Die lyding van Jesus Christus

. —J.I. Packer

Die lyding van Jesus Christus

Jesus het tydens sy aardse bestaan die alledaagse druk, probleme, pyn ervaar. So lees ons dat Jesus moeg van die reis was en gaan sit het (Johannes 4:6); by Lasarus se dood huil Hy (Johannes 11:35). Ons lees ook dat Hy diep ontsteld was (Johannes 12:27). Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane (Hebreërs 5:7). Hy is ook deur sy beste vriende verlaat en deur sy familie verwerp. Hy is deur Satan self versoek. Dan lees ons hierdie verbasende vers: Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is (Hebreërs 5:8). Jesus Christus ken lyding, nie net omdat Hy alwetend is nie, maar omdat Hy dit persoonlik ondervind het.

 

Dan praat ons nie eers van sy lyding aan die kruis nie, waar Hy uitroep: My God, my God, waarom het U My verlaat (Matteus 27:46). Maar dit was nie die einde van sy lyding nie. In Handelinge 9 lees ons van Saulus wat op pad na Damaskus is.  Langs die pad ontmoet hy vir Jesus Christus. Toe Paulus wil weet wie dit is, antwoord Jesus hom: Ek is Jesus … Dit is vir My wat jy vervolg. Hy identifiseer so met sy mense dat Hy hulle lyding deel.

Maar Jesus se lyding het ons verlossing bewerkstellig. Daarom kon Hy aan die kruis sê: Dit is volbring! (Johannes 19:30). Soos Jesus uit sy lyding geleer het, moet ons ook uit ons lyding leer en groei om meer en meer soos Jesus te word – ons moet ons lyding in geloof en geduld aanvaar. Paulus sê: Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe  is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly (2 Korintiërs 4:16 – 17.

Ons moet oppas vir veral twee foute:

  • Om te glo dat God geen emosie kan ondervind nie – God ken lyding deur ondervinding. Hy is die lydende God.
  • Om God se lyding so te beklemtoon dat ons skoon van sy soewereiniteit vergeet.

God ly en Hy is soewerein. Ons moet beide aanvaar as ons sê dat lyding betekenis het. As God nie in beheer van die geskiedenis is nie, is lyding nie deel van sy plan nie en is dit sinloos. As God nie gely het nie, hoe kan ons Hom vertrou. God se lyding was vrywillig en is volledig deur sy liefde gemotiveer.




Redes vir lyding (3)

A quarrel is like an itch; the more you scratch, the more it itches.” ~ Joodse spreuk

Redes vir lyding (3)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Ons moet God in ons lyding vertrou. Deur dit te doen, wys ons vir die wêreld iets van die grootheid van God. Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees (1 Petrus 2:19). Paulus stel dit so: Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam I2 Korintiërs 4:10).

 

Kom ons kyk na ‘n goeie voorbeeld: Stefanus. Hy word gevange geneem en verhoor voor die Joodse Raad: Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van ‘n engel lyk (Handelinge 6:15). Net voor hy sterf, sak hy op sy knieë neer en roep hard uit: Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie (7:60). Dit maak menslik net geen sin nie.

Christene se gedrag as hulle gemartel word, maak ‘n diep indruk op die mense. Paulus sit in die tronk as hy skryf: Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ‘n eer beskou (Efesiërs 3:13).

Oktober 2007. ‘n Gewapende man stap ‘n Amish skool binne. Hy skiet tien kinders  tussen die ouderdom van 6 en 13 – vyf sterf. Daarna skiet hy homself dood. Hulle vergewe hom. Sosioloë ondersoek hulle vermoë om te vergewe en kom tot die gevolgtrekking dat dit berus op verskeie faktore:

  • Hulle diepe nadenke oor Jesus, ‘n Man wat vir sy vyande gesterf het.  As jy voortdurend daaroor dink en daaroor sing, kan jy selfs die moordenaar van jou kinders vergewe.
  • Vergifnis beteken dat jy jou reg om terug te betaal, opgee. Jy doen afstand van jou individuele belange vir God en ander mense; jy gee jou vryheid op om volgens God se wil en tot voordeel van jou naaste te leef. Dit is presies die teenoorgestelde wat ons geleer word. Ons leef in ‘n individualistiese verbruikersamelewing waarin ons ons ten alle koste moet handhaaf – my belange, behoeftes en vryheid kom eerste. As ons dus lyding ondervind is ons eerste reaksie vergelding.

Vrede en liefde in tye van lyding – soos Stefanus, die Amish en Jesus Christus –  is die beste getuienis in hierdie wêreld oor die werklikheid van God – sy heerlikheid en sy genade.

As ander sien dat jy geduldig ly al sê jy niks nie, besef hulle dat God ‘n werklikheid is. Hoekom die verskil tussen die Christelike en die sekulêre wêreldsiening? Die sekulêre wêreldsiening glo dat hierdie wêreld die enigste werklikheid is. Dan is jy volkome afgesny van hoop. Alles wat jy dan doen, moet voor mense gedoen word. Geen lyding is tevergeefs nie – God sien dit.

Jesus ly nie sodat ons nooit sal ly nie, maar sodat, wanneer ons ly, ons meer soos Hy sal wees. Daarom is Paulus bly dat hy in die tronk sit. Sy lyding lei tot heerlikheid. As ons weet dat daardie heerlikheid kom, kan jy lyding hanteer.




Die uitdaging vir die sekulêre wêreld (1)

. —Stephen Olford

Die uitdaging vir die sekulêre wêreld (1)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

 You desire to know the art of living, my friend? It is contained in one phrase: make use of suffering – Henri Frederic Amiel

Die sekulêre siening het ‘n probleem om mense vir lyding voor te berei. In Desember 2012 word ‘n aantal kinders in ‘n skool in Newtown in die VSA doodgeskiet. Elke gesin wat ‘n kind verloor het, hou ‘n godsdienstige begrafnis; ‘n swart jeuggroep kom uit die diep suide om Amazing Grace te sing; in President Obama se toespraak haal hy uit 2 Korintiërs 4 en 5 aan. In ‘n toenemend sekulêre wêreld draai die samelewing na God en geloof in hulle tragedie.

Greg M. Epstein, humanis van Harvard, sê dat net godsdiens  liefdevolle, ondersteunende verhoudings bied. Hoekom kry ons nie hierdie verhoudings by ateïste nie?

Godsdiens gee ook aan mense wat ly beter verduidelikings om sin van hulle lyding en pyn te maak. Hierdie verduidelikings is teologies en daarom kan moderne sekularisme nie help nie. Hulle kan nie eers gemeenskap aanbied nie. Gelowiges skep gemeenskappe om gesamentlike aanbidding, feeste (soos Nagmaal) en met oproepe vir intieme gemeenskappe gegrond op die Skrif. Sekularisasie kan niks hiervan aanbied nie – hulle het nie die hegte gemeenskappe wat mense kan vertroos in tye van hartseer nie. Hoekom het hulle nie hierdie hegte gemeenskappe nie? Gemeenskappe word net gesmee as daar iets is wat belangriker  is as eie belang – almal deel in ‘n hoër trou. Maar daar sukkel die humanisme en sekularisme en ateïsme – as ek die finale gesag is wat bepaal wat reg en verkeerd is, as niks belangriker is as my reg om te leef soos ek goeddink nie, is so ‘n gemeenskap nie moontlik nie.

 ‘n Meerderheid van mense reik na die geestelike om hulle te help om erge lyding te interpreteer en te oorleef. Viktor Frankl, ‘n Joodse psigiater wat drie jaar in ‘n Duitse konsentrasiekamp oorleef het, sê dat die verskil tussen mense wat dit oorleef het en die wat nie oorleef het nie, betekenis was. Die moderne mens glo dat die lewe ‘n soeke na geluk is. Ons besluit watter omstandighede ons bly sal maak en dan werk ons om hierdie omstandighede teweeg te bring – jy probeer dus iets uit die lewe kry. As lyding dan kom word die voorwaardes vir geluk verwyder en daarom vernietig lyding die rede om te leef. Om te leef vir betekenis beteken egter nie dat ons iets uit die lewe wil kry nie, maar dat die lewe iets van ons verwag. Jy het betekenis slegs as daar iets in die lewe is wat belangriker is as my eie persoonlike vryheid en geluk – iets waarvoor jy met graagte jou eie geluk sal opoffer.

Lyding is nie die onderbreking van ‘n lewensverhaal nie, maar ‘n belangrike deel van ‘n goeie lewe. Hoekom misluk die sekulêre siening om lyding te hanteer? Daarna kyk ons volgende keer.




Die uitdaging vir die sekulêre wêreld (2)

The most loving thing anyone can do is tell the truth.” – John MacArthur

Die uitdaging vir die sekulêre wêreld (2)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through pain and suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

‘n Sekulêre siening van die lewe werk nie vir meeste mense as hulle lyding ondervind nie. Hoekom nie?

  • Menslike lyding kom in ‘n groot verskeidenheid van vorme veroorsaak deur ‘n verskeidenheid redes. Die sekulêre benadering  oorvereenvoudig die ingewikkelde oorsake van lyding – alles word gereduseer tot jy is ‘n slagoffer. Natuurlik is dit soms so – as ‘n swak beplande gebou op jou instort is jy sekerlik die slagoffer van die bouer. Baie lyding word deur slagoffers self veroorsaak. Die sekulêre benadering maak nie voorsiening vir die groot verskeidenheid oorsake nie.
  • Die sekulêre siening is naïef optimisties oor die menslike lewe. ‘n Sekulêre persoon se reaksie op lyding is nie nie om enige betekenis in die lyding te kry nie, ook nie om jou voor te berei vir die oorwinning in ‘n toekomstige lewe nie. Nee, die sekulêre persoon probeer lyding hier en nou uitskakel. Die klem val op die hier en nou, want die sekulêre persoon het geen ander vreugde om te bied nie. As jy nie hier vreugde kan vind nie, sal jy dit nooit kry nie. Daarom glo sommige filosowe dat die gebruik van dwelms die erkenning van ‘n verbode waarheid is – vir meeste mense is geluk buite hulle bereik. Vir sekulêre mense  moet alle geluk en betekenis in hierdie wêreld gevind word. Om met hoop te lewe, moet sekulêre mense glo dat alle bronne van ongelukkigheid in hierdie lewe uitgewis moet word. Dit is onmoontlik. Die oorsake van lyding is ingewikkeld en onmoontlik om uit te wis. Godsdienskulture, daarenteen, kan erken dat die aardse lewe moeilik is, want daar is ‘n beloofde toekomstige lewe waarin alle trane afgedroog gaan word.

Elke kultuur moet aan sy mense ‘n oorkoepelende storie gee waaroor die lewe werklik gaan. Hierdie storie moet twee dinge bereik:

  • Dit moet hoop gee. Dit kan net hoop gee as dit meer as hierdie huidige lewe bied. Ons kan tog nie net vir die dood wag nie.
  • Dit moet ‘n gemeenskap verenig – dit moet ons aanmoedig om selfbelang vir die belang van die gemeenskap op te offer. Ons moet besef dat die lewe nie eindig by my grense nie.

Aan die kern van elke storie is ‘n groot idee: waaroor gaan die lewe. Elke kultuur gee aan sy lede ‘n storie oor waaroor die lewe gaan. Die storie van die moderne kultuur – individuele vryheid en geluk – laat geen plek vir lyding nie. Die Christelike storie verskil radikaal daarvan: lyding is die hart van hierdie storie. Lyding is die gevolg van ons wegdraai van God. Daarom is dit die pad wat God in Jesus Christus geloop het om ons te red vir Homself. Nou is dit die manier waarop ons ly wat deel uitmaak van ons pad om meer soos Christus te word – heilig en vol vreugde. Dit is ook ‘n belangrike manier waarop ons die heerlikheid en liefde van ons Verlosser vir die wêreld wys.

Volgende keer gaan ons begin kyk na die probleem van die bose.