Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense? – Jan van der Watt

Johan vra:

Antwoord

Prof. Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ‘n eeu-oue vraag, wat handel oor die almagtige en goeie God in wie se teenwoordigheid daar steeds bose en slegte dinge gebeur, veral ook tussen sy eie goeie mense. Waarom laat Hy dit toe? Hy is dan ‘n God van liefde – dit is tog nie liefde om jou kinders te laat ly nie, ens. Deur die eeue is daar baie antwoorde gegee. Hier gaan ek net een of twee noem wat in die Bybel sentraal staan.

Die boek Job hanteer onder andere die vraag. Job was ‘n goeie man, verloor toe alles en kry baie swaar. Uiteindelik het dit weer goed met hom gegaan. Hy het juis geworstel met die vraag waarom hy as goeie, regverdige man so moet ly. Een ding wou hy nie aanvaar nie en dit is dat God hom gelos het. Nee, daar moet ‘n ander antwoord wees! Uiteindelik kom antwoord God hom, maar gee hom nie ‘n direkte antwoord nie. Hy wys vir Job die skepping en vra of Job daar was toe dit alles tot stand gekom het. Hy wys vir Job die diere – vra of Job ‘n krokodil vir sy dogter as speelding sal gee (dit is God se ‘speelding’), of waarom ‘n voël (volstruis) ‘n perd kan weghardloop, maar nie kan vlieg nie. Met ander woorde, As God werk, werk Hy ‘anders’ omdat Hy anders is. Wat Hy doen verstaan mense nie altyd nie. Ons moet besef, Hy is God en ons is mense. Daarom kan ons nie alles verstaan of verklaar nie en moet maar berus in die grootheid van God. Die belangrike punt is egter: Job se lyding was nie sommer vir niks nie. Aan die begin van die verhaal praat God met die duiwel wat God uitdaag – hy sê vir God dat Job huigel en God net vir die goeie dinge dien. Sodra God die goeie dinge wegvat sal Job vir God los. God stem nie saam nie en laat die duiwel toe om alles van Job af weg te vat. Op daardie oomblik het God sy eie eer, sy eie woord op die spel geplaas. As Job faal beteken dit God het misluk en was verkeerd oor Job – Satan was dan reg en het dan gewen. In sy lyding het Job eintlik ‘n geweldige vrag op sy skouers gedra, sonder dat hy dit besef het: hy het die eer van God op sy skouers gedra. Dit bevestig net weer: hoewel Job nie verstaan het waarom hy ly nie, kon hy as mens nie die groter plan van God raaksien nie. Hy het nie besef wat regtig aangaan nie. Vir ons vandag beteken dit dat ons nie alles sal kan verstaan of verklaar wat met ons gebeur nie. Ons moet vertrou dat God in beheer is en dat Hy die groter prentjie sien.

Dus, een antwoord is dat ons nie alles in die lewe sal kan verklaar nie. Die lewe is nie soos ‘n wiskundesom wat  ons kan uitwerk nie, bloot omdat ons die God wat ons aanbid nie soos ‘n wiskundesom kan uitwerk nie.

Deel van hierdie antwoord is ook die lewe van Jesus – as die liefde van God sou beteken dat alles net altyd goed moet gaan, sou dit beteken dat God nie vir Jesus liefgehad het nie (ook nie vir Paulus, of Johannes nie, want hulle het ook gely). Jesus het gely – gelukkig het Hy die plan van God geken. Tog sê dit vir ons dat ons nie God se liefde en teenwoordigheid direk moet koppel aan hoe dit met ons gaan nie. Die Bybel sê dit werk nie altyd so nie. Daarmee het God ons egter nie sommer in lyding gelos nie. Soos met Jesus (lees Fil 2:6-11) en Job wag daar ook in die toekoms die saligheid en heerlikheid wat niks kan oortref nie. Uiteindelik seëvier God se liefde en kry die gelowige net wat goed is.

Die boek Openbaring voeg ‘n ander perspektief by: ons leef nie in ‘n perfekte wêreld nie. Die bose (Satan, die ou draak en sy metgeselle – die diere wat uit die aarde en see opkom: Open 12-13) doen alles in hulle vermoë om God se mense en sy werk in hierdie wêreld te probeer afbreek (lees maar weer Open 12-13). Die bose is dus verantwoordelik vir die gemors wat in die wêreld gebeur. Dit beteken nie dat alles buite God se beheer is nie. Nee, Open 4 vertel vir ons dat God op die troon van die heelal sit, en dat almal uiteindelik voor Hom sal verskyn (Open 20) om geoordeel te word. God is in beheer, hoewel die duiwel nog sy laaste stuiptrekkings hier op aarde gee. Waarom gaan dit so sleg? Omdat die bose nog op aarde vernietiging aanrig en die gelowiges ontkom dit nie. Tog wag daar vir hulle die nuwe Jerusalem wat alles in alle heerlikheid sal oortref.

Hier is twee antwoorde uit die Bybel. Ons kan natuurlik wonder as dinge met ons skeefloop. Tog moet ons nie te veel antwoorde hier soek nie, want God is groter as die antwoorde wat ons kan uitdink. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Hoe hanteer ek lyding? (2)

—Will Durant

 

Hoe hanteer ek lyding? (2)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

As ons praat oor lyding dink ons onmiddellik aan die boek Job. Dit is die duidelikste en mees uitgebreide nadenke oor die onderwerp in die Bybel.

Job het sewe seuns en drie dogters gehad. Hy was ryk en vroom en opreg. Satan beweer dat Job God dien, want God beskerm hom en maak alles wat hy doen voorspoedig. As God egter sy besittings sou wegneem, sal hy God in sy gesig vervloek. God gee toestemming dat Satan vir Job kan toets.

Job se besittings word vernietig; sy vee word gesteel of deur weerlig vernietig; ‘n sterk wind kom en waai die huis waarin Job se kinders feesgevier het se mure om – hulle is almal dood. Wat doen Job? Hy skeur sy klere; hy sny sy hare af; hy gaan lê op die grond en sê: Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here (1:21).

Omdat Job nie vir God vervloek het nie, vra Satan toestemming om aan Job se liggaam te raak. God gee toestemming dat Satan dit mag doen – net sy lewe mag jy nie neem nie. Job word met pynlike swere van sy kop tot by sy tone getref. Hy gaan sit op ‘n ashoop en krap hom met ‘n potskerf. Sy vrou kom na hom: Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf (2:9). Toe kom sy drie vriende – Bildat, Elifas en Sofar – daar aan om hom te troos. Vir sewe dae sit hulle by Job en sê nie ‘n woord nie. Toe het Job begin praat en sy geboortedag vervloek (3:1). Daarna volg ‘n lang bespreking van Job se lot.

Ons worstel met die hoe en hoekom van pyn en lyding – eerlike vrae. Maar hulle laat ons dikwels verward – net soos Job verward was toe sy vriende hulle antwoorde vir sy probleem geformuleer het. Inligting is baie selde genoeg om ‘n gewonde hart te genees. Ons sal nooit ten volle verstaan waarom God pyn en lyding toelaat nie; ons sal ook nie altyd die antwoord kry om uit ons dilemma te kom nie. Daar mag selfs nie ‘n silwer randjie – soos ons dit wil hê – wees nie. Ons het nie so seer antwoorde nodig nie, maar God se teenwoordigheid in en deur ons lyding. Waarvan ons seker kan wees, is dat God se groot kommer in ons lyding, is om by ons te wees.

Hoe lyk ‘n God wat teenwoordig in lyding is? Hy is ‘n God wat self lyding ondervind het – sy enigste Seun het immers aan ‘n kruis gesterf. Pyn en lyding mag selfs een van die primêre maniere wees waarop God mense bereik. C.S. Lewis sê: Pain is God’s megaphone to rouse a deaf world.

Volgende keer kyk ons na die werklikheid van lyding.