‘n Vaste Burg is onse God

The grace we receive in forgiveness gives the grace to be forgiving. —Philip Ryken

‘n Vaste Burg is onse God

Martin Luther, die groot hervormer, het ongeveer 36 liedere geskryf. Die bekendste hiervan is sy verwerking van Psalm 46: ‘n Vaste Burg is onse God. Hierdie lied is ‘n viering van die soewereine mag van God oor alle aardse en geestelike magte en dat ons op Hom kan vertrou. Hierdie lied was baie gewild in Europa na die hervorming.

 

Dit is al die Marseillaise van die Hervorming genoem. Dit was by Augsburg tydens die Ryksdag gesing en in al die kerke in Neder-Sakse  – dikwels ten spyte van die priester se besware. Dit is selfs op die strate gesing en vertroos die harte van Melanchton en ander nadat hulle in 1547 uit Wittenberg geban is. Dit is deur arm Protestante op pad na ballingskap  en deur martelare voor hulle teregstelling, gesing. Dit word die nasionale lofsang van Protestante Duitsland.

Die lied word nou met Luther self verbind, want in die woorde en melodie kry ons so baie van die karakter van Luther – moedig, sterk, vol vertroue en onbeweeglik as teenstand dreig. Ons kry hierdie verband op ‘n standbeeld van Luther in Wittenberg waar die eerste reël van die lied uitgebeitel is.

Daar is baie geskryf oor wanneer en onder watter omstandighede die lied geskryf is. Die waarskynlikste is dat dit in 1527 geskryf is toe die pessiekte nader aan Duitsland gekom het. Daar is ook heelwat teorieë oor die oorsprong van die melodie. Waarskynlik het Luther dit self geskryf. Die storie dat die melodie se oorsprong ‘n gewilde lied gesing in tavernes was, berus op ‘n misverstand.

 Kom ons kyk na hierdie lied:

1. ‘n Vaste burg is onse God,   ons skuil in Hom, die sterke.      

    Hy is ‘n vesting in die nood –  vir ewig staan sy werke.           

   Al kom die bose aan  in sy oorwinnaarswaan,              

   ons weet by al sy lis,  sy lot is reeds beslis –            

   God self stel aan hom perke.        

2. Gord ons met eie krag ons aan dan is die stryd verlore;           

   net een kan satansmag weerstaan, deur God daartoe verkore.           

   vra u sy Naam, so weet  dat hy die Christus heet;           

   gaan Hy voor in gevaar,   Heer van sy eng’leskaar,            

   nooit is die stryd verlore !        

3. Al storm hul ook van elke kant,  die hel se leërmagte,               

   die Een wat sterker is, hou stand, Hy sterk ons swakke kragte.         

   Veg met geweld en lis   die vors van duisternis –           

   ons vrees geen dood of hel;   sy vonnis is gevel,                 

   ons is sy val te wagte.             

4. Gods woord hou stand in ewigheid,  geen mag kan dit laat wyk nie !     

   Beef, Satan, God voer hier ons stryd; sy trou sal nooit beswyk nie !      

   Al eis jy dan ons goed,   ons dierbares, ons bloed:           

   dit bring jou geen gewin –   ons gaan die hemel in,              

   jy roof ons nooit Gods ryk nie.     




Die Groot Geloofswoordeboek: Luther en Lutherse Kerke

Die Groot Geloofswoordeboek: Luther en Lutherse Kerke

Luther

Martin Luther (1483-1546) het die *Kerkhervorming in Duitsland begin. Die datum wat simbolies daaraan geheg word, is 31 Oktober 1517 toe hy 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespy­-ker het. As priester in die Katolieke Kerk het hy ‘n groot stryd ge­had oor hoe ‘n mens gered kan word. Hy het die *geregtigheid (eise) van God gevrees omdat hy oortuig was dat ‘n mens nie daaraan kan voldoen nie. Na baie Bybelstudie het hy uit Romeine en Galasiërs geleer dat God nie net geregtigheid van ons eis nie, maar ook ge­regtigheid aan ons skenk, dat ons nie deur ons goeie werke gered word nie, maar deur die genade van God wat geregtigheid aan ons skenk op grond van die verdienste van Christus. Ons moet hierdie geregtigheid in die geloof aanvaar, wat net ‘n ander manier is om te sê ons moet die genade van God aanvaar wat Hy deur Jesus aan ons gee.

 

Lutherse Kerke

Daar het ‘n hele aantal Lutherse Kerke ontstaan wat vandag oor groot dele van die wêreld versprei is. Die Piëtisme is ‘n gees­te­like beweging wat in hierdie kerke ontwikkel het met groot sendingondernemings veral in die negentiende eeu. Hulle het ‘n reu­se­bydrae tot die vestiging van die evangelie in Suider-Afrika ge­maak. In ons land is daar minstens twee bekende Lutherse Kerke: die Evangeliese Lutherse Kerk en die Vrygemaakte Lutherse Kerk. Tra­disioneel is hierdie kerke se eredienste ‘n bietjie meer formeel as die kerke in die *Gereformeerde tradisie.

 

Skrywer: Prof Adrio König