te bly. Jesus kom nie ongenooid na hulle toe nie, daarom dat Hy die indruk geskep het dat Hy verder gaan. Lukas gebruik digterlike taal vir Jesus se optrede: prosepoiêsanto (Hy het die indruk geskep om) porrōteron (verder) poreuesthai (te gaan). Sy Skrifuitleg het hulle duidelik laat nadink en hulle wou nog meer van sy gemeenskap geniet. Hebreërs 13:2 sê ook: Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang (vgl. Abraham in Gen 18:1-8; en Lot in Gen 19:1-3). As hulle Jesus nie ingenooi het nie, sou hulle nie die besondere voorreg gehad het om die opgestane Jesus te sien nie.
24:30 Vir die gemeente in Laodisea wat louwarm geword het sê Jesus Hy staan by die deur en klop: As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek instap by hom en saam met hom eet en hy saam met My (Openb 3:20). So tree hierdie Gas in Emmaus op as huisvader: Hy neem die brood, spreek die seën uit, breek die brood, en gee dit vir hulle, soos Hy dit reeds volgens Luk 9:16 en 22:19 gedoen het.
24:31 Hulle oë, wat verhinder was om Hom te herken (v16), is op dié oomblik deur God geopen om ‘die enigste vreem- deling in Jerusalem’ te herken as die opgestane Christus Jesus. En op daardie oomblik het Hy uit hulle gesig verdwyn (letterlik: Hy het afantos onsigbaar vir hulle geword). Sy doel is met hulle bereik. Hulle glo nou dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat Hy lewe, maar op ’n ander manier. Nou kan Hy oral en altyd by ons wees, al sien ons Hom nie. So het God Hom reeds aan Moses geopenbaar as Die Ek is, wat altyd aktief by ons teenwoordig is (Eks 3:14-15). En kon Jesus sy dissipels verseker: En kyk! Ek is met julle al die dae tot aan die einde van die wêreld (Matt 28:20), soos in Haggai 1:13: Ek is by julle, sê die HERE (die Ek is). In Joh 14:16-17,23 sê Jesus dat die Vader, en die Seun en die Heilige Gees by ons sal wees en in ons woon.
24:32 Met hulle oë wat geopen is (dianoigō) om Hom te herken, onthou hulle hoe Hy die Skrifte vir hulle oopgemaak het (dianoigō) dat hulle begin verstaan het waarom die Messias wat hulle verwag, vir hulle moes kom ly. So wil die Here ook die Skrif gebruik om ons oë oop te maak om Hom as ons Verlosser te ken. Paulus sê in 2 Kor 3 dat ons almal met ontsluierde gesig in die Skrif soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, en dat ons deur die Gees van die Here al meer na die heerlike beeld van Christus verander word, sodat ons ’n brief van Christus is, wat gelees word deur alle mense.
Hulle harte, wat traag was om te glo (24:25), was brandende toe Hy die Skrifte vir hulle uitgelê het (soos Ps 39:4 sê: my hart het gegloei in my binneste; vgl. Jer 20:9). Dit is die vuur wat Jesus op die aarde wou kom aansteek (Luk 12:49), deur sy Gees wat elke mens kom verlig en van sonde kom reinig (vgl. Johannes die Doper se voorspelling in Luk 3:16). Dit is die Gees wat ons geestesoë (letterlik: die oë van ons hart) verhelder, sodat ons kan verstaan wat die hoop van God se roeping bied en die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels (Ef 1:17-18). In Jeremia 31:33 sê die HERE oor die nuwe verbond wat Hy met ons sal sluit: ‘Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees’ (vgl. Eseg. 11:19).
24:33 Die brandende harte dryf hulle tot getuienis oor hulle opgestane Here. Hulle staan onmiddellik op en gaan terug na die groter dissipelgroep in Jerusalem. Die donker van die nag hou hulle nie meer terug om die ongeveer 7 km terug te stap nie (vgl. Luk 24:29).
24:34 Die groep dissipels en ander volgelinge ontvang hulle met die blye nuus: Die Here is waarlik opgewek (êgerthe passief: deur God) en het aan Petrus verskyn (vgl. 1 Kor 15:5). Hoewel hulle die vroue se nuus met ’n knypie sout geneem het, het hulle Petrus se getuienis oor Jesus se opstanding met groot gejubel aanvaar.
24:35 Daarby voeg die twee getuies uit Emmaus hulle ontmoeting met die opgestane Jesus, wat Petrus se getuienis ondersteun. Hulle vertel hoe Jesus as huisvader die brood gebreek het en Hom daarmee aan hulle bekend gemaak het. Die vorige aand nog, tydens die Paasmaaltyd, het Jesus vir die twaalf die brood gebreek met die woorde ‘Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Doen dit ter herinnering aan My’ (Luk 22:19). So is sy liggaam gebreek ter versoening van die sonde van die wêreld. Hy is ’n ander tipe Messias-Koning as wat hulle verwag het, maar waarvoor hulle oë nou oopgegaan het. Hy is die lydende Kneg van die Here van Jesaja 53.